Die wonderwerk van 16 Desember 1838

Agtergrond

  • 1835: Die groot trek begin toe nadat Oos-Kaapse boere besluit het om onder die Engelse regering uit te kom.
  • Nov 1837: Piet Retief onderhandel met Dingaan oor grond tussen die Tugela en Umzimvuburivier. Dingaan beskuldig Retief dat hulle sy beeste gesteel het. Retief weet dat Sikonyela, ‘n Tlokwa-kaptein, dit gesteel het. Hy trek na Harrismithomgewing om Dingaan se gesteelde beeste terug te kry.
  • 3 Feb 1838: Drie maande later gee Retief die gesteelde beeste aan Dingaan terug.
  • 4 Feb 1838: Die volgende dag teken Dingaan die kontrak.
  • 6 Feb 1838: Twee dae later nooi Dingaan vir Retief vir ‘n Zoeloe-dansvertoning waar Piet Retief en sy manne vermoor word.
  • 17 Feb 1838: ‘n Paar dae later vind die Bloukransmoorde plaas. 282 trekkers en 250 bediendes word vermoor. Weenen word vernoem na hierdie gebeure.
  • 10 Apr 1838: Twee maande later stel die Zoeloes ‘n lokval vir die voortrekkers en Piet en Dirkie Uys sneuwel tydens die Slag van Italeni. Hierdie kommando vlug en hulle word daarna die Vlugkommando genoem.
  • 3 Aug 1838: Vier maande later val die Zoeloes die Trekkers aan by Boesmansrivier, maar gee na 3 dae op.
  • 3 Des 1938: Die Trekkers besef dat hulle heeltemal uit Natal sou moes padgee, of die Zoeloes aanval. Daar word besluit op laasgenoemde. Die “Wenkommando” van 464 Voortrekkers (geen vroue) met 64 waens vertrek van Schietdrift na Zoeloeland.
  • 7 of 10 Des 1838: (datum onbekend.) Carl Cilliers (die kommando se predikant) begin met die gedagte van ‘n gelofte. Daarna word dit elke aand herhaal tot 15 Desember.
  • 15 Des 1838: Toe die kommando deur Bloedrivier trek, kom die dringende boodskap dat die Zoeloemag (ongeveer 10 000) op die rante, omtrent 10 kilometer vorentoe, in aantog is. Dadelik besef Andries Pretorius dat hulle pas by ‘n strategiese plek vir ‘n laer verby is. Hulle trek terug deur Bloedrivier en slaan laer op.
  • 16 Des 1838: Die Slag van Bloedrivier vind plaas.

Die wonderwerk

1 Die regte leier

‘n Mens kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat Sarel Celliers in Andries Pretorius se kommando gedien het nie en dat Pretorius ontvanklik vir die gedagte van ‘n gelofte was.

2 Terrein/ligging

Op Maandag 10 Desember het die kommando vertrek van die Wasbankrivier. Op Saterdag 15 Desember het hulle by die Ncomerivier aangekom. Dit was nie ‘n groot afstand nie. In daardie vyf dae moes iets hulle vertraag het sodat hulle presies op die regte tyd by die gevegsterrein uitgekom het.

Toe die boodskap gekom het dat die Zoeloes in aantog was, het Andries Pretorius besef dat hulle pas by ‘n baie strategiese ligging verby is. Hulle het dadelik omgedraai en laer getrek.

Aan die suidekant was die laer beskerm deur ‘n baie diep donga met ‘n baie hoë wal. Die sloot het in die Ncomerivier in geloop. In die rivier was ‘n lang rietbegroeide seekoeigat. Weerskante van die seekoeigat was twee driwwe. Noord van die noordelike drif was ‘n moerasagtige pan wat deurtog verder bemoeilik het. Die posisie van die laer het die Zoeloes gedwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val. Aan hierdie kant van die laer was die terrein oop, wat dit moontlik gemaak het om die vyand van ver te sien.

3 Geen nagaanval

Die Zoeloes sou ‘n reuse kompeterende voordeel gehad het sou hulle in die nag aangeval het (soos tydens die Bloukransmoorde): nie net sou dit moeilik wees om die Zoeloes te sien nie, maar die kruit sou waarskynlik gesukkel het om te ontsteek in die vogtige toestande.

Die volgende dinge het daartoe bygedra dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie:

  • Die aand van 15 Desember was baie donker, want dit was donkermaan en daar was digte mis (dus geen sterlig). Hulle het waarskynlik in die donker verdwaal.
  • Die Voortrekkerlanterns wat aan sweepstokke gehang het, het ‘n spookagtige skynsel in die miswolke tot gevolg gehad. Party bronne sê dat dit vir die Zoeloes soos wit ruiters gelyk het en hulle bang gemaak het.
  • Die Zoeloes het reeds geweet dat vogtige lug die ontvlamming van buskruit kon verhinder, en het gedink hulle sou die Voortrekkers maklik in die vroeë oggend kon aanval.

4 Opklaring van die mis

Die digte mis sou moontlik veroorsaak dat die kruit vir die gewere nie sou ontsteek nie en dit sou maak dat ‘n mens nie die vyand van ver kon sien aankom nie. Toe die son begin opkom, het die mis baie vinnig opgeklaar, ‘n totaal ongewone verskynsel. Toe die mis weg was, was die Zoeloes ongeveer 40 meter van die laer. Die mis van die vorige nag het nie die buskruit nat gemaak nie.

Dit was ook reënseisoen, maar dit het nie gereën nie. As dit gereën het, sou die gewere nie kon skiet nie.

Die digte mis van die vorige aand was egter genoeg om die kleigrond glibberig te maak wat dit vir die Zoeloes moeilik gemaak het tydens die geveg.

5 Getalle

Om die getalle in perspektief te stel, moet net eers iets gesê word oor die voorlaaiers waarmee die Trekkers geskiet het.

Hoe ‘n voorlaaier gelaai is

Die Trekkers het met voorlaaiers, ook genoem die Sanna, geskiet. Na elke skoot word die loop skoongemaak met ‘n laaistok. Die kruit vanuit die kruithoring word voor by die loop ingegooi en vasgedruk. Dan volg die koeël of loper en word in posisie gedruk. Daarna kom die kruit in die vuurpan wat aan die kant van die geweer is. Eers ná die deksel van die vuurpan stewig op is, kan daar weer geskiet word. Die volgende moet ook in ag geneem word:

Slegs ‘n maksimum van 3 skote per minuut was moontlik deur ‘n ervare skut en hulle kon selfs in die ry herlaai. Die geweer was slegs akkuraat tot op 100 meter (Barker bl 11), maar verder as 50 meter sou ‘n koeël moeilik deur ‘n harde skildvel gegaan het.

Na 10 tot 12 skote moes die geweer eers afgekoel word met water, want die kruit in die warm loop kon dit laat ontplof.

Met reën of baie vog in die lug, ontstaan die moontlikheid dat die kruit nie kon ontvlam nie.

Getalle

Die Zoeloes was ver in die meerderheid. Daar was omtrent 10 000 tot 15 000 Zoeloes teenoor 464 trekkers. ‘n Verhouding van ongeveer 1 tot 20.

Sou die Zoeloes met ‘n volgehoue aaneenlopende stormloop op die laer toegesak het, sou hulle vir die volgende redes verseker die Trekkers verslaan het:

  1. Na ‘n paar minute van geweer- en kanonvuur, was die kruitdampe so dig dat dit sig belemmer het. Dit het beteken dat die Trekkers soms moet ophou skiet totdat die dampe gaan lê het.
  2. ‘n Persoon kon ‘n maksimum van 3 skote per minuut vuur. Indien mens aanvaar dat die gewere vir praktiese doeleindes slegs 50 meter ver kon skiet, sou elke persoon hoogstens twee skote kon skiet voor die Zoeloes die laer sou bereik.
  3. Na 10 tot 12 skote moes die gewere eers afgekoel word met water en skoon gemaak word.

6 Verkeerde strategie en besluite

Wanneer ‘n kort bokser teen ‘n lang bokser te staan kom, moet die kort bokser buite die bereik van die lang bokser bly, maar wanneer die kort bokser aanval, moet hy so naby as moontlik aan die lang bokser kom om die lang bokser se voordeel te neutraliseer.

Vir dieselfde rede moes die Zoeloes na regte so vinnig as moontlik by die Voortrekkers uitkom om hulle op kort afstand met die steekassegaai te veg. In plaas daarvan dat die Zoeloes egter almal gelyk aangeval het, het hulle hul mag soos volg verdeel:

Die Swartskilde (onervare krygers) en Rooiskilde (meer ervare krygers) sou die eerste aanvalle loods. Die Witskilde (ouer krygers) is aan die oorkant van die Ncomerivier opgestel en sou eers aanval nadat die Swart- en Rooiskilde die Voortrekkers uitgeput het. Verder is baie van die Swartskilde in die sloot opgestuur om die hoë walle op te klim.

Die Rooi- en Swartskilde het nooit ‘n mate van sukses behaal het en dit het veroorsaak dat die Witskildevir die grootste gedeelte van die geveg niks gedoen het nie.

Op ‘n stadium het die Rooi- en Swartskilde gevlug en daar was geen aanval nie. Andries Pretorius het toe ruiters uitgestuur om geveg uit te lok sodat die geveg nie in die nag sou ingaan nie. Op daardie stadium het die Witskilde toegetree tot die geveg, maar toe het hulle nie die ondersteuning van die Rooi- en Swartskilde gehad het nie.

Verder het die Zoeloes ook elke keer teruggeval op kritieke stadiums toe die Trekkers nie kon skiet nie: toe die kruitrook hewig was of toe die gewere te warm was om te skiet.

7 Geestelike teenwoordigheid

Daar is heelwat getuienisse van Zoeloes wat vertel van ‘n geestelike teenwoordigheid.

Die volgende is op Facebook gekry (16 Desember 2022)

Daarom is Bloedrivier ‘n slag van die suiwerheid van God teen die afgod van Nkosi! In die jaar 1881 vertel ‘n bejaarde Zoeloekryger wat Bloedrivier oorleef het aan ds JC van Rooyen (later professor): “Ons was nie bang vir die slag van die gewere nie — dit het ons al geken. Maar ons is deur vrees oorval toe daar waens van vuur uit die hemel gedaal het en duisende figure in glinsterende ligstrale om die laers stelling ingeneem het. Toe het ons uiteen gespat en gevlug!” (Lees gerus prof Van Rooyen se outobiografie, veral die gedeeltes van sy jare as sendeling in Zoeloeland)

Ook:

Toe ek ‘n kind was, in die Hotel Citrusdal, was ons hoofkelner ‘n Zoeloe met die naam van Paul. Hy was ook my nannie. Hy was ‘n Hoofman se seun in Zoeloeland. Hy het my vertel van Bloedrivier vanaf ‘n Zoeloe se perspektief. Hy het gesê die krygers kon nie naby die laer kom nie, want die vuur was so hewig en daar was groot engele wat om die laer getroon het, en hulle pyle het geen impak gemaak nie. Hulle het uit vrees weggehardloop. Paul het vir my pa in die hotelle gewerk vir 15 jaar. Hy het saam met ons getrek Somerset Wes toe. Hy is terug Zoeloeland toe, toe sy pa oorlede is, om sy plek in te neem as stamhoof.

8 Die diere in die laer is rustig

Daar moes ten minste 1150 diere in die laer gewees het. Sommige bronne praat van tot 1400 diere. Daar moes baie lawaai gewees het: Zoeloes wat skreeu en skote wat klap. Ten spyte daarvan was die diere rustig. Sou die diere onrustig wees, sou dit die aandag van die Trekkers afgelei het en selfs beserings veroorsaak het. Dit sou fataal gewees het.

9 Die tydsduur van die geveg

Teen elfuur of twaalfuur was die geveg verby en die Voortrekkers weer terug in die laer. Sou die geveg lank voortgeduur het, sou die geveg in die nag ingegaan het en sou die Zoeloes ‘n groot voordeel gehad het.

10 Geen sterfgevalle nie

Slegs drie mense is gewond:

  1. Pretorius self het ‘n assegaai deur sy hand gekry.
  2. Gerrit Raath is deur ‘n gewonde Zoeloe in die rug gesteek.
  3. Philip Fourie is met ‘n assegaai in die dy gegooi.

Dit is verstommend hoe die Voortrekkerruiters en perde tussen die Zoeloes oorleef het.

11 Slag van Bloedrivier vs Slag van Isandlwana

Vergelyk hierdie met die Slag van Isandlwana op 22 Januarie 1879 (43 jaar na die slag van Bloedrivier) waar 8000 Britse soldate nie teen 20 000 Zoeloes kon wen nie (‘n verhouding van 1 tot 2.5). Die Britte het 1300 man verloor en die Zoeloes 1000.

Slag van Bloedrivier
16 Desember 1838
Slag van Isandlwana
22 Januarie 1879
(41 jaar later)
Opponente Zoeloes Voortrekkers Zoeloes Britte
Getalle 10 000 464 20 000 8 000
Getalverhouding 20 1 2.5 1
Lewensverlies 3 000 0 1 000 1 300

As ‘n mens al bogenoemde feite in ag neem, dan is dit baie duidelik dat God bonatuurlik ingegryp het om die Trekkers by te staan.

Verdere leeswerk

1 thought on “Die wonderwerk van 16 Desember 1838”

  1. Waar kan ek prof. van Rooyen se outobiografie van “Die Slag van Bloedrivier” bekom asb?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui