Plaaslike teoloë verskil oor omstrede ‘historiese Jesus’

*******

Plaaslike teoloë verskil oor omstrede ‘historiese Jesus’ | Beeld

Beeld, 21 Oktober 2000

Neels Jackson

Plaaslike teoloë reageer uiteenlopend oor die belang van die omstrede navorsing na die historiese Jesus. Dié navorsing het onder meer uitgeloop op sienings dat Jesus nie ligggaamlik uit die dood opgestaan het nie.

Prof. Hansie Wolmarans van die RAU se departement Grieks on Latyn het by navraag gesê die navorsing het sy beperkings, maar dit is tog baie nuttig. Dit help ‘n mens met die vraag wat Jesus in ’n mens se daaglikse lewe beteken.

Waar mense net sterk klem lê op Jesus se goddelikheid, gaan dit dikwels daarmee saam dat Jesus hul sienings van die politiek en samelewingstrukture legitimeer, As ’n mens meer na Jesus se menslikheid kyk, help dit jou met gewone dinge van die geloof soos die plek van vroue in die samelewing.

Hy self glo dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het, maar hy meen die vraag na die betekenis van die opstanding vir ’n mens is baie sinvoller as die debat oor die liggaamlike opstanding. ’n Mens kan dit tog nie bewys nie.

Prof. Fika van Rensburg, Nuwe Testamentikus van die Potchefstroomse Universiteit, sê sy pad as teoloog en dié van navorsers na die historiese Jesus skei by hul voorveronderstellings oor die Bybel.

Waar hy die evangelies sien as openbaring van God deur middel van mense, sien hulle dit bloot as menslike nadenke oor God, op dieselfde vlak as ander literatuur uit die eerste eeu.

Prof. Stefan Joubert van die Universiteit van Pretoria se departement Nuwe Testament sê die navorsing na die historiese Jesus verteenwoordig nie die hoofstroom van Nuwe Testamentiese denke nie. Hy meen ‘n mens moet daarvan kennis neem, maar dat dit nie ’n finale stem is nie. Daar is ook die kerk en ander wetenskaplikes wat ’n ander stem het. ‘n Voorbeeld hiervan is prof. Jan Van der Watt, hoof van die departement Nuwe Testament by Tukkies, wat sê hy deel nie sy kollega, prof. Andries van Aarde, se sieninge oor Jesus nie. Van Aarde, lid van die Jesus Seminaar, se siening van die historiese Jesus is ook nie die departement s’n nie.

Prof. Pieter Botha van Unisa se departement Nuwe Testament sê egter die navorsers oor die historiese Jesus is nie ‘n paar malles nie. In die Jesus Seminaar is daar sowat 200 ernstige akademici wat in die akademiese wêreld ernstig opgeneem word. Hy sê die navorsing help ’n mens om te sê wat jy glo en hoe jy in Jesus glo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui