Dagbestuur van teologiese fakulteit reageer

Kyk ook:

*******

Dagbestuur van teologiese fakulteit reageer | Die Vrye Afrikaan

Die Vrye Afrikaan, 7 Sep 2005

Cas (CJA) Vos, Johan (J) Buitendag en Pieter (PJ) van der Merwe

Na aanleiding van die inleidende aktuele artikel van ons dossier oor “Die (NG) kerk en sy tyd” skryf die dagbestuur (C.J.A. Vos, J. Buitendag en P.J. van der Merwe) van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria

’n Berig (gerug) is soos ’n vuurbrand. Dit kan ’n hele wêreld laat opvlam. Dit gebeur veral as ’n joernalis die gedrukte en elektroniese media as aansteekvure gebruik. Dit is veel moeiliker om die brandwonde te laat genees as om dit te veroorsaak. Hierdie skrywe is ’n geringe poging om genesing te bring nadat soveel skade aangerig is.

Ons verwys na die opspraakwekkende artikel, “Opstand in die NG Kerk”, in Die Vrye Afrikaan van 19 Augustus 2005. Die saak waaroor dit vir ons gaan, is om “nog ’n krisis” wat by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria sou voorkom. Daar word ook op ander teologiese fakulteite gesinspeel.

Van ’n goeie joernalis word integriteit verwag. Dit beteken onder meer dat daar na alle stemme geluister en alle moontlike bronne ondersoek behoort te word. U sê self in u Redakteurskolom op p6 dat u die “arrogante” wyse waarop die hoofstroom-media met die kerk omgaan, juis probeer vermy. Dit is vir ons jammer om te sê dat juis dit nie met die berig bereik word nie. Die joernalis van die gewraakte artikel beweer byvoorbeeld dat 46 studente wie se name wederregtelik onderaan ’n klagskrif teen ’n paar dosente verskyn het, per sms met moontlike regstappe gedreig is. Hulle is glo een vir een ingeroep en met legitimasie-weiering gedreig. Waarom is die beweringe nie met dr. Flip du Toit, Predikant vir Teologiese Opleiding (NGK), gekontroleer nie? Waarom is die verklarings van die studente wat hulle van misleiding distansieer, nie nagegaan nie? Die teendeel sou dan geblyk het.

Daar word ook beweer dat Skrifgesag ondergraaf word. Dis so ’n eensydige en algemene stelling. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen ’n grondig wetenskaplik- gefundeerde en ’n oppervlakkige lees van Bybeltekste. Wanneer en waar is die Apostoliese Geloofsbelydenis “net plek-plek” nagesê? Ons almal sê dit met al ons asem na. Wat méér moet ons nog sê? En boonop glo ons nie “in die Belydenisskrifte” nie, maar in die Vader, die Seun en die Gees, aldus die Twaalf Artikels.

Meneer die Redakteur, die artikel wemel van eensydighede en weerlegbare stellings. Dis te veel om op te noem. Volgende keer moet die Redakteur met ’n helder oog kyk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui