Spesiale sinodesitting al wat NGK kan red

RAPPORT, 11 SEPTEMBER 2005

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/09/11/R1/17A/07.html

JOHANNESBURG FINAAL

NUUS bl.17

BRIEWE

Spesiale sinodesitting al wat NGK kan red

PIETER HURTER, HERMANUS:

Verskille oor wesenlike sake onder ampsdraers en lidmate van die NG Kerk is van so ’n omvang dat dit nie sonder meer sal verdwyn nie.

Die “gay-kwessie” wat met die omstredenheid om ds. Laurie Gaum onder die loep kom, is maar een van die sake waaroor selfs van die voorste teoloë in die NG Kerk fundamenteel met mekaar verskil. Die sogenaamde Nuwe Hervorming, die verskillende sienings van die geboorte en opstanding van Jesus en les bes, die Belhar-belydenis, is sake waaroor heftige debatte gevoer word. Dit is besig om die NG Kerk te verlam .

Al hoe meer getroue lidmate is keelvol vir hierdie rondomtalie-debatte en verlaat die kerk in groot getalle of raak passief.

Van sinodale kant is daar klaarblyklik grootskaalse verwarring en verskil van menings. Staan die sinodebesluite van 1986 oor homoseksualiteit, of het die besluite van 2004 dit opgehef? Niemand weet presies nie en die verklarings wat deur die moderatuur uitgereik is, skep net groter verwarring.

Die enigste manier om die geskille uit die weg te ruim, is dat ’n spesiale sinodesitting so gou moontlik belê word waar alle gelegitimeerde predikante van die NG Kerk hul sê kan sê en die debatte in die ope gevoer word.

Die brandende kwessies kan tot stemming gebring word en as die ampsdraers op demokratiese wyse daaroor gestem het, kan daar geen verdere twyfel bestaan oor die kerk se beleid oor dié aktuele sake nie.

Dit is ongelukkig so dat die moderator, dr. Coenie Burger, en sy kollegas in die breë moderatuur reeds so gesloer het met besluitneming oor aktuele sake dat hulle al hoe meer onder verdenking kom. Vrae word reeds gestel oor of hulle agendas het wat nie algemeen na buite bekend is nie.

Om so ’n spesiale sinodesitting te laat slaag en om die NG Kerk se geloofwaardigheid te herstel, sal dit wenslik wees dat die huidige moderatuur bedank voor die spesiale sinodesitting.

Dit is drastiese voorstelle, maar ongelukkig het die kerk nou sterk medisyne nodig om te herstel. Die skade wat reeds aangerig is, is veels te groot vir kosmetiese besluite. Vrees vir kerkskeuring behoort ook nie in die weg te staan van ’n regruk-aksie nie. Die kerk sal buitendien skeur as sake bly soos dit is.

Foto: s/w
Onderskrif: Laurie Gaum

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui