Só het die NP se Bybel destyds apartheid gesien

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Só het die NP se Bybel destyds apartheid gesien | Netwerk24

Koos Van Der Merwe, Voormalige Lp

21 Januarie 2023

Ek lees James McIntyre vra hoe verskil die Nasionale Party (NP) se Bybel om apartheid te regverdig van die Bybel wat Adriaan Vlok gebruik het om hom te bekeer (01.19).

Ek wil hom graag antwoord, maar wil my wel nie bemoei met die nagedagtenis van Vlok, my oudkollega, nie. Hy het klaarblyklik gedoen wat hy geglo het is reg en Bybels.

Maar hoe het die NP se Bybel dan apartheid gesien?

In die boek Regverdige rasse-apartheid (1947:43-57) geskryf deur dr. W. Nicol, prof. E.P. Groenewald en dr. G. Cronje, skryf Cronje:

  1. “Die verdeling van die menslike geslag in rasse, volke en tale is ’n bewuste daad van God”;
  2. “Die Here wil dat aparte volke hul apartheid moet bly handhaaf”;
  3. “Die apartheid strek hom oor die hele terrein van die volkslewe uit”;
  4. “Die sosiale skeiding tussen die volke word deur Jesus Christus aanvaar”; en
  5. “Gods seën rus op die eerbiediging van apartheid.”

Die kerke het later van mening verander en glo nou apartheid was verkeerd.

Die NP se leiers het sterk standpunte oor apartheid ingeneem. Die eerste minister John Vorster sê in September 1975: “Ek moes my opnuut vergewis en in my hart sekerheid kry dat die NP op die regte pad is. Ek het nie die minste twyfel dat die morele grondslag van ons beleid reg is nie.”

Oudpres. FW De Klerk het op 14 Mei 1997 voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) ’n belydenis oor apartheid gedoen en prakties skuld aanvaar vir alle klagtes wat oor apartheid gehef is.

De Klerk het wel nagelaat om ter versagting agtergrond en verduidelikings te gee, wat ’n flater was.

Die feit dat hy skuld aanvaar het vir alle klagtes wat teen apartheid gehef is, was sy bevestiging dat die klagtes waar was. De Klerk het daardeur sy land en ondersteuners in die steek gelaat, want daar is geldige argumente dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was soos die Verenigde Nasies in 1973 aanbeveel het nie.

Dit kom my voor die debat oor apartheid gaan nog lank leef.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is verblydend om uiteindelik iemand te kry wat vra vir versagtende omstandighede vir apartheid. As ‘n mens in ag neem in watter toestand Suid-Afrika tans is, is ek verstom daaroor dat mense apartheid in sy geheel afmaak as boos en sondig. Moet ‘n mens nie tot die gevolgtrekking kom dat apartheid ‘n gebroke poging was om te oorleef in Afrika nie?

1 thought on “Só het die NP se Bybel destyds apartheid gesien”

  1. Nou waar kry ‘n mens ‘n boek?
    Ek hoor dikwels dat mense se “die (NG) Kerk het Apartheid met die Bybel regverdig”. Nou waar het hulle dit gedoen? En hoe het hulle dit gedoen. Wat is die tekste en beleidsdokumente. Ek het altyd gedink dat Apartheid/Segregasie/afsonderlike ontwikkeling ingestel is vir praktiese redes. Juis aangesien Suid-Afrika ‘n besonderse situasie gehad het aangaande die veelvolkigheid in die grondgebied wat die Unie van Suid-Afrika geword het. Maar dit blyk die Bybel erken ook veelvolkigheid as ‘n gegewe en selfs ‘n goeie ding. Mens moenie vergeet dat die wet ingestel is vir die Israeliete wat homself as aparte volk moes handhaaf. Ek ken natuurlik ook die reddingsring wat gebruik word: “Maar die ander Volke is heidene” dus was dit ‘godsdienstige Apartheid’. Dit het my ook opgeval dat die teenstaanders van ‘Apartheid’ gewoonlik maar kommuniste, liberales of ‘progressiewe Christene’ was. Daardie ‘progressiewe Christene’ was gewoonlik teologies liberal. Hulle het nie die bybel so ernstig opgevat nie en ook maar ‘n humaniteitsgodsdiens voorgestaan. Iets in die lyn van ‘die christene moet sosiale probleme oplos’. Nou ja, ek het altyd gedink die christene moet met sonde breek, weergebore wees en die evangelie verkondig. Dis ‘n bietjie anderste as ‘n sosialis te wees en volgens menslike denke ‘regverdige strukture’ in die samelewing instel. Met daardie progressiewe benadering word die kerk maar net ‘n propaganda-arm vir progressiewe politiek… ook is die beskouinge van die bybel juis konservatief van aard. Die staat kan glad nie ‘dinge regverdig maak’ inteendeel is die owerheid se rol beperk tot inperking van die bose deur straf van die kwaaddoeners. Iets wat oor die jare ook maar verander het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui