Want die Bybel sê so

Kyk ook:

Die volgende artikel van Chris van wyk het op Netwerk24 verskyn.

***********

Want die Bybel sê so

24 November 2016

Die duidelike uitsprake in die Bybel oor selfdegeslagverhou­dings is die vertrekpunt van mense wat die NG Kerk se jongste besluit oor gay-lidmate steun, skryf Chris van Wyk.

Dit is duidelik dat daar groot verskille oor die besluite van vanjaar se buitengewone algemene sinode van die NG Kerk bestaan.

Die toepassing van die Bybelse boodskap oor homoseksualiteit is in die gedrang.

Skrifberoep vs. seksuele oriën­tasie

Dié wat die besluit verwelkom, neem meestal as vertrekpunt die duidelike uitsprake in die Bybel wat die onderwerp van selfdegeslag- seksuele gedrag behandel. Verantwoordelike Skrifberoep oor die saak self is vir hulle die etiese weg om te volg, soos ek dit self hieronder volg. Dit was ook die buitengewone algemene sinode se keuse.

Dié wat die algemene sinode se besluit verwerp, neem meestal as vertrekpunt die sielkundige en sosiale wetenskaplike aanvaarding van alle vorme van seksualiteit as normale seksuele diversiteit.

Die begrip seksuele oriëntasie word gebruik om die duidelike uitsprake in die Bybel oor die huwelik en seksualiteit in moderne konteks te plaas. Selfdegeslagverhoudings word daarby gemotiveer met verwysing na die liefdesgebod, soos verlede jaar besluit is.

Seksuele oriëntasie en die liefdesgebod

  • Die probleem met die wetenskaplike beskouings is dat seksuele ­oriëntasie nie so vas is soos wat baie reken nie. Die nuutste navorsing vanjaar van Mayer en Mc-Hugh (Sexuality and Gender), gebaseer op meer as 200 portuur-geëvalueerde wetenskapartikels, het bevind dat die idee van gender en seksuele oriëntasie as ’n onveranderbare aangebore biologiese fenomeen nie deur wetenskaplike navorsing bevestig word nie.
  • Die tweede probleem is dat seksuele oriëntasie verkeerdelik as ’n moderne begrip beskou word. Thomas Hubbard (Homosexuality in Greece and Rome) verwys na talle antieke dokumente wat seksuele voorkeure as kenmerkend van mense beskryf.

Die filosoof Parmenides van die sesde eeu v.C. wyt aangetrokkenheid tot jou eie geslag aan die mislukking van die manlike en vroulike saad om op die regte manier by bevrugting saam te smelt. Aristoteles het in die vierde eeu v.C. het geglo dat die begeerte tot selfdegeslagseks óf ’n fisiologiese grondslag het óf die gevolg is van molestering.

Dit is dus g’n wonder dat daar ook selfdegeslaghuwelik in Jesus se tyd was nie. John Boswell (Same-Sex Unions in Premodern Europe) beskryf verskillende selfdegeslagverhoudings in die Grieks-Romeinse samelewing, waarvan sommige eksklusief en van nature homoseksueel was.

As Paulus dus sê: “So was party van julle juis ook, maar julle het julle sonde laat afwas” (1 Kor. 6), verwys hy onder andere na mense wat in selfdegeslag- seksuele praktyke, ook vaste verbintenisse, betrokke was.

  • Die derde probleem is dat in die motivering van selfdegeslagverhouding die liefdesgebod van die waarheid losgemaak word. Eenheid kan nooit net in die liefde gesoek word nie. Jesus bid dat gelowiges een sal wees juis in hul toewyding aan die waarheid, die Woord (Joh. 17:17).

Paulus praat oor die eenheid van die kerk wat insluit dat daar in liefde by die waarheid gebly sal word (Ef. 4:15). Johannes verseker gelowiges dat hulle kinders van God is as hulle God liefhet en sy gebooie onderhou (1 Joh. 5:2).

My Skrifberoep

My keuse vir die standpunt van vanjaar se algemene sinode berus op die volgende Skrifberoep:

  • Genesis 1-2 verbind die huwelik tussen een man en een vrou aan die skepping van die mens in ’n binêre geslagtelikheid gemik op familiewees.
  • Levitikus 18-20 wys die gevare vir die huwelik en die familie uit deur te waarsku teen owerspel, bloedskande en selfdegeslagverhoudings.
  • Jesus sê dat God die huwelik van die begin af net vir een man en een vrou bedoel het, teenoor die uitwasse van sy tyd. Diegene wat onbekwaam is om te trou (eunugs), hetsy van geboorte af of weens beserings of ter wille van die koninkryk, bly daarom ongetroud (selibaat) (Mat. 19).
  • Jesus wys alle onsedelikheid (porneia) af in Markus 7:22. Die woord porneia word in die res van die Nuwe Testament vir bloedskande (1 Kor. 5:1), owerspel (1 Tes. 4:3), en selfdegeslag- seksuele gedrag (1 Tim 1:10, Judas 7) gebruik.
  • Paulus lê die huwelik uit as ’n verbintenis tussen een man en een vrou (1 Kor. 7). Hy wys selfdegeslagverhoudings duidelik op ’n paar plekke (Rom. 1:24-27; 1 Kor. 6:11; 1 Tim. 1:10) af.
  • Die kerk gee in Handelinge 15 duidelik leiding by die “sinodesitting” in Jerusalem dat daar geen afgodery en geen onsedelikheid onder gelowiges mag voorkom nie. Paulus skryf in byna elke brief van hom daaroor. Dit word selfs deur Jesus in sy brief aan Tiatira geëggo (Openb. 2).

Pad vorentoe vir NG Kerk

Ek dink die NG Kerk het met die 2016-besluite gekies téén eties-morele pluralisme en vír Skrifberoep in etiese sake.

Die NG Kerk het ’n helder keuse vir die huwelik gemaak as ’n eksklusiewe verbintenis tussen een man en een vrou op grond van Skrifberoep.

Al word alle gelowiges omarm ongeag seksuele oriëntasie, kies die sinode die etiese pad waarin geen ruimte vir selfdegeslag- seksuele verhoudings is nie.

Sommige dink dat eenheid bewerk sou kon word met die idee van “swaarder” en “ligter” wette sodat daar ’n hiërargie van morele reëls tot stand kom wat morele pluralisme aanvaarbaar sou kon maak.

Die “ligter” wette – in ons geval selfdegeslagverhoudings – is dan van minder belang as die “swaarder” wette van die liefde (Mat. 23). Jesus het egter van die onderskeid in die prioriteit van “swaarder” bo “ligter” wette gesê dat ons die een moet nakom en die ander nie nalaat nie. Dié opsie vir eenheid sal dus moeilik benut kan word.

Die ongemaklike waarheid is dat eties morele pluralisme altyd ’n direkte impak sal hê op die band van eenheid wat ons saambind. “To recommend moral pluralism is to find not just moral difference but moral disagreement respectable,” sê die etikus Oliver O’Donovan (Church in Crisis).

Trouens: “To advocate moral pluralism is to say that something which should in principle not be done, should continue to be done all the same.”

Ons gryp met die 2016-besluit waarskynlik ten diepste terug na ons belydenis van sola scriptura soos dit in ons keuse vir Skrifberoep in etiese sake blyk.

Miskien het die naderende 500 jarige viering van die Hervorming aanstaande jaar ’n groter invloed op ons as wat ons besef.

Dr. Van Wyk is leraar van die Somerstrand-gemeente in Port Elizabeth. Hy is ’n voormalige ­moderator van die Oos-Kaapse sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui