“Oerknalteorie is Aprilgek-grap”, sê prof Jan Boeyens

Die oerknal: Aan die begin was daar niks en toe ontplof dit :-).

Op Saterdag 7 Julie 2012 het Anita Visser ’n onderhoud met prof Jan Boeyens gevoer tydens RSG se program, “Naweek Aktueel”. RSG sê die volgende op hulle webblad oor die onderhoud, waar dit as ’n potgooi afgelaai kan word (om die onderhoud in MP3-formaat af te laai, kliek hier en soek vir “Boeyens” of gaan soek al die potgooie op 7 Julie 2012. Dit is 7.8MB groot):

OERKNAL IS APRILGEK-GRAP
Die oerknal was niks meer as ’n Aprilgek-grap nie – so sê een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde wetenskaplikes, professor Jan Boeyens wat onder meer dekaan by Wits se Fakulteit Wetenskap was en tans by Tukkies se Departement Fisika betrokke is. Boeyens is al met verskeie toekennings vereer onder meer die Alexander von Humboldt-prys vir teoretiese chemie, die Suid-Afrikaanse Akademie se Havenga-prys en die Chemiese Instituut se goue medalje. Anita Visser praat met hom oor sy omstrede alternatiewe siening.

Hier volg dele uit die RSG onderhoud:

Jan Boeyens: Die oerknal het begin in 1948 by George Gamow (Russiese fisikus). Een van sy kollegas met die naam (Ralph) Alpher was betrokke by ’n studie van die chemiese elemente in die kosmos en die twee saam het besluit dat hulle iets hieroor moet skryf. Toe praat hulle met ’n ander kollega, wat niks met die saak te doen het nie, met die naam Bethe, en toe skryf hulle ’n artikel onder Alpher, Bethe en Gamow. Dit word gepubliseer in een van die mees vooraanstaande chemiese joernale in die wêreld, die Physical Review, en hulle reel dat dit gebeur op 1 April 1948. Die inhoud van die artikel het hulle geleen van Edgar Allan Poe wat in 1848 ’n storie geskryf het onder die naam van Eureka waarin hy spekuleer oor die ontstaan van die heelal – dat dit begin het met ’n ontploffing uit ’n enkele punt wat al die materie van die heelal bevat het. Vandag word dit aanvaar as die standaard model vir moderne kosmologie [1].

Soos dit aanvanklik voorgestel is, kon dit natuurlik fisies glad nie werk nie, want as al die massa van die heelal in een punt saamgetrek word, moet daar ’n oneindige saamtrekkings- of gravitasiekrag wees en is daarom onmoontlik vir die ding om uitmekaar te spat. Edgar Allan Poe het geweet dat dit onmoontlik was en het gesê dat dit gebeur het deur die wil van God. Alpher, Bethe en Gamow kon dít nie sê nie, omdat dit nie wetenskaplik sou wees nie [2]. In die plek daarvan kom hulle met die idee van inflasie. Dit is kwansuis ’n krag wat gravitasie teenwerk. Dit het hulle van Einstein geleen wat dit gebruik het om te sê dat die heelal stabiel sal wees…

Uiteindelik het die Pous in Rome ook hierdie idee goedgekeur. Van daar is dit beskou as wetenskap…

Bo en behalwe hierdie een probleem van die swaartekrag, is daar hope ander probleme wat hierdie hele sogenaamde teorie totaal en al onaanvaarbaar maak. ’n Gedeelte hiervan is wat hulle ondersoek het in CERN [met die Groot Hadron-deeltjieversneller of “Large Hadron Collider” (LHC)[3]], waar daar ’n sogenaamde finale bewys gevind is dat die oerknal wel plaasgevind het. Dit het etlike kere gebeur in die verlede dat gesê is dat die finale bewyse gevind is dat die oerknal gebeur het…

Anita Visser: En wat jy basies sê, professor, is dat dit onwaar is.

Boeyens: O natuurlik! Daar is nooit so iets soos ’n oerknal gewees nie. Daar is geen bewyse daarvoor nie en geen rede dat daar ooit so iets moes wees nie.

Visser: Hoeveel kollegas dink soos jy?

Boeyens: Ag, ek sou sê derduisende kollegas dink soos ek. Die eerste een is Fred Hoyle wat begin het met die term “big bang”, wat hy ook as ’n grap bedoel het. En ook John Maddox, die hoofredakteur van die tydskrif Nature wat in 1989 geskryf het “Down with the Big Bang” [Maddox is ’n ateïs].

Visser: En wat interessant is, is dat daar ook ander mense is wat dit sterk betwyfel, maar dit nie in die openbaar sê nie.

Boeyens: Dit is baie gevaarlik vir ’n wetenskaplike om dit te sê. Kyk, ek is afgetree – ek kan dit sê, maar mense wat nog aangewese is om hulle navorsingbefonds te kry moet versigtig wees wat hulle sê. Ek dink ek moet jou net een voorbeeld noem van ’n wêreldberoemde astrofisikus en astronoom met die naam van Halton Arp[4] in Munchen in Duitsland. Hy was so bekend dat selfs een van die sterrestelsels na hom vernoem is en sedert hy homself uitgelaat het teen die oerknalteorie, is hy alle toegang tot alle teleskope dwars oor die wêreld ontsê [5].

(Luister gerus die volledige onderhoud self.)

********************

In die artikel Crisis in cosmology continues with conference of big-bang dissidents, kom die volgende sterk uit:

  • Daar is heelwat wetenskaplikes wat nie glo dat die oerknal kan werk nie.
  • Hulle sieninge beïnvloed hulle loopbaan (sommige wetenskaplikes wou dit nie bywoon nie, want hulle was bang om ge-etiketeer te word).
  • Baie van die wetenskaplikes wat nie aan die oerknal glo nie, soek ’n alternatiewe teorie met die voorwaarde dat dit wonderwerke uitsluit. Dus ontken hulle God se aandeel in die skepping.

Christene kan vra of God dan nie met ’n oerknal geskep het nie? Dit is egter ’n hele onderwerp op sy eie, maar ek kan net sê dat dit sy eie probleme het, uitgesluit die feit dat dit beweer dat alles vanself gebeur het [6]. Skeppingsleerders, soos Russell Humphreys, glo wel dat God aanvanklik alle materie baie nader aan mekaar geskep het aan die begin en dat God dit tydens die skeppingsweek (op die 4de skeppingsdag) uitgestrek het – dmv rooiskuiwe sien ons vandag dat die heelal uitmekaar beweeg (het). Humphreys se teorie is onder andere ontwikkel om te probeer verklaar hoe ons sterre kan sien wat miljarde ligjare ver is as die heelal slegs 6000 aarde-jare oud is [7].

Die vraag is of Christene hoegenaamd vir God moet betrek by ’n teorie wat van die begin af as ’n grap bedoel is, wat Hom nie wil erken nie, en verder van huis uit in stryd is met die natuurwette en alle redelike beginsels van gesonde verstand.

Ten slotte: Daar is die persepsie by sommige mense dat die wetenskap en wetenskaplikes objektief is. Hierdie artikel het egter weereens gewys dat ’n groot klomp wetenskaplikes poog om God uit die prentjie te hou. Die vraag is: hoe objektief is ’n benadering om God van die begin af uit te sluit?

Voetnotas

[1] Let wel, die manier hoe die oerknalteorie tot stand gekom het, kan nie noodwendig iets oor die geldigheid van die teorie self sê nie. Dit sou wees om die genetiese denkfout (genetic fallacy) te begaan, dit is die fout om iets verkeerd te bewys deur dit na sy oorsprong terug te trek. Byvoorbeeld, Friedrich August Kekulé se inspirasie om by die regte chemiese struktuur vir benseen te kom, was ’n droom wat hy gehad het oor ’n slang wat sy eie stert vasbyt. Skeptici maak ook dikwels hierdie genetiese denkfout: Kyk bv Loving God with all your mind: logic and creation, Was Christianity plagiarized from pagan myths? en Darwin’s arguments against God. (Terug)

[2] Dit laat ’n mens dink aan die professor wat gesê het: “Jy mag moontlik reg wees; spesiale skepping is waarskynlik die waarheid en evolusie is verkeerd. Nietemin, evolusie is wetenskap en skeppings is geloof, so slegs evolusie moet in skole onderrig word.” (kyk Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief) (Terug)

[3] Vir meer oor die LHC, kyk The Large Hadron Collider (LHC): will a black hole swallow us?, Large Hadron Collider continues to confuse, Looking for the God Particle at the Large Hadron Collider, Crisis in cosmology continues with conference of bigbang dissidents. (Terug)

[4] Kyk Doppler toppler? vir meer oor Halton Arp. (Terug)

[5] In die DVD, Expelled, van Ben Stein, sê Guillermo Gonzales die volgende: “If they [mede astrofisici] value their careers, they should keep quiet about their ID (intelligent design) views. You use your ID perspective to get the research done, but you’re not allowed to talk about it in public.” Kyk ook Darwinian thought police strike again. (Terug)

[6] Vir meer oor die probleem van donkermaterie en donkerenergie, kyk Astronomy and Astrophysics Questions and Answers, onder “What is ‘dark matter’, and why does the big bang need it?” Die oerknal het ook sy eie lig-trek tyd probleem. Kyk Light-travel time: a problem for the big bang. Oerknallers het selfs ook a veranderlike ligspoed oorweeg (kyk Variable speed of light research gets a boost). Hierdie is egter nie vir oerknallers òf skeppingsleerders ’n goeie hipotese nie. (Terug)

[7] Vir meer oor Humphreys se teorie, kyk Ver-sterlig-jong-aarde-probleem (Hennie Mouton), Astronomy and Astrophysics Questions and Answers, onder “How can we see light from stars millions of light years away?” en ook die boek en DVD, Starlight and Time wat op www.creation.com beskikbaar. Hierdie teorie het die groot voordeel dat dit nie donkermaterie en donkerenergie nodig het nie (kyk vorige voetnota). (Terug)

Kyk ook:

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

Kyk Getuienis van ’n geoloog vir ’n getuienis van ’n geoloog-vriend.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui