Paddastatus vir die NG Kerk en ’n resensie

Kyk ook:

Fanie le Roux (emeritusleraar van Parys) het die volgende brief aan Rapport ingestuur na aanleiding van die artikel Herman Lategan: NG Kerk kry trofee vir padda van die jaar (Netwerk24) op 27 Desember 2020. Rapport het dit egter nie geplaas nie.

Hierin lig hy onder andere die ongebalanseerde beriggewing van Netwerk24 uit. Nog ’n voorbeeld van blatante ongebalanseerde beriggewing was tydens die evolusie debat in Rapport van 6 Julie tot 30 Augustus 2020 (kyk Debat oor evolusie in Rapport 2020). Tydens hierdie debat het Rapport ’n volle 6217 woorde toegelaat vir die evolusiestandpunt en slegs 1094 woorde vir die skeppingsstandpunt.

*******

Paddastatus vir die NG Kerk en ’n resensie

Deur Fanie le Roux

27 Desember 2020

Liewe Beeld

Ek moet erken ek het die resensie van Dr André Bartlett van Neels Jackson se boek (Jesus se liefdevolle vertolking van die wet) met min verwagting en geesdrif gelees. Ek was ook nie teleurgestel nie, want Bartlett het die boek waarin daar waarskynlik nie veel nuwe feite en inligting oor die homo-debat voorkom nie, baie positief opgehemel. Al die geykte clichés en argumente van hierdie debat is weereens voorgehou in die resensie. Ek het Jackson se boek nog nie self gelees nie, en na Bartlett se resensie dink ek ook nie ek sal die moeite doen nie. Dit klink asof die boek nie eintlik enige noemenswaardige bydrae tot die debat maak nie.

Dit versterk egter die vermoede dat hierdie boek geresenseer is as verdere propagering van die LGBTQ+ agenda en propaganda wat weekliks en amper daagliks deur Media 24 aan die publiek opgedring word. Ek verwys ook na die afgelope weke se uitgawes van Rapport[1] waar daar ruim aandag gegee is aan die onderstrominge in die NG kerk en die spanning wat in die kerk heers. Die onderliggende rede hiervoor is natuurlik die besluite van die Algemene sinode van 2019 wat hoofsaaklik oor selfdegeslag huwelike handel. So is daar dan ook die afgelope Sondag in Rapport ’n “Padda van die Jaar” toekenning aan die NG kerk gemaak op grond van die feit dat baie leiers en lidmate nie die Sinode besluite wil onderskryf nie en daarom die sondebokke is wat die kerk belaglik maak.

Uit die resensie van Dr Bartlett lei ek af dat die hoofargument van Jackson se boek daaroor handel dat daar “fundamentaliste” in die kerk is, wat eintlik soos die Fariseërs van Jesus se tyd optree; wetties, ongenaakbaar en liefdeloos. Daarom is sulke mense streng deur Jesus veroordeel. Jesus is, blykbaar volgens die boek, liefdevol en begrypend, inklusief teenoor almal en het niemand veroordeel nie.

Ek het ernstige voorbehoude oor sulke teologie. As Jesus ons voorbeeld is, mis ek dat daar in gedagte gehou word dat Jesus duidelik die monogame, heteroseksuele en permanente verbintenis tussen een man en vrou pertinent onderskryf in Matteus 19. Hieroor kan daar geen onsekerheid wees nie. Hy onderstreep verder dat seksualiteit slegs binne ’n huwelik tuishoort wanneer Hy wel die vrou wat in owerspel betrap is (Johannes 8) nie veroordeel nie, maar haar duidelik laat verstaan dat wat sy gedoen het, verkeerd is en gestaak moet word. “Gaan en sondig nie meer nie.

Nêrens herroep of weerspreek Jesus die streng Ou Testamentiese voorskrifte (o.a Levitikus 18) wat enige seksuele praktyke buite die monogame heteroseksuele permanente verbintenis afwys, nie. Indien dit wel problematies was of die gevaar loop van waninterpretasie, het Hy nêrens die moeite gedoen om dit te herroep of te korrigeer nie.

Dis ook verder opvallend dat Hy selibaat geleef het. As Hy dan ’n voorbeeld vir ons is, is selibaat dus ook ’n navolgenswaardige voorbeeld en opsie.

Verder is dit ’n gevaarlike ideologie om te volg naamlik om die tradisionele huwelik as slegs tussen een man en een vrou in permanente verbintenis, te relativeer en af te takel, want die Christelike beskawing is hoofsaaklik op hierdie fondament gebou. Verval die uniekheid van die tradisionele huwelik, verval die morele waardes en beskawing mettertyd. Die openbare mening en die media moet ernstig hiervan kennis neem.

Dat alle homoseksuele op hulle gelukkigste is as hulle hulle homoseksualiteit vrylik kan uitleef, soos Dr Bartlett in die resensie beweer, is hoogs aanvegbaar. Daarmee skryf hy enige terapie af as onnodig en onsinnig. Dit is ’n growwe veralgemening en trek hy ’n streep deur mense soos André Bekker wat getuig van die Heer se ingrype en verandering in sy lewe. So word mense se geloofwaardigheid bevraagteken en eensydig in twyfel gestel. Wie gee ’n mens die reg om dit te doen? Hoe klink dit my soos wettiese Fariseïsme wat geen ander mening duld nie.

Dit bring my by my eintlike probleem: In hulle poging om die etiket van Fariseër om mense se koppe te hang, trap hulle in dieselfde slagyster wat hulle veroordeel. Daar kan met reg beweer word dat sulke optrede self van vooroordeel, onverdraagsaamheid en liefdelose veroordeling spreek.

Miskien het dit tyd geword dat mense soos Dr Bartlett, Neels Jackson en talle kerklike leiers moet ophou om die gesag van die Woord te kompromiteer en te relativeer deur die huidige tendense in die samelewing te akkomodeer. So word die teologie ’n dans met die moderne tydsgees en heersende modes van ons dag. Dan word die Bybel op die agtergrond geskuif ter wille van populariteit en aanvaarding deur die breër publiek.

Praat van die behoefte om ten alle koste polities korrek te probeer wees!

Terloops word daar ook verdere wilde veralgemenings gemaak deur te beweer dat daar net een korrekte verstaan van die Bybelse tekste moontlik is: hulle s’n. Om soos hulle met die teks van die Bybel om te gaan, is seker een van die swakste maniere om teologie te beoefen.

Sal dit nie wonderlik wees as die resente boek van Prof Jan du Rand, Homoseksualiteit en die Bybel, ook in Beeld positief geresenseer kan word nie? Prof Du Rand is ’n Nuwe Testamentikus en eksegeet wat wêreldwyd aansien geniet. In hierdie boek doen hy grondige en deeglike eksegese van die betrokke Bybeltekste. So ’n resensie sal die ander kant van die saak stel – iets waarin Beeld en Rapport (en die hele Media 24) skromelik tot hiertoe in gebreke gebly het.

Wat het geword van objektiwiteit en onbevooroordeeldheid by die nuusmedia van ons dag?

Hou asb op om net die LGBTQ+ agenda slaafs te propageer.

Dit klink na niks anders as propaganda nie!

Voetnotas

[1] Kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui