Oud-dominee word ’n ateïs: ‘Jammer ek het julle mislei’

Vir meer oor die boek, kyk Die Slegte Nuus van die Evangelie.

*******

Oud-dominee word ’n ateïs: ‘Jammer ek het julle mislei’ | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 29 Mei 2022

’n Voormalige NG dominee vra sy ou gemeente, familie en vriende om verskoning omdat hy hulle jare lank “vals hoop” gegee het oor die evangelie.

Johan Retief sê hy wil in sy nuwe boek, Die slegte nuus van die evangelie, “red wat daar nog te redde is” nadat hy mense “mislei” het om te glo dat Jesus vir hul sondes gesterf het.

Nadat Retief 33 jaar gelede die bediening as ’n predikant van die destydse NG Sendingkerk (NGSK) verlaat het, het hy steeds gepreek, maar algaande het dit vir hom al hoe moeiliker geword.

“As ek nie ’n predikant was nie, sou ek stilgebly het en nie die boek geskryf het nie. Ek voel dit as my plig om hieroor te skryf, want ek het mense mislei, hoewel dit nie doelbewus was nie,” sê hy in ’n aanlyn onderhoud met Rapport van sy huis in Yzerfontein, aan die Weskus.

Betsie, sy vrou, sit langs hom en herhaal kort-kort wat hy sê omdat hy kwalik meer kan praat weens sy stembande wat in ’n kroniese spasma is.

“Dit het so tien jaar gelede begin.

“Geen dokter kon werklik vasstel wat dit is nie,” verduidelik Betsie.

“Gatvol” is die woord wat Retief gebruik om sy frustrasie oor sy stem te beskryf. Hy verwys ook hierna in sy boek.

“My geloof het voortdurend vir my vertel dat daar fout was met my. Iemand na aan my het ’n kersie op die koek gesit toe daar gesê is: ‘As Johan net na die Here wil terugkeer, sal sy stem genees word.’

“Dit impliseer dit is my skuld dat ek nie kan praat nie. Die oorsaak van my probleem is religieus van aard, nie medies-wetenskaplik nie. Dit is die manier waarop God my straf. Religieuse depressie op sy allerbeste,” skryf hy.

Retief is opgelei as ’n NG dominee, maar het later uit die NG kerk bedank weens die kerk se steun vir apartheid.

Hy was tussen 1982 en 1989 predikant van die NG Sendingkerk (wat later die Verenigende Gereformeerde Kerk geword het) op Swellendam en in Bellville. Hy was verder ’n dosent in teologie en in Bybelkunde.

Later was hy kerkverslaggewer vir Die Burger en tot 2018 die nasionale persombud voordat hy om gesondheidsredes bedank het.

Retief verduidelik aan Rapport hy het nie die boek vir predikante geskryf nie.

“Ek het die boek geskryf vir mense wat sukkel met dieselfde vrae waarmee ek gesukkel het.

“Ek het nie probeer om mense te bekeer of te ontkeer nie.

“Ek het dit ook vir myself geskryf om my gewete skoon te kry.”

Hy verduidelik die boek se titel “sê presies waaroor dit gaan”.

“Dit is die slegte nuus van die evangelie, omdat die evangelie mense verdoem.”

Dit bevat ook goeie nuus oor sy eie reis van verlossing van godsdiens, sê hy.

“Geloof en spesifiek die Christelike geloof, en Calvinisme in besonder, lei tot religieuse depressie omdat dit vir jou sê jy is sleg, jy het niks goeds in jou nie en jy is geneig tot alle kwaad.

“Dit is ’n vrugbare teelaarde vir ’n swak selfbeeld. Dit kan eenvoudig nie goed wees vir enige mens nie.”

Hy skryf godsdiens lei tot die onderdrukking van mense se rasionele vermoë.

Dit is verder sleg vir ’n mens “omdat gelowiges mense veroordeel wat nie glo en dink soos hulle nie”.

“As iemand met jou as gelowige verskil, is daardie persoon verkeerd. Hulle is op pad hel toe. Christene is die onverdraagsaamste mense wat ek nog ooit ontmoet het.”

Hy sê daar is mense wat verkeerdelik sê godsdiens leer jou goeie waardes.

“Ek weet nie so mooi nie. In Suid-Afrika is bykans 80% van die bevolking by die een of ander Christelike denominasie betrokke en kyk hoe lyk ons land se moord- en verkragtingsyfers.

“Vergelyk dit byvoorbeeld met Noorweë, waar daar meer ateïste as gelowiges is. In 2017 het hierdie land ’n allemintige 25 moorde gehad – ja, gedurende die hele jaar.”

[Kommentaar: Natuurlik kan ateïste morele waardes hê. Die vraag is: (1)Waarop is hierdie morele waardes gebaseer? Sonder God is daar geen absolute morele waardes nie. (2)Wat sou ateïste se motief wees om moreel te leef? Kyk ook Moraliteit.]

Retief sê sy stellings en oortuigings is gegrond op sy eie navorsing.

“Ek het gesoek na die waarheid, net soos wat ek gesoek het na die waarheid toe ek studeer het om predikant te word. Dit is presies dieselfde motivering; met ’n teenoorgestelde uitkoms.”

Betsie sê hulle is geesgenote en op dieselfde pad wat hul soeke na antwoorde aanbetref.

“Dit was vir my ’n natuurlike proses wat al ook baie jare gelede begin het wat ek nooit self kon verwoord of verstaan nie.

“Maar toe ek en Johan begin praat het oor die goed en hy vir my goed gegee het om te lees, was ek so bly, want dit het my gevoelens verwoord wat ek nie self kon verklaar nie.”

9 thoughts on “Oud-dominee word ’n ateïs: ‘Jammer ek het julle mislei’”

  1. Jo-jo-jo.. Uiters betreurenswaardig… 😭😭😭

    BAIE dankie Jesus dat U nooit hierdie Gods-verraaier MY pad langs gestuur het nie! Ek bid vir jou en jou vrou, Johan Retief.

    Mag God jou nogsteeds ń kans gee om tot jou sinne te kom VOOR jy jou laaste reis aanpak.

  2. Ek hoor jou Johan. Ghandi het gese hy hou van Christus maar hy hou nie van christene nie. Miskien is dit omdat so baie christene nie waarlik vir Christus volg nie? Christus het nie die blinde man daarvan beskuldig dat dit sy eie skuld is dat hy blind is nie. Christus het tuisgegaan by die uitgeworpenes van die samelewing, tollenaars, samaritane, prostitute. Dit is tog vir my interessant hoe dit juis Christene is met wie dit tans materieel en gesondheidsgewys goed gaan wat die hardste en maklikste oordeel oor ander, trap die arme mense dieper in die modder in terwyl Christus self genoem het die geknakte riet sal Hy nie breek nie. Niemand het belowe dat dit op hierdie aarde sal goed gaan met jou net omdat jy ’n christen is nie. Christene is dus juis veronderstel om vir Christus te volg deur GENADE aan mekaar te betoon. Deur te luister, en ’n wag voor jou mond te plaas. Deur nooit te oordeel nie. Ons wereld is gebroke, mense kry swaar, hulle is stukkend, goed loop verkeerd en dit is nie hulle skuld nie. Voor mense jou boek veroordeel moet almal dalk in die spieel gaan kyk en vra of ek nie ’n geknakte riet gebreek het terwyl dit eintlik my plig was om daardie mens te vertroos en bemoedig nie. Sonder oordeel of vingerwysings.

    Ons lyk deur ’n spieel in ’n raaisel en niemand het regtig begrip van God se almag, planne en genade nie. En as jy twyfel, moet nie sleg voel nie, jy is ’n mens.

    Ek was eers waar jy nou is, ek belowe jou ateisme is ook nie die antwoord nie. God is beslis daar, as jy ophou om so te soek na Hom, en as jy stil raak, dan sal jy vrede kry. Ons moet ophou om God so klein te maak, om te dink ons het al die kennis want ons weet eintlik niks. Glo net, dit is al wat nodig is.

    1. Nie almal wat beweer hulle is Christene is Christene nie. Joh 14:15 sê as hulle Jesus regtig liefhet sat hulle Sy Woord gehoorsaam. Te veel mense sê hulle is Christene maar die vrug ontbreek wat hulle leuenaars maak en dit is hoekom ons sensua statestieke sê ons land is 80% Christene. Statestiek is gladnie akkuraat nie want mense glo nie werklik nie.

  3. Dis opvallend dat “ateïste,” veral diegene wat tevore hulself Christene genoem het, dikwels na statistiek verwys met die gevolgtrekking dat Christene, oor die loop van hul lewens as geheel, niks anders of selfs slegter optree as die wêreld nie. Bv. “In Suid-Afrika is bykans 80% van die bevolking by die een of ander Christelike denominasie betrokke en kyk hoe lyk ons land se moord- en verkragtingsyfers.”

    Dikwels (in ander skrywe) word daar ook na opnames verwys wat aantoon dat een-of-ander optrede of negatiewe karakter-eienskap net so veel by dominees en pastore voorkom as elders.

    Wat egter misgekyk word (afgesien van die realiteit dat Christene steeds sondig, of die somtydse wanvoorstellings van wat gevra is in sulke opnames), is dat iemand nie noodwendig ’n Christen is selfs sou hulle so bely of selfs is hulle betrokke by godsdienstige aktiwiteite nie. Inteendeel, wat in die hart aangaan borrel dikwels in woord en daad oor (verstokte sonde oor die loop van die lewe as geheel) en so is dit duidelik dat sulke individu dalk nie gered is nie (Luk 6:43-49). Dit sal nie verbaas as minder as ~20% in SA waarlik gered is nie.

  4. Geestelike blindheid en die genesing daarvan word in die Bybel duidelik verkondig deur Jesus.
    Volgens 2 Kor 4:3 en 4 is ons evangelie bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.

    Psalm 119 vers 130 sê: die opening van U woorde gee lig.

  5. Ai, ek lees die argumente wat Johan Retief hier aanvoer, en dis vir my duidelik dat sy geloof in elkgeval oppervlakkig voorkom en ook asof hy alle Christene onder dieselfde kam skeer omdat hulle maklik oordeel en ’n hedonistiese lewe najaag. Chtistene is sondaars. Dis juis omdat hulle so sondig is dat hulle erken en belei dat hulle Christus in hulle lewe nodig het. Ek is jammer dat die Christelike geloof nie vir jou gewerk het nie Johan, maar ek dink dit sal goed wees as jy dit nie afkraak nie. Ek wil geen oordeel uitspreek nie, maar jy klink vir my na ’n verbitterde,ontnugterde mens wat reeds jare gelede besluit het die beroep van teoloog is nie vir jou lonend nie – en daarin lê die antwoord opgesluit. Jy het perdalks beloning verwag vir jou toewyding, en toe kry jy ’n “affliction” soos Paulus waarmee jy moet worstel – in jou geval jou stembande. Jou beloning sou tog nooit aards wees nie, en ons word geroep om geduldig te wees en te volhard soos Paulus en Job. Miskien is dit nie soseer jy wat kies om nie Christen te wees nie, maar meer dat Christenskap, godsdiens soos ons dit ken, net nie vir jou is nie. Miskien is jy soos die morester is waarna in Jesaja verwys word. Dit is jou net nie beskore nie, en ek voel daaroor baie jammer vir jou. Sterkte vir jou pad vorentoe. Seën kan ek jou ongelukkig nie toewens nie, want dit kom van God af.

  6. Om te dwaal en on onseker te wees is baie menslik. ek het daardie punt al vroeg bereik. (1979 op 20 Jarige ouderdom). Die waarheid is, ten spyte van die moderne mite, het die menslike rede beperkings en het allhoewel ons so dink, het dit geen oortuigings vermoe as dit by God kom nie. Om te se dat as die meerderheid iets glo dit waarheid is n mite. Ek se nie dat rede belangrik is nie. Maar ons vermoe om God te sien is soos Calvyn gese het on onvermoe om met ons eie oe na die son te kyk. Al kan ons baie goed sien hier op aarde. As iemand werklik eerlik oor navorsing wil praat moet hy ook erken dat, na n lang lewe, dat selfs jou redenasies en oortuigings verander oor tyd.

    Anders as om God te verloen het ek teenoor Hom my onvermoe gaan bieg. Ek het ook teenoor Hom gebieg dat ek in geen ander God sal glo nie. Ek weet werklik nie hoekom en waarom nie; maar het my in n oomblik genade betoon. aan my skouer gevat en my die geskenk van geloof gegee. Sedertdien het ek geen twyfel oor sy bestaan nie. Wat ek nou se is Bybels. Paulus praat oor die onvermoe van die rede. Jesus, is aan die woord toe hy gese het in Johannes 3 dat jy ban bo gebore moet word anders sal jy nie die geestelike dinge verstaan nie. En kort daarna dat se hy dat die Gees waai waar Hy wil. Maar dan sal hulle redeneer dat Jesus dit nie gese het nie. Iemand, nie jhannes nie. Wie dan? God self deur sy Gees vervulde disiple wat hy lief gehad het? Nee nie die rede nie. Die Filosowe in Athene het vir Paulus uit gelag oor sy dwaasheid. Die Fariseers, in sluitend Nicodemus het met hom met rede gedebateer. Dit is nie nuut nie. Nie modern of post modern nie. Dit is die boodskap in die Bybel. As Johan Retief die tekste bestudeer het sou hy ook met Job te doen gekry het. Job se vrae was dieselde. Hy het ook God voor die regsbank geplaas soos Johan. God maak geen verskoning nie. Job verstaan dit sonder verdere vrae net omdat hy God gesien het vir wie HY is. God hoef ook nie. Sy goedheid ooskry by verre die aanklagte. Alles wat is leef asgevolg van Hom. Ons probleem vandag is om God ons gelyke te maak. Te dink hy dink soos ons. Die skepsel wil die Skepper oordeel. Johan is nou eers ‘n tiener in geloof wat sy eie plek gevind het en in sy Pa se wysheid twyfel. Ek bid regtig dat hy en soveel ander soos bv. Bart Ehrman sien dat hulle die Satan se aanklag teen God verwoord! In n presiese formaat. Ek bid dat God ook hulle tot werklike geloof bring sal word want die alternatief is te erg vir my om aan te dink. Net soos Job se vriende wil ek ook vinnige antwoorde gee nie. Antwoorde buite konteks en generies is nie. God kan self daarvoor pa staan. My Hoop en antwoord le in Jesus Christus se lewe. Hy het God se antwoord kom gee op lyding. Onvoorwaardelike liefde. onvoorwaardelike offer, So wud soos sy skepping, nie net die dood nie maar ook die opstanding wat in geloof aanvaar moet word en waarsonder die hele gebeurtenis nie redelike sin maak het nie. En dan die opdragte wat, God nie baat nie, indien mense dit sou uitvoer n groot stuk van die pyn sou verlig. eenvoudige opdragte wat bevestig dat die mens die vermoe het om dinge anders te maak; en dus ons skuldig maak vir meeste van die ongeregtigheid waarvan “hulle” God voor blameer. Miskien sou die studie van die woorde in die geskrifte Hom by ‘n ander antwoord gebring het. Nie die woorde van Satan in sy mond nie!

  7. Johan Retief, jou intensiewe gebrokenheid oor godsdiens bring jou nader aan die hart van God as wat enige mens ooit kan dink. Net twee woorde, soos “help my”, kan God maklik oor jou lippe laat vloei. God gebruik baie keer presies die woorde wat Hy ons gee om ons te help.
    Hier is nie moelikheid nie, maar onweerstaanbare sukses van liefde in sig. Baie nader en baie makliker as wat ons ooit kan droom.
    Ek dink aan jou Johan. Liefde, Bertus

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui