Gay-besluit: Kommer dat NGK kan skeur

Die volgende artikel het in Volksblad verskyn.

**********

Gay-besluit: Kommer dat NGK kan skeur

‘Sambreel te klein vir almal se menings’
Deur Pieter Steyn, Dinsdag 13 Oktober 2015 05:30

“SAMBREEL TE KLEIN VIR ALMAL SE MENINGS”

Die NG Kerk se algemene sinode het die streep te dik in die sand getrek. Daarom wil hy voorstel dat sy streeksinode hom van die algemene sinode losmaak.

“Die sambreel het te klein geword waaronder ons moet staan met die verskillende standpunte in die NG Kerk,” sê dr. Dawie Botes, leraar in die NG gemeente Vrede-Wes in die Vrystaat.

“Ons beweeg te ver weg van mekaar en dit gaan nie oor mindere kwessies soos die beker of die kelkie en die orrel of ’n orkes nie. Die algemene sinode se besluit oor gays gaan oor skrifbeginsels. Die Kerk het nog altyd gesê: Solas scriptura (Die Woord alleen). Dit lyk of die sinode hom nie hieraan gesteur het nie.

“Daar is sewe tekste in die Bybel wat handel oor gays. Hoe kon hulle dit ignoreer? Ja, wat die Bybel sê oor liefde moet daarmee saamgelees word, maar jy kan nie ontken wat in daardie tekste staan nie.”

Botes sê ’n pad van “heiligmaking” moet met homoseksuele lidmate gestap word.

“Ek is seker tot 70% van die lidmate is geskok oor die besluit. Hierdie besluit gaan die Kerk baie seermaak. Dit kan die Kerk laat skeur. As lidmate net ophou kerk toe gaan oor die besluit of apaties jeens die Kerk raak, skeur die Kerk.”

Botes sê die besluit dat die Wes- en Suid-Kaapse sinode ná ’n proses die Belydenis van Belhar op sy eie kan deel maak van sy belydenisgrondslag, dui reeds daarop dat sinodes “losser” van die kerkverband staan.

“Ek dink ons moet terugkeer na die stelsel wat ons gehad het voordat ’n algemene sinode in 1962 tot stand gekom het – dié van ’n federale raad van kerke, waar elke streeksinode outonoom is, besluite op sy eie neem en nie onderhewig is aan die beleidsbesluite van die algemene sinode nie.”

Botes sê hy is te lief vir die NG Kerk om daaruit te bedank, maar stel voor dat sinodes uit die verband met die algemene sinode “moet klim”.

“Die boodskap aan die leierskorps van die Kerk moet duidelik wees: Julle speel met vuur. As dit so aangaan, gaan daar ’n punt kom waar gemeentes hul eie verband gaan vorm. En dit sal verskriklik hartseer wees.”

Hy sê hy verwelkom gays in sy kerk, maar om gay-verhoudings met die Bybel te regverdig, kan hy nie mee saamstem nie.

’n Groep leraars en Christene in die Wes-Kaap wat hulle die Kaapse Studiegroep noem, stem saam met Botes.

Ronnie Neveling, ’n afgetrede predikant van Kuilsrivier, sê die pad wat die NG Kerk loop, is die verkeerde pad.

“Dit is nie net die gay-besluit nie, maar ook dié oor die belydenisskrifte en die debat oor Belhar. Dit veroorsaak deurlopend skade en gaan die Kerk skeur. As net een lidmaat loop daaroor, skeur die Kerk.”

Hy sê die studiegroep vergader Woensdagoggend om oor die gay-besluit van die algemene sinode te praat. Hy sê hulle het “min of meer” dieselfde gedagte as Botes se federale idee.

“Daar is ’n paar opsies. Ons kan ’n aparte kerk stig of ons kan kerk hou buite die kerkverband. Ons was uiters geskok toe ons van die besluit hoor. Ons wil nie loop nie, maar ons is ontnugter. Kerkskeuring is nie ’n goeie ding nie, maar wat maak ’n mens? Ek wil nie hê die Kerk moet skeur nie. Ons sal Woensdag besluit wat doen ons.”

Intussen is gay lidmate by die NG kerk Uitsig Sondag met staande applous verwelkom.

Ds. Hein Kotzé van dié Bloemfonteinse gemeente is verheug oor die sinode se besluit om gay predikante en -troues toe te laat. “Ek is in die wolke! Ek het in die diens oor die besluit gepraat en was aanvanklik bekommerd oor die lidmate se reaksie. Maar hulle was heeltemal spontaan en het opgestaan en die gay lidmate met applous verwelkom.”

Kotzé se dogter, Corné, het sowat vier jaar gelede aan haar pa gesê sy is gay. “Van daardie tyd af het ek en my gemeente saamgewerk om gays in die kerk te aanvaar.”

Lees ook:

‘Ek wil nou gelegitimeer word’

NGK: Spanning bou so op

‘Ons het saam na Here se wil gesoek’

Vrystaatse Sinode moet uit Algemene Sinodale verband tree

Brief van Dawie Botes

Die Vrystaatse Sinode moet herbesin oor sy verband met die Algemene Sinode Die bloot emosionele besluit van die Algemene Sinode vir Gay huwelike ens wys dat die kerk toe nie bo die tydsgees kon uitstyg nie. Die Bybel moet ons enigste rigsnoer wees vir alle besluite anders raak ons bloot ’n sosiale vereniging wat bloot mense napraat en geen beginsels meer het nie. Met hierdie beluit is net geluister na die samelewing, drukgroepe en gekyk na tendense in die samelewing en hoe die wind waai. Ons moet die moed van die dag hê om te sê So sê die Here in Sy Woord punt en klaar. Ons moet herbesin oor die gedagte dat 200 afgevaardiges besluite neem vir 1 miljoen lidmate. Die spanning oor verskille gaan vorentoe net groter word. Daarom dat daar weer gekyk moet word om eerder uit te tree uit die Algemene Sinodale verband dat elke Sinode eeder die vrae in eie verband hanteer. Dit was die geval voor 1962 in die Federale raad van Kerke. Dit is ’n in grypende voorstel maar sal tot behoud van die kerk dien op die lang termyn. Dit moet eerder gedoen word voor daar radikale kerkskeuring gaan kom. Die kameel se rug gaan êrens breek en dit sal dan ’n baie hartseer dag wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui