Die Bybel oor gelykheid

Inhoud: Tien gebooie, Uitverkiesing, Liggaamlike tekorte, Slawerny, Ouderdom, Jesus oor gelykheid

Onder liberale kringe word gelykheid as baie belangrik gesien. Dit is daarom dat regstellende aksie, BEE en BBBEE gedryf word. Selfs sosialisme, wat bewys het om nie ‘n volhoubare sisteem te wees nie, word gedryf onder die vaandel van gelykheid.

’n Mens kry egter nie die idee dat die Bybel hierdie gedagte deel nie.

Tien gebooie

Die tiende gebod lui: “Jy mag nie begeer nie”

Die logiese gevolgtrekking is dat almal nie gelyk is nie, maar dat jy moet aanvaar wat jy het.

Uitverkiesing

Ongeag wat jou siening oor die uitverkiesing is, dit is duidelik dat alle mense nie gelyke kanse kry om gered te word nie.

Liggaamlike tekorte

Levitikus 21:17-23

(17)“Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met ‘n liggaamlike tekortkoming mag ooit ‘n offer aan God bring nie. (18)Geen persoon wat ‘n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met ‘n misvormde gesig of liggaamsdeel, (19)of met ‘n gebreekte voet of hand, (20)of met ‘n boggel of ‘n onderontwikkelde liggaam, of met ‘n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of ‘n beskadigde geslagsdeel nie. (21)Geen persoon uit die priestergeslag mag dus in die heiligdom ingaan om te offer as hy ‘n liggaamlike tekortkoming het nie. Hy mag nie ‘n offer vir die Here sy God bring as hy ‘n liggaamlike tekortkoming het nie. … (23)Hy mag egter nie naby die voorhangsel of naby die altaar kom as hy ‘n liggaamlike tekortkoming het nie. Ek, die Here, het hierdie dinge geheilig en dit mag nie ontheilig word nie.”

Dus het God gediskrimineer teen mense met liggaamlike tekorte.

Slawerny

Die Bybel het slawerny toegelaat, soos onder andere gespesifiseer in Levitikus 25:42-46:

(42)Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie. Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so ‘n mede-Israeliet hard behandel nie. Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop. Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie.

Let wel, dit was nie slawerny soos ons dit vandag ken nie. Kyk Die Bybel oor slawe.

Ouderdom

Numeri 8: (24)“Wat die Leviete betref, hulle moet vyf en twintig jaar of ouer wees voordat hulle hulle ampsplig in die tent van ontmoeting kan kom vervul. (25)As ‘n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie. (26)Hy mag sy mede-Leviete nog met hulle ampswerk in die tent van ontmoeting behulpsaam wees, maar self mag hy die diens nie behartig nie.

Dus is daar gediskrimineer op grond van ouderdom.

Jesus oor gelykheid

Nêrens spreek Jesus homself uit oor gelykheid nie, ten spyte daarvan dat hy baie geleenthede daarvoor gehad het.

Gelykenis van die muntstukke

In Matteus 25:14-30 en Lukas 19:11-27 vertel Jesus die gelykenis van muntstukke.

‘n Mens sou kon vra hoekom Jesus ‘n gelykenis vertel waar die een wat die meeste gekry het, die meeste geprys word.

Verder klink dit of dit meer regverdig sou wees indien Jesus die ekstra muntstuk aan die tweede slaaf sou gee, die een met die twee muntstukke. Tog gee hy dit aan die eerste slaaf, die een wat reeds die meeste muntstukke het. Jesus sluit verder af met die stelling in vers 29: “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”

Julle het tog altyd die armes by julle…

In Matteus 26:6-13 en Markus 14:3-9 word vertel dat ‘n vrou baie duur nardusolie op Jesus se kop uitgegooi het. Die dissipels het gevoel dat dit ‘n verkwisting was en dat dit eerder vir die armes gegee kon word, maar Jesus het geantwoord: “Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie.”

‘n Mens sou kon voel dat die dissipels ‘n goeie punt gehad het.

Siro-Fenisiese vrou

In Matteus 15:21-28 en Markus 7:24-30 lees ons van die Siro-Fenisiese vrou wat Jesus vra om ’n bose gees uit haar dogtertjie te dryf.

In die Een Jaar Bybel is die oordenking oor Markus 7:29 op 25 Februarie die volgende:

“In die Joodse kultuur van daardie tyd was daar twee dinge wat teen die Siro-Fenisiese vrou getel het: (1)Sy was ‘n vrou en vroue was in dieselfde lig as vee gesien wat gekoop en verkoop kon word en (2)sy was ‘n heiden en volgens die opvattings van die tyd was die heidene buite God se genade.

Ten spyte van hierdie agtergrond, antwoord Jesus haar soos volg:

“Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

Jesus het “omdat haar geloof groot was” op die ou einde aan haar versoek voldoen. Jesus kon egter die geleentheid gebruik het om ‘n les oor gelykheid te gee, maar hy het nie.

Die twee broers en die erfenis

Lukas 12: (13)En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. (14)Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ’n regter of deler oor julle aangestel? (15)En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.

Jesus het presies die situasie geken het omdat hy alwetend was, dus het Hy ’n gulde geleentheid gehad om reg te laat geskied tussen hierdie twee broers. Tog verkies Hy om dit nie te doen nie. Hoe verstaan ’n mens hierdie optrede? Ek dink Jesus het hiermee gewys dat dit veel belangriker is om nie ongelukkig te wees oor ongelykheid nie (tiende gebod). In vers 15 sê Jesus dat die bron van die broer se ongelukkigheid uit hebsug gebore is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui