Apostel

Wat is ’n apostel?

‘n Apostel (vanuit Antieke Grieks: ἀπόστολος Apostolos “ambassadeur, boodskapper”) is die persone wat ’n direkte opdrag van Jesus Christus gekry het as “boodskapper”.

Verskil tussen ’n dissipel en apostel volgens Strongs:

Dissipel G3101: ’n leerder of leerling. Hulle het Jesus vrywillig gevolg.
Apostel G652: Vanaf G649; ’n afgevaardigde; spesifiek ’n ambassadeur van die Evangelie; amptelik ’n kommissaris van Christus, (met wonderbaarlike kragte): – apostel, boodskapper, die gestuurde. Apostels is spesifiek deur Jesus geroep.

Handelinge 1:21 gee ook die definisie van ’n apostel toe hulle Judas as apostel moes vervang: Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.

Wie was die apostels?

Jesus se 12 dissipels wat Jesus tydens sy verblyf op aarde deur Palestina gevolg het, het outomaties die 12 apostels geword. Onthou dat Jesus nie net 12 dissipels gehad het nie. In Matteus 18:22 en Lukas 10:1 het Jesus 72 ander dissipels voor hom uitgestuur.

In Openbaring 21:14 word verwys na die 12 apostels en daarom lei ’n mens af dat daar net 12 apostels kan wees.

Na die dood van Judas Iskariot het Mattias hom vervang as 12de apostel (kyk Handelinge 1:20-26).

In Handelinge 9 roep Jesus egter vir Paulus as die dertiende apostel. In Handelinge 14:14 word die eerste keer na Paulus verwys as apostel, maar daar word ook na Barnabas verwys as apostel. Paulus verwys ook na homself as een van die apostels in Romeine 1:1,5; 11:13; 1 Korintiërs 1:1; 4:9; 9:1-2,5; 15:9; 2 Korintiërs 1:1; 11:5,12; Galasiërs 1:1; Efesiërs 1:1; Kolossense 1:1; 1 Timoteus 1:1

Boeke van die Nuwe Testament

In die eerste eeu na Christus (0-100 nC) is die 27 boeke van die Nuwe Testament afgehandel (in Grieks op papirus). Die voorwaarde vir die insluiting van ’n boek in die Nuwe Testament was dat dit geskryf moes wees deur óf ’n apostel (soos Paulus en Petrus) óf deur iemand wat dit van ’n apostel neergeskryf het (soos byvoorbeeld Lukas).

Kyk ook Geskiedenis van die Bybel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui