Patriargie is siekte van die siel’ – teoloë pak oorsake van geweld teen vroue

Kyk ook die Verklaring onderaan.

*******

‘Patriargie is siekte van die siel’ – teoloë pak oorsake van geweld teen vroue – Kerkbode

Kerkbode

8 September 2019

Die manier waarop sommige mense die Bybel lees, kan lei tot die instandhouding van geweld teen vroue en kinders eerder as om dit te beveg.

Dis een van die stellings wat ’n groep vroueteoloë voor die deur van “geloofsgemeenskappe se leierskap” gelaat het in ’n 400-woord-verklaring wat op Sondag 8 September, ná ’n week van wye openbare protes oor geweld teen vroue, uitgereik is.

“Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van ‘hoof’ en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld,” lui die verklaring, wat onderteken is deur ’n aantal teoloë, akademici en leraars in die NG Kerk en breër kerk.

“Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou,” word inleidend gesê voor dié punt verder uiteengesit word.

“Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot ‘meerderwaardig’ en maak ander ‘minderwaardig’. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus,” lui die verklaring.

  • Lees die volledige verklaring hieronder.

Verklaring

Ons, die ondergetekende vroueteoloë en -predikante van verskeie denominasies:

  1. Spreek ons afgryse uit oor die huidige en voortslepende vlaag van geweld teen vroue, kinders en gemarginaliseerde groepe – oor hoe goedkoop hulle lewens gemaak word. Ons weeklaag saam met elke slagoffer van geweld en roep uit: “Hoe lank nog, Here?!”
  2. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe en die gemeenskap in breë om nie langer stil te bly oor geweld teen vroue en kinders nie en om op te hou om die stemme wat wel daaroor praat, stil te maak.
  3. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou. Dit sluit die volgende in:

3.1 Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van “hoof” en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld.

3.2 God word verteenwoordig deur manlike leierskap in die kerk. Ook hier het mans, die helfte van God se skepping, ongebreidelde mag. Ook hier lei die magswanbalans tot magsmisbruik, dikwels in die vorm van seksuele teistering.

3.3 In ‘n patriargale wêreld word vroue nie gesien as en behandel soos mense met ‘n verskeidenheid God-gegewe gawes nie, maar gereduseer tot liggaam. Hulle waarde word bepaal deur seksuele kuisheid en om kinders in die wêreld te bring. Omdat vroue afgemaak word as “emosioneel”, word die besluitnemingsbevoegdheid deur mans opgeëis.

3.4 Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot “meerderwaardig” en maak ander “minderwaardig”. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus.

  1. Ons doen ’n beroep op die kerk om leiding te neem teen die oorsake en praktyke van patriargie wat lei tot geweld teen vroue en kinders. Ons doen ’n beroep op die kerk se leierskap om tydens die komende kerkvergaderings en sinodesittings breedvoerig aan die saak aandag te gee en genoeg tyd tydens die vergaderings in te ruim om die saak te bespreek.
  2. Ons doen ’n beroep op die kerk om opnuut te dink hoe meisies en seuns gesosialiseer word, en om ’n menswaardige alternatief tot die kerk se opvoedingstaak toe te voeg, sodat die lig van die evangelie vir almal kan skyn.
  3. As vroueteoloë en -predikante spreek ons ons dank en waardering uit teenoor mans wat alle medemense, ook vroue, gelykwaardig behandel en ‘n veilige hawe vir vroue en kinders bied.

Onderteken deur:

  1. Prof Claassen, Julie
  2. Prof Dreyer, Yolanda
  3. Prof Mouton, Elna
  4. Dr Bezuidenhout, Ronell
  5. Dr Botha, Annelie
  6. Dr Geyser-Fouché, Ananda
  7. Dr Heymans, Gretha
  8. Dr Hoffman, Lizette
  9. Dr Janse van Rensburg, Hanré
  10. Dr Joubert, Liesl
  11. Dr Marais, Nadia
  12. Dr Meyer, Juanita
  13. Dr van der Walt, Charlene
  14. Dr van Schalkwyk, Carin
  15. Dr van Velden-Muller, Nina
  16. Dr van Wyk, Tanya
  17. Ds Andrag-Meyer, Franziska
  18. Ds Boonzaaier, Michelle
  19. Ds Denton, Lou-Maré
  20. Ds Du Plooy, Anika
  21. Ds Erasmus, Lilian
  22. Ds Fourie, Carli
  23. Ds Hamman-Forrest, Nicole
  24. Ds. Jacobs, Barbara-Mari
  25. Ds. Lintvelt, Mia
  26. Ds Le Roux Weitsz, Quinette
  27. Ds Ludwick, OH
  28. Ds Malan, Santel
  29. Ds Meyer-Morkel, Tilana
  30. Ds Muller, Ghisnene
  31. Ds Nel, Jampie
  32. Ds Pienaar, Elzeth
  33. Ds Redelinghuys, Jorina
  34. Ds Slazus, Annelet
  35. Ds Steenkamp, Yolanda
  36. Ds van der Merwe, Carusta
  37. Ds van der Merwe, Suzanne
  38. Ds van Niekerk, Marinda
  39. Ds van Niekerk, Rethie
  40. Ds van Staden, Neeltje
  41. Ds van Wyk, Audrey
  42. Ds Viljoen, Annarie
  43. Ds Viljoen, Delmarie
  44. Ds Viviers, Lizette
  45. Ds Werner, Andrea
  46. Ds Vosloo-Steyn, Nastasia
  47. Ds Zeeman, Anje
  48. Prop. Kotze, Judith
  49. Boshoff, Anel
  50. Lötter, Lynette
  51. Potgieter, Sariné
  52. Sibanyoni, Charlotte
  53. Smit, Natasha
  54. Van Rooyen-King, Almie

Kommentaar

Arno Meiring

9 September 2019 at 08:18

As (manlike) predikant ondersteun ek graag hierdie verklaring en ek is bly vir die standpunt van die opstellers teen patriargie. Tog jammer dat die kerk se amptelike verklaring na die afgelope week se gebeure net na geweld teen vrouens en kinders so in die verbygaan verwys, maar ‘n lang verklaring uitreik teen xenofobie. Miskien moet die leierskap oorweeg om juis in hierdie tyd, patriargie en femicide ook uitdruklik aan te spreek.

Paul

9 September 2019 at 08:32

Geagte leser,
Julle gebruik ‘n relatiewe breè verf-kwas om mee te verf. Wie sè die meerderheid van geweldenaars lees Bybel? Inteendeel as hulle dalk gelees het, het hulle dalk nie sulke drastiese stappe geneem nie.
Die probleem lè egter by die kerk. Sy het ‘n hond geword wat nie kan byt nie – die wet van God word nie meer voorgehou nie, sonde is die norm solank een net glo. Die slegte nuus is dat die kerk darem nog probeer om relevant te wees. maar dit gaan egter nog slegter gaan!
Dus het die lees van die Skrif geen uitwerking op ‘n Bose volk nie – hulle verkies Boosheid!
Sterkte met julle lawaai maak!
Leè blikke maak die grootste lawaai.
Beste

Carusta

9 September 2019 at 09:28

Beste Kerkbode,

Sal dit moontlik wees om hierdie verklaring “oop te stel” sodat meer vroueteoloë hulle name (en stemme) hier kan byvoeg?

Groete
Carusta

Kerkbode

9 September 2019 at 10:12

Hallo Carusta,
Jy is welkom om in hierdie kommentaarruimte saam te gesels of kontak te maak met die samestellers van die verklaring. Kerkbode publiseer eenvoudig die verklaring soos uitgereik ter wille van volledigheid onderaan die kort nuusberig daaroor hierbo. – Red.

Stefaan de Jager

10 September 2019 at 14:01

Natuurlik is manlike meerderwaardigheid teenoor vroue verkeerd waar mans hul posisie misbruik. Dit neem egter nie die feit weg dat patriargie per sy nie verkeerd is nie. God het immers bepaal dat die man as patriarg sal funksioneer. Daar bestaan dus nie in die Skrif iets soos bekering van patriargie nie, wel ‘n bekering van die misbruik van daarvan.

Christus het die vrou in haar eer herstel deur haar as mens gelyk te stel aan die man maar dit hef nie die verskillende rolle van man en vrou op nie, minstens nie in die huwelik nie (Ef 5:21vv; 1 Kor 11:3.) As daar gepleit sou word dat hierdie rolle geskrap word sal dit lei tot rolverwarring. Verslillende rolle vir man en vrou is dus nie net ‘n praktyk ding nie maar ‘n Godgeskpe werklikheid.

Erika Jordaan

10 September 2019 at 20:59

Nou wonder ek tog waarom die dames wat die dokument onderteken het, dit nodig ag om so ‘n opvallende hiërargie te vestig in terme van wie van hulle watter titels vooraan hul name kan skryf – mooi netjies gegroepeer? Sou dit dalk kon wees dat sommige titels meer mag impliseer, met die wat laer of geen titels het nie wat ondergeskik geag word? Kan dit wees dat dieselfde gevaarligte hier flikker tov ‘n magsbalans wat maklik tot magsmisbruik kan lei?

Walter Sutton

13 September 2019 at 08:43

In beginsel steun ek graag die gesamentlike verklaring. Nogals skokkend en sterk gestel…. “Patriargie is ‘n siekte van die siel”. Veral dat dit as een van die oorsake van geweld teenoor vrouens en kinders gesien word. Hou patriargie nie ook verband met oorgelewerde gebruike, gewoontes asook verhoudinge binne gesins- en ander verbande en hoe dit oor eeue heen deur alle nasies, elk binne hul eie konteks, verstaan en geleef is nie?

Vir ons as navolgers van Jesus Christus – die Seun van God – asook Sy voorbeeld van diens, onvoorwaardelike liefde en wat Hy vir ons kom leer het, tesame met die beeld van Paulus van die huwelik wat met die verhouding tussen Christus en Sy Kerk vergelyk word, het daar lig opgegaan…..! Mans en vrouens, “Wees uit eerbied aan Christus aan mekaar onderdaning.” (Vergelyk Efesiërs 5 en 6 oor verhoudinge).

Hoe kan enigiemand wat hom of haar in ‘n verhouding van wedersydse liefde en respek bevind, minderwaardigheid beleef of selfs geestelik, emosioneel of liggaamlik bedreig voel of bedreig word? Beïnvloed God se transformeerde genade en regverdigmakende geloof wat Hy aan ons geskenk en in ons bewerk het dan nie ons as mans, vrouens en kinders se leefwyse en optrede teenoor mekaar op ‘n manier wat elkeen veilig en verborge laat voel nie? Waar ons mekaar aanmoedig en ruimte bied om ons Godgegewe gawes en talente as man, vrou en kind tot Sy eer uit te leef en dit ook vir gemarginaliseerdes te gun. Blykbaar gebeur dit nie omdat ons wat die Kerk is, dit nie genoegsaam moduleer nie. Ons almal sukkel hiermee.

So jammer dat mans en vrouens binne huweliksverhoudinge en ander verbande smag na erkenning en nie besef dat ons nie binne huweliksverband rolle moet vervul nie (ons is mos nie rolspelers nie) maar dat ons, na die voorbeeld van Hom, mekaar in liefde sal dra, want liefde is die band wat ons tot `n volmaakte eenheid saambind. (Kol. 3:12-15)

Vrede aan elkeen van die ondertekenaars van die dokument.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui