NGK homoseksuele gids: ’n beoordeling

Kyk ook:

Henrietta Klaasing het die volgende beoordeling geskryf van die gids wat die lig gesien het om NG Kerk lidmate te probeer oortuig dat daar ruimte is vir verskillende sieninge oor homoseksualiteit.

************

29 Maart 2020

Hier is ’n paar inleidende opmerkings voordat ek my indrukke puntsgewys gee:

Waarom vind die ASM (as die opdraggewer van die hele proses om die GIDS te versprei en “te verkoop” aan lidmate, gemeentes, sinodes) dit hoegenaamd nodig om hulself te verdedig rakende besluite van ASM 2019? En waarom is die hooffokus spesifiek selfdegeslagverhoudings, al is daar met AS2019 meer as 15 ander besluite geneem? Is dit reg om in hierdie moeilike tye geld te spandeer aan sodanige GIDS, om spanne saam te stel om rond te gaan en mense verder “in te lig”? In my heugenis het dit nog nooit vantevore gebeur nie (nee nou onthou ek: iets soortgelyks het met Belhar en die voorgenome verandering van Artikel 1 van die Kerkorde gebeur). Met die Moreletapark beraad is dit oor en oor gestel dat die leergeskil oor veel meer as selfdegeslagverhoudings gaan. Is hierdie abnormale aandag aan selfdegeslagverhoudings juis omdat DIT agenda is: om die gay kwessie met alle mag vorentoe te dryf?

“Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot VASGELOOPTHEID gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is” (AS Oktober 2019). Hiermee wil ek afskop, want ek sou die VASGELOOPTHEID eerder wou beskryf as “VASGEVERFDHEID” – dat hulle hulself in ’n hoek vasgeverf met veral drie gebeurtenisse: Die eerste was in Kraaifontein Parkegemeente toe ʼn openlike gay ds Louis van der Riet as leraar van die NG Kerk bevestig is (Februarie 2019) en ’n paar maande later in Julie 2019 Philipp Dietmann wat in ’n selfdegeslagverbintenis is, as predikant bevestig is in NG Gemeente Stellenberg. Die derde was natuurlik die opspraakwekkende gay hofsaak. Die reaksie op al hierdie dinge was geweldig groot. Die Weskaapse sinode en ASM was nou in ’n krisis en “skadebeheer” moes toegepas word. As die “genie” uit Aladdin se lampie is, hoe kry jy dit terug?

MY GESPREKSPUNTE OOR DIE “GIDS”

1. Oorhaastig en ondeurdag

Dat hierdie dokument (GIDS) oorhaastig en ondeurdag voorberei was, moet ’n mens seker nie verbaas nie, gesien in die lig van die oorweldigende reaksie wat daar vanuit die geledere van besorgde lidmate deur die jare opgebou het en geëskaleer het in reaksie op meer onlangse gebeure soos in Kraaifontein Parkegemeente en Stellenberg en die gayhofsaak. Dat een van die grootste gemeentes in die land naamlik Moreletapark hul voornemens uitgespreek het om ’n buitengewone beraad te hou wat oop sou wees vir enige besorgde lidmaat van enige deel van die land kon ook ’n rol gespeel het – daar sou dringend skadebeheer toegepas moes word. Saam met die “vasgelooptheid” was hierdie faktore klaarblyklike redes vir die opstel van hierdie dokument. Die huidige leierskap het navorsing gedoen en bevind dat daar ’n middelgroep besluitlose, beïnvloedbare gemeentes/lidmate bestaan wat so gou as moontlik oorreed moet word na hulle standpunte. Verder is daar besorgde lidmate wat van mening is dat 2019 se besluite (wat blykbaar kom vanuit een beskrywingspunt) onregmatig ingedien is onder voorwendsel dat dit van die Sinode van Wes-Kaapland kom. Is hierdie ondeurdagte optrede dalk vanwee oorhaastigheid?

2. Gryp na strooihalms en ’n gegorrel

Waarom word die woord “vasgelooptheid” skielik verander na “verstrengeldheid” (wat glo ontknoop kan word) ? Dit is na my mening ’n gryp na ’n strooihalm en verander niks aan die feit dat die AS2019 hulself in ’n hoek vasgeverf het en nie weet hoe om daar uit te kom nie – ’n flou poging om verkeerde dinge reg te stel. Bo aan p.22 (tweede paragraaf) staan : “Die voorbeeld van Handelinge 15 kan ons as kerk gerusstel dat ons 2019 besluit ’n Bybelse manier van besluit is”. Nog ’n strooihalm. Veelvuldige verwysings na en aanhalings van slim mense (selfs Calvyn se Institusie) oortuig nie en is bloot ’n gegorrel wat nie waarlik tot ’n punt kom nie.

3. Denkspronge

Menslike denke word gebruik sonder Bybelse begronding om diepgaande veranderings aan besluite te maak. Op p. 14 (punt 7.4) word “seksuele orientasie en -identiteit” byvoorbeeld bygevoeg om ruimte te maak vir die gayagenda. Ook op ander plekke. Bo aan p.23 (derde paragraaf) staan : “In kort genees diversiteit ons op ’n manier wat ons nie eens kan bedink in ’n eenvormige wêreld nie!” Hoe word daar van die voorafgaande na so ’n konklusie anders as met ’n denksprong!

4. Buite konteks

Baie min Skrifgedeeltes word aangehaal in vergelyking met die geskrifte van sogenaamde geleerdes. Is dit om die naïewe deursnee lifmaat te flous en beïndruk en geleerd voor te kom met “diepgaande navorsing”? Waar die Woord wel aangehaal word, word dit nie behoorlik binne konteks gebruik nie of om ’n bepaalde agenda te bevorder, soos die reedsgenoemde voorbeeld van Handelinge 15.

5. “Liefde is liefde”

Die spreuk “liefde is liefde” wat die mantra was van die skynbaar suksesvolle AS2015 word oral tussen die lyne weer gebruik om twyfelendes te oorreed. Besorgde lidmate word baie dikwels van liefdelose optrede teenoor gays beskuldig, maar WAT is ware Bybelse liefde? Is dit nie om die sondaar te waarsku dat sy/haar pad nie in lyn is met God se Woord nie?

6. Dinge wat weerspreek word of bloot net nie sin maak nie

Daar is dinge wat mekaar weerspreek: in die een asem word gesê dat die Bybelse huwelik nog hoog geag word deur die ASM, maar ’n paar bladsye later word dit aan gemeentes oorgelaat om self te beluit ? (p. 18) Die Engelse het ’n uitdrukking dat ’n mens nie ’n speler en skeidsregter tegelyk kan wees nie. In die GIDS op p 14 staan daar dat ATLAS die opdrag gegee word om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag – dit gaan dus verder as AS2015. Die hele saak rakende selfdegeslagverbintenisse is dan nog onder bespreking, hoe kan so ’n stap dan geneem word? ’n Ander saak is dat die AS “verbind is tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar … “ (p.13 punt 3)!! EENSYDIG luister JA! Na net een kant van die saak. ’n Dowe oor word verleen aan die kant van besorgde lidmate!! Wat van die nalaat om met AS2019 die Skriftuurlike en teologiese besware in die gravamina (in die GIDS word self erken dat daar meer as 600 bladsye was) aan die orde te stel en te bespreek? (Dit is op ’n CD gesit waar gemeentes self kon besluit of hulle daardeur wil gaan of nie). Die Algemene Sinode se oordrewe herhaling van verskonings aan die gaygemeenskap, terwyl verskonings ontbreek vir die geweldige groot finansiële-, geestelike- en integriteitskade wat die Algemene Sinode reeds veroorsaak het aan die NG Kerk en die besorgde (en ook naïewe goedgelowige lidmate) lidmate wat erns maak met die Woord van God, word betreur!!

7. Liberalisme en humanisme met gepaardgaande hoogagting van mens- en gedragswetenskappe

Liberalisme en humanisme is die modedenke van die dag, dwarsoor die wereld. Amerika is seker die beste voorbeeld en die NGK in SA is ook nie oorgeslaan deur hierdie gees nie. Godsdienstige humanisme is ’n integrasie van ’n humanistiese etiese filosofie waar menslike behoeftes, belangstellings en vermoëns sentraal staan. Die GIDS is vol van voorbeelde hiervan. Menseregte word so dikwels die fokus, terwyl die Bybel menslike aanspreeklikheid en verantwoordelikheid teenoor God voorhou. Die ASM en diegene wat by hierdie GIDS betrokke is, moet weer die NGB lees: wêreldbeeld en wetenskap (ook mens-en gedragswetenskappe), kultuur, geskiedenis, en so meer is ONDERGESKIK aan die GODDELIKE WOORD! (Art 2, NGB): “God maak Hom nog DUIDELIKER en MEER VOLKOME aan ons deur Sy Heilige en GODDELIKE WOORD bekend”.

8. Minagting van God se Woord

Hierdie hang saam met punt 6. Die oormatige klem wat gelê word op geskrifte van mense, die mens- en gedragswetenskape en die min verwysings na en gebrek aan diepgaande Bybelstudie oor spesifieke dele van die Bybel is opvallend. Vir besorgde lidmate is dit nie aanvaarbaar nie, aangesien die Skrif ons beveel om aan God en Sy Woord meer gehoorsaam te wees as aan mense of menslike leringe. Die 2019 besluite stem grootliks ooreen met die 2015-besluite waarteen steeds dieselfde teologiese besware vanuit die Bybel en belydenisskrifte bestaan, maar wat nie deur die Algemene Sinode hanteer of beoordeel is nie

9. Kerkordelik?

Nog ’n kwessie wat onder die loep geneem sal moet word, is of die opstel van die GIDS dalk onkerkordelik is. Een van die punte onder riglyne vir behoudende lidmate wat genoem is by die Moreletapark Beraad is 5.2. Dat van die prosedures/ besluite tydens AS2019 moontlik onkerkordelik sou wees. “Die besluit is gefinaliseer welwetend dat dit baie omstrede is. Sien Art 3 punt 4.2 van 2019 se Kerkorde. Dit is ’n ooreenkoms wat sedert 1994 in die kerk geld. Die sinode het ten spyte van voorstelle en uitdruklike versoeke uit die vergadering in 2015 en weer in 2019, geweier om die ooreenkoms gestand te hou.” (Geneem uit die dokument wat na MPB versprei is). Is die GIDS wat voortgevloei het uit ’n onkerkordelike besluit, dan nie ook onkerkordelike nie – – dit wonder ek net by sigself.

2 thoughts on “NGK homoseksuele gids: ’n beoordeling”

  1. “…Algemene Sinode neem kennis dat verskille … van Skrifhantering en Skrifuitleg tot VASGELOOPTHEID gelei het,”

    Is dit nie maar die enigste waarheid wat hulle gepraat het oor die hele storie nie? Dat dit werklik hier (en in die algemeen ander sake) gaan oor hoe ernstig ons die Bybel opneem nie?

    “…VASGELOOPTHEID eerder wou beskryf as “VASGEVERFDHEID”…”. Ek verstaan wat u bedoel het en geniet die humoristiese opmerking , maar ‘vasgeverfdheid’ voel amper as of die mense ’n fout begaan het, asof dit per ongeluk gebeur het. Ek dink nie so nie – ek dink ’n hele geslag word mislei.

    Dankie vir u bydra en talle kommentare.

    1. Dankie Pieter, jy is reg. Jare al word daar agteraf gekonkel. Ek dink tog AS2019 was ’n “ligbalpie- oomblik” vir hulle. Stadig maar seker kom dit wat hulle in die “donker” gedoen het, aan die Lig en dit lyk asof hulle nou moet walgooi. En hulle hou nie daarvan nie. In die GIDS word die woord “verstrengeldheid” skieilik gebruik, en nogal as ’n verskoning dat dit ’n saak is wat “ontknoop” kan word. Theo Danzfuss het in ’n Rapport onderhoud gese, die kerk het KLAAR geskeur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui