Wil ons regtig luister?

Kyk ook:

Die volgende artikel is deur prof Johan Janse van Rensburg geskryf en het hier in die Kerkbode verskyn. Intussen het Kerkbode lyk my hierdie artikel verwyder, wat net weer wys waarom dit belangrik is dat hierdie tipe artikels op www.glodiebybel.co.za gestoor word.

*****************

Wil ons regtig luister? | Kerkbode

2011/03/31

Deur Prof Johan Janse van Rensburg

Ons het nie ’n goeie rekord vir luister nie. Dit word bewys deur die feit dat ons ’n “Seisoen van luister” moes instel om na God en mekaar te luister.

Klaarblyklik was dit nie genoeg nie, want ons kry toe ook ’n Diversiteitsforum, waar verskillende standpunte ge­stel kan word in die hoop om gehoor te word.

Waarom kry ek en ander die gevoel dat al hierdie pogings om openhartig na alle standpunte te luister, steeds nie effektief is nie? Ons sou verskillende voorvalle kon noem waarin individue wat ’n waarskuwende stem oor leerstellige afwykings laat hoor het, in die stof gebyt het. Die kommentaar wat oor die veelbesproke publikasie, Die Trojaanse perd in die NG Kerk, gelewer is, was byvoorbeeld oorwegend negatief, afbrekend en selfs persoonlik. Dit is verstommend om die venyn waarmee “behoudende” bydraes deur die webmeester van die Diversiteitsforum beantwoord word, te lees. Uit die manier waarop hy na die skrywers van die Trojaanse perd verwys (“perdebouers”), kan sy gesindheid teenoor hulle duidelik afgelei word. En dan word Jesus se ongeduld met die tempelhandelaars as ’n Skriftuurlike motivering gebruik vir die ongeduld met fundamentaliste en perdebouers!

Is daar niks in Die Trojaanse perd in die NG Kerk wat erkenning verdien nie? Hier is ’n groep bekommerde lidmate wat hulle besorgdheid oor tendense in die kerk te boek stel. Hulle verwag om gehoor te word, daarom skryf hulle. Hulle bedank nie uit die kerk nie, maar skryf in ’n Reformatoriese gees om ’n gesprek oor hulle besorgdheid te stimuleer. Maar klaarblyklik wil ons nie met sulke beswaardes praat nie. Hulle is negatief, krities en fundamentalisties. Ons beskuldig hulle maklik van onverantwoordelike Skrifgebruik. Ons maak hulle as niksseggende irritasies gelyk met die grond.

Kan die NG Kerk dit bekostig om so met bekommerde lidmate te maak? Moet ons nie eerder met hulle in gesprek tree nie? Het ons nie reeds baie lidmate verloor wat voel dat hulle nie gehoor word nie?

Daar is duidelik ’n algemene ongeduld met behoudende en bekommerde stemme in die kerk. Hierdie benadering gaan die kerk nog duur te staan kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui