As ideologie gesonde verstand troef

*******

As ideologie gesonde verstand troef | Netwerk24

Lourensa Eckard en Elkarien Lötter

Sondag, 1 Mei 2022

’n Mens kan tog nie die biologiese verskille  tussen seuns en meisies ignoreer as dit kom  by die toelating van ’n transgender-kind in ’n meisieskool nie, skryf Lourensa Eckard.

In die wyse waarop die Gautengse privaat skool St Stithians Girls’ College die toelating van hul eerste transgender leerling hanteer het, het hulle ’n wonderlike kans verspeel om aan die res van die land te wys hoe situasies soos dié gehanteer moet word.

Kwessies rakende transgender-sake – gevalle waar mense se geslagsidentiteit verskil van hul biologiese geslag – verdien omsigtige benadering. Een aspek waar St Stithians die pad byster geraak het, is hul benadering tot die elementêre biologiese kwessie – die onomstootlike feit dat, biologies gesproke, die betrokke leerling ’n seun is.

In 2019 het 130 000 meisies tussen die ouderdom van tien en 19 geboorte gegee. In 2020 het dié syfer gestyg tot 136 386. Net ’n derde van daardie meisies keer terug skool toe. Dan is daar die talle meisies wat skool misloop weens menstruasie en ’n tekort aan toegang tot sanitêre produkte, veral in landelike gebiede. Die redes hiervoor en die oplossings daarvoor is kompleks, maar dit is ’n bespreking vir ’n ander dag. Wat in dié bespreking van belang is, is dat meisies biologies anders is as seuns en dat hul skoollewe op ander maniere ontwrig word as dié van seuns.

Nou kom St Stithians (of Saints, soos die skool in die omgang bekend staan) en probeer sê dit ís moontlik om jou blind te hou vir biologie. In ’n omvattende omsendbrief aan ouers, personeel en leerlinge word aangekondig dat ’n transgender meisie by die skool ingeskryf is. Die skool bied ’n paar stukkies inligting aan op moontlike vrae oor haar deelname aan sport, haar gebruik van toilette en die slaapreëlings gedurende skooltoere. Dit is duidelik dat die skool geen idee het van wat die gevolge van dié brief gaan wees nie. Dit is betreurenswaardig om twee redes:

Een, dit plaas die meisie en haar ouers in ’n moeilike posisie en twee, dit beteken die skool het ’n kans verlore laat gaan om ’n koersaanduider te wees op die gebied van transgender-sake.

Uit die staanspoor wil ek dit duidelik maak dat niks in dié stuk enigsins as anti-transgender gelees moet word nie. Die skrywer Helen Joyce beklemtoon in haar boek Trans: When Ideology Meets Reality, dat daar ’n verskil is tussen transgender-regte en die ideologie van transgender-identiteit. Natuurlik glo ek dat die samelewing so ingerig moet word dat transgender mense nét so veilig en waardig soos cisgender mense kan leef.

Maar die ideologie van gender-identiteit voer dit veel verder, tot die punt waar iemand, ongeag die biologie, as ’n man of ’n vrou gesien móét word bloot op grond van hoe hulle “voel”.

Dit is dié ongeag-die-biologie-standpunt wat my dwars in die krop steek. Dit laat ’n mens wonder wat die skool sou voorhou as definisie en beskrywing van die woord girls in die skool se naam. Of op grond waarvan presies daar voortaan aparte seuns- en meisieskole moet wees, veral omdat die skool onderneem het om geriewe op te knap wat meer “geslagsneutraal” sal wees? Die mantra “transgender vroue is vroue”, en “transgender mans is mans”, is niksseggend en behels ’n redenasie in kringetjies. Die skool sê niemand behoort gepenaliseer te word oor wie hulle is nie ongeag of dit gegrond is op ras, gender of kultuur.

Dis vreemd dat die skool rasse- en gender-identiteit in dieselfde asem gebruik. Sou dit vir die skool aanvaarbaar wees as ’n leerling sê hulle het ’n bepaalde rasse-identiteit wat nie strook met die ras waarin hulle gebore is nie?

Die skool voorsien dat daar moontlik vanuit ’n bepaalde geloofsoortuiging teenkanting kan wees teen sy toelatingsbeleid vir transgender leerlinge. Saints is ’n kerkskool van die Metodistekerk. ’n Morele argument word aangevoer wat sê alle mense is in God se beeld geskape en het die reg om met waardigheid te leef, in pas met hul seksualiteit en gender-identiteit, sonder oordeel.

Dit is prysenswaardig dat die skool ’n morele standpunt inneem, dit is net jammer dat die kwessie ter sprake geen morele kwessie is nie. Dit lyk eerder of die skool naarstig probeer om “aan die regte kant van die geskiedenis” te wees. In die proses word die werklikheid misgekyk.

Die werklikheid van sport, byvoorbeeld. Die skool moedig transgender leerlinge aan om deel te neem aan sport in pas met hul gender-identiteit. Hier is waar die ideologie van ongeag-die-biologie die hardste gaan praat en waar die skool die leerlinge versaak.

Die rede waarom mans en vroue nie teen mekaar deelneem nie, is dat geen vrou dan ooit ’n merkwaardige prestasie sal kan behaal nie.

Tussen die vinnigste man ooit, Usain Bolt, en die vinnigste vrou ooit, Florence Griffith Joyner, is daar 9 000 mans.

Die biologiese verskille tussen mans en vroue begin ook heelwat vroeër as wat sommige wil aanvaar. Die huidige Olimpiese vrouekampioen in die 100 meter sal uitgestof word deur die vinnigste 16-jarige skoolseun. Voor puberteit is die gaping tussen seuns en meisies nie so groot soos ná puberteit nie, wanneer seuns se testosteroonvlakke 20 keer hoër as meisies s’n is. Mans en tienerseuns het meer spiere, minder liggaamsvet en groter harte en longe.

’n Ontwikkelingsbioloog, dr. Emma Hilton sê dit is maar die ore van die seekoei, want daar is sowat 6 500 verskille in geen-uitdrukking tussen mans en vroue. Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het in 2015 vereis dat transgender vroue hul natuurlike testosteroonvlakke tot onder 10 nanomol/liter moet bring. Daarby moet hulle vir minstens ’n jaar medikasie gebruik wat testosteroon onderdruk.

Die Amerikaanse transgender swemmer Lia Thomas, wat ’n baie gemiddelde mansswemmer was, klop nou, selfs ná testosteroon-onderdrukking, haar mededingers met etlike hale.

Onlangs het die IOK sy transgender-beleid aangepas om te bepaal verskillende sportfederasies moet hul eie transgender-beleid opstel. Dis geen uitgemaakte saak dat transgender vroue enige inherente voordele het bo sogenaamde cisgender vroue nie (vroue wie se biologiese geslag wel “ooreenstem” met hul “identiteit” as vrou), aldus die IOK.

Dié standpunt verskil hemelsbreed van Wêreldrugby se transgender-beleid, wat bepaal transgender-vroue mag nie teen vroue speel nie. Die hoofrede, sê Wêreldrugby, is dat die risiko vir beserings net te groot is. Die Britse sportraad sê wat die transgender-kwessie en sport betref, is daar ’n keuse te maak tussen regverdigheid en inklusiwiteit, jy kan nie albei hê nie. Die IOK, sowel as die St Stithians Girls’ College, oordeel skynbaar jy kán.

Verwarring ontstaan dikwels oor die transgender-kwessie, soms uit onkunde en soms in kwade trou. Leë frases en slagspreuke durf egter nie eenvoudige biologiese feite en wetenskap versmoor nie. Dit het geen waarde vir transgender mense in die samelewing nie en kan verwoestende gevolge hê vir veral vrouesport.

Is die oplossing nie dat transgender mense deelneem aan sport volgens geslag eerder as gender-identiteit nie? Wat van transgender meisies of -vroue wat nie gemaklik voel in ’n span vol seuns of mans nie? Wel, dan moet daar dalk gekyk word na waarom sy ongemaklik voel en as dit te make het met goed soos macho aggressie, draakstekery en al daardie stereotipiese gender-eienskappe, is dit mos nie vergesog om van die seuns en mans te verwag om hul gender-identiteit ietwat aan te pas nie, of is dit?

In St Stithians se omsendbrief sê die skool dit is soms oorweldigend om kinders in die 21ste eeu groot te maak, asof die skool erken daar gaan nie eens ’n poging aangewend word om die los, onnette en ongemaklike drade van die transgender-kwessie saam te span nie.

Wat gaan die skool doen as ouers dagvaar oor ’n kind wat weens die beleid nie ’n plek in ’n sportspan gekry het nie? Wat van ander skole, wat dalk nes Wêreldrugby, net bekommerd is oor die veiligheid van die meisies in hul eie spanne? In die onderhawige geval mag geen van bogenoemde uitdagings opduik nie, maar die streep is nou in die sand getrek, die presedent is geskep.

Magtige en gegoede instellings is soms gewoond daaraan om ongemaklike realiteite te ignoreer. Hulle is té gewoond daaraan om hul sin te kry. Terwyl ’n droomwêreld geskep word waar biologie doodluiters geïgnoreer word, het duisende meisies in Suid-Afrika nie daardie luukse nie.

Die klakkelose wyse waarop die St Stithians Girls’ College, in ’n see van armoede en ontbering op die platteland en in informele nedersettings, die ideologie van gender-identiteit aanvaar, is betreurenswaardig.

* Lourensa Eckard is ’n joernalis en aanbieder van In Gesprek met Lourensa Eckard op kykNET.

Inisiatief in kleedkamers op kampus lei tot vete

’n Onskuldige berig in ’n Nederlandse studentekoerant het ontplof tot ’n reuse geslagsdebat, skryf Elkarien Lötter.

In Maastricht in die suide van Nederland het goeie bedoelings onlangs lelik skeefgeloop in ’n vete tussen aktivistegroepe en ’n plaaslike koerant.

Die vete het sy oorsprong in die lofwaardige gebaar van die Feminists of Maastricht (FOM) wat gratis sanitêre produkte in die kleedkamers van die Universiteit van Maastricht (UM) geplaas het. Die universiteitskoerant, Observant, het baie positief oor dié inisiatief berig wat sanitêre produkte verskaf “wanneer vrouwen niet genoeg geld hebben om tampons en maandverband te kopen”.

FOM het die koerant gou daarop gewys dat sy terminologie verkeerd is en gevra dat die genderspesifieke term “vroue” vervang word met “mense wat menstrueer”, omdat, sê hulle, nie alle vroue menstrueer nie en almal wat menstrueer, nie met die benaming “vrou” identifiseer nie.

Hierop het die redakteur van die koerant, me. Riki Janssen, geskryf dat die meerderheid van Observant-lesers nie ’n probleem met dié skryfwyse het nie en dat die diskoers daaroor “nog nie in die joernalistiek uitgekristalliseer het nie”. Die aktivistegroep wat hulself Anonymous noem, het toe gedreig dat as daar nie ’n regstelling geplaas word nie, hulle die gemeenskap teen die koerant sou mobiliseer.

Anonymous het later gespog dat hulle hul dreigement uitgevoer het om die webwerf van die koerant vir drie dae buite werking te stel. Uiteindelik moes Observant dieselfde kuberkrakers huur om die webwerf te herstel.

Observant wou FOM nooi om met hulle in gesprek te tree, maar het dit op die ou end dit nie gedoen nie, omdat die redakteur sê sy wou “nie aggressiewe taal en dreigemente beloon nie”.

Intussen het die koerant briewe van steun ontvang van dosente en ander universiteitspersoneel wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisasie. Een briefskrywer het erken dat sy ongemaklik voel met die status quo waarin studente kan aandring op ’n ander voornaamwoord as “hy” of “sy”.

Die uiteinde van die kabaal was dat Observant tog onderneem het om meer versigtig met gendersensitiewe terme om te gaan en die universiteitsbestuur het FOM in die openbaar vermaan.

Die FOM verduidelik op hul webblad dat hulle passievol is oor feitgebaseerde opleiding wat genders gelyk beregtig. Hulle betoog oor sake soos die reg op voortplanting, geweld teen vroue, selfbeeld, genderidentiteit en vryheid van keuse. “Ons oogmerk is om bewusmaking van ‘interseksionele’ feminisme op politieke, ekonomiese en sosiale vlak in Maastricht te bevorder,” skryf hulle en dring daarop aan dat vroue en mans allerhande variasies van transseksueel kan wees en dat almal erken moet word.

Soos alle voorheen benadeeldes, het aktiviste teen genderdiskriminasie ook geleer die enigste manier om gehoor te word is om militant op te tree. Maar sodra hulle soos ’n mafia begin opereer en ander menings doodskreeu of bloot hul ore toedruk, word hul optrede kontraproduktief en selfverydelend. Stonewall, die grootste organisasie vir LGBT-regte in Europa, se mantra is “no debate”. Hulle naam spreek ook boekdele. Insgelyks verklaar FOM op Observant se webwerf dat hulle aan geen gesprek sal deelneem wat die ontkenning van “seksuele identiteit” as beginpunt het nie.

Omdat Maatricht so sentraal op ’n kruispunt in Europa tussen België en Duitsland geleë is en 55% van die UM se studente tot soveel as 123 nasionaliteite buite Nederland verteenwoordig, is die grootste gemeenskaplike taal Engels wat daarom die universiteit se voertaal is. Nederlanders is aanpasbaar en pragmaties, maar sommige mense is krities oor universiteite in hul land wat voorkeur gee aan Engels as medium van onderrig omdat hulle voel dit ondermyn Nederlands as akademiese taal.

Die universiteit is eers in die 1970’s gestig, maar het ’n uitstekende reputasie en beklee die sesde plek op die wêreldranglys van universiteite jonger as 50 jaar. Soos verwag kan word, is die UM gesteld op sy erkenning van diversiteit en daarom is dit nie toevallig nie dat die genderdebat veral hier by tye rooiwarm raak nie.

Intussen gaan nuttige geslagspesifieke by UM navorsing voort. In ’n studie hier is byvoorbeeld gevind dat lugreëling in kantore mans bevoordeel omdat hulle dit koeler verkies as vroue wat ’n laer metabolisme het en dus gemakliker en meer produktief in warmer kantoortemperature werk. Sover vasgestel kan word, het niemand teen genderstereotipering of dié binêre beskouing van biologiese verskille in hierdie bevinding gekla nie!

As navorsers by universiteite se werk ondergeskik gestel word aan hul bemoeienis en identifikasie met transseksualiteit, en hulle werk net van waarde geag word op die woke-kultuur (wat beteken meelewing met die sosiale en politieke uitdagings van gemarginaliseerde gemeenskappe) se terme en voorskrifte, ontstaan ’n wesenlike gevaar dat akademiese uitnemendheid daaronder gaan ly.

Die pendulum in die woke-kultuur het so ver wegbeweeg van die tradisionele dominansie van heteroseksuele wit mans, dat laasgenoemde deesdae by liberale universiteite slagoffers van vooroordeel word.

Die debakel herinner ook aan die storm wat om die kop van die Amerikaanse transgender swemmer Lia Thomas (22) losgebars het nadat sy ’n paar weke gelede die nasionale kollege-swemkampioenskap (NCAA) gewen het.

Amerikaners is erg verdeeld oor of dit regverdig is dat Thomas as transgender vrou wat wel reeds ’n paar jaar met vroulike hormone behandel word, maar steeds met die breë skouers en spiere van die manlike swemmer wat sy vroeër was, op gelyke voet met haar non-transgender opponente meeding. Die vrouestudente met wie Lia die kleedkamer gedeel het, het boonop gekla dat hulle ongemaklik was omdat sy nie haar manlike geslagsorgaan bedek nie.

Thomas het die nuutste speelbal geword in die verdeeldheid tussen Republikeine en Demokrate, want dit word hoofsaaklik langs partylyne gevoer. Daarom lyk of die kwessie meer te doen het met ideologie as met feite.

’n Artikel in die Britse The Independent, probeer byvoorbeeld bewys dat Thomas se swemtye as man was beter as wat duidelik blyk en haar wentyd as vrou nie so goed as wat dit lyk nie. Lesers wat kommentaar gelewer het, beskuldig die koerant van propaganda eerder as joernalistiek.

Wanneer die pendulum weer terugswaai, sê die anonieme beswaardes van Maastricht, kan nugterdenkendes maar net hoop dat dit nie weer tot die teenpool waaruit ons gekom het, sal teruggaan nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui