NG Kerk herstel ‘historiese fout’

Kyk ook NG Kerk word weer deel van die Wêreldraad van Kerke. Waarom is ek nie opgewonde nie? waarin Wynand Louw reageer op hierdie artikel.

*******

NG Kerk herstel ‘historiese fout’ | Netwerk24

27 Julie 2014

PRETORIA. – Die NG Kerk is ná ’n halfeeu weer lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK).

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die Algemene Sinode, het gesê dit is die herstel van ’n groot historiese fout wat die NG Kerk 50 jaar gelede begaan het toe dié kerk en die WRK se paaie uiteengeloop het weens apartheid.

In 1961, ná die Cottesloe-kerkeberaad in Johannesburg, het die NG Kerk besluit om hom aan die WRK te onttrek. Dié beraad het in Desember 1960 plaasgevind en het regstreeks voortgespruit uit die Sharpeville-slagting waarin 69 ongewapende betogers deur die polisie doodgeskiet is.

“Die Afrikanerkerke het aanvanklik op die Cottesloe-beraad op ’n sagte manier standpunt ingeneem teen apartheid,” het Niemandt aan Die Burger gesê.

Daarna het dr. H.F. Verwoerd, destydse eerste minister, glo druk op dié kerke geplaas. Die NG Kerk het onder druk geswig en geweier om standpunt in te neem teen die regering. Dr. Beyers Naudé, bekende anti-apartheidstryder, het mettertyd as leraar uit die NG Kerk bedank.

Die proses om heraansoek om lidmaatskap te doen, het sowat agt jaar geduur en dié aansoek is vroeër vandeesmaand goedgekeur.

“Ons is verheug. Die NG Kerk het nog altyd ’n baie sterk ekumeniese ingesteldheid gehad. Ekumeniese organisasies is organisasies wat uit verskeie kerke bestaan en dit is kernbelangrik om geloofstandpunte teen dié van ander kerke te kan toets.

“Dit help jou om sáám na die waarheid te soek. Die WRK takel ook groot openbare kwessies, soos aardverwarming en die oorlog in Israel en Palestina,” het Niemandt gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui