NG Kerk se eietydse interpretasie (verdraaiing) van die Apostoliese Geloofsbelydenis

‘n Span teoloë, op die been gebring deur die Algemene Sinode, is nou besig met ’n Eietydse Interpretasie van die Apostolicum (Die Apostoliese Geloofsbelydenis). Die span is Ben du Toit, Robert Vosloo, Danie Malan (sameroeper), Gerrit Brand, Coenie Burger, Ernst Conradie, Danie Dreyer, Piet Naudé, Nico Koopman, Christo Lombard en Dirkie Smit.

Die eerste gedeelte van die taak het reeds gedien by die Algemene Sinode van 2011. Die volledige werk sal waarskynlik by die volgende Algemene Sinode dien. Kliek hier (211 kB) om daarna te kyk. Die volledige notule is hier (1.5 MB) beskikbaar of oorspronklik by http://www.ngkerk.org.za/documents/uploads/handelinge2011.pdf Eersgenoemde skakel is die toepaslike uittreksel uit laasgenoemde twee skakels. Die Algemene Sinode is baie positief oor die voorlopige werk soos blyk uit die Algemene Sinodesitting se Besluiteregister van 2011-10:

APOSTOLICUM: ’n EIETYDSE INTERPRETASIE (vgl A.10 bl 167 pt 3; A.10 (Aanvullende verslag) bl 1; T.10.1 pt 2.4; Notule Dag 3 bl …)

1. Die Algemene Sinode neem kennis van die konsep-formulering van die eerste deel van die Apostolicum soos aan die vergadering voorgelê en aanvaar die styl en formaat daarvan.

2. Die Algemene Sinode versoek die werkgroep om die projek te voltooi en die teks soos dit vorder vir kommentaar op die internet aan te bied.

3. Die Algemene Sinode spreek sy dank en waardering uit teenoor die lede van hierdie taakgroep, veral diegene uit die geledere van ons NG Kerkfamilie, vir die harde en deeglike werk wat hulle gedoen het en waardeer hulle voortgesette betrokkenheid hierby.

4. Die Algemene Sinode versoek ook die Apostolicum-werkgroep om ’n korter en meer populêre weergawe (nog meer eenvoudige weergawe) vir tieners en lidmate te formuleer.

5. Die Algemene Sinode dra dit aan die Moderamen op om die verdere hantering van die projek, soos wat ATLAS dit in die volgende maande aan die vergadering sal voorlê, te hanteer met die oog op die voltooiing en afhandeling daarvan.

Een van die groot dwaalveronderstellings van die opstellers van die dokument wat al duideliker raak soos mens dit lees, is dat hulle die Bybel sien as mensewoorde oor God en nie as Goddelike openbaring aan die mens nie. Daarom verduidelik hulle telkens waarom die mense wel geskryf het wat hulle geskryf het (omrede omstandighede, as teenreaksies op ander godsdienste, hoe hulle God probeer verstaan en verduidelik het ensovoorts) met feitlik geen erkenning van die openbaringsaard van die Bybel nie. En daarom glo hulle sommige gegewens in die Bybel eenvoudig glad nie. Sommige van hul blatante uitlatings wat dit demonstreer, is die volgende:

Waar godsdiens vandaan kom, is moeilik om te sê, maar die vroegste mense het hulle al aan alles verwonder en bepaalde verhale met ’n godsdienstige strekking vertel om die wêreld waarin hulle gewoon het te verstaan.

’n Mens kan nietemin sê dat die priesters wat dit geskryf het van die beste beskikbare kennis van hulle dag gebruik gemaak het (en dit was in baie gevalle glad nie so sleg nie) om ’n verhaal te vertel wat aandui hoedat die God van Israel (Elohim) – en nie Marduk, die god van Babel nie – orde uit chaos tot stand gebring het, sodat die aarde vrugbaar kan wees en floreer.

Die dokument is ook ’n tragiese bewys van die effek wat die evolusieleer, waarteen GlodieBybel waarsku, op die teologie van die kerk en spesifiek die NG Kerk het. Dit is ’n voorlopige teks, maar dit wat reeds op skrif gestel is, is uiters verontrustend.

Onder die druk van die evolusieleer het Genesis 1 vir die kerk ’n probleem geword. Die opstellers van die dokument, verklaar in lyn met die hedendaagse teologie, dat Genesis 1 ’n gedig is wat deur die Joodse priesters in die ballingskaptyd opgestel is. Hulle doel daarmee sou wees om Israel te help om hulle geloof in God te behou, teenoor die Babiloniese skeppergode. Hierdie siening het verreikende implikasies.

Dit is nie verbasend dat mense wat God se bonatuurlike skepping van lewende organismes, en die mens, nie glo nie, maar dit verwerp ten gunste van ’n naturalistiese hipotese soos evolusie, dan ook vreemde stellings oor wonderwerke maak. In die dokument skryf die opstellers:

Aan die ander kant moet ’n mens waak teen opvattings waarvolgens wonderwerke verstaan word as God se ingrype teen die wette van die natuur. Dan word dit voorgehou asof God vir ’n oomblik hierdie natuurwette opskort om vinnig iets te doen voordat jy nog jou oë kan knip. Só ’n God is nie baie betroubaar nie. God as Verlosser kom dan in stryd met God as Skepper.

Daarteenoor verklaar ons:

Genesis 1-3 lê die basis van ons Christelike Lewens en Wêreldbeskouing, waarin die historiese werklikheid van Skepping, Sondeval en Verlossing – in daardie volgorde – sterk funksioneer. Ons oriënteer ons denke hiervolgens op grond van die Skrif. Ons glo dat dit so deur God aan ons geopenbaar is en dat dit as historiese werklikhede deur die Bybelskrywers bedoel is. Skepping, Sondeval en Verlossing is ’n integrale deel van die Evangelie wat die kerk moet verkondig. Dit is ook die grondslag soos ons verstaan van die werklikheid.

God se almag impliseer juis dat Hy ook die natuurwette geskep het, die natuur meestal daarvolgens onderhou, maar ongetwyfeld buite dit kan optree en opgetree het.

Dit is duidelik dat die opstellers van die Eietydse Interpretasie afstand gedoen het van hierdie fondamente van ons Christelike geloof en uiteindelik niks konstruktiefs vir die kerk en die wêreld het om aan te bied nie. Al wat oorbly is onbeantwoorde vrae. Die vrae in hulle dokument waarop hulle nie behoorlike antwoorde bied nie gaan oor: waar godsdiens vandaan kom, waar die wêreld vandaan kom, interpretasie van ander skeppingsverhale, goed en kwaad by die mens, erfsonde, die almag van God, wonderwerke, ens.

Die dokument is voorafgegaan deur talle gesprekke/vergaderings en voorleggings en word seker met groot (dankoffer-) koste opgestel, maar op hierdie stadium lyk dit na net nog ’n skadelike akademiese oefening van die NG Kerk wat asseblief van die kansels af weggehou moet word, tensy daar dominees is wat die moed van hul geloof het om dit behoorlik en grondig te verwerp.

Gesprek of Facebook/Kerkbode

Die saak het ook gelei tot die volgende plasing en kommentare op Facebook/Kerkbode.

Henrietta Klaasing -> Kerkbode

Waarheen is die NGK se leiers oppad met die sogenaamde “eietydse geloofsverklaring”?

Getuig dit nie eerder van ONGELOOF as van geloof nie?

SIEN HIERDIE UITTREKSEL:

Hoe kan ons in elk geval so seker wees van God? En, hoe kan ons so seker weet dat ons God in Jesus Christus kan leer ken? ’n Mens kan mos nie sommer ’n houvas op God kry nie, of hoe?

EN HIERDIE:

Hoe weet ons nou eintlik waar die wêreld vandaan kom? Ons was tog nie daar “in die begin” nie? Hoe kan ons só spesifiek glo dat die God waarin Christene glo die Skepper is? Wat van ander skeppingsverhale in buite-Bybelse bronne? Watter een is reg? Hoe durf ons die skepping “goed” noem? Is daar dan nie ook ’n “donkerder kant” aan God se skepping waar ’n mens swaarkry, lyding en dood aantref nie?

EN HIERDIE:

Daar is iets goeds en iets kwaads in die mens. Maar hoe hou dit met mekaar verband? Moet ons hoop dat daar ten minste meer goed as kwaad is? Wat beteken “goed” nou eintlik? Perfek, ’n goeie begin, of net OK? Goed soos in ’n goeie produk, ’n goeie voorbeeld, of ’n goeie mens? Of is die skepping dalk goed in die sin waarin die kruis “goed” is? Waar kom die kwaad in elk geval vandaan? Is “die kwaad” die noodwendige teenpool van dit wat “goed” genoem word? As jy vir die een kies, dan word die ander tog geïmpliseer, of hoe? Of lê die kwaad dalk opgesluit in dit wat materieel is?

EN HIERDIE:

Kan ’n almagtige God ’n klip maak wat so swaar is dat God self dit nie kan optel nie? Na al twee kante toe blyk dat God dan nie almagtig is nie, of hoe? Net so kan God nie ’n vierkantige sirkel maak nie. God kan die gevolge van iets wat gebeur het ten goede omkeer, maar kan nie wat nou eenmaal gebeur het ongedaan maak sodat dit nie gebeur het nie. Belangriker nog: God kan nie ontrou wees of teen God se eie aard en karakter optree nie. Al hierdie voorbeelde help ons om raak te sien dat ons moet verduidelik wat met God se almag bedoel word. Dit help nie om soos klein seuntjies met mekaar te stry oor wie se pappa die sterkste is nie, so asof enige idee van mag ewe goed is nie.

NGK se eie interpretasie van die apostoliese geloofsbelydenis

Kommentare

Barend Nel

Uit die verslag self:

“Interpretasie

* Die opdrag is gesien as ’n uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis, eerder as ’n sistematiese uiteensetting van die Bybel oor die Christelike geloof, of die daarstelling van ’n nuwe “klein dogmatiek”. As “interpretasie” moet hermeneutiese vrae uiteraard ernstig opgeneem word.

* Dit is verder ’n eietydse interpretasie. “Eietyds” beteken vir ons dat die vrae, voorveronderstellings, kritiese ingesteldheid en probleme van ons eie tyd deeglik verreken moet word. Daar is uitgegaan van die standpunt dat dit tot die eie-aard van die gereformeerde tradisie behoort om gedurig in die lig van God se Woord te bly reformeer. Nuwe tye vra nuwe vrae en kry soms ook verrassende nuwe antwoorde.

Lees tog vir EEN keer ’n bron SELF en nie soos uitmekaar en uit verband getrek deur een of ander beswaarde nie! Dit is te kry by:

Handelinge2011.pdf

Die skakel sal jou by die volledige handelinge (notule) van die 2011 Algemene Sinode bring, ’n pdf dokument van 190 bladsye. Die voltooide deel van die opdrag is in deel die heel eerste verslag (A10) van daardie dokument en begin op bladsy 8.

Henrietta Klaasing

Die PROSES is net so belangrik soos die PRODUK, Barend! Ek glo regtig nie die gesegde “die doel heilig die middel” is in alle opsigte toepaslik nie.

Henrietta Klaasing

Ek het gaan kyk Barend, die stukke hierbo kom juis uit die dokument wat jy na verwys.

Annemarie Scheepers von Landsberg

Wow !!!!!l Al daardie “geskrifte ” is lekker teelaarde v satan om sy werk te doen !!

Henrietta Klaasing

BAIE goed gestel, Annemarie!

Hennie Mouton

In die dokument word beweer: “Daar is uitgegaan van die standpunt dat dit tot die eie-aard van die gereformeerde tradisie behoort om gedurig in die lig van God se Woord te bly reformeer.” Maar die dokument verdraai ook hierdie betekenis deur in werklikheid nie die Goddelike gesag van die Woord te erken nie. Een van die groot dwaalvoorveronderstellings van die opstellers van die dokument wat al duideliker raak soos mens dit lees, is dat hulle die Bybel sien as mensewoorde oor God en nie as Goddelike openbaring aan die mens nie. Daarom verduidelik hulle telkens waarom die mense wel geskryf het wat hulle geskryf het (omrede omstandighede, as teenreaksies op ander godsdienste, hoe hulle God probeer verstaan en verduidelik het ensovoorts) met feitlik geen erkenning van die openbaringsaard van die Bybel nie.

Henrietta Klaasing

’n Ander Gereformeerde “familie”, die WRF (World Reformed Fellowship), het pas na baie jare hul eietydse geloofsverklaring uitgereik, waarmee ek my ten volle kan vereenselwig. Dwarsoor die wêreld was Geformeerde kerke ( “Doppers” ) in verskillende lande hierby betrokke. Dit was my voorreg om te help met die vertaling daarvan in Afrikaans (dis nog nie goedgekeur nie en dus ook nie elektronies beskikbaar nie). Die Engelse weergawe kan hier gelees word (daar is ook ’n paar ander vertalings, kyk gerus op hul webblad): KLIEK HIER.

Henrietta Klaasing

Hier word speletjies gespeel, Hennie. Ek het kommentaar gelewer op plasings wat verwyder was, en woeps! is dit weer terug.

Hennie Mouton

Kom ons gee vir Kerkbode maar die voordeel van die twyfel en raai dis facebook wat soms die kluts kwytraak. Die kommentare word in elk geval so goed as moontlik bygehou in die glodiebybel-plasing waarna jy hierbo verwys.

Henrietta Klaasing

En weer word daar gepeuter aan die plasings!

Hennie Mouton

Kerkbode probeer dalk skadebeheer toepas maar is verward oor hul strategie.

Hennie Mouton

Ja, nou is ’n klomp kommentare weer weg.

Barend Nel

Ek weet die aangehaalde stukkie kom uit die dokument waarna ek verwys Henrietta! Maar jy het duidelik nie die dokument gelees nie, anders sou jy dit geweet het en nie gaan kyk het nie. Jy het die aanhalings en kommentaar soos Wynand dit reeds versnipper en uit verband getrek het gelees. Dit is hoekom ek vra: Gaan nou vir een keer en lees die dokument, die hele dokument, die dokuments self, sonder die vooropgestelde idees van Wynand! As jy dit doen sal jy sien dat die aanhalings juis die twyfelvrae vra wat mense deesdae vra. Kyk maar op enige forum en jy sal daardie soort vrae sien. Nie net uit die mond van ateïste nie, maar ook gelowiges. Die taakspan se opdrag was juis om hierdie soort vrae te verreken in hulle interpretasie. Maw om te besin oor hoe die kerk mense sou antwoord wat hierdie tipe vrae vra.

Of hulle daarin gaan slaag om ’n stuk op te stel wat mense wat sulke vrae vra te help, sal mens nog sien soos die projek vorder. Maar jy veroordeel hulle omdat hulle hulle opdrag uitvoer!!!!!!!!!

Lourens Zak Barnard

‎:-). Sien myne het ook verdwyn.

Hennie Mouton

Die dokument is nog nie klaar nie, maar die antwoorde wat alreeds verskyn het, blyk baie sterk gebaseer te wees op die dwaalveronderstelling dat die Bybel slegs mensewoorde oor God is.

Hennie Mouton

As mens kyk hoe die opstellers van die dokument die betekenis van God se almag verdraai het, wonder mens wat hulle gaan maak met “van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het”.

Kerkbode

Geen plasing wat verwyder is hier was “woeps weer terug” nie. Daar is ook na niks “gepeter” nie. Hoe “peuter” mens aan plasings?

Hennie Mouton

Ja, dit was toe facebook wat gister landswyd gespartel het. Kommentare het orals gekom en gegaan en weer verskyn.

****************

Kommentare op Hennie Mouton se Facebookblad

Die plasing daarvan op my eie (Hennie Mouton) facebookblad het ook ’n hele paar kommentare uitgelok.

KLIEK HIER

Hennie Mouton shared a link via Glo die Bybel.

August 22

Skokkende verwikkelinge.

NG Kerk se eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis

www.glodiebybel.co.za

Kommentare

Jan Buter

So ’n stuk gelees, maar vind dit vermoeiend om daardeur te worstel! Sal later maat uitdruk en rustig die geheel ’n slag deurgaan.

Nicolene Filmalter

Hartseer, maar nie meer skokkend vir my nie. Dit wil voorkom asof groepsdruk n baie groter probleem is vir volwassenes as vir kinders. Alles net om in te pas by die sekulere meerderheid?

William King

Seker ’n spelfout. Hulle moet vir Ben du Toit vra om dit reg te maak. Moet eintlik wees “My eie verdraaing van die Apostoliese Geloofsbelydenis”

William King

Ek vra ook waarheen? http://www.bybelwaarheid.com/1/post/2012/08/quo-vadis-ng-kerk.html

Quo Vadis NG Kerk?

www.bybelwaarheid.com

Gelowiges in Suid Afrika is nou al geruime tyd bekommerd oor die rigting wat die NG Kerk besig is om in te slaan. Een van die brandpunte raak die kern van die bestaan van die kerk, naamlik die…

En ook: Inkonsekwente opinies lei tot afvalligheid (bybelwaarheid.com).

Inkonsekwente opinies lei tot afvalligheid

www.bybelwaarheid.com

Professor Willie Jonker het met sy aanvaarding van ’n professoraat in Teologie by UNISA sy intreerede gehou met die titel “Om die Regering van Christus in sy Kerk”. [1] Hierin verwys hy oortuigend na…

William King

My vraag: Is die NG Kerk nie al verby die Rubikon nie?

Johan Vorster

Ek dink een van die belangrikste ware feite in die Bybel wat ons almal as gelowiges onder die knie moet kry, is Jesus se opdrag aan ons in Johannes 13 en weer in Johannes 15: “Julle moet mekaar liefhê”. Dit is sy nuwe verbond. Dit is wat ons moet gaan doen, dan snaaks genoeg lyk verskille nie meer so onoorbrugbaar nie

Hennie Mouton

Johan, jy stem sekerlik saam dat Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê veral daaroor sal gaan dat insoverre dit mense van ander gelowe aangaan, ons die evangelie aan hulle sal bring. En dat hierdie liefde nooit kan beteken dat ons ooglopende vals leringe in ons kerke kan akkommodeer en goedpraat nie.

William King

Met legitimasie lê die proponent al dievolgende eed af (nie eers by aanvaarding van beroep nie)!

1. dat ek glo dat die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid -naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God;

2. dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;

3. dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer;

Hierdie goed handel oor leersuiwerheid. As die leer van die kerk op so ’n skandelike wyse deur amptelike ampsdraers vermorsel word, dan kan ons nie anders as die die liefde vir die waarheid van God se Woord voorop te stel nie. Hierdie is ’n direkte aanval op die leer van die kerk van die vroegste tye af. En hierdie goed is nog net die begin van die belydenis. Hulle moet nog by die res kom!

Ek dink ons gaan sien hoedat hulle elkeen van die belydenisse een vir een begin aftakel. Hulle het klaar die Bybel afgemaak as mense woorde oor God en die goddelike inspirasie verwerp. Nou volg die belydenisse. Alles volg maar net die patroon om ervaring bo die leer te stel. Judas sê ons moet stry vir “die geloof eenmaal aan die heiliges oorgelewer” (vers 3). Dan sal ons dit doen.

Hebreërs 11:6 praat van ’n seker wete oor God: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek. Johannes 14:7-9: As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.

Lourens Zak Barnard

Sekerlik is dit nie “skokkend” nie. dis tog absoluut Bybels. Wanneer Paulus vir Timotheus sê dat mense vir hulself predikers bymekaar gaan maak wat hulle in die gehoor sal streel, bedoel hy sekerlik ook dat daar predikers gaan opstaan wat hul gehore gaan vertel wat hul graag wil hoor. Is dit nie fantasties om die Bybel so in vervulling te sien kom nie?

Johan Vorster

Hennie Mouton, natuurlik stem ek saam dat ons die verkondiging opdrag gekry het. Die opdrag is eenvoudig (sien Handelinge 1:8) dat ons HOM (Jesus) moet verkondig – ons moet mense van Jesus vertel. Wat is die doel van die Bybel? Dit word vir my so mooi opgesom in Romeine 15:4 soos in Die Boodskap: “Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here”. Weer eens is Jesus voorop. Jesus se opdrag om lief te hê (wat apart staan van die opdrag om te verkondig) is nie voorwaardelik nie, inteendeel, om weer eens na Romeine 15 te verwys, diegene wat sterk is in die geloof het ’n verantwoordelikheid teenoor ander met ’n sensitiewe geloof. Jesus het ook gesê dat hierdie ’n NUWE opdrag is (Johannes 13:34): “Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.” Die enigste “voorwaarde” dus wat sy opdrag vergesel is dat ons mekaar moet liefhê soos wat HY ons liefhet. Ek dink dus die geloof in Jesus Christus en die verkondiging van Jesus aan die wêreld en die liefhê van almal soos wat Hy ons liefhet, is baie belangriker as al die verskille tussen mense. Daarmee sê ek nie die verskille sal verdwyn nie en nog minder probeer ek bepaal wie is nou reg en verkeerd oor ’n bepaalde saak, maar as daar ’n man/vrou is wat in ’n ander kerk of dieselfde kerk is wat in Jesus glo en liefhet soos Jesus, sal verskille wat ek en daardie man/vrou het oor ander sake nie onoorbrugbaar wees nie. Ek dink nie minder (of meer) van jou oor enige standpunt wat jy het nie, ek dink ons is broers in Christus en die opdrag is om mekaar lief te hê, ek wil graag met daardie gesindheid lewe.

Hennie Mouton

Dis goed Johan, wat nou van my laaste vraagstelling aan jou: “En dat hierdie liefde nooit kan beteken dat ons ooglopende vals leringe in ons kerke kan akkommodeer en goedpraat nie.” ?

Johan Vorster

Ek volstaan by my volledige antwoord op daardie vraagstelling Hennie, die enigste evangelie is die verkondiging van Jesus se genade en die uitleef van sy liefde opdrag, niks kan bokant dit gestel word nie, al redeneer jy uit elke denkbare hoek. ’n Vals lering is ’n lering wat Jesus as ons Messias misken, sulke leringe kan jy jy gerus jou rug op draai, al die ander verskille tussen mense wat in Jesus glo is triviaal

Tom Lessing

En dan wil hulle weet waarom die NG Kerk besig is om leeg te loop.

Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. (Openb. 2:4-5)

Aan Johan Vorster:

Toe Jesus vir Petrus vra “Het jy my lief, het Hy as kernbegrip oor die liefde ’n paar dinge duidelik uitgespel: “Voed my skape en lammers” en “Pas my skape en lammers op.” “Pas my skape en lammers op” het tog sekerlik te make met ons plig om die kerk te waarsku teen valse leringe en valse apostels en profete. Dis reeds algemene kennis hoedat verskeie persone die NG Kerk die afgelope paar dekades ernstig gewaarsku het oor dwaalleer in hulle midde (veral in die opleidings inrigtings en kweekskole). Dit het op dowe ore geval en hulle gaan maar nog steeds voort met hulle dwaalleringe. Kyk gerus maar weer ’n slag na die TEO (amptlike blad van die Teologiese Skool aan UP se internet webblad) om te sien hoedat hulle dwaalleer goedkeur en verkondig.

Jy praat van liefde? As jy die skape en lammers nie waarsku teen wolwe in skaapsklere nie, dan het ju hulle nie lief nie. Dis so eenvoudig soos dit!

Johan Vorster

Liewe vriend in Jesus Tom, as jou (en baie ander gelowiges wat jou denkwyse ondersteun) interpretasie van Jesus se aarde toe kom en sy voorbeeld van liefde blyk te wees veral “om die kerk te waarsku teen valse leringe en valse apostels en profete (jou woorde)” soos die skrifgeleerdes van ouds, doen dan so voort en mag dit jou geloof versterk. Ek (en baie ander gelowiges) verstaan die liefde van Jesus baie meer in terme van “omgee”, veral die verskeie voorbeelde in die Bybel van sorg vir die armes en help die op wat val en vergewe selfs jou vyand en bid vir hom, so my verstaan van die liefde van Jesus verskil dan gewoon van joune, kom ons volg dan elkeen dit na wat ons voel ons roeping is, persoonlik meen ek egter steeds dat die verskille soos mis in die son verdwyn teenoor die liefde wat God aan ons albei bewys het deur Jesus Christus. Vrede en liefde vir jou. Amen

Hennie Mouton

Nee Johan, dis nie “veral” nie, en dis nie “soos die skrifgeleerdes van ouds” (jou woorde) nie. Of veroordeel jy ook Paulus se woorde in 1Kor.5:7-13 op dieselfde manier?

Nicolene Filmalter

Persoonlik het ek God se waarhede eerste lief 🙂

Johan Vorster

Amen Nicolene

Nicolene Filmalter

En omdat ek God, SY Waarheid en my medemens liefhet, is dit net so belangrik om my medemens te waarsku teen misleiding, indien hy/sy dit nie sou raaksien nie. Dit is uit liefde wat mens dit doen, nie uit veroordeling nie. Ons oordeel die daad – NIE die mens nie, op dieselfde manier as wat ons ons kinders uit liefde dissiplineer. Die een (naaste liefde) is beslis makliker as teregwysing – naasteliefde laat jou selfs ‘goed voel’ oor jouself, terwyl teregwysing jou in ’n kwesbare posisie van veroordeling plaas – deur die einste mense vir wie jy graag wil help. Jesus het so duidelik gewaarsku teen ’n ‘louwarm’ houding – veral in hierdie laaste dae – ’n kenmerkende eienskap van ons kerke. Ons kan nie – wanneer ons so duidelik sien dat iets verkeerd is – ander kant toe kyk onder die vaandel van naasteliefde nie. God se Waarheid geopenbaar in SY Woord kom eerste – daarna leef ons dit uit na ons naaste. Ons moet IN LIEFDE voortdurend getuig en leef in waarheid as ’n voorbeeld vir ander. ’n Geseënde aand.

Nico Brits

Die sg ‘liefde’ is seker een van die mees elegante rookskerms vir die christen jellievisse. Met ‘liefde’ word gewoonlik ’n soetsappige permisiwiteit bedoel van ‘anything goes’ en waag jy net om te sê ‘anything doesn’t go’. In dieselfde Joh 17 waar Jesus sê vs 26 sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle. sê Hy in vs 17 u woord is die waarheid. As daar dan beweer word dat Genesis 1-3 ’n joodse priesterlike modifikasie van die babiloniese skeppings verhaal is. Word die Bybel wat in Ps 119:89 beskryf word as ‘Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.’ tot ’n tipe van vervalste/afgewaterde Enuma Elish met ‘profisieë’ wat na die gebeurtenis geskryf is. Die God van die Bybel word dus gereduseer as iets laer as Marduk. Die priesters van Marduk was tenminste oorspronklik maar ons Here en God word gereduseer tot ’n stomme Dagon wie se priesters nie eers ’n oorspronklike skeppings verhaal kan uitdink nie. As daar dan mense opstaan en sê ‘So sê die HERE Here’ en die waarheid uit Sy woord demonstreer, blêr die bokke die ‘liefde’ storie. Die groot ‘liefhebbers’ moet vir ons laat weet waarom ons hulle ‘liefde’ storie moet glo as dit, volgens sommige geleerdes, in ’n god is wat powerder as Marduk en Dagon se bybel staan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui