NGK Diversiteitsforum 2010 (07) (2010-08-11 tot 2010-11-10)

Vir meer agtergrond oor hierdie debat, kyk NGK Diversiteitsforum 2010.

Die teks gemerk in grys is deur die Webmeester, Charles Malan, verwyder. Ons het ook op sommige plekke kommentaar gelewer.


Jennifer
2010-08-12

Ek lees dat die NG Kerk reageer teenoor die rassisme op Kovsies. Dankie tog vir die Nuwe Suid Afrika en die verval van die NG Kerk se goddelike diskriminasie veral na 1948 soos afgedwing deur die Nasionale Party se drakoniese apartheidswette.
Wat my tot onreg striem is dat die NG Kerk homself nog nie van diskriminasie teenoor gelag kon ontwurm nie.
Die NG Kerk in besonder en ook ondersteun deur haar susterskerk – die Gereformeerde Kerk – is ’n fundamentalistiese blokhuis vir die behoud van diskriminasie teenoor gay’s en lesbiens. Tot tyd en wyl die kerk homself nie kan skoonmaak en bevry van diskriminasie het sy geen reg tot uitspraak oor sosiale onaanvaarbare praktyke soos rassisme nie en nog te meer oor homoseksualiteit. Inteendeel dit is juis die NG Kerk wat hierdie haatspraak teenoor ras en seksuele voorkeur jare lank verkoop het in die naam van goddelike regverdiging. Die kerk behoort homself onder sensuur en afsluiting te plaas.

Linde Jansen van Rensburg
2010-08-13

SEKS

Jennifer, lees maar self jy skryf dat “dat die NG Kerk homself nog nie van diskriminasie teenoor gelag kon ontwurm nie.” Jis, jy is maar soooooo reg. Baie van die suur ou ballies kannie ’n gelag verduur nie.

Maar oukei, diskriminasie teen geslag en almal wat van outestamentiese seksreels afwyk kry mens nog orals in die kerk. Seks is slegs toelaatbaar tussen ’n getroude man en vrou ind die donker vir voortplanting en dit mag nie lekker wees nie.

Christo Lombaard
2010-08-16

Linde, ek en vroulief het lekker gelag oor jou slim manier van sê!

Dis my eerste keer hier, maar ek kom weer terug. Belowe.

Webbestuurder 2010-08-16

NUUT OP DIE FORUM: NASIEBOU EN SUBNASIONALE IDENTITEIT

Verskeie bydraes op die forum het die kollig die afgelope tyd op die konsep ras en dus rassisme laat val, veral na aanleiding van die “Reitz-vier”. In die argief is die posisie van die NG Kerk oorskou en daar is gewys op die gebrek aan ’n Christelike mensbeskouing.

In die nuutste meningstuk op die argief word daar op ’n sentrale aspek van mensbeskouing gefokus, naamlik identiteit. Die bekende opvoedkundige en taalkundige, prof. Neville Alexander, toon aan hoe veral rasgebaseerde identiteite steeds in die pad van ’n algemene nasionale identiteit en dus nasiebou bly.

Hy voel dit is noodsaaklik ‘dat ons moet toesien dat verskanste, oorgeërfde, rasgebaseerde identiteite wat die populêre bewussyn gedurende die koloniale en apartheid-tydvak in Suid-Afrika ontsier het, verander en in die laaste instansie uitgeroei word. Dit is geen maklike taak nie en ons sal nie oor die volgende paar geslagte heeltemal suksesvol wees nie. Die blote feit dat mense in 1994 hul stem uitgebring het, kon nie die wonderwerk verrig om die rasvlek van hul bewussyn uit te wis nie. Hoe dit ook al sy, vandag moet dit die doel van alle kreatiewe en denkende mense in hierdie land wees om seker te maak dat, onder andere, etikette soos “swart”, “wit”, “kleurling” en “Indiër” as ’n manier om mense in die nuwe Suid-Afrika te identifiseer, irrelevant word. (…) ‘’n Bekende studie vir die VN is deur die Internasionale Raad oor Menseregtebeleid (2001) onderneem. Een van hul kerninsigte: [D]it is passend – inderdaad noodsaaklik – om die sistemiese karakter van diskriminasie en stigma uit te wys. (…) In al die gemeenskappe wat ondersoek is, is bevind dat diskriminasie op grond van “ras” deur ekonomiese marginalisering versterk word, en omgekeerd. Lede van verontregte groepe word uitgebuit en ekonomies gemarginaliseer en terselfdertyd of in verskillende periodes word hulle as minderwaardig beskou. Soos die dominante groepe dit sien, “regverdig” hierdie minderwaardigheid hulle uitbuiting en die gevolglike verarming is weer die bewys van hulle minderwaardigheid. (…) Die veronderstelling dat een groep “van natuur” arm is omdat dit minderwaardig is, word van geslag tot geslag gevestig en gevolglik verkry die bestaande ongelyke geleenthede, soos toegang tot gesondheids- en onderwysgeriewe, werksgeleenthede, ens. ’n sistemiese karakter. (…) ‘Dit is verbouererend en vernederend om weer eens met amptelike vorms gekonfronteer te word waar ’n mens sy of haar “ras” moet invul. Ons wat gedurende die apartheidtydvak teen hierdie praktyk geveg het, weier beslis om dit vandag te doen. Die gebruik van die “kortpad” van “ras” is onnodig om die legitieme bestemming van regstellende aksie te bereik. (…) Dit is ons plig om alles in ons vermoë te doen om die houvas te ondermyn wat hierdie idees op die mentaliteit van ons mense het.’

Henrietta Klaasing
2010-08-16

Prof. Alexander se artikel getuig van diepe nadenke en navorsing – dankie daarvoor. Ek dink egter mens moet wyer kyk as ons eie verlede.Die wêreld word nie verniet ’n “global village” genoem nie en SA is deel daarvan. Mense lees koerante, luister nuus, kyk TV. Wêreldwyd is groepvorming besig om toe te neem. Ras het nie noodwendig veel hiermee te doen nie, eerder dinge soos godsdiens, taal, onderwys en kultuur. Enkele voorbeelde hiervan is die Palestyne , die Baske, Kataloniërs en Vlaminge.

In meeste Europese lande is daar tans ’n oplewing van hierdie groepgevoelens, soos Frankryk se strenger instromingsbeheer en die groot vermeerdering van die aantal stemme wat Geert Wilders in Nederland gekry het op grond van die bedreigende ver-Islamisering. Dieselfde is stilweg ook besig om in Engeland te gebeur.

Baie van hierdie groepe het veel meer in gemeen as groepe in Suid-Afrika. Dit is ’n feit dat mens meer tuis en op jou gemak voel onder jou “eie” mense. Dit behoort mens dus nie te verbaas nie, dat nasie-vorming hier so moeilik geskied. Ek stem heelhartig met prof. Alexander saam dat voortgaande debat hieroor nodig is.

Henry
2010-08-17

IDENTITEIT

Neville se deeglike ontleding is inderdaad baie welkom. Hy weet sekerlik waarvan hy praat oor identeit wat ook as ’n vloek gebruik kan word omdat hy as struggle-intellektueel aan die slegte ontvangkant van “kleuridentiteit” was. Mag ons almal weier om die vervloekte vorms wat jou ras vra, te voltooi.

Henrietta, die oorsese voorbeelde toon maar te duidelik dat groepsamehorigheid selfs tussen Christene toenemde benouend eerder as bevrydend kan wees. Neville sê tereg dat veranderings hier nog geslagte kan neem. Dit beteken natuurlik nie ons moenie almal ons deel doen om die vloek van rassisme uit te roei nie.

Daar is ’n belangrike deel van sy artikel wat verdere aandag nodig het: die stereotipering deur armoede. ‘’n Bekende studie vir die VN is deur die Internasionale Raad oor Menseregtebeleid (2001) onderneem. Een van hul kerninsigte: [D]it is passend – inderdaad noodsaaklik – om die sistemiese karakter van diskriminasie en stigma uit te wys.’ Dan wys die Raad en Neville hoe een van die heel grootste krisisse in hierdie land, armoede, tot stigmatisering bydra. Laat die kerk luister!

Linde Jansen van Rensburg
2010-08-17

Nee Henry, my eie NGkerk moenie net na Neville en die VN luister nie, hulle moet na die hemele skree! Waar het jy al van iets verskriklikers gehoor as dat klein kinders huilend uit verarmde straatverkopers en bedelaars se arms gepluk word om hulle teen hulle eie ouers te beskerm! Elkeen van daardie vuilgoed wat dit doen beskou hierdie verarmdes as nie-mense. Elke Christen wat betrokke is moet maar onthou dat Jesus self gese het elkeen wat hierdie wandade aan die geringstes doen, doen dit aan Christus self.

Dis ’n skande dat my eie kerk niks oor hierdie totale gebrek aan naasteliefde te se het nie laat staan nog om iets van armoede te begryp.

Webbestuurder
2010-08-17

REITZ-VIER: DIE MODERAMEN REAGEER

Die volgende skrywe aan die webbestuurder en dus die forum is ontvang van ds. Rikus van Zyl, scriba van die Vrystaatse moderamen van die NG Kerk:

REITZ-VIER: VRAE OOR RASSISME EN DIE ROL VAN DIE KERK

Die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat het via dr Pieter van Jaarsveld kennis geneem van die skrywe mbt bogenoemde (e-pos 11 Augustus 2010). Tydens sy vergadering vandag het die Moderamen daaroor gesprek gevoer en gee graag die volgende besluit aan u deur vir u kennisname:

1. Die Moderamen neem met kommer kennis van die opmerkings in die media waarin die NG Kerk pertinent beskuldig word asof die Rietz-vier nie deur die kerk pastoraal ondersteun is nie.
2. Die Moderamen neem hierdie opmerkings in ’n baie ernstige lig. Dit is so dat die kerk sekerlik nooit genoeg kan doen nie, maar dit is gewoon onwaar dat die NG Kerk niks gedoen het om hierdie “kinders van ons kerk” te ondersteun nie. Op verskillende vlakke, vanuit die Moderamen, die Studentekerk, die tuisgemeentes van die studente, deur gewone lidmate, ensovoorts, is hierdie vier studente, sowel as ander studente op die kampus van die UV in die moeilike tyd van transformasie ondersteun. Hiermee wil die kerk graag voortgaan.

Vriendelike groete

DS RIKUS VAN ZYL SKRIBA : MODERAMEN

Die webbestuurder Charles Malan antwoord soos volg:

Dankie vir u skrywe en die moderamen se standpunt, ds. Van Zyl. Dit is vir soveel van ons as oud-Kovsies verhelderend en verblydend. In die pers en op die Diversiteitsforum kon u die reaksie sien omdat daar bloot in die pers op grond van blykbaar een persoon se beskuldiging berig is dat die NG Kerk die studente “gefaal” het en dit as sensasie aan die lamppale beland het.

Dit is uiters belangrik dat die kerk soos u doen, nie slegs van sulke uitsprake kennis neem nie, maar spoedig met besonderhede daarop reageer. Mens sou graag van die begin af wou glo dit was nie slegs een predikant wat bystand verleen het nie, en dit word nou bevestig.

’n Verdere toets vir die kerk se toetrede sal nou wees om op die voortgesette rassespanning op die kampus te reageer, volgens berigte pas swart op wit tydens intervarsity. Mens sou graag wou sien dat die bystand en begrip vir almal geld, nie net een velkleur nie.

Wat al op die forum verskyn het: Die NG Kerk het reeds in 2008 (kyk op hulle webwerf Standpunte, dan Verklarings, “Koshuisgebeure UV-kampus”) verklaar: “Dit is noodsaaklik dat rassistiese optrede deur wie ook al wat die menswaardigheid van mense in die Bybelse sin aantas, veroordeel en uitgeroei word.” Boodskappe op die forum meld dat daar ook by Kovsies nie van “eenvoudige” swart/wit-rassisme sprake is nie. Die sleutelwoorde in die verklaring is “rassistiese optrede deur wie ook al”.

Dit is duidelik dat diversiteitsbevordering in hierdie geval slegs kan werk as Christelike naasteliefde, meelewing en aanvaarding van “die ander” selfs na blatante rassisme kan intree. Dit verg baie, maar die beloning is groot.

U moderamen se predikante en ander betrokkenes van die kerk verdien ’n pluimpie dat daar in die Reitz-geval nie bloot van veroordeling en “ek distansieer my” sprake was nie. Laat ons hoop dat die kerk nou ook versoenend na nie-wit studente sal uitreik.

Vriendelike groete

Charles Malan

Stefan Nel
2010-08-18

So wie moet mens nou glo? Die Reitz 4 wat voel die kerk het hulle in die steek gelaat of die kerk se ontkenning daarvan?

Die kerk sê dit is onwaar dat hy die Reitz 4 nie bygestaan het nie. Daar staan egter nêrens op welke wyse die kerk hulle bygestaan het nie. Aan die ander kant bestaan daar wel ’n persepise dat die kerk hulle in die steek gelaat het. Die kerk se ontkenning daarvan verander dit nie.

In plaas daarvan om dit sommer net as onwaar af te maak kon die moderamen liewer meer moeite gedoen het om uit te vind waarom bestaan daardie persepsie. Hoe kan die moderamen in een asem sê hulle neem die opmerkings ernstig op en net in die volgende sin sê hulle dit is onwaar ?

Fanie van Emmenes
2010-08-19

KERKHERENIGING

Op 15 September 2008 besluit die VGK gemeente en die NGK gemeente van Wynberg, ’n voorstad van Kaapstad, om saam te smelt sonder die seen van hulle onderskeie sinodes. Hierdie “huwelikskontrak”, soos dit destyds genoem is, verenig ongeveer 900 lidmate van die twee gemeentes. Daar is besluit dat die dienste om die beurt in die twee kerkgeboue gehou sal word. Hulle kon ongelukkig nie eiendom saam besit nie omdat hulle twee aparte regs-entiteite moes bly tot tyd en wyl die twee sinodes verenig. Die NGK se ring van Wynberg het die ooreenkoms eenparig goedgekeur, maar die VGK-ring moes dit nog doen. Ds. Nel van die NGK sê dat dié gemeentes “‘n Lig” vir ander in die kerk wou wees. Dit was sowaar die beste gebeurtenis van die jaar 2008 ! Dit het ’n mens weer moed gegee vir die voortslepende getjommel van kerk-eenwording. Maar helaas, lees ek in Die Burger verlede week dat die “huwelik” tot niet is. Voorwaar ’n hartseer verhaal. ’n Verhaal van hoop wat dreig om in wanhoop te eindig. Ek bid ernstig dat hierdie twee gemeentes hulle verskille sal oplos en nie die liggie wat hulle aangesteek het, sal uitdoof nie.

Henry
2010-08-19

REITZ-VIER

Stefan Nel klink my na ’n onbekeerbare skeptikus. Die Vrystaatse moderamen sê hulle het die vier op verskillende vlakke bygestaan, maar Stefan soek besonderhede. ’n Lys van al die predikante, kerkraadslede en wie nog wat met watter een van die vier gepraat het?

Laat ons volhou met geregverdige kritiek teen die kerk, maar mens kan nie na so ’n belangrike verduideliking bloot bly fout vind nie. In die pers is een enkele student aangehaal dat die kerk hom “gefaal” het. Is dit genoeg rede om al die betrokkenes onder verdenking te plaas?

Burger (Verwyder op 2010-08-19)
2010-08-19

Hoe vereenselwig ek as Chisten myself met die algehele omvang van diversiteit? Is deelname in aanvaarding, erkenning, begrip en waardering van verskille nie genoeg nie?

Die sinode wil gesprekke rondom diversiteit onketen, vir wat en vir hoe lank nog? Hoeveel en vir hoe lank kan ’n mens nou praat oor diversiteit… Ek dink dit kan algemeen aanvaar word dat almal anders is. Veral hier in sonnige Suid-Afrika. Die aanvaarding en selfs herdenking van verskillende gelowe hoort nie by die NG Kerk se siening oor diversiteit ingesluit te word nie en nog minder ’n punt van bespreking te wees.

As Jesus nie jou verlosser en saligmaker is nie, is jy nie ’n Christen nie. Die aanspraak dat slegs Christene gered kan word, trap op diverse tone. Ander gelowe verwerk die Christen se aansprake binne die konteks van hul eie geloof en gaan aan met hulle lewens. Ons “Christene” aan die ander kant vermy die onderwep en verloon selfs ons verlosser ten einde toeganklikheid tot ons geloof te bevorder. Ons behoort as Christen stryders, sonder konfrontasie, te veg vir elke verlore siel en te waak oor die wêreld.

Dit is ongelooflik eerbaar om moeienis te maak met mense wat in baie opsige anders is. ’n Christen aanvaar immers almal met die liefde van die Heer, respekteer elkeen se diverse natuur en pleit by God vir die saligheid van die ongelowiges. Slegs deur geloof in God en die werking van die Heilige Gees kan verlorenes oortuig word dat Jesus red.

Ek sou graag wou sien dat die diversditeitsforum aanbeweeg en eerder die formaat van ’n diverse forum aanneem waar daar ordelik oor ’n diversiteit van onderwerpe gesels kan word wat gelowiges na aan die hart lê. Iets met afdelings waarvan “diversiteit” dalk een is.

Stefan Nel
2010-08-19

Henry skryf: In die pers is een enkele student aangehaal dat die kerk hom “gefaal” het. Is dit genoeg rede om al die betrokkenes onder verdenking te plaas?

Miskien moet Henry maar weer gaan lees wat die betrokkenes en hulle woordvoerders regtig gesê het.

“Dié vier, R.C. Malherbe van Hertzogville, Johnny Roberts van Hoopstad, Schalk van der Merwe van Christiana en Danie Grobler van Windhoek, het ná hul vonnisoplegging in ’n openhartige onderhoud gesê hulle het is ná die bekendmaking van die sogenaamde walgvideo verwerp.

“Net die NG gemeente Hertzogville se predikant het by ons gestaan,” het Malherbe gesê.

Christo Dippenaar, die vier se prokureur, het saamgestem: “Onder meer die ATKV, Broederbond, Rapportryers, kerke en politieke partye het hulle by wyse van ’n persverklaring gedistansieer. Die ouens het eintlik half alleen gestaan. Al wat hulle eintlik gesteun het, was AfriForum en die NG gemeente Hertzogville.”

In Windhoek is Grobler en sy ouers uit die NG Kerk weens besware wat ’n hoë ampsbekleër in ’n koerantbrief gelug het.”

Henry
2010-08-25

Stefan, ek kom nou eers by jou kommentaar uit, jammer. Miskien moet jy ook mooi lees wat jy aanhaal. Ek het geskryf een student het kommentaar gelewer. Jy haal aan: “Net die NG gemeente Hertzogville se predikant het by ons gestaan,” het Malherbe gesê.

Is dit waar dat die een student selfs volgens jou berig direk aangehaal is? Toe praat die vier se prokureur namens hulle: “”Onder meer die ATKV, Broederbond, Rapportryers, kerke en politieke partye het hulle by wyse van ’n persverklaring gedistansieer. Die ouens het eintlik half alleen gestaan.”

Die slim prokureur sleep sommer almal waaraan hy kan dink (hoekom nie die Koeksistervereniging nie?) selfs die Broederbond (weet hy dat daar nie meer soiets is nie?!)in wat hulle “gedistansieer” het. Waarvan? Van rassisme? Van enige simpatie vir die studente wat hulle verdraaide “studentepret”?

Grobler en sy ouers is uit die NG Kerk “weens besware wat ’n hoë ampsbekleër in ’n koerantbrief gelug het”. Waaroor was die besware? Oor rassisme wat alle kerke verdoem? Oor totale verwerping van die vier asof hulle kriminele is?

Ek is krities oor die NGK, Stefan, en ek het dit waardeer dat jy ook nog telkens krities op die forum was. Maar as jy my vermaan om mooi te lees, moet jy self ook baie mooi lees en besluit watter veralgemenings jy nou eintlik glo. Het een student met sy woorde, ’n prokureur met sy opsomming en daarna ’n bedanking sonder spesifieke redes vir jou al die bewyse gegee dat almal in hele geloofgemeenskappe rondom die vier hulle in die steek gelaat het?

Stefan Nel
2010-08-26

Kom nou Henry! Jy is besig om hare te kloof. En ek dink jy wéét dit. Volgens die berig wat ek aanhaal het die prokureur al VIER die studente verteenwoordig toe hy aangehaal is. Dit is normaal vir ’n prokureur om namens sy kliënte te praat. Gee jy te kenne die prokureur het nie die waarheid gepraat ten opsigte van sy kliënte nie? Dit is ’n baie ernstige aantyging.

Kom ons erken liewer daar is foute gemaak, sê jammer en beweeg aan.

Henry
2010-08-26

Ag kom jy nou weer, Stefan! Jy antwoord slegs op die bedenking oor ’n prokureur met sy verregaande veralgemenings. Jy glo dus blykbaar steeds die hele moderamen lieg oor bystand op die verskillende vlakke. Dink jy hulle het agter toe deure die groot leuen bedink? Mens sê jammer as jy iets verkeerd gedoen het. Moet hulle jammer sê dat hulle nie orals genoeg op meer vlakke gedoen het vir vier mense wat in ’n hof aan blatante rassisme skuldig bevind is nie?

Webbestuurder
2010-08-26

TERUGVOER OOR DIE BERAAD VAN DIE TAAKSPAN VIR DIVERSITEIT, PRETORIA 24-25 AUG. 2010

Die beraad het deeglike besprekings en heelwat verheldering oor diversiteit gebring. Daar sal verder op die forum daaroor verslag gedoen en referate sal opgeneem word.

TEMA

Saamdink: tentatiewe padkaart vir ons reis met teologiese perspektiewe op diversiteit

SPREKERS

Dr. Jan Botha (voorsitter van taakspan vir diversiteit)
Dr. Johan van Schalkwyk (moderator van Oostelike Sinode)
Ds. Izak du Plessis
Dr. Charles Malan (webbestuurder van die Diversiteitsforum)
Dr. Marius Nel
Dr. Carin van Schalkwyk
Dr. Frederick Marais
Prof. Madipoane Masenya
Prof. Klippies Kritzinger
Dr. Gustav Claassen (moderator van Noordelike Sinode)

Tensy Stefan Nel repliek wil lewer, word die debat oor die Reitz-vier hiermee afgesluit.

[Kommentaar: Vir twee redes interessant dat Izak du Plessis (kyk Izak du Plessis se afskeidsboodskap) ook onder die name is:
1. Hy het self erken dat hy dwaal.
2. Hy het bedank, dus behoort hy sy predikantstatus verloor.]

Stefan Nel
2010-08-26

Henry jy mis die hele punt met myle. Dit gaan nie hier oor ’n hof wat vier mense aan “blatante rassisme” skuldig bevind het nie. Hulle is in die eerste plek nie aan rassisme skuldig bevind nie maar aan crimen injura. Maar dis nie die punt nie.

Ek is net so teen rassisme gekant en ek keur op geen manier die video goed nie. Die punt is dat daardie vier studente die produk is van die kerk se eie rassistiese verlede. Niemand verwag van die kerk om hulle optrede goed te keur nie. Maar vir die kerk om nou sy eie hande in onskuld te was en die vier as sondebokke te offer is ’n skande.

Skynbaar dink jy en die moderamen die kerk het genoeg gedoen. Pontius Pilatus het ook so gedink. Besluit jy en die moderamen maar vir julle self of dit reg is Henry. En om die prokureur ter sprake van verregaande veralgemenings te beskuldig is doodgewoon lasterlik. Jy besef dit darem seker né?

Webbestuurder
2010-08-27

NUUT BY DIE ARGIEF

Die webbestuurder se oorsig by die pas afgelope beraad is op die argief te lees: NG KERK EN DIVERSITEIT 2010.

SAMEVATTING EN AANBEVELINGS

1. Die NG Kerk moet dringend ’n mensbeskouing en strategie vir diversiteitsbevordering ontwikkel. Alle bestuursvlakke moet hiervoor betrek word, van die sinode tot streeksmoderamens en gemeentes. Die taakspan vir diversiteit kan help om ’n strategie te ontwikkel.

2. Dit is onduidelik waarom streeksinodes hulle nie meermale oor diversiteitsake kan uitlaat nie, veral in hulle streke en gemeentes. Die verklaring van die Vrystaatse moderamen oor die Reitz-vier is ’n goeie voorbeeld.

3. Die diversiteitsforum se rol om menings te laat hoor en inligting te versprei, moet uitgebrei word. Die ideaal sal wees dat gemeentes, kerkblaaie, besprekingsgroepe, ens., aktief aan die forum sal deelneem. Mens wil graag ook van suksesverhale hoor.

4. Daar moet strategieë ontwikkel word om juis mense van ander gelowe, belangegroepe, ens., by gesprekke te betrek. Dit kan gedoen word deur hulle bv. as sprekers te nooi of skriftelik aan tematiese besprekings te laat deelneem. Hierin kan die forum ’n toonaangewende rol speel.

5. Ten slotte: Dit is noodsaaklik dat die NGK homself steeds meer bewys as ’n krag vir diversiteit in en van Afrika, en toeganklik vir die ander. Laat hy ’n baken en voorbeeld vir die land word.

Henrietta Klaasing
2010-08-27

Baie dankie Charles, ons het lank en geduldig gewag om te hoor van die uitkomste van die beloofde vergadering. Ek het die nuutste dokument in die argief gaan lees waarvan die sub-titel “Gespreksinleiding deur die webbestuurder by die beraad van die NGK se taakspan vir diversiteit in Pretoria, 24 en 25 Aug. 2010” is. Ek neem aan dit is dus slegs ’n verslag van ’n inleidende gesprek en dat iets meer volledig volg?

Verder lees ek: “Die NGK sal altyd ’n sendingopdrag hê, maar hoegenaamd nie soos in die koloniale sin nie. Hy moet oor talle grense heen uitreik om dissipels saam te snoer”.

Vir my is daar ’n gróót verskil tussen “maak dissipels” en “snoer dissipels saam”. Ons gaan (weer?) aanhoudend bymekaar verbypraat as ons nie oor terme ooreenstem nie, soos bv. wat word bedoel by “sendingopdrag” en wie is die “dissipels” wat “saamgesnoer” moet word?

In die aanbevole leeswerk het ek talle voorbeelde gevind van om MENSE (van watter geloof ook al) saam te bring. Onder die opskrif “SKAKELING TUSSEN GELOWIGES” word byvoorbeeld verwys na Prof. Willie van Heerden se verslag van ’n besoek aan Australië, veral van die die kongres van “Parliament of the World’s Religions”, met meer as 8 000 deelnemers. Is dit wat onder “saamsnoer van dissipels” bedoel word?

Webbestuurder
2010-08-27

MEER VORENTOE OOR DIE BERAAD

Henrietta, dankie vir jou reaksie en meelewing. Jy is reg, nuut op die argief is bloot my oorsig, met die klem op die forum. Die ander puik referate sal met verdrag geplaas word. Dit was werklik ’n deeglik gefundeerde teologiese besinning oor diversiteit.

Ons hoef nie oor die sendingopdrag te kibbel nie. Ons het almal bepaald die opdrag om self reg rondom ons dissipels te help maak en saam te snoer. Daar word uiteraard na Christelike dissipels verwys. Ek het meegewerk aan dissipelgidse vir my gemeente, Florauna, waar die beraad ook was.

Jy weet egter dat daar al op die forum te kenne gegee is dat as mens met nie-Christene gesprek voer sonder om hulle te bekeer, jy basies iets van jou eie geloofstandpunte prysgee en die kommunikasie nutteloos is. Is iemand soos Willie dus dwalend as hy met 8000 gelowiges vanoor die wêreld skakel? Natuurlik is daar geen sprake dat hulle almal as “dissipels” saamgesnoer word nie! Wel ter sprake is dat hulle mekaar met die gemeenskaplike band van geloof in ’n God en naasteliefde ontmoet en na mekaar luister, veral ook leer.

Die koloniale sendingopdrag was om in die nuwe, onderdanige kolonies in te vaar en van al die barbaarse heidene goeie Christene te maak. Dit kan sekerlik nie die konteksgebonde sendingopdrag vir ons vandag wees nie! 8000 wat wag om bekeer te word?

Sjoe, mens sal baie hard moet skreeu!

Webbestuurder
2010-08-29

ONDERLINGE GESPREK NA DIE DIVERSITEITSBERAAD

Deelnemers aan die teologiese besinning oor diversiteit het dadelik na afloop van die beraad daaroor begin menings uitruil. Sommige van die boodskappe sal nou op die forum geplaas word.

Eerste aan die beurt is ds. André de Villiers wat vra: “Ek wonder of en hoe ons werklik akkommoderend kan wees teenoor die volle spektrum van verskillende mense op ons pad. Elke mens se uniekheid maak hom/haar alreeds so anders dat misverstand amper ’n gegewe is.” Hy stel veral vrae oor die prysgawe van mag.

Dr. Ben du Toit: “Ek dink die hele kwessie van mag prysgee is regtig nie so eenvoudig nie. Ons is nooit sonder mag nie. Of liewer, geen sosiale konstruk is ooit sonder mag nie.”

Op ’n ander trant bevind dr. Elize Morkel: “Ek onthou hoeveel keer ek die afgelope 4 jaar tydens vergaderings in die kerk gedink het – nee, ek maak ’n baie groter verskil vir God se Koninkryk as ek in die gemeenskap besig is, los die kerkpratery en gaan doen en leef net.”

Charles Malan vra groter teologiese helderheid oor die vrae: “Wat gee ons prys deur na die ander uit te reik? Watter soort mag is belangrik en moet behou word in die uitreik-aksie? Het Christus vir Homself enige soort mag teenoor sy medemens toegeëin, anders as reg en geregtigheid?”

André de Villiers
2010-08-29

BERAADGESPREK: HOE AKKOMMODEREND KAN ONS WEES?

As mense hier vir my vra hoe die vergadering was, dan is my maklikste antwoord dat ek dink ek al dommer word (want ek maak al minder sin van die dinge wat ons bespreek) en dat dit meer uitputtend raak (in die begin het dit my ge-energeer en nou maak dit my moeg voel). Ek wil net ’n paar gedagtes met julle deel nav die besprekings. Ek dink nie ek gaan iets nuuts se nie, maar ek gaan dit op my manier se.

1. Ons erken dat ons verskillend maar een is (eenheid in verskeidenheid). Die probleem waarteen ons te staan kom, is m.i. dat ons ander se uniekheid (andersheid) wil akkommodeer en respekteer en daarom moet ons altyd polities korrek optree. Dit is ook prysenswaardig. Ons sal beslis verder kom met respek as met disrespek.

2. Dit kan egter daartoe lei dat jy verskonend begin raak vir jou eie posisie. Of jy kan selfs voel jy verloen jou eie posisie. Die beste vb hier vir my is die erkenning van ander gelowe. Dit is mooi om ander se geloofsoortuigings te erken, maar hoe ver kan jy dit neem sonder om jou eie geloofsoortuiging skade aan te doen? Ek het gevra wat presies ons bedoel as ons se dat ons ander gelowe moet embrace (prof Masenya, p6), maar die vraag is toe nie beantwoord nie.

3. Punt is, ek wonder of en hoe ons werklik akkommoderend kan wees teenoor die volle spektrum van verskillende mense op ons pad. Elke mens se uniekheid maak hom/haar alreeds so anders dat misverstand amper ’n gegewe is.

4. Vir my is die frase “back to basics” ’n geweldig belangrike een. Telkens wanneer ons vasval in komplekse probleme en situasies vra ek myself af wat die baie basiese ding is wat moet regkom voor ’n volgende aangespreek moet word. (Useless information: Het jy geweet dat baie van wat verkeerd kan gaan in ’n tennispeler se hou, begin by die verkeerde greep op die raket?) Daarom wonder ek of ons nie eerder bloot ’n eenvoudige siening moet formuleer wat gewoon sal se hoe dink God oor mense en dinge nie. En dan daarmee saam net weer bevestig hoe ons ons medemense sien. (Na die vasstelling van die eerste behoort ons heel maklik reeds by die tweede te wees.)

5. Dit kom seker neer op die versoek wat al baie keer gerig is, nl kom ons beskryf die teologie agter ons siening van diversiteit. Dit was ook die opskrif/opdrag van ons tweedaagse vergadering.

6. My basics: Ek dink dat ons gewoon verder sal kom as ons net weer herontdek en begin uitleef wat respek vir mense regtig beteken. Ons verloor mekaar as ons etikette om mekaar hang, as ons stereotipes gebruik om ander te beskryf.

7. Oor die saak van mag en magsmisbruik wil ek die volgende se. As ’n dromer (wat hoor van die leeu en die lam langs mekaar) wil ek ook graag he dat alle mans nice moet wees met alle vroue (en andersom), dat alle wittes nice moet wees met swartes (en andersom), dat alle rykes nice moet wees met die armes (en andersom), maar as realis kan ek dit nooit volkome sien gebeur hier op aarde nie. Mag is ’n gegewe. Om te praat van magprysgawe is dalk ’n oorvereenvoudiging, of ons moet duidelik se in watter kontekste ons dit bedoel.

8. Daar moet mi eerder gepraat word van die korrekte aanwending van mag. Daar moet, soos met so baie dinge, ’n bewussyn wees van wat alles gedoen kan word met mag, beide die positiewe as die negatiewe. Mense moet positief aangemoedig word om hulle posisie te gebruik tot voordeel van hulle medemense. Gedrag wat dit regkry, moet positief beloon word. ’n Nelson Mandela kon sy mag aanwend tot voordeel van sy mense, ’n Robert Mugabe wend sy mag aan ten koste van sy mense en tot voordeel van homself. Die Bybel praat mi daarvan as die Israeliete moes opkom vir die reg van die veronregtes, as hulle die stem moes wees van die stemloses (weduwees en wese). Ons moet nie die begrip mag afwater nie. Soos met alles in die lewe het die mens ’n keuse om mag reg of verkeerd te gebruik.

9. Waar begin die regte gebruik daarvan? Daar waar gesonde respek vir ander aangekweek en beloon word. Vanuit Apartheid het ons ’n sisteem waar disrespek teenoor swartmense beloon is. Ons moet hierdie opvatting herstel deur weer respek vir (alle) mense (mense van kleur, vroue, gays, mense met gestremdheid, ens) hoog op ons agendas te plaas.

10. Dit is die taak van die kerk. Dit is mense wat ontdek het dat hulle nuut kan probeer, omdat God ons ’n kans op herstel gee. Dit is nie die taak van die Afrikaner nie (dit is natuurlik syne/hare ook as hulle christene is). Dit maak my altyd ongemaklik as ek geluide hoor dat ons die kerk en ons Afrikanerskap naby mekaar plaas. Ek dink die kerk is so radikaal dat dit juis daarom moontlik was om ’n groep mense bymekaar te kon kry soos Rom 16 duidelik gemaak het! Nie een van daardie mense het sy/haar vorige sosiale stand so belangrik geag dat hulle daaraan vasgehou het nie. Die kerk kan net kerk wees as sy unieke bestaansredes het wat alle ander redes oorskry.

11. Ek dink dat nav bogenoemde opmerkings sommige van julle sal dink dat ek julle verkeerd verstaan het, maar ek wil se ek dink ek het elkeen goed gehoor. Ek wil net nie in elke opmerking te gedetailleerd raak nie. Ek wil net nog ’n perspektief op daardie saak gee.

12. In hoofsaak: Ek wil net se dat ons dinge moet vereenvoudig deur te formuleer hoe God oor mense dink, en hoe ons dan oor hulle moet dink. En al wat daarna oorbly is dat ons meedoenloos moet leef soos aan ons opgedra. Vir baie is dit ’n resep om meer fundamentalisties te raak, amper asof ons ’n nuwe wet nastreef. Vir my het Jesus nie nuwe wette gebring nie. As Hy se dra 2 myl ipv 1, dan is dit nie ’n nuwe (meer streng!) wet nie. Dit is ’n gesindheid wat se daar is geen beperking nie, daar is geen voorskrif nie. Daar is slegs ’n meedoenlose uitlewing van respek en liefde vir die ander. Dit vra nie wat jy terugkry nie. Dit is self-ontlediging. Dit is mag-prysgawe, in die sin dat jy nie afdwing nie, maar beinvloed. Dit is die radikale leefstyl van christene.

13. Maar christene is nie engele nie. Ons leef in die teenswoordige wereld. Ons moet hier uitvoer wat God vra. En daarom ook al die gawes gebruik wat Hy ons elkeen gegee het. As dit leierskap is, in hemels naam lei! As dit politieke mag is wat jy ontvang het, gebruik dit tot voordeel van die minder bevoorregtes! Dit is mos nie net dominees/Afrikaners/mans/vroue wat posisies het nie, dit is christene in die plekke wat hulle in die samelewing vul. Gebruik jou gawes en posisie daar tot voordeel van die minder bevoorregtes.

Ek het bg geskryf in ’n poging om

a. Myself te hoor dink
b. die kompleksiteit van die saak te probeer vereenvoudig.

Ek het geslaag in a, dalk nie in b nie. Baie dankie dat jy tot hier gelees het. Help my asb verder om b te realiseer. Kom ons probeer elkeen se wat is die basics van die probleem, soos jy dit verstaan.

Ben du Toit
2010-08-29

BERAADGESPREK: GEEN KONSTRUK SONDER MAG NIE

André, dankie dat jy dit waag om jou gedagtes eerlik op die tafel te sit. Ek het alles gelees. Ek gaan nie nou regtig reageer nie – uit vrees dat dit te onbedag sal wees – maar ek dink regtig ek verstaan waar jy is. Ek dink die hele kwessie van mag prysgee is regtig nie so eenvoudig nie. Ons is nooit sonder mag nie. Of liewer, geen sosiale konstruk is ooit sonder mag nie. Indien ons magteloos is, kan ons ook nie beywer vir die mens/Godwaardigheid van alle mense nie. Ek dink egter ook dat ons somtyds dit nodig het om doelbewus van ons mag afstand te doen indien ons iets wil verstaan van mense wat keuseloos magteloos is (die aangrypende storie van die vrou wat op die sypaadjie met haar bediende sit en huil).

Weens gebrek aan tyd (nou op hierdie oomblik) doen ek dalk die saak/gesprek nou oneer aan, maar ek wou ten minste net reageer.

Dit was vir my ’n goeie ervaring om saam met julle te kon wees. Dankie daarvoor – en as Andre effe moedeloos voel ons “boer agteruit,” was dit ten minste vir my nie so nie.
Maar, nou was dit mos my eerste keer.

Ek leer elke maal ongelooflik baie van die diverse stemme waaraan ek die voorreg het om blootgestel te word.
Ek dink julle speel ’n beslissende rol in die kerk om dit meer en meer ’n konteks van veiligheid en hoop te maak… en ek hoop hierdie projek kry die regte voete en vlerke om die sinode deur ’n proses van blootstelling te neem – heel eerstens aan hulleself. Awareness bring bevryding!

Elize Morkel
2010-08-29

BERAADGESPREK: LEEF ONS DIE LIEFDE?

Dankie vir jou woorde, Andre, ek waardeer jou so baie.

Jy het my weer herinner aan my eie voorkeur om kerk te doen en wees. Ek onthou hoeveel keer ek die afgelope 4 jaar tydens vergaderings in die kerk gedink het – nee, ek maak ’n baie groter verskil vir God se Koninkryk as ek in die gemeenskap besig is, los die kerkpratery en gaan doen en leef net. Jou epos laat my dink aan die bottom-line van die Evangelie en wat dit vir my sou wees. Dan onthou ek hoe die kanselkleed in die NG kerk van Grabouw waar ek grootgeword met die woorde “God is liefde” die bottom-line boodskap is wat my (weliswaar eers na 40 jaar!) tot onrus gestem het oor liefdeloosheid en onreg. Ek herinner my ook daaraan dat almal elke Sondag saam met my daardie woorde gesien het en dat die praktyke waarvolgens ons geleef het so grootliks nie daardie liefde weerspieel het nie.

Ekself was geweldig ontroer by hierdie twee dae se gesprek. Die dinge wat my die meeste geraak het, (behalwe die inhoud en beliggaming van die bydraes van die sprekers) was:

• Dat ons daar kon sit en respekvol na mekaar luister en met mekaar praat;
• Dat ek so veilig gevoel het om my stem te laat hoor;
• Dat ek soveel geleer het en uit hoeke kon kyk wat ek nog nooit eers oorweeg het nie;
• Dat die kompleksiteite my help om te verstaan hoekom dit nie sommer maklik is om inklusief en liefdevol te leef nie;
• Dat ek telkens ook groot stukke geweldige ongemak beleef het – dan weet ek, ek leer en groei.

My bietjie ervaring met transformasieprosesse is dat dit tyd neem, dat dit ongemak veroorsaak, dat dit geweldige commitment verg en dat ek dikwels laagtepunte en twyfel beleef. Ek wil baie mooi vra dat ons mekaar se hande sal bly vashou en dat ons nie onsself sal laat oorweldig deur die onsekerhede en vrae nie. Dat ons sal aanhou praat en leef wat die Here op ons harte lê.

Na my mening het ons geweldige vordering gemaak in die vind van fokus, die sensitisering wat nodig is vir eerlike en openlike gesprek in ons groep, die stem wees na buite en die innooi van nog stemme. Ek is dankbaar teenoor God vir julle elkeen wat getrou bly saambid, worstel, dink, praat en doen.

Charles Malan
2010-08-29

BERAADGESPREK: WATTER MAG GEE ONS EINTLIK PRYS?

André se belangrike vraag oor hoe akkommoderend ons eintlik kan wees, het al heelwat bespreking op die forum uitgelok. Fundamentaliste voel dit behels eintlik maar die prysgawe van geloofstandpunte. Andre gooi dit tereg eerder oor die boeg van die prysgawe van mag en hy is bepaald nie “fundamentalisties” nie, eerder eerlik en realisties.

Andre vra egter in sy soektog die onmoontlike: “Daarom wonder ek of ons nie eerder bloot ’n eenvoudige siening moet formuleer wat gewoon sal se hoe dink God oor mense en dinge nie.” Hoe God DINK? Al wat ons kan doen, is om te probeer begryp wat Hy sê, nie dink nie, en dit uitsluitlik met verwysing na die Bybel. En daaroor moet Christus se woorde en dade eintlik alles sé.

Natuurlik is hermeneutiek ’n glibberige pad, maar ek dink oor die tweede hoofgebod is die basiese riglyne glashelder. Andre, Ben en andere moet dus asb. vir beter begrip vir my as nie-teoloog die volgende soort vrae oor naasteliefde met die Bybel as riglyn beantwoord waar dit nie so helder is nie:

Wat gee ons prys deur na die ander uit te reik? Watter soort mag is belangrik en moet behou word in die uitreik-aksie? Het Christus vir Homself enige soort mag teenoor sy medemens toegeëin, anders as reg en geregtigheid?

Andre kom aanvanklik as eerlik-skepties met realistiese vrae oor, maar dan gee hy self reeds antwoorde: “Vir my het Jesus nie nuwe wette gebring nie. As Hy se dra 2 myl ipv 1, dan is dit nie ’n nuwe (meer streng!) wet nie. Dit is ’n gesindheid wat se daar is geen beperking nie, daar is geen voorskrif nie. Daar is slegs ’n meedoenlose uitlewing van respek en liefde vir die ander. Dit vra nie wat jy terugkry nie. Dit is self-ontlediging. Dit is mag-prysgawe, in die sin dat jy nie afdwing nie, maar beinvloed. Dit is die radikale leefstyl van christene.”

gerhard
2010-08-29

Ek voel amper soos ’n vyfde wiel aan die wa om op ’n gesprek in te kom waarvan ek nie van die begin af deel was en nie die aanvanklike stimilus daartoe meegemaak het nie. Ben is heeltemal korrek wanneer hy skryf dat mag op meer as ’n bewustelike vlak lê. Jesus se mag het juis in sy subversiewe optrede gelê. Mense wat ’n ongemak met die regering van sy dag gehad het, mense wat keelvol vir die godsdienstige leiers van hulle dag was en nog ander se energie het begin saamvloei, maar toe die papawer die waaier tref (of sal ek sê, toe die spykers die kruishout tref?) … wel, oukei, ons ken die storie.

Daar is myns insiens onberekenbare mag in liefhê en in dienaar wees. As jy met ’n innerlike oortuiging liefhet en werk, hoe kan eksterne faktore en/of gebeure jou ontspoor? Ja, dit kan jou energie tap en demotiveer, maar totdat jou vlam geblus word, kan jy telkens weer opstaan, handdoek oor jou arm gooi, skinkbord optel en weer gaan dien. Dis nie soseer ’n prysgawe van mag nie, maar ’n verplasing in die persepsie van die locus van mag. In ’n vorige bespreking van 2 Korintiërs 5 het ek daarop gewys dat christene mense is wat smeek (v20) – en nie mense wat voorsê, uit wagtorings uit roep of dwing of dreig nie. Ons mag lê dus nie in onsself nie, maar in die Een wat die versoening bewerk het (v19) en ons as bedienaars van die versoening aangestel hét (vv18, 20).

Waar ander dus hulle mag en motivering in politiek, geld en wat nog ook al vind, lê die christen s’n in die diens wat hy lewer en die strewe om versoenend op te tree. Op watter voorwaardes dien ’n slaaf? Op watter voorwaardes het ’n passievolle moeder haar kinders lief? Wanneer ek aan diversiteit dink, dink ek steeds aan onvoorwaardelikheid. Selfs eenheid is ondergeskik hieraan. Die vraag is of ons onvoorwaardelik kan liefhê en dien – of kan ons dit slegs doen wanneer ons ’n vorm van mag (al is dit dan die mag om te kan afkeur) beleef?

Andre de Villiers
2010-08-29

MAG Oor die kwessie van mag: Ek dink sommer aan die film “Schindler’s list”. In ’n spesifieke toneel sit die kampkommandant op sy balkon en ontbyt eet terwyl Schindler by hom kuier. Hulle hou die Jode van bo af dop. Die kampkommandant haal rustig sy geweer uit en skiet ’n Jood sonder rede. ’n Gesprek oor mag volg. Die kampkommandant meen hy is in ’n wonderlike posisie om as’t ware te maak net wat hy wil, hy kan kies om aan mense te maak soos hy wil. Schindler se mening: “Mag is om te weet dat jy aan mense kan maak wat jy wil, maar dan te kies om dit nie te doen nie.” Met ander woorde, dit is om beheer oor jou mag uit te oefen. Miskien in die konteks van die geloof, om genade te kan wys, om begrip te he vir ander, om jouself in ander se skoene te plaas.

Help dit ons in die gesprek? Ek weet nie. Maar ek besef weer eens dat mag en magsposisies ’n gegewe is. Die vraag bly hoe ons dit hanteer. In die geval van Schindler het hy deur beinvloeding die kommandant probeer insig gee en sodoende probeer keer dat hy sy mag misbruik. Vir my word mag nie altyd prysgegee nie, dit word net reg aangewend.

Fanie van Emmenes
2010-08-30

Mag Wanneer ek aan mag dink kom Jesus se woorde in Joh. 19 : 10,11 onwillekeurig by my op : “Pilatus sê toe vir Hom: ‘Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?’ En Jesus antwoord hom: ‘U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie’ – – -.”

Ook Matt. 26 : 53: “Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.” Pilatus het dus oor die mag beskik maar kon dit alleen uitvoer soos dit aan hom van Bo gegee is. Die kampkommandant in Schindler’s list het egter sy mag arbitrêr misbruik.

Sekerlik kan ons nie Jesus situasie met die misbruik van alle mag vergelyk nie, Pilatus se magsmisbruik was immers tog ’n middel tot ’n doel. Maar magsmisbruik wat ons elke dag om ons waarneem, laat ’n mens tog dink of dit nie maar is hoe almal optree wat oor mag beskik nie. Miskien lê die oplossing daarin om onsself en ander te motiveer om enige mag of gesag waaroor ons beskik met verantwoordelikheid uit te oefen. Dan loop ons weer in sirkels want dan moet ons eers leer om verantwoordelik te lewe. Om verantwoordelik om te gaan met die mag wat aan ons toevertrou is. Om ag te gee aan diegene wat geen mag besit nie. Ja, en om te besit is ook tog ’n vorm van mag. Ek het en jy het nie, dit gee aan my ’n vorm van mag of gesag. Hoe werk ek daarmee?

Paulus skryf in Fil. 2 : 5-8 : “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood aan die kruis.”

Dit klink miskien ’n bietjie prekerig, maar ek voel dat Jesus se voorbeeld die riglyn is vir verantwoordelike optrede met mag. Dan loop ek maklik die tweede myl,

Bonhoefer skryf êrens : “The structure of responsible life is conditioned by two factors; life is bound to man and to God and man’s own life is free. It is the fact that life is bound to man and to God which sets life in the freedom of a man’s own life. Without this bond and without this freedom there is no responsibility. Only when it has become selfless in this obligation does a life stand in the freedom of a man’s truly own life and action. The obligation assumes the form of deputyship and of correspondence with reality.”

Charles Malan
2010-08-30

MAG: DIE SOORTE WAT TER SPRAKE IS

Ek praat graag persoonlik saam en nie as webbestuurder nie. Nietemin, dankie vir Gerhard Bothma en Fanie van Emmenes se toetrede om verdere verheldering oor mag en die Bybel te bring. Ek as leek kry steeds meer insigte.

Dit is goed dat die gesprek na magsverhoudings teruggebring is, want ek glo dit kom by die wese van ons probleme met diegene wat ons as “die ander” beskou. Die filosoof wat waarskynlik die meeste gedoen het om mag te dekonstrueer, Michel Foucault, het in omvangryke studies sedert die sestigejare aangetoon hoe mag die hele Westerse sosiale sisteem struktureer.

Op teologiese gebied het ons uit bydraes nou goeie getuienis om mag Christelik te relativeer. Mag het helaas altyd altyd ’n politieke en dus ideologiese dimensie. Mens sou amper soos die Tao kon sê: Ons bejeën diegene wat van ons verskil, met sagmoedige onverskilligheid. Maar dit mag nie. Dis onverskillige mag. Bydraes toon hoe Christelike mag met ander “strategieë” werk.

Ons kan gerus op spesifieke verhoudings fokus waar mag bevoorregting bo die ander veronderstel. Ons kan nie bepaalde issues ontwyk deur bloot abstrak oor naasteliefde te praat nie. Foucault praat bv. doelbewus ook in een ontleding vanuit die perspektief van ’n manlike, heteroseksuele, wit Europeër. O.m. die volgende aannames oor die minderwaardige “ander” duik byna vanself (binne ons eie konteks) op:

• Jy is anders omdat jy vroulik is en bepaalde kerklike ampte dus slegs tot op ’n sekere vlak kan beklee.
• Jy is van ’n ander geloof en omdat ek in myne – die waarheid – glo, kan ek met jou gesels, maar nooit as my naaste omhels nie.
• Jou velkleur maak dat jy ’n lid van ’n massa is wat besig om ons wittes met ongekeerde rassisme te verswelg.
• Jy as praktiserende homoseksueel wat boonop wil trou, bedreig my Bybelse waardes van die heiligheid van die huwelik, getrouheid van man teenoor vrou, afsku van losbandigheid en wat meer.
• Ens., ens.

As ons in die gesprek eerlik wil wees, moet ons oor hierdie en ander probleme onverbiddelik eerlik wees, soos sommige gespreksgenote reeds is. Dis dikwels ongemaklik en pynlik. Christus het nooit belowe om Hom te volg is die maklike weg nie en self getoon hoe bitter dit kan wees om alle mag (“Koning van die Jode”!) op die lydensweg prys te gee. En in sy algehele vernedering was Hy vir ons die oorwinnaar.

Henrietta Klaasing
2010-08-30

Ek het al die beraadgesprek-stukke bymekaargesit in een dokument en dit uitgedruk. Ek probeer heeldag nog (onsuksesvol) om my volle aandag daaraan te gee, want gister se Geesvervulde, diep-treffende preek maal aanmekaar deur my kop. Ons dominee het gister groot sterk manne, ouderlinge, ja ons almal, stom en in trane gepreek. Hy het uit die laaste hoofstukke van Jona, waar Jona kwaad is dat God die Nineviete genadig is na hul bekering, gelees. “Dié Jona, is ons”, was die tema van sy preek. Hy het gewys op die Nineviete rondom ons, en dat ons dikwels soos Jona dink, maar dat ons soos God moet wees: genadig en barmhartig. Ek reken dit was die vertelling waarmee hy die preek begin het, wat die trefkrag soveel groter gemaak het, die verhaal van hoe boere ingespring en gehelp het na ’n grusame ongeluk in Elliot. Lees, kyk en word geseën, hier: http://ngkok.co.za/reisgeselskap/gemeente/grusame-taxi-ongeluk-bring-die-beste-in-boere-na-vore/.

Willie van Heerden
2010-08-31

DISSIPELSKAP

Diversiteit, dissipels maak en dissipels saamsnoer

Henrietta, jy skryf dat daar vir jou ’n gróót verskil tussen die begrippe “maak dissipels” en “snoer dissipels saam” is en jy voel dat ons moeilik met die gesprek gaan vorder as ons nie helderheid het oor ons verstaan van sulke begrippe nie. Ek wonder of die verskil tussen hierdie twee begrippe regtig so groot is. Ek het ’n entjie probeer loop op die spoor wat die skrywer van die Matteus-evangelie vir ons gelaat het.

Eerstens, hoe het die eerste binnekring-dissipels van Jesus dissipels geword? Nie deur enige oortuiging af te sweer, of vir ’n bepaalde saak gewen te word nie, maar deur ’n uitnodiging te aanvaar om ’n pad saam met Jesus te loop. Hy het hulle uitgenooi om saam met Hom te kom sodat hulle kon uitvind wat dit beteken dat Hy hulle (in metaforiese taal) vissers van mense kan maak (Matt 4:19). Hierdie uitnodiging van Jesus het hulle nie uit hulle wêreld geruk nie, maar daarby aangesluit. Wie hulle reeds was toe Jesus hulle ontmoet het (vissers), het ’n metafoor geword vir wat hulle bydrae vorentoe kon wees (vissers van mense). Dié verruiming van hulle lewenstaak sou plaasvind in hulle saamleef met Jesus.

Tweedens tref dit my hoe sleg die binnekring-dissipels die dinge wat agter Jesus se optrede sit, verstaan het — selfs tot aan die einde. Die Johannes-evangelie wys dit seker die duidelikste. In hulle geval het dissipelskap nie beteken dat hulle met die klap van ’n vinger, of met ’n enkele beslissing die “resep” van die evangelie gesnap het nie. Hulle dissipelskap het eerder vir hulle die geleentheid gebied om stukkie vir stukkie ’n deurleefde evangelie te leer ken danksy hulle saamwees met Jesus. Van hierdie binnekring-dissipels het tot aan die einde nog twyfel in hulle rondgedra. In Matteus 28:17 lees ons dat van hulle selfs ná Jesus se opstanding getwyfel het — wat seker impliseer dat hulle nie oor geloofsake alte selfversekerd kon wees nie.

Derdens lyk dit vir my of ons ’n onderskeid kan tref tussen die binnekring-dissipelskap van die twaalf (later elf) en die soort dissipelskap waarvan daar ná Jesus se tyd op aarde sprake is (vgl. Matt 28:19). Jesus sê hier aan die einde van die Matteus-evangelie dat sy binnekring-dissipels na al die nasies moet gaan en mense sy dissipels moet maak. Die mense uit alle nasies kon egter nie soos die destydse binnekring-dissipels saam met Jesus loop en leef nie. Gewone mense wat deur Jesus se evangelie aangeraak is, moes in die vervolg hierdie uitnodiging rig en vir ander mense beskikbaar wees sodat in hulle saamwees die evangelie beleefbaar kon word. Jesus het mense ontmoet waar hulle was (wat hulle fisiese en oortuigingswêrelde betref). Vir die klompie vistermanne van destyds het dissipelskap gepaard gegaan met die uitnodiging om vissers van mense te word. Sal ons vandag ander metafore ook kan gebruik wanneer ons mense uitnodigend ontmoet waar hulle is — skolier, kelner, verpleegster, pleegouer, kind, kleremaker, wildbewaarder, afrigter, sekuriteitswag, orkeslid, sekretaresse, buurvrou en buurman, fotograaf, taxibestuurder? Is ons verbeelding genoeg deur die evangelie aangeraak dat ons ons die goeie nuus van Jesus in dié soort terme kan voorstel?

Vir my klink “dissipels maak” en “dissipels saamsnoer” al minder na uitdrukkings wat mekaar met die elmboog wil wegstamp. “Dissipels maak” behels dat mense wat ver is en anders is saamgesnoer word met dissipels wie se lewens reeds deur die belewing van die evangelie aangeraak is. As ons so aangeraak is, sal ons treetjie vir treetjie leer om te word wat Jesus vir sy dissipels was — iemand wat uitnooi en bereid is om letterlik ’n pad saam met hulle te loop. Daar sal hopelik ook ietsie van Jesus se verbeeldingskrag in ons posvat. Sy beelde, metafore en verhale het mense immers anders na die wêreld en na mense laat kyk.

Henrietta Klaasing
2010-08-31

Baie dankie professor vir u antwoorde op van my vrae. Ek is bly u verwys na die Bybelse voorbeeld van Jesus se dissipels.

Dit was in ’n dokument van Charles “Die NG Kerk se hantering van diversiteit – ’n kritiese bestekopname” onder die hofie “SKAKELING TUSSEN GELOWIGES” waar u verslag genoem is. Ek kon nie (en kan nog steeds nie) die kloutjie by die oor bring oor hoe die aanhangers van ’n groot verskeidinheid ander godsdienste soos deur u genoem in u verslag onder die sambreelterm “gelowiges” gegroepeer word nie, en ook nie die woord “dissipels” soos Charles dit onder dieselfde hoofopskrif gebruik in hierdie sin: “Die NGK sal altyd ’n sendingopdrag hê, maar hoegenaamd nie soos in die koloniale sin nie. Hy moet oor talle grense heen uitreik om dissipels saam te snoer.” Word hiermee bedoel dat alle “gelowiges” en “dissipels” van alle godsdienste “saamgesnoer” moet word?

Charles Malan
2010-09-01

GELOWIGES EN DISSIPELS

Henrietta, ek het al 27 Aug. op jou vrae geanwoord. Dissipels is uiteraard Christene, gelowiges is volgens HAT almal wat in ’n God glo. Ek het gevra: ‘Is iemand soos Willie dus dwalend as hy met 8000 gelowiges vanoor die wêreld skakel? Natuurlik is daar geen sprake dat hulle almal as “dissipels” saamgesnoer word [of bekeer word] nie! Wel ter sprake is dat hulle mekaar met die gemeenskaplike band van geloof in ’n God en naasteliefde ontmoet en na mekaar luister, veral ook leer.’

Webbestuurder
2010-09-02

NUUT IN DIE ARGIEF

TRANSFORMERENDE ONTMOETINGS

Hoe om diversiteit meer kreatief te lewe

Vir die onlangse diversiteitsberaad ontleed die bekende prof. Klippies Kritzinger van UNISA verskillende soorte ontmoetings met die ander, nou in die argief opgeneem. Enkele uittreksels:

As ons kreatief wil omgaan met diversiteit, dan moet ons die mure waarbinne ons lewe, en wat ons uitmekaar hou, ontdek en ondersoek, en maniere vind om oor of deur hulle te beweeg. Daar is brutale mure van onderdrukking en dood, wat ons moet afbreek, maar ons kan ook nie heeltemal sonder mure lewe nie. Die vraag is: Hoe hoog en hoe stewig is die identiteitsmure rondom ons?

Terwyl ons die mure tussen ons in stand hou, weet ons dat daar Iets (Iemand) is wat nie van mure hou nie, wat mense bymekaar wil bring. Iemand wat ons heeltyd laat vra: Wie sluit ek uit en wie sluit ek in?

Webbestuurder
2010-09-03

NUUT BY DOKUMENTE: UITTREKSELS UIT REFERATE BY DIE BERAAD

Die Kerk wat ons WIL wees…

(Dr. Jan Botha, voorsitter van die taakgroep vir diversiteit)

Ons kerk omskryf een van haar kernwaardes, naamlik dié oor diversiteit soos volg:

“Binne hierdie eenheid vier ons ons diversiteit as God se geskenk aan ons, want ons andersheid vir mekaar help ons om die volle omvang van God se genade en liefde beter te verstaan en te waardeer. As een lid ly, ly al die lede saam en as die een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Korintiërs 12:26).

Om dié kernwaarde waar te maak en elke dag as ’n medeskepper van ’n meer geloofwaardige wêreld en heler kosmos uit te leef, verg voorwaar baie toewyding en volgehoue passie. Dit is ons roeping en erns dat ons as voorlopers, pioniers soos die bekende Nederlandse teoloog Henk de Roest sê, sal lewe. Dit is alleen moontlik as ons hoofsaaklik aan twee kernsake voortdurend aandag skenk:

‘n Nuwe taal asook ’n identiteit- en kultuurskuif is noodsaaklik binne myself, ons gesinne en families, ons geloofsgemeenskap en eie unieke konteks asook in die mooi land en wêreld waarbinne ons elke dag lewe en werk.

Gedagtes rondom diversiteit

(Dr. Johan van Schalkwyk, moderator van die Oostelike Sinode)

Diversiteit in plaaslike gemeentes

As mens op die internet onder ‘diversity in the church’ gaan soek, ontdek jy dat dit veral in die Amerikaanse kerke gaan oor die verskillende mense-groepe as diversiteit, wat gevier moet word. Ek het wel ’n vermoede as ek ons pamflet lees, dat dit nie in die eerste plek is wat Malan Nel met ons tema in gedagte gehad het nie. In die S.-Afrikaanse situasie sien ons – reg of verkeerd – diversiteit soos wat dit in die plaaslike gemeentes vergestalt word.

En dan sou mens met goeie reg kon sê: “Die Here hou van verskeidenheid. Kyk na sy skepping, en na die Christusgelowiges!” Dis net soms dat mens jou kop heen en weer wil skud en sê: “Joe, Here, kon U nie alles darem maar net ‘ n bietjie minder ingewikkeld gemaak het nie?” Ekself kom uit ’n geslag wat alles wou bestuur en reglementeer; presies eers die uitkomste wou sién en wou wéét, en niks in die geloof wou waag nie. Die nuwe geslag Christene kan wààg, die Gees vertrou; het nie reëls nodig nie; wil nie bestuur word nie; is baie sterker op doodgewoon verhoudinge en menswees; lag vir ons wat so ontsettend hard kan werk en nooit speel nie. Kortom: Ons het dus nie net meer met verskeidenheid te make nie, maar ook nog boonop met mense in ons gemeentes wat ander soort koppe het: party modern, ander postmodern. En dit maak die diversiteit nog net soveel groter.

Henrietta Klaasing
2010-09-04

Baie dankie vir die inniggewende leesstof wat steeds bygevoeg word. Ek het veral prof. Klippies Kritzinger s’n met belangstelling gelees – miskien omdat ek hom nog onthou van universiteitsdae af?

Ek het sy gebruik van Mending Wall van Robert Frost wat ek jare gelede as voorgeskrewe gedig met matrieks behandel het, saam met Jesus se vertelling van die skape in die skaapkraal in Johannes 10 nogal vreemd ironies gevind.

Oral sien ek dat daar ’n misnoë is met die tradisionele manier van sendingwerk doen, die sg. “koloniale sendingopdrag” ( en ek het nog altyd gedink dis ’n Bybelse opdrag?). Soos ’n silwer draad loop dit deur plasings: die oue/tradisionele is uit, die nuwe is in. Kan iemand my sê: Wat is die nuwe? Ek het oral gesoek, maar kon nie ’n klinkklare antwoord kry nie.

Charles Malan
2010-09-04

SENDING

Henrietta, die koloniale soort sending is mos saamgevat in die bekende uitdrukking dat die veroweraars stamme en volke met die Bybel in die een hand en die geweer in die ander onderwerp het. Ook bekend is die ander stelling: “Toe die sendelinge gekom het, het ons die grond en hulle die Bybel gehad. Nou het ons die Bybel en hulle die grond.”

As leek twyfel ek of jy ’n netjiese samevatting van ’n “nuwe” sendingopdrag gaan vind, maar ’n groter openheid, gesprek en begrip oor grense heen behels beslis nie ’n verbete “bekeer almal wat van jou verskil en moet andersins nie jou tyd met gesprek mors nie.”

Webbestuurder
2010-09-07

NUUT BY DOKUMENTE

Etikette…

Izak du Plessis

Izak du Plessis het opspraak verwek toe hy as NG-predikant bedank en daarna sy eie kerk gestig het. Sy afskeidsboodskap is in die dokumente opgeneem, nou is ook sy referaat by die beraad oor teologiese begronding van diversiteit daar toegevoeg.

Izak begin vertel hoe etiket (bepaald ook “’n etiket om iemand hang”) vroeg reeds nie vir hom gewerk het nie. Hy vertel dan twee verhale: oor vervreemding, vreemdelingskap, en gasvryheid, om die vreemdeling in te nooi en hom dan, soos Christus, die gasheer te maak.

[. . .]

Gelukkig weet ek dat Jesus ook nie eintlik gebou is vir etiket nie. Maar die etiket van hierdie wêreld het dikwels vir Jesus die geleentheid gebied om mense iets te leer van die koninkryk van God. En, beduie Jesus, in die koninkryk tel etiket nie, dis gasvryheid wat tel. Gasvryheid teenoor die vreemdeling.

Webbestuurder
2010-09-07

TANS BY DOKUMENTE: TWEE REFERATE GELEWER BY DIE BERAAD OOR DIE TEOLOGIESE BEGRONDING VAN DIVERSITEIT

Gender en diversiteit – ’n nuwe teologiese verstaan

Dr. Carin van Schalkwyk

UITTREKSELS

Dit is reeds twintig jaar dat vroue in die bediening toegelaat word in die NG Kerk. Om weer ’n eksegese van die relevante tekste te doen, sal ’n futiele oefening wees. Dalk moet ons eerder kyk na die toekoms en onsself afvra: Hoe nou verder? Die vraag wat beantwoord moet word, is: Wat moet gebeur sodat mans en vroue meer effektief en ’n meer bevredigende bediening saam met mekaar kan ervaar?

[. . .]

Volgens Paulus is Christus die hoof van die kerk (Ef. 4:15) en uit Hom groei die hele liggaam. Elkeen word in die liggaam ingevoeg met ’n bepaalde gawe en taak tot voordeel van almal (1 Kor. 12:7).

As mens so na die saak kyk, is dit duidelik dat diversiteit vir Paulus belangrik was. Dit was nie iets wat gevrees is nie, maar gevier is en elke persoon met sy/haar gawes is belangrik vir die funksionering van die kerk. Dit is ook duidelik dat nie een persoon verhinder moet word om sy/haar gawes te gebruik nie, want dan ly die liggaam skade en kan die kerk nie funksioneer nie.

Mans en vroue is deel van die liggaam. Aan beide mans en vroue is daar gawes gegee om te dien in die kerk. Daarom is dit vir die kerk nodig om weer te dink oor die rol van mans en vroue in die kerk en dan minder vanuit ’n kulturele en tradisionele verstaan en meer vanuit die Skrif. Vanuit Jesus se verhouding met mense is dit belangrik om daarop te let dat mans en vroue vir Hom belangrik was Beide geslagte vorm deel van Sy span en is welkom in Sy geselskap. Vir Paulus maak dit nie meer saak of iemand man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek is nie, want in Christus is ons een. . . .

Dalk is die grootste uitdaging vir die kerk van môre om mans en vroue toe te laat om hulle gawes te gebruik en om die Here op so ’n wyse onbevange te dien. In hierdie proses moet ons leer om ons te buig na die wil van God vir Sy kerk en om nie aan God te probeer voorskryf oor hoe die kerk moet lyk of funksioneer nie. Hy weet waarheen Hy met die kerk, sy liggaam, op pad is en ons moet mekaar vry maak om in gehoorsaamheid aan God ons roeping uit te leef, volgens die gawes wat God ons gegee het, sodat die liggaam van Christus in liefde opgebou kan word.

Die tyd het aangebreek dat ons eerlik moet wees oor ons motiewe en oor hoe ons met mekaar te werk gaan. Ons sal dit eerlik moet bely en dan saam as liggaam voor God gaan staan en saam met God soek na Sy droom vir die kerk, sy liggaam.

*******

‘n Nuwe-Testamentiese perspektief op Diversiteit

Dr Marius Nel

UITTREKSELS

Dit is duidelik dat die NT ’n nuwe geloofsgemeenskap voorhou waarin die grense tussen die geslagte (man en vrou), ons en die ander (Jood en Griek) en sosio-ekonomiese stand (slaaf en eienaar) radikaal gerelativeer is (maar nie volledig uitgewis is nie). Die nuwe gemeenskap het egter ook nuwe etiese en leerstellige grense getrek. Soos die Diognesusbrief dit stel: hulle tafels was oop, maar nie hulle beddens nie.

[. . .]

Die hantering van diversiteit

Die relativering van die radikale diversiteit kenmerkend van die vroeë kerk geskied egter nie probleemloos in die NT nie. Ons lees in 1 Kor. 14 en 1 Tim. 2 hoedat vroue se spraak- en bedieningsvryheid ingeperk word. In Filemon hoedat ’n slaaf na sy eienaar teruggestuur word. In Gal.2 van etes wat getuig van etniese grense en Hand. 6 van taalgrense wat konflik veroorsaak het in die eerste gemeente. Die bestryding van leerstellige verskille is dan ook ’n belangrike motief in die NT. Só mag daar bv. nie tafelgemeenskap met diegene wat dwaalleer verkondig, beoefen word nie (2 Joh. 10).

[. . .]

Die geestelike DNA van die kerk.

Wat het die vroeë kerk egter wel in staat gestel om die diversiteit daarin teenwoordig te hanteer? Wat is m.a.w. die geestelike DNA van die kerk rakende diversiteit?

‘n Klem op eenheid eerder as eendersheid [. . .]

Wedersydse onderdanigheid

Radikale naasteliefde

Die beoefening van oorvloedige geregtigheid aan almal

Charles Malan
2010-09-09

MEDIAVRYHEID

Kerkbode, 9 Sept. 2010

Kerk steun ’n vry media

Die NG Kerk se meer as een miljoen lidmate is gevra om hulle stem dik te maak teen die regering se “totale aanslag” om mediavryheid in te perk.

Die algemene sekretaris van dié kerk se Algemene Sinode, dr Kobus Gerber, sê die regering se voorgestelde media wetgewing is drakonies. Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting en die ANC se media-appèltribunaal druis lynreg in teen die land se grondwet. Dit bring demokrasie in die gedrang. “Gemeentes, ringe, sinodes en lidmate behoort daarop te reageer,” het dr Gerber gesê.

Hy het in ’n onderhoud aan Kerkbode gesê dit is belangrik dat die media ook sy verantwoordelikheid besef. Die media moet meer pro-aktief optree om sy eie gedragskodes toe te pas. Hulle moet sorg dat hulle integriteit ten alle tye bo verdenking is. Daar is egter geen regverdiging daarvoor om die media in ’n blik te wil druk nie, sê dr Gerber.

“Uit die kerk se perspektief is dit die weerloses wat eerste daaronder sal ly. “Korrupsie gedy as dit nie aan die kaak gestel word nie. Magshebbers word beskerm en die armes ly daaronder,” het hy gewaarsku.

Dr Gerber sê die kerk is ook in die verlede deur die media bygekom. “Ek weet daar is mense wat dink die media is die kerk nie goedgesind nie. Hulle glo die media verdien dit om vasgevat te word. Daar is egter genoeg meganismes in plek waar daar gekla kan word. Ek wil nie alarmisties klink nie. Maar wanneer daar van ’n media-tribunaal gepraat word, flikker die rooi ligte vir die hele land,” het dr Gerber gewaarsku.

Sy pleidooi vir mediavryheid geld ook vir die kerklike media. “Kerkbode het, soos die res van die media, in die verlede ’n rol gespeel om die land op pad na ’n demokrasie te help. Tydens apartheid moes Kerkbode soms sy nek ver uitsteek en dinge skryf wat nie oral ewe gewild was nie. Omdat die NG Kerk egter ’n kerk op die markplein wil wees, is die kerk ten gunste van ’n oop samelewing. So ’n kerk kan nie anders as om mediavryheid te respekteer nie,” het dr Gerber gesê.

Hy het ook gesê lidmate is geregtig om te weet wat in die kerk waarin hulle leef, gebeur. As Kerkbode goed vir die kerk se lidmate wegsteek, kom die kerk se integriteit in die gedrang. Dit is nie goed vir die beeld van die NG Kerk as sy eie koerant nie met vrymoedigheid kan rapporteer oor sake wat sy lidmate raak nie. Dr Gerber sê die NG Kerk wil in alle opsigte deursigtig wees. “Kerkbode kan die kerk daarin help. ’n Kritiese stem in Kerkbode beteken nie die kerk se koerant is teen die kerk gekant nie, net soos wat ’n kritiese stem teenoor die regering nie dislojaliteit teenoor die land is nie.”

Charles Malan antwoord op die webblad van Kerkbode soos volg:

Die NG Kerk se toetrede om teen die inperking van mediavryheid te waarsku verdien die hoogste lof. Vanuit my rol om die verset van talle skrywers en uitgewers te koordineer kan ek maar net beaam dat die stryd nie slegs dié van die media is nie, maar van die hele burgerlike samelewing. As webbestuurder van die NGK se diversiteitsforum wil ek graag dr. Kobus Gerber se waarskuwing onderstreep dat die weerloses, “die ander”, die eerstes is wat gaan ly. Die NGK het inderdaad al meermale onder die media deurgeloop, maar stel hier die voorbeeld vir die ANC hoe om met kritiek om te gaan.

Onlangs moes die NGK self ’n pynlike les leer met die negatiewe reaksie op sy verwydering van die skakel na Kletskerk. Op daardie forum word kru beledigende dinge oor die NGK gesê, en hoewel die kerk nie Kletskerk “stilgemaak” het nie, is enige vorm van inperking en sensuur onaanvaarbaar. As ons diversiteit met vrye meningswisseling wil bevorder, korrupsie wil beveg en ’n stem aan die stemloses wil gee, durf ons nie toekyk hoe hoe een van ons belangrikste vryhede deur magsugtiges ingepalm word nie. Niemand anders nie as die president van die land het pas onheilspellend gewaarsku: die ANC se voorstel vir ’n mediatribunaal staan vas. Ons weerstand moet ewe vas staan.

Ghisnene
2010-09-10

INKLUSIWITEIT EERDER AS DIVERSITEIT

Ek dink deesdae baie oor diversiteit. Hou baie van die beginsel. Hou van die idéé dat ek nie soos die volgende ou hoef te wees nie. Dat ek die vryheid het om myself te kan uitleef, soos ek wil … soos ek dink dit God maak “smile”. Hou van die idee dat jy (en jy en jy en jy) ook die reg het om dit te doen. Mens hoef net na die skeping te kyk om te weet dat diversiteit vir ons iets sê oor God. Dit gee kleur en geur en dit maak dinge mooi en betekenisvol.

Maar as ek na Jesus in die Evangelies kyk en saam met hom op die stofpaaie loop, tyd in die tempel spandeer, langs die see of op groen grasperke sit en luister na Hom, dan begin diversiteit ’n ander kleur kry. Diversiteit begin al minder na eienskappe lyk waarmee ek mense klasifiseer, groepeer, etiketeer en definieër Amper soos wat die wetenskaplikes doen met verskillende spesies wat sulke indrukwekkende latynse name kry wat niemand inelkgeval weet wat dit beteken nie – behalwe natuurlik die ou wat ten minste ’n 3 jaar Bsc graad het nie. Ons kan partykeer ook sulke lekker “grand” name uitdink waarmee ons mense etiketeer. Dink maar net aan Babyboomer, GenXer, Feminis, Chauvinis, Modern en Post-modern, om maar net ’n paar te noem. Ek kan ander terme ook hier noem, soos man en vrou en kind en tiener en homoseksueel en bejaarde, wat tenspyte van hulle alledaagsheid neon flikkerende Las Vegas etikette om mense se nekke hang, wat nie noodwendig alombeskrywend of selfs halfpad beskrywend is van die persoon nie.

Maar dit is veral wanneer ek saam met Jesus aan tafel sit wat ek besef dat diversiteit op sigself nie meer beskrywend genoeg is nie. Dit is waar dat Jesus aan tafel saam met ’n groot verskeidenheid mense sit. Fariseers, vrouens, vrouens met bedenklike reputasies, tollenaars, wynsuipers, vrate … you name it.

Maar as ons hierdie tafel geleenthede van Jesus sou reduseer tot ’n pogings om divers te wees, dan maak ons ’n groot fout. Jesus probeer nie eenvoudig soveel verskillende mense moontlik deel van sy vriende kring kry nie. Jesus wil nie so weird en wayout as moontlik wees nie. Diversiteit is nooit die hoof fokus by Jesus nie. Enige groep wat diversiteit as sy hoogste waarde stel, se leeftyd (dink ek) is maar kort. Jesus fokus juis op die raakpunt tussen die klomp. Die een ding wat vir almal waar is – dat hulle kinders van God is. Jesus kom stel die Jode en Samaritane en Romeine en dissipels en Fariseers (en vir ons) bekend aan Yahweh as Abba. Nie net God nie, maar Pa.

Jesus kom wys ons die hart van God. Jesus kom wys vir ons dat ons menswaardigheid in niks anders lê as ons kindskap van God nie. Maak nie saak wie jy is, waarin jy glo, hoe jy lyk nie, wat in jou verlede aangegaan het nie, wat jou seksuele oriëntasie is nie en selfs of jy glo dat dit is waar of nie. Dit is die raakpunt. God het elkeen baie lief. Ons is elkeen gemaak om op ’n baie spesifieke manier tot God te relate. En dit is daardie verhouding met God wat al ons ander verhoudings rigting gee (Markus 12: 28 – 34). Jesus noem hierdie manier van leef die Koninkryk van God.
So wanneer Jesus by die tollenaar gaan kuier, dan doen hy dit nie omdat Hy dink dit is goed vir sy radical anderste image om met die tipe persoon geassosieer te word nie. Hy doen dit ook nie om polities korrek te wees nie. Hy doen dit omdat Hy met God oë, deur Pa oë na Saggeus kyk. Dieselfde vir die vrou wat op owerspel betrap word, die vrou by die put, die duiwelbesetene, die melaatse …Dit is as gevolg van hierdie raakpunt wat Jesus ruimte vir elkeen skep om in sy/haar uniekheid deel van die tafel te kom wees. Dit is as gevolg van hierdie raakpunt wat Jesus die diversiteit van die groep embrace.

Maar as ons eerlik wil wees moet ons tog erken dat Jesus nie grensloos is nie. Jesus maak ruimte vir almal, maar Jesus aanvaar nie alles nie. As die farriseers die heeltyd terugval op die wet, terwille van die wet, dan vat hy hulle aan. As die dissipels redekawel oor wie die belangrikste in die koninkryk is, dan raps Jesus hulle oor die vingers. Jesus se opdrag aan die 72 in Lukas 10 is om oor grense te beweeg, by mense aan huis te bly, saam met hulle aan tafel te sit en in hulle leed te deel. Maar as hulle (die na wie Jesus die 72 stuur) nie die boodskap van die koninkryk van God wil aanvaar nie, moet die dissipels selfs die stof aan hulle voete afskud as aanklag teen hulle.

Jesus steek baie grense oor. En hy laat hom nie bind deur grense van ras, etnisiteit, gender, klas en godsdiens nie. Maar hy bied definitief nuwe grense. ’n Nuwe manier van leef. En hy nooi ons binne daardie grense in en Hy kom gee vir ons die opdrag om hierdie Koninkryk grense oor grense uit te brei. Dit kan jy tog net doen as jy, soos Jesus, inhak by die raakpunt. Die eenheid tussen ons. Ons Goddelike kindskap. Wat respek het vir diversiteit. Wat ruimte skep vir andersheid al dring dit dwars in teen wie ek is en wat ek dink is reg. Maar dit aanvaar nie alles nie.Diversiteit as ’n absolute waarde aanvaar alles. Inklusiwiteit aanvaar almal op grond van ons menswaardigheid wat gesetel is in God se liefde vir ons, maar dit aanvaar nie noodwendig alles nie. Dit vra wel vir ’n teologiese herbesinning. ’n Bevraagtekening van ons eie sogenaamde sekerhede. Dit vra ons nie om ons geloof te verloën nie, maar om moontlik te herken dat ons verstaan en interpretasie van die Bybel nie onfeilbaar is nie.

Hierdie is ’n hele lang relaas om maar op die ou end van die dag te sê ek dink die beginsel van inklusiwiteit een is waarmee ek meer gemaklik is as met diversiteit, omdat inklusiwiteit diversiteit embrace. Diversiteit opsigself is egter nie beskrywend of diep genoeg nie.

Henrietta Klaasing
2010-09-11

SOEKENDES EN GESTUURDES

Een van die sekerhede van postmodernisme is dat die aanhangers daarvan onseker is. Heelparty van die plasings hier op die forum, in die forum-argiewe en ook in die forumdokumente, is verslae nadat enkelinge of groepe vér en wyd gereis het en ondersoek gaan doen het. (Na antwoorde gaan soek het??). Uit baie plasings is dit sigbaar: postmodernisme se onsekerheid beïnvloed sending en evangelisasie.

Die onsekerheid wat in hierdie plasings uitstraal, is so in teenstelling met die boodskap van die Bybel en die reaksies van gestuurde karakters in die Bybel. Mens kan by Abram begin. God sê vir hom: pak op en gaan. En Abram pak. En hy gaan, al weet hy nie presies waarheen hy moet gaan nie. God sê vir Moses die Israeliete moet pak en gaan. Al lyk dit hoe menslik onmoontlik. Hulle gaan. God sê vir Jona: gaan. Eers wil Jona nie, maar hy raak in die vis se maag so oortuig van sy missie dat hy tog gaan. God roep vir Paulus om te gaan. En Paulus GAAN – Al weet hy van die ontberings wat wag: gevare van die heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, ja, doodsgevare, slae, steniging, skipbreuk. Niks keer hom nie.

Deur die eeue het God mense geroep en gestuur. Uit alle volke, nasies, na alle lande, in alle tale. Gestuurdes. Sendelinge. Was al hierdie mense dan stupid? Hulle sal tog nie hul lewens en dié van hul geliefdes opoffer vir ’n boodskap waarvan hulle nie absoluut oortuig was nie? M.a.w hulle glo vas in die boodskap wat hulle gestuur word om te verkondig. Hebreërs 11 se eerste vers definieer geloof só: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”, en dan volg daar ’n hele helde-gallery van gestuurde mense wat só oortuig was van hulle boodskap.

Webbestuurder
2010-09-15

Geregtigheid en regstellende aksie

Ds. Schalk Naudé se boodskap is nuut onder Dokumente op die diversiteitsforum.

Uittreksels:

Regstellende aksie! ’n Woord wat in ons tyd gelaai is met baie emosie. Dit is egter verrassend genoeg, nie ’n nuwe begrip nie. Reeds in Psalm 94 sien en lees ons dit. Maar in Psalm 94 is dit nie ’n politieke begrip soos in ons dag nie. In Psalm 94 is daar eerder ’n verwagting dat God, die regter van die aarde, “regstellende aksie” moet toepas – die balans wat deur die onreg van die verlede in hierdie lewe versteur is, moet deur God herstel word.

. . .

Ongelukkig is ons kerk se geskiedenis vol van ’n gelate aanvaarding van ongeregtigheid waar daar nie altyd “vreugde en vrede” was nie. Ds. Izak du Plessis wat onlangs in die nuus was toe hy as leraar bedank het by NG Valleisig gemeente, het in sy afskeidboodskap onder andere die volgende gesê: “Ongelukkig is dit (ongeregtigheid) die storie van die kerk. Die kerk kon nog nooit volgens my klinklaar bewys dat hulle omgee vir mense nie.”

En dan haal hy ’n sin uit Willie Esterhuyse se boek God en die gode van Egipte aan wat veelseggend sê: ‘Ek het een oggend, baie laat in my lewe, ’n radikale besluit geneem: ’n God wie se vertolkte boodskap deur sy “mediums” en volgelinge geen wesenlike verskil maak aan verskynsels soos armoede en onregsituasies nie, is nie die moeite werd om te aanbid nie.’

. . .

Wanneer daar praktyke is wat die liefdesgemeenskap tussen mense verbreek, kan die kerk nooit vir lief neem daarmee nie. Dié wat hulle daaraan skuldig maak, moet opgeroep word tot nuwe insig.

. . .

In die Belhar-belydenis waaroor daar baie gepraat word en wat geskryf is deur mense wat iets van die swaar van onreg beleef het, word daar onder meer die volgende gesê:

“Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die armes en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg…

. . .

Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie. Dit is apatie. Die topunt van traak-my-nie-agtigheid is wanneer die kerk (ons) nie meer vir die nood van die wêreld intree by God nie. Die diepste vorm van haat is wanneer die nood van die wêreld ’n mens nie meer raak nie. Ja, die diepste vorm van haat is wanneer jy die nood van die wêreld sien, daaroor praat, en dan jou hande in die lug gooi en dit verwerp as nie so belangrik nie. Dit is dan wanneer die kerk (ons) nie eens meer die nodigheid sien om te bid vir die armoede en straatkinders, die ekologiese krisis en lydende skepping nie, die vigspandemie en die miljoene weeskinders en stukkende gesinne nie, nie meer bid vir die wat onreg ly, eenkant toe geskuif word, gestigmatiseer word en in hulle menswees afgebreek word.

. . .

Die verhaal van Faust wat in Paasnag weens sy vertwyfeling die gifbeker wou drink, is bekend. Met die beker aan sy lippe het hy die Paasklokke gehoor. Dit was vir hom ’n verlossende boodskap en soos ’n broer wat sy hand op sy skouer lê en sê: “Jy sal nie sterwe nie”. Die bestaan van die kerk (ons) hier op aarde, die woorde en dade van die kerk (ons as gelowiges, as geroepenens van God) moet hoop bring vir mense wat op die punt staan om boedel oor te gee of wat dalk die gifbeker wil drink.

Webbestuurder
2010-09-16

DIVERSITEIT HOOFNUUS IN KERKBODE

Die berig oor diversiteit hieronder is die hoofberig in die week se Kerkbode en kan hier gelees word: http://www.kerkbode.co.za/ Die ingestuurde berig moes ongelukkig op grond van ruimtebeperkings verkort word en ’n aantal stemme het weggeval, maar dit sal nog aan almal gestuur word.

******

NGK voor mure van diversiteit

Die gesprek oor diversiteit in die NG Kerk het ’n lewendige gesprekspunt in die kerk geword en is besig om toe te neem in momentum.

Die skrywer, letterkundige en webbestuurder van die NG Kerk se diversiteitsforum, dr Charles Malan, sê ’n mens kry die indruk die NG Kerk besef die enorme belangrikheid van diversiteit, maar weet nie mooi wat om daarmee te maak te nie.

Dr Malan het aan Kerkbode gesê die gesprek word voortgesit en sekere doelstellings begin al duideliker word. “Een daarvan is dat die NG Kerk dringend ’n mensbeskouing en strategie vir diversiteitsbevordering moet ontwikkel.”

’n Onlangse beraad wat deur die NG Kerk se taakspan vir diversiteit in Pretoria gehou is, lok wye reaksie uit. Sommige lidmate verwelkom groter diversiteit in die kerk. Ander vrees dit kan die kerk se karakter onherkenbaar verander. Volgens dr Malan beteken diversiteit andersheid. Wêreldwyd is die oproep om dit positief te benut. “Die vraag is wie is hierdie ‘ander’ nou eintlik? Wat beteken konsepte soos medemenslikheid, versoening en wedersydse begrip wanneer mense van verskillende gelowe en kulture met mekaar skakel? Meer nog: Hoe raak selfs mans en vrouens binne kerkverband vir mekaar ‘die ander’?”

Om van die vrae te ondersoek, het die NG Kerk se taakspan vir diversiteit ’n beraad gehou om oor ’n teologiese begronding daarvan te besin.

Dr Malan het aan Kerkbode gesê teo loë en kundiges kon uiteraard nie by eenvoudige antwoorde uitkom nie. Die voorsitter van die taakspan, dr Jan Botha, sê ’n nuwe taal asook ’n identiteit- en kultuurskuif is noodsaaklik; “binne onsself, ons gesinne en families, ons geloofsgemeenskap en eie unieke konteks.”

Prof Klippies Kritzinger van Unisa meen dit is geen eenvoudige taak nie. “As ons kreatief wil omgaan met diversiteit, dan moet ons die mure waarbinne ons lewe, en wat ons uitmekaar hou, ontdek en ondersoek, en maniere vind om oor of deur hulle te beweeg. Daar is brutale mure van onderdrukking en dood, wat ons moet afbreek, maar ons kan ook nie heeltemal sonder mure lewe nie.”

Mnr Izak du Plessis wat onlangs as NG leraar bedank het, het tydens die beraad gesê as die kerk sinvol met diversiteit wil omgaan, moet hy leer om gasvry te wees teenoor die vreemdeling. “Gasvryheid is in wese ’n verwelkoming, ’n verskuiwing van grense en ’n insluiting van mense wat jy normaalweg nie wil insluit nie. Die kerk bestaan uit diverse lidmate. Ons kan dit nie meer ontken nie. Hulle is op baie maniere divers. Een daarvan is die diversiteit in teologiese oortuigings.”

Een van die doelstellings wat tydens die afgelope beraad in die vooruitsig gestel is, is dat magstrukture in die kerk grondig ontleed word; watter soorte mag is nodig en watter is skadelik?

Dr Malan stel ook voor dat strategieë ontwikkel moet word om mense van ander gelowe en belangegroepe ook by gesprekke te betrek. Volgens die diversiteitsforum is dit noodsaaklik dat die NG Kerk homself meer bewys as ’n krag vir diversiteit in en van Afrika, en toeganklik vir die ander.

Henrietta Klaasing
2010-09-20

VROUEPREDIKANTE EN VROUE IN DIE AMPTE

Dr. Elsje Búchner skryf in vandag se Beeld oor “Die pad na ’n ryker kerk” (kyk hier: http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Die-pad-na-n-ryker-kerk-20100919 ), waarin sy kortliks die geskiedenis van die NG kerk en die vrouepredikant skets. Mens kan nie help om tussen die lyne die pyn wat deur die jare ervaar is (en dalk nog steeds?) raak te lees nie. Ek glo dieselfde kan van vroue as ouderlinge gesê word. Vroue as diakens is al redelik algemeen – in ons gemeente is dit seker al min of meer 50-50. Mens wonder hoe lyk dit ten opsigte van vroue-afgevaardigdes op ring- en sinodesittings en ander kerklike vergaderings?

Wat vir my nog altyd vreemd was, was dat vrouens al die jare en nog steeds “goed genoeg” was om “die evangelie” en ander geestelike lering aan kinders (dus seuns ook) in die ouerhuis, kinderkrans, kategese, sendingveld en waar ook al te bring, maar nie vanaf die kansel nie….

Fanie van Emmenes
2010-09-20

Mure: Ek het groot waardering vir Prof. Klippies Kritzinger, se artikels, “Hoe om Diversiteit meer kreatief te lewe”, deel 1&2, onder argief.

Ek wil graag iets byvoeg oor sy opmerking dat ons ook nie heeltemal sonder mure kan lewe nie. Once there was a sheep farmer. He had a high fence around his property to protect his sheep from wolves. But then one handsome buck said, “Why are we so exclusive around here? Everyone knows that sheep are peaceful, exclusive elitists.” So they rammed the fence posts with their heads until the fence posts toppled and a breach was opening the fence. Soon a band of wolves passed by. Their leader said, “We would be idiots to rush in and start eating sheep in broad daylight. The sheep would panic, and the fence would be rebuilt. Let’s move in among them and pretend to be their friends and we can eat well for years to come.” He approached the leader of the sheep and said, “We see your goodwill gesture, and we would like to live among you in peace.” The sheep were pleased. Their peace strategy had worked! Day after day, wolves and sheep would lie down in the sun, enjoying the green pastures. The wolves would even eat a few mouthfuls of grass to reassure the sheep that they weren’t a threat at all.

But each night, the wolves would find a sheep that had drifted away from the herd and have a feast. The next morning, when the sheep would realize one of their number was missing, the wolves would pretend to be outraged and would join them in a pretend search for the perpetrators. Eventually the sheep realized they had been tricked, and they asked the farmer to rebuild the fence, and they became more distrustful of outsiders than they had been before. Dit is dus waar dat dit ook nie ’n oplossing is om te sê, “Everybody’s in, everybody’s fine, everybody’s is an insider”, nie. Daar is dus nie net een stel bedreigings nie, maar twee: Bedreigings van vyandelike uitsluiting en bedreigings van naïewe insluiting.

Kyk ons weer na die verhaal van die skape, kom ons tot die besef dat ons ’n derde opsie moet soek. ’n Hoë heining wat almal uitsluit, sal nie deug nie, netso sal geen heining, ook nie die oplossing wees nie. What we need is a requirement that those who wish to enter actually have a change of heart – that they don’t sneak in to accomplish their own agenda, but rather that they genuinely want to learn a new way of thinking, feeling, living, and being in “the pastures of God.”

Die Koninkryk van God, soek dus ’n derde opsie: Nie eksklusiwiteit en verwerping enersyds, en nie naïewe, selfvernietigende insluiting, andersyds nie, maar doelgerigte insluiting. Die Koninkryk van God wil almal insluit wat deel wil wees en wat ’n bydrae wil maak tot sy doel, maar dit kan nie diegene insluit wat die doel van die Koninkryk wil verydel nie.

McLaren, Brian D. The Secret Message of Jesus. Thomas Nelson,Inc. Nashville, Tennessee. 2006.

Webbestuurder
2010-09-22

VROUE IN KERKLIKE AMPTE

Dit klink byna of mens na twee eeue gelede verwys, maar vanjaar is dit maar twee dekades gelede dat die NG Kerk haar deure uiteindelik na nog meer as twee vorige dekades se besinning vir vroue in kerklike ampte oopgemaak het. Dr. Elsje Büchner, die eerste vroulike predikant, kyk in haar rubriek in Beeld terug na die dikwels pynlike pad wat daarna gevolg het.

Dit is ’n stryd vir gelykberegtiging in die naam van diversiteit wat helaas nog geensins agter die rug is nie. Volgens Neels Jackson se beraming is dit nogtans onvermydelik dat daar binne die afsienbare toekoms honderde vrouepredikante sal wees. Nou is daar minstens realistiese vooruitsigte vir die talle vroue met ’n roeping. Moontlik is daar nog manlike maghebbers wat voel hulle moet vrouens “maar ook ’n kans gee”, maar dit is ’n prentjie wat vinnig gaan verander. Soos die wêreld vir ’n swart president Obama gewag het, wag ons vir ’n vrouemoderator.

Lees Elsje se rubriek op die diversiteitsforum se argief ook. Daar is reeds kommentaar daaroor op die forum. Byna asof dit is om die geleentheid te vier, trek die forum ook nou ’n kleurryke baadjie aan, veral danksy ons tegniese fundi’s Adéle Lombaard en Marieta Mundell. Vroue vir veelkleurigheid.

Jan Botha
2010-09-22

Wat ’n belewenis! Ek sal dit my lewe lank troetel en onthou. Ek en Frederick Marais was so bevoorreg om die twee dae, Maandag 20 September en Dinsdag die 23 ste saam met ongeveer 50 ongelooflike vroue uit ons geliefde kerk by te woon. Die feit dat hulle ons met hulle lewe, seer, drome en vreugdes vertou het, spreek boekdele. Dankie aan die wonderlike groep diverse mense wat soveel waarde toevoeg tot die kerk en die skep van ’n oper manier van dink en nuwe perspektief plaas op die “ander” die geringstes en die wat heling nodig het.Dank die Here vir elkeen van jul se bydrae en inbou ook in my lewe. Julle is so spesiaal!!!

Linde Jansen van Rensburg
2010-09-22

VROUE

Dankie tog vir Elsje, Henrietta en Jan se reaksie oor vroue se rol in die kerk. Ek het al begin dink julle het vergeet waar die hele diversiteitsdebat begin het juis oor vroue in die hoogheilige ampte. Ek weet lankal die kerlikes in die hoogste gestoeltes weet nie meer wat ons jong klomp dink en voel nie. Get with it! Dink julle ons arme ondergeskikte ou meisietjies besef steeds nie dat ons met julle heilige en magtige meneer chauviniste kan kompeteer nie? Shame!

Dankie Elsje dat jy die vernedering en pyn en gebrek aan bystand oor jare heen uitwys. Vryf dit onder die gemaksugtiges se neuse. Dankie Jan dat jy as big chief van die taakspan en as ’n man kan getuig hoe jy die vrouens ervaar het. As meer mans soos jy net wil begin saampraat en niks meer na outydse feminisme wil laat klink nie. Dankie Henrietta dat jy uitwys hoe vrouens tog maar te gamaklik vir die laer joppies soos kollekteer gebruik kan word maar tog nie boontoe nie hoor.

Sorry groot kokkedore, vrouens is meer as die helfte van die bevolking en ons gaan julle kerk oorneem. Wees gewaarsku, of bly.

Rethie van Niekerk
2010-09-23

Greta Heymans was die eerste vroulike predikant. Elsje was die eerste op die moderatuur (2004).

Henrietta Klaasing
2010-09-23

VAN KOMBUIS TOT KANSEL

Dr. Elsje Büchner het ’n deeglike studie gemaak van vroue se stryd. Haar hele proefskrif, “Ek het ’n roeping” vrouepredikante se toelating in die Nederduitse Gereformeerde Kerk : ’n kerkhistoriese en prakties-teologiese studie / (2007) kan hier afgelaai word: http://en.scientificcommons.org/56511152

Hier is ’n opsomming daaruit:

In hierdie navorsing word die toelating van vrouepredikante in die Nederduitse Gereformeerde Kerk vanuit ’n kerkhistoriese en prakties-teologiese hoek bestudeer.

Die navorsingswaardes wat in die sosiaal-konstruksionisme geld, naamlik dat sodanige navorsing ’n deelnemende en verhalende proses is, dat die invloed van diskoerse bestudeer word en dat die belangrikheid van taal in ag geneem word, is in die navorsing verreken. Vanuit ’n post-fundamentele teologiese posisionering is van ’n paar van die bewegings in ’n postfundamentele prakties-teologiese metodologie gebruik gemaak om na die belewing van agt vroueproponente en -predikante deur die loop van die proses van toelating, én daarna, te luister en saam met hulle te interpreteer. Daar is van die volgende bewegings gebruik gemaak: Die beskrywing van die verskillende kontekste waarteen die roepingsverhale en loopbane van vrouepredikante afgespeel het; die aanhoor en beskrywing van die kontekstuele ervarings van die betrokke vroue; die interpretasie van en betekenisgewing aan die verhale in samewerking met die vroue wat as medenavorsers geag word en die beskrywing van en refleksie oor die ervaring van God se teenwoordigheid in hulle roepingsverhale en bedieninge as proponente en predikante. Hierdie postfundamentele prakties-teologiese metodologie is inherent narratief van aard en sluit ook nou aan by die denklyne wat in die sosiaal-konstruksionisme geld.

Deur hierdie metodologie is daar probeer om ’n bydrae te lewer tot die ontwikkeling en uitbou van mondelinge geskiedenis. Die beskrywing van vroue se verhale is terselfdertyd ook vrouegeskiedenis wat poog om vroue meer hoor- en sigbaar in algemene geskiedenis, maar spesifiek ook kerkgeskiedenis te maak. Die metodologie pas ook binne ’n meer postmoderne benadering tot geskiedenis in.

Aan die hand hiervan is die breër landkaart en historiese konteks waarteen die roepingsverhale van vrouepredikante en kerklike vergaderings oor ’n tydperk van bykans 107 jaar afgespeel is, in breë trekke en deur middel van tydlyne beskryf. Die ontwikkeling en uitbouing van die volksmoederdiskoers oor die dieselfde tydperk is van nader beskou. Daar is verder gekyk na die invloed wat die breër konteks en die volksmoederdiskoers op vroue gedurende die twintigste eeu gehad het, hoe vroue oor die algemeen hulleself in bepaalde vroueruimtes soos vroue-organisasies uitgeleef het en of Afrikanervroue se stemme in die openbaar gehoor is al dan nie.

Teen hierdie agtergrond is die verloop van die kerklike debat oor die toelating van vroue tot die besondere ampte, naamlik diakens, ouderlinge en vrouepredikante, beskryf. Hierdie debat kan in drie tydperke opgedeel word. Die eerste tydperk wat van 1966-1978 strek kan as ’n tyd van nadenke beskryf word. Vanaf 1982 tot 1990 is die debat deur ’n sterk verskil in Skrifbeskouing gekenmerk. Die laaste tydperk wat vanaf 1991 tot 2007 strek, beskryf hoe die praktyk stadig pos gevat het en hoe die gesprek uiteindelik na gendersake uitgebrei het.

Die vroueproponente en -predikante se roepingsverhale, hulle belewenis van God in die pad wat hulle moes loop en eerste treë in die bediening is weer deurgaans teen die agtergrond van die breër landkaart, volksmoederdiskoers en die NG Kerk se verskillende sinodes aangehoor, beskryf en in samewerking met hulle geïnterpreteer. Bykomend tot die groep persoonlike verhale is twee verhale van vroue wat reeds voor 1950 teologie studeer het en nie meer vandag leef nie, opgeteken. In al die gesprekke het die belangrikheid van vrouepredikante se roepingsverhale, hulle positiewe en negatiewe belewenisse in die kerk, die impak van oorwegend manlike kerktaal op vroue, die gemis en impak van rolmodelle, die frustrasies rondom proponentskap en hulle belewing van God onder andere na vore gekom. Dit is ook opmerklik dat vrouepredikante oor die algemeen nie aktief aan die debat deelgeneem nie en dat die meeste van die medenavorsers in hierdie studie ’n bepaalde stuk ongemak met gendersake en feminisme beleef. Hulle laat net soos in die volksmoederdiskoers die praatwerk aan ander oor.

© University of Pretoria 2007

Webbestuurder
2010-09-24

VROUENS IN DIE NGK

Dankie vir Rethie se regstelling en Henrietta se aanstuur van die opsomming. Albei is by Elsje se stuk op die argief aangebring.

Dit is verblydend dat die gesprek tussen vroueleraars volgens Jan se verslaggie op die forum so goed afgeloop het. Ek het hulle almal uitgenooi om die forum as ’n platform te gebruik om hulle indrukke verder met die NG Kerk te deel – ander belangstellendes is natuurlik ewe welkom. Dit was vir my ’n probleem dat so min vrouestemme op die forum gehoor word. Dit is geen “mansforum” nie!

Ek verklaar oral dat ek ’n feminis is en weier bv. om vanselfprekend aan die “hoof” van die tafel te gaan sit. Ek beskou die behandeling van vroue deur my eie NG Kerk as ietwat van ’n skande, soos duidelik blyk uit Elsje se rubriek. Ek voel ook nogal beskaamd dat mans so min aan die belangrike gesprek oor gendergelykheid deelneem. Laat ons hoop dit gaan steeds meer verander.

Webbestuurder
2010-09-27

’n VERSKRAALDE WEBBLAD

Ons moes van die ouer boodskappe op die kommentaar-webblad afhaal omdat dit te lomp en stadig geword het. Die keuse was veral dat lang boodskappe en dié wat nie direk met diversiteit volgens die missie te doen het nie, verwyder moet word. Verskoning aan die arme man wat in die verlede alle verwyderde boodskappe op sy blog aangedui het – weke se werk vir hom! En steeds geen vooraf-sensuur nie.

Fanie van Emmenes
2010-09-29

Die volgende interessante brokkie nuus het in ENI Nuus van 24 September verskyn. Ek sou dit graag diversiteit in oormaat wou noem:

The Methodist Church in Britain conducted services in 89 languages, in addition to English and Welsh, one of the official languages in Wales, in 2009, the church has announced. “All this reflects the multi-cultural nature of Britain in 2010,” the Rev. John Chambers, a minister at Walworth Methodist Church in London, told ENINews. “We have four fellowships in our church: Sierra Leone, Ghanaian, Zimbabwean and Nigerian.” Chambers said that during the year, each fellowship holds its service. There will be readings in local languages, hymn singing in different languages, and now and again preachers from the countries concerned will address congregations. People come to the Methodist Church knowing that their ethnic traditions will be acknowledged.” The media officer for Britain’s Methodist Church, Karen Burke, said that languages used at services include Afrikaans (nogal), Cantonese, Eritrean, Farsi, French, Hindi, Portuguese, Shona, Swahili, Urdu, and many others. Klink soos iets uit Hand.2: “Parthers en Meders en Elamiete – – -.”

Webbestuurder
2010-10-01

Nuut op die argief: Diversiteit wat ryk maak

Beeld

2010-09-30 00:35

Neels Jackson

Moontlik die beste kerkerslaggewer in die land deel sy sienings oor diversiteit, ook in die NG Kerk en oor vrouens se rol. Uittreksels van die rubriek wat op die argief opgeneem is:

Suid-Afrika se leuse sê nou wel iets in die trant van eenheid in verskeidenheid, maar as ek so na Suid-Afrikaners luister, klink dit vir my of hulle die verskeidenheid dikwels as ’n probleem beskou eerder as ’n geleentheid. Die diversiteit is moeilikheid eerder as vreugde.

’n Mens hoef nie ver te gaan soek na voorbeelde nie. Net verlede week kon ek byvoorbeeld inloer by ’n konferensie van vrouepredikante van die NG Kerk.

Hoewel dit nou klaarblyklik heelwat beter gaan as vroeër, is daar egter steeds plekke in die kerk waar daar weerstand is teen vroue, waar mans as’t ware by verstek die voorkeurkeuse is as ’n predikant beroep moet word.

. . .

Maar om sulke moontlikhede raak te sien, sal baie mense fundamenteel anders oor diversiteit moet begin dink.

Soos wat die begrip in die NG Kerk begin posvat het dat vrouepredikante dikwels ’n unieke bydrae lewer wat hul manlike kollegas nie kan nie, moet ons dit ook op ander terreine begin raaksien.

Meer swart spelers in ons Curriebekerspanne sal ons rugby verryk, nie verarm nie.

Kerke sal die uitdagings van die tyd baie beter die hoof kan bied as daar wit en swart lidmate is wat dit saam kan doen. Ek het vanjaar swart vriende gemaak wat my lewe oneindig verryk.

Diversiteit van mense maak die spyskaart van die lewe net eenvoudig soveel lekkerder. Dis ’n waarde wat ons moet koester.

Henrietta Klaasing
2010-10-04

Aangesien spanning tussen rasse een van hierdie forum se fokuspunte is, dink ek dit sal goed wees as almal wat hier lees, die berig op die voorblad van vandag se Beeld elektronies lees. Prof Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, is van mening dat rasse-onmin soos ’n vulkaan is wat wag om uit te bars. Die talle kommentare wat aanlyn te lese is, is myns insiens insiggewend. Dit kan hier gelees word: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Rasse-onmin-is-soos-n-vulkaan-20101003

Henry
2010-10-05

RASSE-ONMIN

Henrietta, dankie vir die verwysing na sluimerende rasse-onmin as ’n vulkaan. Ek verstaan egter nie hoekom jy spesifiek na die leserskommentaar daarna verwys nie. In die hele reeks boodskappe vol woedende haatspraak en veroordelings stel byna niemand belang in die kerklike sienings nie. Die laaste deel van die berig lui:

’n Emosionele gesprek oor die skade wat die stryd teen apartheid op swart én wit Suid-Afrikaners gehad het, is terselfdertyd op die provinsiale sinode van die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika gevoer. Dit het gekom nadat aartsbiskop Thabo Makgoba van Kaapstad sy kommer uitgespreek het oor die “onmenslikheidsinvloed” op veral wit, Suid-Afrikaanse mans wat opgekommandeer is om vir apartheid te veg. Makgoba het dié gesprek geopen deur die kwessie te beskryf as ’n “onnoembare gebied wat ons moet waag om aan te vat. Baie is nog gewond van daai tyd en moet daaroor kan praat en genesing vind,” het Makgoba gesê.

Al wat die talle Afrikaners as goeie Christene in die kommentaar wil doen, is om gif te spoeg en die rasse-onmin verder aan te stook. Kyk net wat doen HULLE aan ONS! Dan sien mens darem die een verdwaalde boodskappie oor die nagevolge van apartheid raak: “In die woorde van een of ander wyse peroon, FORGIVENESS WILL NEVER CHANGE THE PAST, BUT IT WILL MAKE A HUGE DIFFERENCE TO THE FUTURE. Wat gebeur het, het gebeur, betreurenswaardig soos wat dit was, dis verby. Kom ons gaan voort en bou ons land op tot almal se voordeel.”

Een so ’n boodskap is sekerlik meer werd as die bladsye vol verbitterde, selfbejammerende gekerm van beswaardes wat mekaar opsweep voordat hulle gaan bid om van die “anderskleuriges” verlos te word. Voel jy tuis tussen sulke hatige stoere Boere, Hernrietta?

Henrietta Klaasing
2010-10-09

RASSISME-KWESSIE IS INGEWIKKELD

Op 10 September 2010 het Ghisnene op hierdie forum gesê sy dink die beginsel van inklusiwiteit is een waarmee sy meer gemaklik is as met diversiteit, omdat inklusiwiteit diversiteit omhels en dat diversiteit op sigself nie beskrywend of diep genoeg nie. In vandag se BY, bylaag van Beeld, is twee bydraes oor rassisme (ongelukkig nie elektronies beskikbaar nie), die een “M**r hom, liefie” (my sterretjies) van Rian van Heerden, en die ander “Nou is jy mos lui, my tjom!” van Eusebius McKaiser, politieke ontleder van Witwatersrand. Rian se titel sê eintlik presies wat die tema van syne is: dat mense van verskillende rasse mekaar fisies wil aanvat (om nie Rian se pront woorde te gebruik nie). Hy glo dat alles dan uitgewoed sal wees, en almal kan dan met hul lewens aangaan.

Dit lyk asof Eusebius Rian se stuk onder oë gehad het, want sy antwoord daarop is dat Rain se standpunt ’n moeë een is. Sy sentrale gedagte is dat ons eerder moet vra: “Hoe moet ons as ’n land reageer op die realiteit van ’n nasie wat steeds verdeel is?”. Drie skrywers, drie standpunte. Saamgelees met wat wat Prof. Jansen gesê het, kan mens nie anders nie as om diep bewus te raak van die ingewikkelde aard van die rassisme-kwessie.

En my antwoord op jou vraag, Henry, is nee, ek voel beslis nie tuis nie. Die kommentare (en ook by daaropvolgende briewe) en tot ’n mate Rian se stuk, bevestig myns insiens net wat die professor sê.

Webbestuurder
2010-10-11

“Eenheid in diversiteit” – tans iets van ’n grap?

Laat ’n mens dankbaar wees oor die oplewing in belangstelling wat diversiteit in die NG Kerk betref. Dit word as ’n moontlike krag eerder as ’n meulsteen ervaar, soos talle bydraes op die forum en in die argief en dokumente getuig. Maar laat ons mekaar nie bluf oor ’n verslegtende situasie nie. Die pers berig van dramaties dalende lidmaatgetalle van die “suster”-kerke en ’n teoloog sit met goeie stawing uiteen waarom Afrikaners nie meer Christene genoem kan word nie! Sou selfs ons ouer Afrikaners kon dink dat dit in ons leeftyd kon gebeur? Orals is daar berigte, ook op die forum, dat mense sonder die tradisionele kerk kan en wil klaarkom, al bly hulle gelowig.
Die kommentaar op die forum wys telkens op die verslegtende situasie wat voortslepende rasse-onmin veroorsaak. Na prof. Jonathan Jansen se mening oor die rasse-onmin wat veral vir jong wittes soos ’n vulkaan is, word die woedende reaksie op die pers-webblad soos volg deur ’n kommentator op die forum opgesom: “Al wat die talle Afrikaners as goeie Christene in die kommentaar wil doen, is om gif te spoeg en die rasse-onmin verder aan te stook. Kyk net wat doen HULLE aan ONS!”

Daar kan sekerlik meer eenheid en harmonie tussen belydende Christene van alle rasse verwag word. Maar watter voorbeeld stel die kerke wat juis as gevolg van dralende kleurverskille nie eens op basiese gemeentvlak eenheid en samewerking kan kry nie? Op tussenkerklike vlak ontwyk eenheid oor dinge so nietig soos die Belhar-belydenis. Geen wonder dat ’n predikant prontuit aan my gesê het hy steur hom lankal nie meer aan sekere sinodebesluite nie.

Gemeentes is veronderstel om ’n groot mate van outonomie te hê, maar is dit steeds moontlik dat kerkregtelike reëlings tussen twee gemeentes langs mekaar eenheid kan weerhou? Hierdie berig laat geen twyfel nie:

Kerkreëls pootjie eenheid

Kerkbode http://kerkbode.co.za/nuus.asp

Plaaslike gemeentes in die NG Kerkfamilie gaan hulle nou tot die hoogste gesag in die kerk wend om die struikelblokke op pad na kerkeenheid uit die weg te probeer ruim. Dit volg na herhaalde gesprekke en die feit dat die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se kerkordes nie toelaat dat plaaslike gemeentes van die twee kerke een gemeente word nie – selfs al besluit beide se kerkrade om saam te smelt.

Die gevolg is dat die kerkrade van twee tradisioneel wit en bruin gemeentes in die Wes-Kaap, die NG Gemeente Durbanville-Bergsig en die VGK-gemeente Durbanville, hulle onderskeie sinodes gaan vra om in te gryp.Hulle sê kerkregtelike reëls mag nie langer die Bybelse eis om eenheid oorskadu nie.

Die NG Gemeente Durbanville-Bergsig is deel van die grootste NG Kerk-ring in die land en het 4 500 lidmate. Die VGK-buurgemeente het sowat 1 500 lidmate. Beide gemeentes se lidmate is positief oor eenwording en hulle onderskeie kerkrade sê hulle is diep teleurgesteld in die onvermoë van die twee kerke se leierskap om dit vir gemeentes op plaaslike vlak moontlik te maak om een gemeente te wees.

Ds Teyo Smit van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig sê hy verstaan nie hoe kan die kerkorde gemeentes wat wil herenig, steeds uitmekaar hou nie. “Ek sien nie meer kans om in een vergadering na die ander te sit en oor kerkeenheid te praat as dit uiteindelik maar net oor groter samewerking gaan nie.

“Ons wil één gemeente wees,” het ds Smit aan Kerkbode gesê. “Ons gemeente is positief oor hereniging, maar kerkregtelike reëls steek ’n stokkie daarvoor. Die Belydenis van Belhar is reeds deur die Durbanville-Bergsig-gemeente se kerkraad aanvaar.

Volgens ds Smit het die twee kerke se aktuariusse in die Wes-Kaap, ds Hannes Theron van die NG Kerk en dr Mary Anne Plaatjies-Van Huffel van die VGK, hulle meegedeel daar is nie “’n kat se kans” dat die twee gemeentes volgens die huidige kerkorde een kan word nie.

Die twee kerke se gemeentes in Wynberg is ook onlangs ingelig dat die wit en bruin kerke wat skaars ’n klipgooi van mekaar geleë is nie eens al hulle eredienste saam kan hou nie. Dit is ook in stryd met die kerkorde.

Ds Smit sê dit is vir hom ’n uiters frustrerende situasie. “Ek beywer my al meer as 17 jaar vir kerkeenheid. Noudat albei kerkrade uiteindelik een wil word, mag ons dit nie doen nie.”

Ds Theron het in reaksie hierop aan Kerkbode gesê niemand sal blyer as hy wees as die NG Kerkfamilie herenig word nie. “Daar word na verskeie moontlikhede gekyk om die proses te help. Die saak is egter meer ingewikkeld as wat dit op die oog af lyk. Die eerste prys is een kerkverband, maar intussen kan daar steeds samewerkingsooreenkomste aangegaan word,” het ds Theron gesê. – jean@tydskrifte.co.za

*************************

Webbestuurder
2010-10-13

KERK TE VERDRAAGSAAM?

Die volgende brief van Almero Cloete in Kerkbode is vir die forum aangestuur omdat dit spesifiek oor diversiteit handel. Die forum het in die verlede al meermale soortgelyke klagtes oor “verdraagsaamheid” gehad.

Aanbiddingstaal is nooit afgehandel nie – 2010/09/30

As iemand wat God liefhet en as lidmaat van die kerk verwelkom ek die artikel van Johan van Rensburg in “Aktueel” (Kerkbode, 3 September) as ’n belangrike bydrae in die debat tussen gelowiges wat enersyds tradisioneel en andersyds “ontluikend” dink.

Sy vraag “Wanneer kos verdraagsaamheid te veel?” trek ’n kerklike streep in die sand voor ontluikendes. Dit waarsku dat die kerk se geduld kan opraak met mense wat buite die tradisionele raamwerk dink en aanbid, maar hulleself steeds binne die kerk skaar.

Ek reageer graag soos volg: Ek ondersteun die pleidooi dat verdraagsaamheid van albei kante moet kom. Kom ons respekteer mekaar se posisies as eerlike oortuings en praat met mekaar sonder neerhaling van persoon. Niemand is vrygestel van die eis van verdraagsaamheid nie.

Van Rensburg huldig die standpunt dat geen mening wat die Skrif of die belydenisskrifte “in gedrang” bring, op enige verdraagsaamheid van die kerk kan staatmaak nie.

Hierdie standpunt berus op die uitgangspunt dat daar binne ons kerk slegs één geldige interpretasie van die Skrif in al sy dele mag wees, en ook dat die eeue-oue belydenisskrifte in al hulle dele ’n eenmalig-tydlose en alleen-korrekte interpretasie van die Skrif is.

As gewone lidmaat van die kerk kan ek nie anders as om van hierdie uitgangspunt te verskil nie.

My eie mening is dat ons teologiese en aanbiddingstaal nooit volledig afgehandel is nie – ons lewe immers in ’n dinamiese wêreld net soos wat die Bybelskrywers ook in ’n dinamiese wêreld geleef het. Tewens, in die Bybel self was daar nuwe klanke en begrippe wat in nuwe situasies en tye ontwikkel het. Die gang van die tyd het nog altyd nuwe klanke en begrippe meegebring, waaronder ons verstaan van die Bybel en van God.

Terwyl sommiges altyd die “ou beryming” sal verkies, kan ander ook ’n nuwe lied sing tot eer van God – ja, selfs binne dieselfde gemeente … en dit sonder om mekaar te probeer doodsing. Ons aanvaar en omhels ons diversiteit! Daar is tekens dat die NG Kerk erns maak met diversiteit deur byvoorbeeld ’n spesiale taakspan en ’n aanlyn-gespreksforum oor diversiteit. Van Rensburg spreek sy kommer uit dat mense vandag die belydenisskrifte weerspreek sonder dat die kerk teen hulle optree, en so haar geloofwaardigheid prysgee. Ek het die indruk dat mense wat vernuwend dink en hulleself steeds as deel van die kerk beskou, op ’n simpatieke en meelewende manier aan die gesprek deelneem. Ek dink ook die kerk bou juis haar geloofwaardigheid deur die beginsel van diversiteit-in-eenheid te erken en verdraagsaamheid te toon.

Eenheid in die geloof is meer as konformering met dogmatiese leerstellings.

Verskillende perspektiewe binne ons kerk is ’n realiteit – so ook by die 100 miljoen lidmate uit meer as 100 lande van wie die kerkleiers sekere eenheidsdokumente onderteken het. Net so behoort ook die liefde en verdraagsaamheid ’n realiteit te wees wat ons aan mekaar bind en wat ons elkeen daagliks self in eie hand teken.

gerhard bothma
2010-10-13

In sy boek ‘Saving Jesus from the church’, skryf Robin Myers: “To admit “varieties” is to lose the monopoly of one’s own experience. But the truth is, one can embrace one’s own tradition, deeply and unapologetically, without invalidating the religious tradition of another” (2009:180). Hy skryf dat ons te maklik God se vermoë om mense “in te trek” onderskat.

Henrietta Klaasing
2010-10-26

LAUSANNE III – PRAAT VAN DIVEWRSITEIT!

In ’n artikel in vandag se Beeld (hier: http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/In-mense-en-in-tale-en-oral-is-God-20101025) oor die derde Luasanne konferensie sê Neels Jackson dat God in mense en in tale en oral is.

Volgens Jackson het baie van die konferensiegangers Kaapstad verlaat met nuwe insigte, nuwe inspirasie en nuwe en versterkte netwerke waarbinne hulle werk. Hulle het hul opnuut verbind tot die visie wat 36 jaar tevore by die eerste Lausanne-kongres gemunt is: Dat die hele kerk die hele evangelie na die hele wêreld uitdra. En die gedagte van netwerke, van hande vat en saamwerk is beklemtoon.

Meer kan ook hier oor die merkwaardige Lausanne III konferensie gelees word: http://www.lausanne.org/cape-town-2010

Henrietta Klaasing
2010-10-29

VERANDER DIT ONS PLURALITEIT?

“Nothing about me, without me” is woorde wat deur my kop gemaal het teen die einde van die gedagteprikkelende kommentaar en ontleding “Selfs al sing die ANC ‘Suikerbossie’” van Charl-Pierre Naudé in Beeld van 29 Oktober 2010, met die subopskrif: “Dit verander steeds niks aan ons pluraliteit nie.”

’n Deeglike uiteensetting van positiewe en negatiewe vryheid word gegee, en daar word gewys dat al word negatiewe vryheid in ons grondwet neergepen, is die ANC besig met ’n verbloemde maar aggressiewe ontplooiiing van positiewe vryheid in ’n program van swart nasionalisme.

Verlies aan positiewe vryheid word baie negatief ervaar en lei onder andere tot emigrasie en gevolglike verlies van broodnodige bekwaamhede, word gesê. Is dit nie dalk die rede vir rassistiese uitbarstings op verskillende terreine nie?

Betrek, betrek, betrek, word ’n hele paar maal gesê : die gemeenskap, wit bekwaamhede, studente. Doen dit mét hulle, moenie dinge afdwing nie. Is dit wat in hierdie stuk aangeraak word, dalk uiteindelik die wonder-medisyne wat sal help vir die kankerende rassisme-siekte?

Ek sien uit na die ongepubliseerde opstel van Pieter Duvenhage wat in die laaste paragraaf in die vooruitsig gestel word. (lees die hele artikel hier: http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Selfs-al-sing-ANC-Suikerbossie-20101028)

Webbestuurder

2010-10-31

WAT BETEKEN EENHEID, PLURALITEIT EN VRYHEID VANDAG VIR DIE NG KERK?

Op 11 Oktober is die vraag op die forum gestel: “Eenheid in diversiteit” – tans iets van ’n grap? Daarna volg bydraes oor die merkwaardige Lausanne-konferensie waar diversiteit gevier is en die implikasies van grondwetlike vryheid vir pluraliteit. Ons gereelde medewerker Henrietta Klaasing lewer daaroor kommentaar. (Die forum het dr. Klaasing gevra om op ’n vaste basis vir die forum as kommentator en beriggewer op te tree.)

IS DIT GENOEG OM APARTHEID TOT SONDE TE VERKLAAR?

Die gesoute joernalis Heindrich Wyngaard, lidmaat van die VGK, stel vandag in Rapport skerp vrae oor wat die “susterkerke” verder gaan doen nadat apartheid tot sonde verklaar is. Hy stel dit onomwonde: “Die Hervormde Kerk se onlangse besluit om apartheid tot sonde te verklaar, is sonder twyfel – en ten regte – vir baie van ons ’n klassieke geval van mosterd ná die maal.”

Wat sou gebeur het as daar nie nou ’n verklaring was dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie? Die antwoord is eenvoudig: “Daar sou steeds ’n kerk wees waar die lidmate van die kansel af vertel word: Só lief het God die wit mensedie uitverkore volkgehad dat Hy aan hul destydse leiers ’n stel apartheidsgebooie geopenbaar het waardeur hul rassuiwer ewige lewe gewaarborg sou wees.”

Maar dan is daar steeds die vraag: “Tot watter mate het integrasie in dié kerke se gemeentes plaasgevind sedert hulle apartheid afgesweer het en hoe apart leef die NG Kerk en sy VGK-broers en -susters nog in kerk- en gemeenskapsverband?

”En uiteindelik: Is apartheid net in naam tot sonde verklaar, wat beteken dat dit nie meer deur wette in stand gehou word nie en ook nie Sondae van die preekstoel af geregverdig word nie, terwyl dit steeds – onbewustelik dalk – in die ses dae waarin daar gewerk worduitgeleef word?

(. . .) ”Saam sit in ’n kerk (. . .) sal egter nie voldoende wees as ons die skade van apartheid, ’n stelsel wat mos van die preekstoel af geregverdig is, ongedaan wil maak nie.

”Dit vereis van dominees in die drie Afrikaner-susterkerke – en ook die VGK – om apartheid dood te preek deur lidmate aan te moedig om hand by te sit sodat die oorblyfsels en die erfenis van apartheid reggestel word.

”Terselfdertyd moet hulle die moed hê,aangesien apartheid deur die kerke tot sonde verklaar is, om diegene wat die stelsel steeds probeer verdedig of goedpraat van die kansel af, die leviete voor te lees en op ’n Bybelse wyse te betug.”

”Die kerk kan egter vir hom hieruit ’n Moses-rol skep deur by wyse van gebed nou voorspraak te begin maak daarvoor dat die verheerliking van apartheid, soos wat die geval is met die verheerliking van Hitler in Duitsland, tot misdaad verklaar word.”

Lees die hele artikel by: http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Die-verheerliking-van-apartheid-is-ook-sonde-20101030

DERDUISENDE IN GELOOF VERENIG

Henrietta gebruik Neels Jackson se verslag oor die teenbeeld van die apartheid-nalatenskap, die groot konferensie. In die argief is daar ’n soortgelyke verslag van Willie van Heerden. “Volgens Jackson het baie van die konferensiegangers Kaapstad verlaat met nuwe insigtenuwe inspirasie en nuwe en versterkte netwerke waarbinne hulle werk. Hulle het hul opnuut verbind tot die visie wat 36 jaar tevore by die eerste Lausanne-kongres gemunt is: Dat die hele kerk die hele evangelie na die hele wêreld uitdra. En die gedagte van netwerke, van hande vat en saamwerk, is beklemtoon.”

Weer is dit merkwaardig dat veral sprekers uit Afrika se stemme met gesag gehoor is terwyl die plaaslike kerk so moeisaam sukkel om by ou apartheidsverdelingsverdelings verby te kom. Swart praat selde met wit, en omgekeerd.

WAT VAN GRONDWETLIKE VRYHEID VIR PLURALITEIT?

Een van die ononderhandelbare grondslae van demokratiese pluraliteit is vryheid. Daarvan is vryheid van spraak ’n hoeksteen. Die groot verskeidenheid menings is onmoontlik as sommige mense se spreekbeurte aan bande gelê word. Die NG Kerk het reeds haar ernstige kommer uitgespreek oor die moontlike beperkings op spraakvryheid deur die ANC en dit is op die forum beaam.

Hier ter sprake is die gedagteprikkelende kommentaar en ontleding “Selfs al sing die ANC ‘Suikerbossie’” van Charl-Pierre Naudé in Beeld van 29 Oktober 2010, met die subopskrif: “Dit verander steeds niks aan ons pluraliteit nie.”

’n Deeglike uiteensetting van positiewe en negatiewe vryheid word gegee, en daar word gewys dat al word negatiewe vryheid in ons grondwet neergepen, is die ANC besig met ’n verbloemde maar aggressiewe ontplooiiing van positiewe vryheid in ’n program van swart nasionalisme.

Naudé is een van die voorlopers en redaksielede van Vrye Woord’n skrywersgroep waarvan Charles Malan nuusbrief-redakteur is en wat ’n tuiste op LitNet het.

Naudé beklemtoon: “Ons is ’n land van plurale identiteite en groepe. Pluraliteit beteken dat die uitlewing van positiewe vryheid van groep tot groep sal verskil.” Maar, bevind hy: “Daar is nie ’n sfeer in ons maatskappy waar positiewe vryheid nie erg aangetas of uitgeskakel is nie, met rampspoedige gevolge.”

Die Afrikaanse kerke weet maar te goed hoe die meerderheid kan verenig om “afwykendes” se monde te probeer snoer – vra maar vir die Beyers Naudé’s en Nico Smiths vanuit oorspronklike NG Kerk-geledere. Die groot skande is dat kerk en staat in hierdie projek Houd-den-bek verenig was. Mag dit nooit weer gebeur nie.

Al verskil individue in die kerk ook hoeveel van bv. Wyngaard en Naudé se sienings, is dit ons almal se burgerlike plig om spraakvryheid vir hulle te verseker. En, amper ewe belangrik: om werklik na hulle te luister.

Webbestuurder
2010-10-31

IS DIE KERK ONS ANKER?

ONTVANG VAN DR. BEN DU TOIT:

Dankie, Charles, vir hierdie bydrae tot die gesprek (forum).

Ek moet jou sê, selfs ten spyte van die feit dat ek baie lief is vir die NG Kerkfamilie (soos wat ek oor die “NG Kerk” dink, altyd in familieverband) – en, afgesien van die destruktiewe rol in die vestiging en regverdiging van apartheid wat tot nou toe nog in al die hoeke van die kerkfamilie diep inslag gevind het), ek tog groot respek en dank het vir die enorme en bepalende rol wat die kerk in die geskiedenis van Afrika in die verlede gespeel het – was dit vir my nou onlangs ’n bevrydende oomblik toe ek besef het dat ek (waarskynlik ons almal?) ons vertrekpunt en motivering vir ons lewe as Christene nie in die kerk moet soek/vind nie, maar in God self. Hy en nie die kerk nie, is ons launching pad.

ANTWOORD

Hallo Ben

Dankie vir hierdie tydige beklemtoning dat ons anker nie die kerk is nie, maar God. As dit nie daarvoor was nie, het ek lankal soos talle ander uit die NG Kerk padgegee. As jong diaken het ek my eie leraars my in die steek gelaat en selfs verdoem omdat ek teen apartheid geagiteer en boonop geskei het. Die kerk is feilbare mense, God is onfeilbaar. Maar ja, dit bly ’n familie en laat ons protes teen voortgesette onregte steeds lojale verset bly. Dit is veel makliker om van buite te beskuldig eerder as om jou medegelowiges in die oë te kyk wanneer jy besware het. ’n Eerlike gesprek is egter ons elkeen se plig, al is dit in baie klein kring.

Ek was werklik trots toe die NGK, met jou groot invloed, haar sterk teen die bedreiging van spraakvryheid uitgespreek het. So ook met toenemende erkenning van diversiteit en die posisie van “die ander”. Met so ’n kerk kan ek ’n pad loop. Maar laat ons nie Heindrich Wyngaard se vraag vergeet nie: wat gaan ons as NGK verder as “regstellende aksie” DOEN?

Ek stuur jou boodskap ook na die ander besprekingsgroepe en plaas dit op die forum. Dankie!

Beste

Charles

Fanie Cronjé
2010-11-01

WAARDES EERDER AS INTEGRASIE NODIG

Ek het dit reeds op die forum gesê, die lidmate met wie ek as predikant elke dag te doen kry, lééf reeds integrasie by die werk, op die markplein en by die skole. Ek kan wragtig nie onthou wanneer laas ek iemand hoor sê het dat hy/sy ’n probleem het met ’n baas net omrede hy/sy van ’n bepaalde ras of groep is nie. Ek hoef nie nog integrasie te preek nie, dit is reeds afgedwing. Tog doen ek dit steeds, want ons kan nie te gou ophou nie.

Ek beleef ook dat lidmate oor die algemeen lankal nie meer ’n probleem het met iemand omdat hy/sy deel van ’n bepaalde groep of ras is nie. Ek hoor wel dat talle lidmate sukkel om die waardes wat ons verstaan as Christelike waardes met die waardes en werketiek wat hulle by sommige van hulle kollegas bespeur, in verband te bring.

Ek wil dit stel dat:

– die grootste aanhiser van rasse konflik tans nie die NGK is nie, maar die meerderheid lede van die huidige regering en leiers in staatsdepartemente;

– indien ons die uitwissing van rassisme in ons gemeenskap na ’n volgende vlak wil neem (verder as die skuldverplasende “dis-alles-wittes-die-NGK-en-apartheid-se-skuld”-vlak), ons die vraag na ’n gemeenskaplike waardesisteem / morele kode sal moet aanspreek;

– die andersheid tussen groepe in SA het al hoe minder met kleur te doen en al hoe meer met waardes.

Ons in die NGK moet rassisme op grond van ras en kleur bly beveg.

Wat gaan ons VGK-susters en -broers doen? Mag ek suggereer: help ons met ’n stuk werketiek en waardes wat ons as Suid-Afrikaners steeds nader aan mekaar sal bring. Kom ons wees ons land saam hierin tot voorbeeld.

Thom
2010-11-02

Na aanleiding van Gerhard Bothma se plasing op 13 Okt 2010 waarin hy na ene Robin Myers (eintlik Meyers) se veelseggende uitlatings verwys, wil ek graag van Gerhard verneem of hy dieselfde sienings huldig as Meyers dat hy hom so gretig aanhaal en erkenning aan hom gee asof hy ’n gesagvolle en navolgingswaardige gelowige is?

Kyk hier na Meyers se uitsprake http://www.youtube.com/watch?v=gLhHzbnHAOM en sê vir ons of dit die diversiteit is wat jy en al jou beskermhere in die diversiteitsforum in die wese van die NG Kerk wil sien.

Kyk ook na die volgende http://www.youtube.com/watch?v=SJYsbJIJ2k4 en sê vir ons wie beskryf jou siening die beste; Meyers (en Tutu) of Hitchcock?

Ek dink dit is belangrik en net EERLIK dat jy (julle) julle kaarte op die tafel gooi dat almal kan sien met wie en waarmee ons te make het.

Webbestuurder
2010-11-03

WEER: WAARMEE IS DIE FORUM BESIG?

Thom hou klaarblyklik nie van dit wat Gerhard Bothma te sê het en sy verwysing na Meyers nie, maar hy sê ook nie wat sy besware is nie. Gerhard kan namens homself praat, maar Thom bevraagteken uiteindelik die hele diversiteitsforum: “Ek dink dit is belangrik en net EERLIK dat jy (julle) julle kaarte op die tafel gooi dat almal kan sien met wie en waarmee ons te make het.”

Thom, al ons kaarte is van die begin af op die tafel. As jy bloot boontoe kyk, kry jy ons visie en missie. Daarnaas is verwysings na ’n hele argief en dokumente om meer perspektief te gee. Ons het boonop geduldig regses en beswaardes in die forumbesprekings geantwoord.

As jy redelik wil verskil en redeneer, is jy meer as welkom om dit te doen. As jy bloot ’n weersin het in dit waarvoor ons staan, is dit mos die eenvoudigste ding om die forum bloot te ignoreer. Waarom sit jy nie jou kaarte op die tafel nie?

gerhard bothma
2010-11-03

Die ongelowige, Thom, as ek nou ’n “Bybelse etiket” moet gebruik, besef nie dat hy/sy binne die magneetveld van God bestaan nie. Ek het op ’n dag besef – terwyl jy na my perssonlike staanplek vra – dat God my met ’n onweerstaanbare liefde/oorreding/noem-dit-wat-jy-wil na Hom toe trek. Hieroor is ek opgewonde en hierom is ek bereid om my eie standpunte/belewing te relativeer teenoor byvoorbeeld joune. Thom sê nie wát sy probleem met die aanhaling van Meyers is nie en ek verstaan nie mooi waarom ek myself m.b.t. Tutu (ek neem aan hy verwys na die emeritus aartsbiskop?) en Hitchcock (Alfred?) moet posisioneer nie. Ek haal graag uit die evangelies aan, maar stem nie saam dat Jesus ’n vraat en ’n wynsuiper was nie (Mt 11:19; Lk 7:34) en ek haal Jesus graag aan al stem ek nie met hom saam dat die mosterdsaadjie “die kleinste van al die soorte saad” (Mt 13:32) is nie. Ek gaan nie nou skielik die evangeliste of Jesus in twyfel trek of nooit weer aanhaal omdat ek oor iets nie met hulle saamstem nie. Of moet ek, Thom?

Thom
2010-11-05

Mnr die Webbestuurder, jy is heeltemal reg in jou afleiding.

Om die waarheid te sê, as dit nie daarvoor was dat mens op die amptelike webblad van die NG Kerk moes ingaan om op die diversiteitsforum te kom nie, sou ek verseker daarvan oortuig gewees het dat ek op die een of ander Emerging Movement of Ontluikende Kerk se webblad is; en dit het nie net betrekking op die videos waarna ek verwys het nie, maar ook op heelwat uitsprake deur verskillende deelnemers op hierdie blad.

Ek sien Gerhard is verbaas oor my reaksie en verstaan nie waarom ek van hom enige reaksie verwag nie. Dit is weer vir my verstommend dat hy nie eers die moeite gedoen het om na die videos te kyk waarna ek hom verwys het nie.

Hy haal Meyers aan uit sy boek “Saving Jesus From The Church” waarin Meyers die Kerk onder andere daarvan beskuldig dat dit die Kerk is wat Jesus as God gekroon het en dat dit nooit Jesus se idee of aanspraak was nie.

Maar as ons kyk na Gerhard se aanhaling, dan sê Meyers “But the truth is, one can embrace one’s own tradition, deeply and unapologetically, without invalidating the religious tradition of another” (2009:180).

Uit die konteks van die hele boek is dit baie duidelik dat Meyers, en Gerhard sonder enige twyfel stem met hom saam, die volgende met die aanhaling bedoel:- dat ons die reg het om ons eie opinie en/of tradisie te mag aanhang, solank dit ten diepste in ons binneste verborge sal bly en dit op geen wyse sal probeer verdedig nie. En terwyl jy jou Christelike tradisie hier diep in jou binneste geheim hou, mag jy ook nie die godsdienstige tradisies van die ander (diversiteite) kritiseer of devalueer nie.

Ek reken as volwaardige lidmaat van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, kan ek seker met reg versoek dat Gerhard sy posisie hier aan ons sal uitspel sodat ons duidelik kan weet wat die eintlike idees en opinies is wat hy as deel van die diversiteit in die NG Kerk wil laat gestalte kry.

Ek dink dit is net billik dat lidmate nie met vae woordspelings wat moontlik net verdraaiings is van bestaande terminologieë waarmee ons almal bekend is, mislei word en in stilswye sake maar hul eie loop laat neem net om môre oormôre uit te vind die gereformeerde leer is onder ons uit en ons het geen basis meer vir dit wat en waarin ons glo en geglo het vir soveel jare saam met die Kerk oor ’n tydperk van ongeveer 20 eeue heen nie.

Gerhard se aanhaling van Meyers se uitlatings is baie duidelik ’n poging om die indruk te skep dat sy (Gerhard se) siening nie in die lug hang nie maar deur ene Prof Meyers ondersteun word. Maar dan weer kom die vraag na vore watter bron of basis het Meyers waarop hy sy siening en opinie, (wat hyself ongelukkig nie vir homself ten diepste hou nie en wel redelik fel verdedig ten spyte daarvan dat dit sy voorskrifte aan Christene is) skoei?

Wanneer jy tog iemand se opinie of stelling aanhaal soos ons hier het, beteken dit tog dat jy die persoon se wêreldbeeld en siening self ook aanhang; waarom sal jy dit ongekwalifiseerd aanhaal as dit nie met jou eie siening strook nie?

Dit is dus die rede waarom ek die twee videos se skakels geplaas het sodat Gerhard aan ons ’n aanduiding moet gee waarmee hy dalk nie saamstem nie.

Ten slotte sê jy: “As jy bloot ’n weersin het in dit waarvoor ons staan, is dit mos die eenvoudigste ding om die forum bloot te ignoreer”. Net twee vrae; waarvoor staan julle? Daar word op die forum sterk betoog dat alle diversiteite positief bestuur moet word (bedoelende?).

Ek lees dat sekere persone alle tipe diversiteite binne die NG Kerk wil sien, met ander woorde as deel van die wese van die NG Kerk. Is dit die oogmerk van die Diversiteitsforum om die Gereformeerde karakter van die NG Kerk voortdurend te herformeer; indien wel, (vraag twee) aan die hand van watter riglyne gaan hierdie herformering plaasvind want soos ek dit sien word Skrifbeskouing en Diversiteitevaluering op hierdie forum baie effektief uitmekaar gehou.

Ek volstaan vir eers met hierdie paar vrae.

Webbestuurder
2010-11-06

WIL DIE FORUM DIE NG KERK HERFORMEER?

Thom vra verdere vrae veral aan Gerhard. Weer kan hy namens homself praat, maar ek antwoord weer op die skeptiese vrae oor die forum.

Thom vra: “Daar word op die forum sterk betoog dat alle diversiteite positief bestuur moet word (bedoelende?).” Daar word by visie en missie positiewe en negatiewe effekte van diversiteit gelys. Dit is jammer as Thom nie die verskil of die bevordering van die positiewe verstaan nie; ons kan dit nie weer hier aan hom verduidelik nie. Hy kan die argief en dokumente verder raadpleeg.

Hy vra: “Is dit die oogmerk van die Diversiteitsforum om die Gereformeerde karakter van die NG Kerk voortdurend te herformeer?” ’n Kerk wat nie by veranderde tye aanpas nie, is gedoem. Om egter die vraag te stel of ’n blote gespreksforum die hele karakter van die NG Kerk kan verander, is egter so eienaardig dat ’n mens nie eens weet hoe om te begin antwoord nie. Die NGK verander en “herformeer” haarself voortdurend op ’n dinamiese manier. Op diversiteitsterrein was niks miskien ’n meer dramatiese voorbeeld as die NGK se skulderkenning oor apartheid nie. ’n Aantal uitsprake oor omstrede terreine is ’n verdere bewys van aanpassing. Vir ’n kritiese ontleding van die forum en NGK se rol kan Thom my referaat oor teologiese perspektiewe op die forumdokumente gaan lees.

Sy tweede vraag; “Indien wel (hervormering), aan die hand van watter riglyne gaan hierdie herformering plaasvind want soos ek dit sien word Skrifbeskouing en Diversiteitevaluering op hierdie forum baie effektief uitmekaar gehou?”. Daar is bepaald geen ander riglyne vir die NGK as die Woord van God nie, en – in die geval van diversiteitserkenning – Christelike naasteliefde nie. Terwyl daar aanpassings oor omstrede diversiteitsake soos apartheid, gays, saamwoon en wat meer gemaak word, bly die basis steeds baie sterk in in die geloofsbelydenisse veranker. Daar is geen twyfel dat die NGK aan diversiteitsbevordering toegewy is nie, daarvoor is ’n taakspan aangestel en die forum opgerig. As Thom verdere Skrifgefundeerde bewysgronde daarvoor soek, moet hy maar die moeite doen om die argief en dokumente op die forum te gaan raadpleeg.

Thom is heeltemal reg dat ’n grenslose Skrifbeskouing en diversiteitsake of die forum doelbewus geskei word. Dit is ’n gefokusde forum oor diversiteit, nie oor enige moontlike geloofsake nie. As hy nie verder oor diversiteit wil praat nie, is daar ander forums tot sy beskikking. Dit is goed dat hy soek en vrae vra, maar dan moet hy darem antwoorde ook lees.

Thom
2010-11-06

Gerhard, wanneer jy met die Bybel wil omgaan, moet jy tog verseker dat jy in terme van die gesonde beginsels van Bybelse eksegese te werk gaan.

Jou toepassing van beide die aanhalings uit die Evangelies Matteus en Lukas, getuig daarvan dat jy verkeerde interpretasies daaraan heg en dus op grond daarvan subtiel die boodskap wil deurgee dat daar foute in die Bybel is en gevolglik huldig jy ongetwyfeld die siening dat die Bybel nie die onfeilbare Woord van God is nie.

Om byvoorbeeld te sê dat die Evangelie sê dat Jesus ’n wynsuiper en vraat was, is van alle waarheid ontbloot. Dit is tog baie duidelik dat dit nie die Evangelie is wat dit sê (bedoelende dat dit as ’n feit geldend was) nie, maar dit was die Fariseërs en diegene wat Jesus in ’n slegte lig wou stel, wat dit gesê het. So, as jy wel glo dat Jesus nie ’n wynsuiper en ’n vraat was nie, is jy in lyn met wat die Evangelie sê.

Die tweede verwysing na die mosterdsaad, is eweneens verkeerd deur jou geïnterpreteer. Jesus verwys uitdruklik na die feit dat die mosterdsaad een van die sade is wat die Jode in hul tuin of lande geplant het. As jy die feite sal nagaan sal jy sien dat dit absoluut die waarheid is dat van al die sade wat die mens as kruie, speserye of voedsel aanplant, die mosterdsaad die kleinste is.

Die Bybel en Jesus het nêrens die bewering gemaak dat die mosterdsaad die kleinste van alle sade op aarde is nie.

Beide hierdie pogings van jou om jou verwysing na en aanhaling van Meyers te probeer regverdig en daarmee te probeer voorgee dat jy nie noodwendig met die res van Meyers se sienings saamstem nie, misluk dus klaaglik.

Om die waarheid te sê, dit plaas die klem juis op jou dilemma om aan ons te verduidelik hoe jy Meyers se stelling wat jy aangehaal het, kan verdedig aangesien, soos jy weet, hierdie stelling van hom gegiet is op sy sienings wat onder andere in die twee videos waarna ek verwys, uiteengesit is. Dit is nie in isolasie gesê nie; en indien jy dit in isolasie wil aanhaal moet jy dit dan seker vir ons intrek binne die konteks van die Bybel anders beteken jou verwysing daarna en jou boodskap wat jy beoog het om daarmee te kommunikeer, absoluut niks meer as ’n persoonlike opinie met geen gesonde basis nie.

Jammer Gerhard, maar die enigste afleiding wat ek kan maak na jou opmerkings en reaksie, is dat jy nie alles wat in die Evangelies verkondig word, glo nie.

Verder ook het jy jou eie unieke siening van God wat nie deur die Evangelie ondersteun word nie, soos die sogenaamde “magneetveld van God”. God se genade oordek almal; Sy algemene genade soos lewe, reën, gesondheid ensomeer, en Sy spesiale reddende genade aan hulle wat aan Hom behoort. Dit is geen magneetveld nie.

Dan wil ek na jou stelling: “Hieroor is ek opgewonde en hierom is ek bereid om my eie standpunte/belewing te relativeer teenoor byvoorbeeld joune” wat net geen sin maak nie, verwys. As enigiemand werklik opgewonde is oor iets, sal dit bitter moeilik wees om so ’n persoon van die teendeel te oortuig; maar jy is bereid om in jou opwinding jou siening te relativeer teenoor die teenoorgestelde siening. Of is dit hoe jy die toepassing van diversiteitsbestuur binne die NG Kerk sien?

Laastens wil ek op jou vraagstelling “Ek gaan nie nou skielik die evangeliste of Jesus in twyfel trek of nooit weer aanhaal omdat ek oor iets nie met hulle saamstem nie. Of moet ek, Thom?” net die volgende antwoord: as jy ’n man soos Meyers aanhaal, dan ondersteun jy sy sienings omdat die stelling geskoei word op sy hele lewensbeskouing. Om nou tussen sy stellings te gaan rond krap en slegs die uit te soek wat moontlik vir jou kan werk en ’n sekere waarheid volgens jou kan verwoord, is dieselfde as om in varkkos te gaan rondkrap op soek na ’n stukkie kos wat nog nie vrot is nie en dit dan uit te haal en voor te sit.

Jammer, maar die Bybel is baie duidelik daaroor dat “slegte gesprekke bederf goeie sedes”(1 Kor 15:33). Jou bedekte erkenning dat jy met sommige dinge wat Jesus en die Evangeliste gesê het, nie saamstem nie is egter vir my ’n verdere bekommernis.

Ek sal dus graag jou verduideliking of verdediging van die aanhaling wil hoor.

Webbestuurder
2010-11-07

EINDE VAN DIE KRINGLOOPGESPREK

Gerhard het dit nou duidelik aan Thom gestel dat hy nie sy stellings gaan herhaal en sy bona fides gaan verdedig nie – hoekom moet hy? Die webbestuurder deel sy sienings heelhartig namens die groter webbeheer. Thom het nog nie sy kaarte op die tafel soos hy van die begin af van ons geëis het nie. Hy kry dus kans vir ’n kort repliek, mits dit oor diversiteit handel, voordat die gesprek beëindig word. Daar is ander webwerwe vir verdagmakery en sake wat niks met diversiteit te doen het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui