Vrae oor badkamers, geloof en sport ná spogskool transgender kind kry

Kyk ook As ideologie gesonde verstand troef (1 Mei 2022) waar Lourensa Eckard en Elkarien Lötter op hierdie insident kommentaar lewer.

*******

Vrae oor badkamers, geloof en sport ná spogskool transgender kind kry | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 17 April 2022

’n Herrie het losgebars omdat een van Johannesburg se spoggerigste skole vir meisies ’n transgender meisie ingeskryf het.

Die rykmanskool St. Stithians College het ouers in ’n omsendbrief ingelig dat die leerling in die tweede kwartaal by die skool begin.

Nie almal is ingenome met dié plan nie. Sommige ouers het geloofsbesware, ander meen die skool, wat skoolgeld van R162 000 per jaar hef, moes eers hul mening oor die kwessie gevra het.

“Wat die skool betref, mag ek nie ongelukkig wees as ’n transgender kind voor my dogter uittrek nie . . . Dit kan nie só werk nie,” het een ouer aan Rapport gesê.

In die omsendbrief sê die skool almal verkies deesdae “meer privaatheid en gemak” wanneer hulle badkamers en kleedkamers gebruik en daarom gaan al dié geriewe opgeknap word. Geslagsneutrale geriewe sal net as “badkamers” gemerk word.

Oor die slaapreëlings op skooltoere, sê die skool dié kwessie sal saam met alle ander faktore oorweeg word wanneer kamers ingedeel word.

’n Persoon sal op grond van “gedrag, en nie genderidentiteit nie” uit ’n ruimte verwyder word, lui die brief.

Transgender kinders by die skool sal aangemoedig word om aan sport deel te neem in ooreenstemming met hul genderidentiteit. Die regulasies van sportfederasies oor transgender en nie-binêre spelers kan egter wel ’n rol speel wanneer spanne gekies word op mededingende vlak, “veral op provinsiale of nasionale vlak”, sê die skool.

Ouers is daarop gewys dat St. Stithians, ’n kerkskool onder die vaandel van die Metodiste-kerk, die steun het van die kerk se voorsittende biskop, Purity Malinga.

Die skoolhoof, Celeste Gilardi, sê sy en ’n ondersteuningspan was vir maande “op reis met hierdie student en haar ouers om haar voor te berei vir haar inskrywing by ons skool”.

Nou wil sommige ouers weet waarom hulle dan nou eers daarvan hoor.

“Hoekom is dit tot nou toe weggesteek? Waarom is ouers nie hieroor gekonsulteer nie?” vra een.

In haar brief skryf Gilardi die kind se gesin het ’n lang verbintenis met St. Stithians en ondersteun die skool se etos.

Sy sê die skool se diversiteit-en-transformasie-steungroep vir ouers het verlede jaar ’n opname by die skool gedoen wat gewys het die kinders is meer ontvanklik vir die insluiting van LGBTQIA+-leerlinge as hul ouers.

“. . . ons moet erken dat daar baie werk is om te doen, veral vir volwassenes wat dikwels meer weerstand bied en minder gemaklik as adolessente is om oor hierdie onderwerp te praat,” skryf sy.

Een van die ouers sê daar is vir geruime tyd al ongelukkigheid onder sommige ouers oor die skool se druk vir transformasie.

“Dit word sedert verlede jaar knaend in almal se kele afgedruk. Ek het nie my kind St. Stithians toe gestuur vir transformasiedoeleindes nie. Die klem moet op akademie wees.”

Nog ’n ouer sê dit voel nie reg dat “almal in die skool moet aanpas by een leerling nie”.

’n Ouer kla ook St. Sti­­t­hians is veronderstel om ’n Christelike skool te wees wat God eer en kinders akademies oplei, maar die teenoorgestelde gebeur.

“Die skool indoktrineer die kinders om op ’n sekere manier te dink en jy word uitgesluit as jy nie konformeer nie.”

Die ouer sê as sy kind jonger was, sou hy haar in ’n Afrikaanse skool gesit het “wat nie peuter met goed soos gender-identiteit nie”.

Talle ouers ondersteun egter ook die skool se besluit.

Die ouer van ’n transgender kind sê die skool moet lof kry daarvoor dat hy alle kinders se waardigheid respekteer.

“Ingevolge die Grondwet is dit vanselfsprekend dat alle skole dit moet doen om ’n veilige omgewing vir alle kinders te verseker.”

Sy sê sy vrees volwassenes se transfobie teenoor haar kind die meeste. “Ons kinders is nie monsters nie en hulle is nie net transgender nie. Hulle het eenvoudig ’n ekstra stel hekkies om oor te spring, en om boonop wiskunde te slaag en by hul vriende by te bly.”

Die departement van basiese onderwys is besig om riglyne goed te keur vir die insluiting van kinders, onderwysers en ouers wat LGBTQIA+ is in alle fasette van die skoollewe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui