André Bartlett-verhoor: Regstellende optrede geëis

********

André Bartlett-verhoor: Regstellende optrede geëis | Kerkbode

25 Junie 2021

Die NG Kerk se interne ondersoekliggaam het dr André Bartlett skuldig bevind op een van vyf aanklagte op grond van die negende gebod.

Die Ring van Johannesburg het vanoggend slegs mondelings terugvoer oor die ondersoek van die ondersoekliggaam ontvang, het ds Rudi Swanepoel, voorsitter van die ring aan Kerkbode gesê.

Die ring het gesamentlik met die ondersoekliggaam besluit om skriftelike terugvoer oor die ondersoek aan Kerkbode uit te reik.

Swanepoel het bevestig dat die saak hiermee as afgehandel beskou word.

Die verklaring ontvang lui as volg:

“Bartlett is einde Oktober 2020 aangekla by die Ring van Johannesburg onder wie se opsig hy as predikant werk. Aangesien hy aktief betrokke is binne die ring en die Hoëveldsinode, waarvan hy die moderator is, is die Vrystaatse Sinode gevra om die ondersoek namens die ring te behartig. Na ’n paar onderbrekings, onder andere weens Covid-19, is die ondersoek pas afgehandel.

“Dr Bartlett is op grond van die negende gebod, soos uiteengesit in die Heidelbergse Kategismus, in vyf klagtes aangekla oor uitsprake wat op verskillende platforms verskyn het.

“Dr Bartlett is op een van die klagtes skuldig bevind. Hy is ter vergadering hieroor tereggewys. Daar word ook regstellende optrede van hom vereis. Sy bevoegdheid as predikant en sy posisie as predikant in die gemeente en by die Kuratorium van UP kom nie hiermee in gedrang nie.”

Die volledige uitspraak van sowat 94 bladsye sal aan die Hoëveld Sinode uitgereik word.

Die ondersoek het gevolg op klagtes wat dr Johann Ernst teen Bartlett gebring het dat hy die negende gebod sou verbreek het. Die negende verbod verwys na die lewer van valse getuienis. Ernst is ’n voormalige lid van die Algemene Sinode se moderatuur en emerituspredikant.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui