Mohammed in die Bybel?

Kyk ook:

Die volgende is ’n opsomming van Prophet Muhammad found in the Old Testament (shocking, shocking) (Youtube) met Jay Smith, evangelis onder Moslems.

**********

Om Mohammed se status as profeet van God te bevestig is dit belangrik dat dit ook deur bronne anders as hyself bevestig word. Dit is daarom dat Mohammed beweer het dat die Bybel hom as profeet voorspel het:

Sura 7:157a Those who follow the Messenger, the Unlettered Prophet, whom they find mentioned in the Torah and the Gospel in their possession.

Sura 61:6a And when Jesus son of Mary said, “O Children of Israel, I am Allah’s Messenger to you, confirming what preceded me of the Torah, and announcing good news of a messenger who will come after me, whose name is Ahmad.”

Hier is ’n paar voorbeelde van plekke in die Bybel wat Moslems gebruik om te redeneer dat Mohammed wel in die Bybel voorspel is:

’n Profeet soos Moses

Deuteronomium 18:15 Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.

In vers 18 word dit herhaal.

Moslems lê klem op “Hy sal soos ek wees” en redeneer dat Moses en Mohammed die volgende in gemeen gehad het wat nie noodwendig vir Jesus gegeld het nie:

  • Hulle het ’n baard gehad.
  • Hulle het ’n vrou gehad.
  • Eksodus: Moses het die volk uit Egipte gelei en Mohammed het die mense uit Mekka na Medina gelei. Dit word die hegira genoem.
  • Hulle het wette gemaak.
  • Hulle het ’n volk geskep.

Moslems laat egter ná om “een van jou volksgenote” te lees.

Deuteronomium 17:15 is baie duidelik wie jou volksgenote is: Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie ’n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie.

’n Volksgenoot is iemand uit die volk Israel, nie ’n uitlander nie. Mohammed is egter nie ’n afstammeling van Israel nie, maar van Ismael.

(Gepraat van Deuteronomium 18, kyk Mohammed word mislei deur Satan.)

Geografiese verwysings

Dele in die Bybel verwys na plekke in Arabië en dit word gebruik om te probeer bewys dat die Bybel na Mohammed verwys.

Jesaja 42:11 verwys na Kedar wat in Arabië is. Die eerste 5 verse in Jesaja 42 verwys duidelik na Jesus en dit word ook vervul in Matteus 12:17-21. Dus is hierdie nie ’n geldige verwysing na Mohammed nie.

Name

Hooglied 5:16: Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is geheel en al die lieflikheid self. Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem.

Die Hebreeuse woord vir “lieflik” is “machmad” (Strongs H4261). Omdat dit naby aan die woord “Achmad” is, wat ook “Mohammed” beteken, beweer Moslems dat dit na Mohammed verwys. Moslems lees hierdie vers dus as volg: “Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is Mohammed.”

Dit is totaal buite konteks. Mohammed was ook nooit in Jerusalem nie, soos genoem in vers 16. Verder is daar ook 11 ander plekke in die Bybel waar die woord “machmad” voorkom: 2 Kronieke 36:19 | Jesaja 64:11 | Klaagliedere 1:10-11; 2:4 | Esegiël 24:16, 21, 25 | Hosea 9:6; 16 | Joël 3:5 en 1 Konings 20:6.

Indien “machmad” in Hooglied as “Mohammed” gelees moet word, moet dit in hierdie gedeeltes ook gedoen word. Dit maak egter hoegenaamd nie sin om dit in laasgenoemde verse te doen nie.

Nuwe Testament

Moslems beweer dat die Nuwe Testament ook na Mohammed verwys:

Johannes 14:16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees

Johannes 16:7 Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

Christene verstaan dat die woord “Voorspraak” na die Heilige Gees verwys. Die Griekse woord vir “Voorspraak” is “parakletos” (Strongs G3875). Sommige Moslems verwyder die vokale en vervang dit met ander sodat jy die woord “periklytos” kry. Hierdie woord stem presies ooreen met die Arabiese woord “Mohammed”, wat ook die “Bewonderde” of “verheerlikte” beteken. Met ander woorde, “Periklytos” is “Mohammed” in Grieks. Dit is egter onaanvaarbare praktyk om dit met Grieks te doen.

Verder, indien jy verder lees in Johannes 14:

(16)… om vir ewig by julle te wees,

Mohammed was nie vir ewig nie. Hy is dood.

(17)naamlik die Gees van die waarheid…

Die Gees van die waarheid is duidelik die Heilige Gees.

(17)…Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien…

Ons kan nie die Heilige Gees sien nie, maar mense kon wel vir Mohammed sien.

(17)… en Hom nie ken nie.

Toe Mohammed geleef het, het hulle hom geken.

(17) … en in julle sal wees.

Mohammed kan nie in ons wees nie.

Ten slotte

Dit is duidelik dat indien mens die Bybel lees sonder enige vooropgestelde idees, ’n mens nie tot die gevolgtrekking sal kom dat God nog ’n profeet ná Jesus gestuur het nie.

Moslems glo ook dat Christene die Bybel verander het. Die vraag is wanneer dit gebeur het: voor Mohammed se tyd of ná Mohammed se tyd. Vir meer hieroor, kyk Die Islam dilemma.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui