Evangelies Gereformeerde Kerk se standpunt oor homoseksualiteit

Die Evangelies Gereformeerde Kerk het in haar amptelike tydskrif, Kerkblad, van die Sep/Okt 2016, standpunt ingeneem teen homoseksualiteit. Die besluit draai nie doekies om nie en ’n mens wonder hoekom ander kerke nie ook net so duidelik standpunt kan inneem nie.

As ’n mens egter kritiek moet lewer op die besluit, is die besluit vaag oor die verskil tussen homoseksuele aangetrokkenheid en homoseksuele dade. Byvoorbeeld, is punt 3 en punt 5 ook van toepassing op ’n homoseksuele persoon wat nie in ’n homoseksuele verhouding staan nie?

Definisies:

Daar is ’n verskil tussen ’n homoseksuele persoon en ’n homoseksuele persoon wat in ’n seksuele verhouding met iemand van dieselfde geslag is. Dit kom nie duidelik na vore in hierdie besluit nie en veroorsaak misverstand. Daarom, kom ons kom eers ooreen oor ’n paar definisies:

  • Homoseksualiteit: Die naam vir die onderwerp. Kan ook “selfdegeslagaangetrokkenheid” genoem word.
  • Homoseksuele persoon/oriëntering: Mense wat aangetrokke voel tot mense van dieselfde geslag. Dit sluit nie noodwendig ’n seksuele verhouding in nie.
  • Homoseks: Seks tussen mense van dieselfde geslag.
  • Homoseksuele verhouding of selfdegeslagverhouding: ’n Verhouding tussen (twee) mense van dieselfde geslag. Die verhouding sluit homoseks in.

Volgens die Bybel is homoseks sonde. ’n Homoseksuele persoon of iemand met ’n homoseksuele oriëntering is nie opsig self sondig nie. Daar is egter hulp vir ’n homoseksuele persoon om daarvan bevry te word.

’n Homoseksuele persoon is soos iemand wat geneig is om homself oor te gee aan drank, maar wat daarteen veg om dit nie te doen nie. Die probleem is nie die geneigheid nie, maar die daad. Almal neig immers om sonde te doen. Iemand wat egter homoseks beoefen kan vergelyk word met iemand wat nie ’n probleem daarmee sien om homself gereeld aan drank te vergryp nie. Dus sien hy dit nie as sonde nie.

Hoe dit ook sy, ’n mens is baie dankbaar dat daar nog kerke is wat hulle nie skaam vir die Evangelie nie.

***********

AMPTELIKE STANDPUNT VAN DIE KERK OOR HOMOSEKSUALISME, LESBINISME EN SELFDE-GESLAGVERBINTENISSE SOOS DEUR DIE SINODE VAN 2016 AANVAAR

1. Die huwelik is deur God ingestel en bestaan uit een man en een vrou wat regtens wetlik getroud is. Enige ander verbintenis is nie ’n huwelik nie.

2. Seksuele gemeenskap mag slegs binne die huwelik beoefen word.

3. Homoseksualisme, in watter vorm of graad waarin mense dit ookal sou beskou, is sonde. Dit word deur die Skrif verbied en veroordeel.

4. Selfdegeslag-verbintenisse word nie deur die Skrif erken nie, dit is nie ’n huwelik nie en is eweneens sonde en ’n gruwel vir God.

5. God se toorn rus op mense wat hulle aan homoseksualiteit skuldig maak en Hy sal hulle straf, indien hulle nie tot bekering kom nie.

6. God het alle mense lief en daarom het Christus vir almal gesterf om tot bekering te kom. Die oplossing vir homoseksuele persone is om gered te word. Dit is om deur Christus se bloed gewas te word, deur God regverdig verklaar te word en deur die Heilige Gees geheilig te word.

7. Van die Kerk word verwag om alle mense lief te hê deur hulle met die evangelie te bedien. Dit beteken egter nie dat mense se sondige dade goedgekeur en in die gemeente toegelaat mag word nie. Alle mense is welkom in die gemeente as besoekers, maar word eers deel van die Kerk as hulle tot bekering kom en weergebore word.

8. Homoseksuele persone moet, as sondaars, hulle van hul sonde bekeer – dit is om dit te bely en te laat staan, hul ou natuur te kruisig en deur ’n godvrugtige lewe God te verheerlik.

9. Die gemeente mag nie homoseksuele- en aanverwante praktyke goedkeur of stilswyend aanvaar nie. Lidmate en jongmense moet teen hierdie sondes en gevare gewaarsku word, sodat hulle nie met die planne van die Satan onbekend sal wees nie. Verder moet die evangelie aan sondaars gebring word, terwyl die Kerk sy profetiese stem in die wêreld moet laat hoor.

10. Die Kerk verwerp die sondige, pro-homoseksuele standpunte van enige individu, groep en denominasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui