2002 NGK homoseksuele besluit

Kyk ook:

Hier volg die NG Kerk se 2002-besluit oor homoseksualiteit. Die volgende verslag het gedien tydens die sinode: 2002 NGK Homoseksuele verslag

*************

Algemene Sinode 2002

  1. In die lig van die voortgaande besinning verklaar die Algemene Sinode dat ons ons nie langer sonder meer kan vereenselwig met die verslag, Homoseksualiteit. Wat sê die kerk (1986) nie. In die lig van voortgaande besinning verklaar die Algemene Sinode dat daar in die Kerk ernstige meningsverskil ontstaan het oor sy ingenome standpunt oor homoseksualiteit.

INTERPRETASIE VAN BESLUIT 1:

Die Algemene Sinode verstaan dit so dat hy met die aanvaarding van besluit 1 erken dat daar rede is om weer te besin oor sy standpunt oor homoseksualiteit. Alhoewel die besluit van 1986 geldig bly totdat dit herroep word, bring die aanvaarding van die amendement mee dat daar ’n nuwe, oop situasie ontstaan het in afwagting op ’n standpunt by die volgende Algemene Sinode

  1. Sonder miskenning van die feit dat daar in die samelewing verhoudings bestaan en tot stand kom tussen lede van dieselfde geslag, handhaaf die Sinode die standpunt dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou volgens ons verstaan van die Skrif as ’n huwelik beskou kan word.
  2. Die Algemene Sinode erken met hartseer en berou dat ons in die verlede deur veroordelende gesindhede en liefdelose optrede ’n aandeel gehad het aan die vervreemding van homoseksuele gelowiges. Ons bevestig dat ons nie die integriteit van medegelowiges bloot op grond van ’n homoseksuele oriëntasie in twyfel wil trek nie. Graag verseker ons hulle van die NG Kerk se opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat hulle hartlik welkom is in ons gemeentes.
  3. Die Algemene Sinode waarsku in ’n tyd van seksuele losbandigheid met groot erns om die Godgegewe gawe van die seksualiteit te gebruik op ’n wyse wat die Gewer eer en ons medemens koester. Dit impliseer dat heteroen homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  4. Die Algemene Sinode dra dit op aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake om ’n grondige en omvattende studie te doen oor homoseksualiteit met die oog op die volgende Algemene Sinode. Die Kommissie betrek ook ander kommissies en deskundiges by die besinning oor hierdie saak. Veral moet gepoog word om ook gelowiges met ’n homoseksuele oriëntasie, asook gelowiges wat bely dat hulle deur God se genade van ’n homoseksuele ingesteldheid en leefwyse bevry is, by die ondersoek te betrek. Die Algemene Sinode versoek AKLAS om hierdie studie te onderneem binne die raamwerk van die meer omvattende antropologiese vraag na die rol van die seksuele as sodanig in die lewe van mens en maatskappy.
  5. Die Algemene Sinode versoek ampsdraers en kerkvergaderings om met groot omsigtigheid en respek teenoor alle medegelowiges die aangeleentheid te hanteer in afwagting op die besluite van die volgende Algemene Sinode. Op almal wie se pad kruis met persone met ’n homoseksuele oriëntasie, word ’n beroep gedoen om hulle in die styl en gesindheid van Jesus Christus te aanvaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui