Otjiwarongo staan op vir die waarheid

Kyk ook:

Baie kort na die NG Kerk se algemene sinode besluit het om ruimte te maak vir praktiserende homoseksuele mense het Otjiwarongo op 13 Oktober 2015 die volgende besluit geneem.

Streng gesproke kan ’n gemeente homself nie losmaak van die Algemene Sinode nie, maar ’n mens is bemoedig dat daar gemeentes is wat die waarheid so hoog ag.

***********

BESLUIT

DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ’n BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:

ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS (Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).

  1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
  3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
  4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ’n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)  in ons gemeente  dien nie.
  5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.

WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN.

  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
  2. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie. (Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)
  3. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ’n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ’n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ’n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ’n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.

Nota:

Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ’n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ’n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ’n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ’n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ’n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ’n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ’n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ’n kerkraad en ’n ringsvergadering. Wanneer ’n ring en/of ’n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui