Reis sonder ’n goeie einde

Die volgende artikel het in Beeld verskyn.

*************

Reis sonder ’n goeie einde | Beeld

Izak se misbruik van die Skrif is die ware kwessie

Deur Andries N.E. Louw

2010-06-15

Die afskeidsboodskap van Izak du Plessis aan die gemeente Valleisig, soos berig deur Neels Jackson (“Lus vir ’n loopdop, dominee?”), is ’n hartseer gebeurtenis vir die Valleisig-gemeente en vir almal wat die Here liefhet.

Dit is ook duidelik dat Izak Jackson gekoöpteer het om hom as ’n tragiese held voor te stel. Izak dink immers in nuwe kategorieë oor God en oor die kerk en hy het die gesag van die kerk effektief uitgedaag. En nou kies hy self om die prys daarvoor te betaal.

Izak verwys met ’n mate van schadenfreude na die klagtes oor leer en lewe wat teen hom ingebring is en hoe lig hy daarvan afgekom het. Hy erken egter dat die klaers se aanvoeling oor sy teologie reg was.

Hy erken dat hy “sukkel met begrippe soos maagdelike geboortes, opstandings en hemelvaarte” en selfs dat hy, gemeet aan die kerk se belydenis, aan dwaalleer skuldig is. Kan Izak egter die kerk vanuit die morele hoë grond aanspreek oor gebrek aan deernis?

Is sy erkenning van ongeloof nie gelyk aan ’n erkenning dat hy oor jare heen die kerk mislei het nie? Soos die legendariese fluitspeler van Hamelin het hy met sy welsprekendheid en sjarme ’n groot aantal “kinders” (lidmate) agter hom aan laat loop in die oortuiging dat niemand werklik kan weet wie God is nie.

In die legende is dit ’n reis met geen gelukkige einde nie.

Die kinders is nooit weer gesien nie.

Izak se misbruik van die Skrif in Job 19:4 (“As ek werklik gedwaal het, is my dwaling my eie saak”) om te suggereer dat elkeen in die kerk die reg moet hê om te glo (of te preek) soos hy/sy wil, ongeag of dit in ooreenstemming met die kerk se belydenis is, is die werklike kwessie waaroor dit gaan.

Die gemoedelikheid van ’n kroeg en die onvoorwaardelike “aanvaarding” wat daarmee gepaardgaan is Izak se model van kerkwees.

Die wesenlike saak waaroor dit gaan is Izak se beskuldiging dat die kerk te min deernis en te veel dogma het.

Hy skep egter die indruk dat dit die kerk se keuse is om allerlei dogmas op ’n willekeurige wyse op te tower en op sy onwillige lidmate af te dwing.

Nooit het hy ernstig met die Skrif as die kerk se stigtingsakte, as kenbron van God se selfbekendstelling, gewors­tel nie.

En nooit het hy aangetoon dat die kerk van die Skrif afgewyk het nie.

Dit gaan daaroor dat die kerk ’n geloofsgemeenskap is wat ’n gemeenskaplike belydenis het oor die drie-enige God, oor Christus en sy verlossingswerk en oor die kerk wat “die gemeente van die lewende God is”, wat geroep is om as “draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim. 3:15) op te tree.

Wanneer die waarheid van die evangelie beskerm en verdedig word as die kenmerk van getroue volgelinge van Christus, dan is dit vir die ongelowige wêreld niks anders as liefdeloosheid of gebrek aan deernis nie.

Liberale teoloë begin saampraat in hierdie koor en sommige kerklidmate en predikante swig uiteindelik voor die volgehoue vals beskuldigings, met die gevolg dat geestelike strominge binne die kerk hierdie diskoers begin oorneem.

Reeds meer as ’n eeu gelede het die liberale teologie in Europa en die Engelssprekende wêreld al daartoe gelei dat talle kerklidmate gedink het dat die Christendom basies daaroor gaan dat jy regtig net gaaf met almal moet wees. Of soos iemand dit pittig gestel het: Dat jy vriendelik teenoor die posman moet wees (in ons konteks waarskynlik die bedelaar of kollektant met sy verslete kollektelysie by die voorhekkie).

So gebeur dit ook binne die sogenaamde ontluikende kerkbeweging, waar die slagspreuk gebesig word “It’s not about creeds, it’s about deeds”.

Toegegee dat die kerk voortdurend nog misluk in haar roeping om die liefde van God konsekwent uit te leef, is die vraag nogtans geregverdig of die kritiek op die kerk as ’n liefdelose gemeenskap billik en werklikheidsgetrou is.

In die Valleisig-gemeente, waar Izak leraar was, is daar, soos in talle ander gemeentes, gereelde insamelings van klere en kos, daar is georganiseerde uitreike na arm gemeenskappe en geldelike en ander vorme van hulpverlening aan arm gemeentes in die NG Kerk-familie. Naaldwerkklasse en ander aksies vir huiswerkers word weekliks aangebied.

’n Groepie vroue berei weekliks maaltye vir straatmense in die middestad. Elke jaar voor Kersfees is daar ’n projek om geskenke vir kinderhuiskinders in te samel. Jaar ná jaar is dit een van die mees vreugdevolle eredienste van die jaar.

Izak kan ook nie beweer dat hy nie iets van hierdie deernis in Valleisig beleef het nie. Ten spyte van die ongemak wat talle gelowiges met sy prediking van onkunde oor God en oor radikale twyfel in die evangelie ervaar het, is hy steeds deur baie gerespekteer en op die hande gedra.

Weliswaar is daar ook diegene wat hom met liefde en besorgdheid gekonfronteer het en ander wat stil-stil die gemeente verlaat en by ander nabygeleë gemeentes aangesluit het.

Die vraag is of ’n Christelike gemeente deernis kan uitleef sonder om Jesus as Verlosser en Heer te bely en nederig voor die gesag van die Skrif te buig. Dit is immers uit dié bron wat ons geloof gevoed word en waar ons die roeping tot deernis ontvang het.
Dit is ook dieselfde Skrif wat ons daaraan herinner dat ons gewillig moet wees om selfs teenoor buitestanders “rekenskap te gee van die hoop wat in ons is”.

Kan ons Jesus se liefde en ontferming oor tollenaars en straatvroue aanneem en emuleer sonder om ag te gee op sy talle waarskuwings dat sonde en oordeel werklikhede is waarmee ons moet rekening hou?

Doen ons mense ’n guns as ons aan hulle sê dat God maar almal in die ewigheid sal red, ongeag hoe hulle lewe en ongeag hoe hulle op die evangelie reageer? Mag ons vir God voorskryf hoe Hy sy verlossingsplan moet uitwerk en moet bekend stel?
Die vraag of die kerk aan die druk van die wêreld kan toegee deur sy boodskap in te klee in die denkraamwerk van die postmodernisme waarin daar geen ruimte vir ’n “meesterverhaal” en vir absolute waarheid is nie, is in ’n sekere sin die kernvraag wat deur Izak se bedanking op die tafel geplaas word.

Daar is inderdaad diegene wat meen dat ons die “dogma” van die kerk minder prominensie moet gee, dit vir kerklidmate selfs opsioneel moet maak, in die hoop dat ons dan meer “geloofwaardig” sal wees.

Die Christendom is egter absoluut. Dit maak aanspraak op die waarheid omdat God dit geopenbaar het.

Izak se “slotbelydenis” in sy afskeidsboodskap is veelseggend. Hy kies om niks meer oor God te weet of te bely nie, maar net om “in Hom te leef”.

In die konteks van die monistiese new age-filosofie mag dit sin maak, maar of dit ’n pad is wat die kerk kan loop sonder om ontrou te word aan die evangelie van Jesus Christus is ’n ander vraag.

Die kernboodskap van die kerk gaan immers oor ’n wagtende Vader wat daarna verlang om ’n verlore seun weer te omhels en terug te verwelkom.

En oor ’n besondere kruis wat die deur na die Vaderhuis weer oopgemaak het.

  • Ds. Louw is ’n oudleraar van Valleisig en is ’n lidmaat in die gemeente. Hy is ’n funksionaris van die Sinodale Getuienisforum.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui