Persverklaring (Kairos Netwerk): Historiese ontmoeting lei tot nuwe bedieningsgeleenthede

*******

PERSVERKLARING – 30 April 2022

Historiese ontmoeting lei tot nuwe bedieningsgeleenthede

Die Kairos Netwerk wat Skrifgetroue gemeentes in die Ned Geref Kerk verteenwoordig het die afgelope week ‘n aantal baie historiese gesprekke met belangrike rolspelers in die Gereformeerde wéreld gevoer. Hierdie gesprekke was gevoer met die oog op moontlike skakeling en samewerking en hierdie vrugbare gesprekke is met verskeie kerkleiers soos die Gereformeerde Kerke, die Geloofsbond van Hervormde Kerke, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Akademie asook die organisasie Christen Regslui van Suid Afrika.

Hierdie gesprekke het dit duidelik gemaak dat daar nuwe bedieningsmoontlikhede en samewerking moontlik is in ‘n tyd waarin die NG Kerk hul in vasgelooptheid bevind. Daar is veral gekyk na toekomstige teologiese opleidingsmoontlikhede, asook gemeentelike versorging, veral op die platteland omdat samewerking meerdere bediening moontlik maak waar gemeentes soms sukkel om opgeleide predikante te kry.

Dit was bemoedigend om tydens hierdie gesprekke ook die onverwagse internasionale steun aan Kairos vanuit Gereformeerde geledere in Amerika en selfs Australië met hierdie verteenwoordigers te deel. Die steun wat verder uit plaaslike geledere gekom het sluit in die sogenaamde familiekerke van die Ned Geref Kerk sowel as uit die burgerlike samelewing.

Daar is verder beplanning gedoen vir ‘n familiebyeenkoms van Gereformeerde kerke wat plaasvind op 21 en 22 Julie by die Afriforum teater in Pretoria. Dolerende NG gemeentes sowel as ander kerke met ‘n Gereformeerde belydenisgrondsiag gaan tydens hierdie konferensie byeenkom om die uitdagings en geleenthede vir Skrifgetroue gemeentes te deel. Dit is duidelik dat daar ‘n behoefte maar ook ‘n strewe is vir Christene met ‘n
gemeenskaplike Gereformeerde Bybelsgefundeerde basis om al meer saam te werk.

Anton Knoetze
Namens Kairos Netwerk bestuur

1 thought on “Persverklaring (Kairos Netwerk): Historiese ontmoeting lei tot nuwe bedieningsgeleenthede”

  1. Dank die Here, dit is verblydend dat daar uiteindelik ’n gesprek oor onnodige ( my mening) denominasiegrense heen oor kernkwessies van ons geref geloofstandpunte kan wees. Dit is hoog tyd dat die koring van die kaf geskei word en dat ons onbelemmerd ons aanbiddingsbeginsels kan handhaaf. Vir my persoonlik sal dit ’n blye dag wees as histories-randstandige dogma kan plek maak vir vereenvoudigde aanbiddingspraktyk wat almal Skriftuurlik kan omsluit. Baie seën vir almal gemoeid toegebid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui