Reaksie op 2015 homoseksuele besluit

Kyk ook:

Hier volg ’n paar reaksies op die NGK se 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudinge.

***********

Andries Louw op Facebook

Die besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk sal onvoorsiene gevolge hê. Die besluit is gemotiveer en aangebied met die argument dat dit oor mense gaan en oor liefde en aanvaarding van mense wat “gay” is. Dit gaan van die foutiewe veronderstelling uit dat “gay” wees ’n onveranderlike biologiese gegewe is. In wese gaan dit egter ook en waarskynlik primêr oor die aanvaarding en goedkeuring van selfdegeslag seksuele praktyke, op voorwaarde dat dit binne ’n sogenaamde verhouding van liefde en trou, bekend as ’n burgerlike verbintenis, sal plaasvind. Een van die onvermydelike gevolge is ’n verdere verlies aan lidmate, die toename van konflik op die vlak van plaaslike gemeentes en kerkrade, asook in ringe en sinodes. Die besluit gaan nie rustigheid bring soos dr Andre Bartlett meen nie, maar meer konflik en onrustigheid. Uiteindelik sal die NG Kerk agv van die pad waarop hy nou sy voete geplaas het waarskynlik net soos die Presbiteriaanse Kerk in die VSA waarskynlik besluit om die definisie van wat ’n huwelik is, so wysig dat dit ook selfdegeslag-verbintenisse insluit. Dit sal verder bydra tot die erodering van ’n gesonde huwelik-kultuur wat reeds ernstig geknou is deur ook ander faktore. Uiteindelik sal dit onmoontlik wees om steeds te verkondig dat die NG Kerk nog getrou aan die Skrif en die wil van God wil wees. Intussen sal daar ongelooflike druk op predikante en lidmate wees wat nie met die besluit saamstem nie, al word daar ook versekerings tot die teendeel gegee. Intussen ly homoseksueles onder die valse lewenswyse wat hulle gekies het en verpas hulle die geleentheid om na Godgewilde seksuele indentiteit terug te keer, en ly kinders wat aangeneem word deur “gay” pare, agv die verwarring van hul seksuele indentiteit. Een van die belangrike funksies van die Algemene SInode is om eenheid in die kerk te bevorder en in stand te hou. Die besluit maak egter nou die pad oop na verdeeldheid en selfs skeuring. Ware eenheid kan slegs uitegebou en bewaar word indien dit eenheid in die waarheid is. Daar lê nou moeilike tye voor vir die NG Kerk en vir almal wat haar liefhet, ten spyte van haar foute en dwalings.

Jan Louw

Ons moet nie die rol van die NG Kerk se Teologiese Fakulteite miskyk in die besluite van die Sinode om homoseksuele en lesbiese leraars nou in die kerk aan te stel nie.

Die professore van Stellenbosch het ’n amptelike versoek aan die Sinode gerig dat leraars in homoseksuele verhoudings toegelaat moet word om met mekaar te kan trou. Hulle versoek is amper woordeliks deur die Sinode toegestaan.

Prof Fanie Snyman, dekaan van Teologie by die Vrystaat het gesê: “Ek steun Stellenbosch se beskrywingspunt volledig en is daarvan oortuig dat die oorgrote meerderheid van ons dosente (op Bloemfontein) die beskrywingspunt steun”. Hy het ook groot dankbaarheid by die Sinode uitgespreek oor die besluite.

Prof Dirk Human van Pretoria het gesê: “Ek dink nie dat die sewe tekste (in die Bybel wat oor homoseksualiteit handel) iets sê oor selfdegeslagverhoudings soos ons dit ken nie.”

Dit is die soort leiding wat die dieTeologiese Fakulteite in hierdie tyd aan die Kerk gegee het oor die homoseksuele vraagstuk. Wat my betref het die integriteit van die kerk se teologiese opleiding hiermee ernstig in gedrang gekom en die Kuratoria wat daaroor moet toesig hou is antwoorde aan die Kerk verskuldig.

Jan Louw

Reitz

Dawid en Naomi

14 Oktober 2015

Liewe Gebedsvriende

In hierdie briefie probeer ek gewoonlik om van ons werk te vertel en ons probleer ook om die klem op die werk van die Heilige Gees te plaas. Ek wyk vandag af en wy dit aan die besluit van die Algemene Sinode van die NG kerk oor die goedkeuring van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag. Ek het verskeie navrae gehad van gebedsvriende wat geskok vra wat ek daaroor sê. Ek gee dus kortliks my standpunt hier:

Ek het drie probleme met die besluit wat die Algemene Sinode geneem het:

1. Die besluit is in stryd met die Bybel en verdraai die kerk se Belydenis.

Die Bybeltekste waarin homoseksuele dade veroordeel word, word eenvoudig verwerp. Daar word na Art 2 van die NGB verwys wat leer dat ons God ken deur die Woord en deur die natuur. Dan word verklaar dat wetenskaplike kennis deel van die “natuur” is, wat ons dan effektief verplig om Bybelgedeeltes wat homoseksuele dade veroordeel, te verdraai, sodat dit met die “natuur” kan ooreenstem.

Die NGB Art 2 sê wel dat ons God kan ken deur die natuur, maar voeg duidelik by dat die Skrif daardie kennis aanvul en vir ons alle kennis gee wat nodig is om salig te word. Volgens die NGB Art 2 en 7 vul die Skrif die kennis aan wat ons in die “natuur” kan kry, nie anders om, soos die sinode beweer nie.

2. Die besluit ingoreer die heiligheid van die kerk (vgl Lev 19:2, Kol 1:22, 1 Pet 1:15,16.)

Daar word tereg in die besluit op ons verantwoordelikheid gewys om ons naaste lief te hê en onvoorwaardelik te aanvaar soos Jesus, wat dikwels saam met diegene met ’n swak reputasie geëet het. Daarom stop hy by Saggeus en bly die dag by hom oor. Maar die impak was dat Saggeus sy gierige lewenswyse opgesê het en Jesus kon vertrek met die verklaring: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…” (Luk 19:9) Die gevolg is dus bekering en ’n veranderde lewe. Ja, ons moet mense van enige ras, geslag of seksuele oriëntasie onvoorwaardelik verwelkom. Maar die kerk is die heilige liggaam van Christus. Hier is almal verlore sondaars wat deur die bloed van die Lam losgekoop is uit die skuld en die smet van die sonde. Daarom is die kerk verplig om sy liefde teenoor mense wat seks buite die huwelik beoefen te betoon deur hulle aan te spreek en tot bekering te lei.

3. Die besluit ignoreer die krag van die Evangelie

Daar is verskeie getuienisse van mense wat in homseksuele prakyke vasgevang was, maar deur die krag van Jesus se opstanding oorwinning verkry het en nou ’n sinvolle lewe van dankbaarheid lei. Daar is selfs ’n genootskap van sulke gelowiges, hulle webblad is www.LearnToLove.co.za Hulle het twee jaar gelede ’n ope brief aan die NG Kerk geskryf, maar die Sinode het besluit om dit te ignoreer.

Ons het dertien jaar in ’n toe Moslemgebied sendingwerk gedoen. Ons het nie baie bekerings gesien nie, maar feitlik elke bekering wat ons wel beleef het, het gepaard gegaan met ’n duidelike wonderwerk. Ons het die krag van die Evangelie (Ef 1:19,20) elke keer beleef. Waneer dit geïgnoreer word, geld Paulus se waarskuwing in 2 Tim 3:5: “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”

Kom ons bid saam vir ons gemeentes en ons onderskeie kerkverbande!

Seën vir julle almal.

Dawie en Naomi

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui