Getuienis: Johannes Meintjes

Goeiedag en ‘n seëngroet in die Naam bo alle name,

Ek is (Abraham) Johannes Meintjes. Tans lidmaat van die NG Familiekerk, Kameeldrif. Ek doleer en neem deel aan die FGG (Familie van Gereformeerde gemeentes) en Koinonia Sinode inisiatief. My gemeente nie.

Waarom het ek as belydende lidmaat van die NG Kerk na Katkisasie in 1976 (Alberton Wes), dan in 1990 in Simonstad begin soekende raak? (Ons het baie rondgetrek vir diens in die SA Vloot en a.g.v. sendingroeping). Alberton Wes, Kimberly, Milnavair Gemeente Saldanha, Monte Vista, Richardsbaai (Arboretum), Magalieskruin in Pretoria en nou NG Familiekerk Kameeldrif.

Ek was sover moontlik ‘n aktiewe en meelewende lidmaat. Jeug voorsitter. Klankbord operateur. Diaken. Herstelspan. Uitreikspan. Sopkombuis en nagskuiling. Sendingwerker.

1. Die kerk was vir my te stram, te gereguleerd en te veel op formaliteite geskoei. Die gaping tussen preekstoelvaardiges en kerkbanksitters was te groot. Geen Ef 4 funksionaliteit. Die gemeenskap is nie werklik aangeraak nie, want die lidmate was passief en bloot geestelik apaties.

2. Kinderdoop, Sondagkerk, Paasfees en Kersfees het my binne verskeie konflikte vasgevang (veral soos wat sendingblootstelling ons al meer aan ander kerkgenootskappe en onafhanklike kerke ook begin blootstel het. Daar was vir my ‘n Rooms Katolieke fondasie met net ‘n halwe Reformasie in die NG Kerk waarneembaar.

3. My eie voortgesette studies in ander kerkkringe, rondom kerkleierskap en kerkplanting, berading, mentorskap en “life coaching” het my al meer aan mense se vraagstukke oor die kerk en Bybel interpretasie blootgestel.

4. Met sendingmobilisering het ek my telkens teen broeders op die kerk se stoep vasgeloop wat oor die alternatiewe teologie wou praat (maar ek het nog nooit ‘n dominee, pastoor of reverend daaroor hoor preek nie. Inteendeel. Paulus spreek hom sterk uit oor enige ander teologie)! My afsydigheid daarrondom het my van sendingsteun ontneem.

5. Dan was daar groeiende kommer in my hart oor dinge wat maar in die kerk se kantoorgange of by Broederskringe gehoor en gesê word wat deel is van die “vergrype” van enige groot organisasie. Dit laat my net voel dat daar ‘n vallei is tussen wat in die kerkbanke gehoor word en wat in die kantore bespreek word.

6. Maar die mees kwellende en knellende was dinge wat van Sinode sittings terug gevoer is oor die jare, en wat duidelik die denke van mense en tendense weerspieel het, en nie van die Bybel nie. (Ons praat nie eers van SA Protestante kerke en andersins wat na Vatican II voor die Pous gaan kniel het nie!)

Waarom dan weer in die stram kerkbanke en jaarlikse roetines van die NG Kerk kom sit?

1. Want sonder samekomste in eie kulturele en taal konteks is mens naderhand ‘n innerlik-verdeelde mens.

2. Omdat die Kairos Netwerk vir my as ‘n kredietwaardige erkentelikheid en strewe na ‘n tipe van Ezra suiwering in erns voorgekom het. Dit was my indruk dat die NG kerk weer in verskeie opsigte ‘n verskil sou kon maak en ‘n voorbeeld sou kon stel met die dolering en hervormingsstrewe saam met die FGG en Koinonia Sinode se voorneme. Om waarlik ‘n Bybels kerk te wees is immers uitnemend by uitstek!

3. Omdat ek sedert 2004 nie in een ander kerk of sendingorganisasie kon regkom met ‘n gesonde, kredietwaardige, volhoubare en stukragvaardige sendingstuurmodel vir Kongoriviersending nie.

Met dank en waardering vir jou tyd, Daniel, en vir die Glo Die Bybel webwerf. Die aangehegde is bloot as toeligting en agtergrond.

Mat 28:18-20 sendinggroete,

Johannes Meintjes
Sakfoon: 082 443 5685

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui