NG Kerk: Wes-Kaap wil Belhar amptelik as belydenisskrif erken

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk: Wes-Kaap wil Belhar amptelik as belydenisskrif erken | Netwerk24

Jana Marx

21 Oktober 2023

Die Belydenis van Belhar was Vrydag weer vlugtig op die agenda van die NG Kerk se sitting van die algemene sinode (AS) in Boksburg.

Die sinode van Wes-Kaapland het die sinode op sy 18de vergadering in ’n beskrywingspunt gevra om ’n proses te begin om art. 35.7 en art. 44 van die kerkorde te skrap, of so nie, te wysig, sodat dit vir streeksinodes, soos die Wes-Kaap, moontlik sal wees om ander belydenisskrifte soos Belhar by sy belydenisgrondslag in te sluit.

Die NG Kerk erken tans drie gereformeerde belydenisse: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dortse Leerreëls.

Die twis oor Belhar in die NG Kerk kom al jare.

Tans bepaal die NG Kerk se kerkorde dat tweederdes van die algemene sinode, tweederdes van elke streeksinode en tweederdes van alle kerkrade ten gunste van ’n nuwe belydenis soos die Belharbelydenis moet wees voordat dit amptelik by sy belydenisgrondslag ingesluit kan word.

As die tweederdemeerheid-beginsel geskrap word, hoef die algemene sinode ’n nuwe belydenis met slegs ’n gewone meerderheid in te stem, wat beteken 50% van afgevaardigdes + 1 moet ten gunste daarvan wees. Dit beteken dan ook dat die algemene sinode se stem genoegsaam sal wees en dat streeksinodes en kerkrade nie ook daardie meerderheid hoef te behaal nie.

Die algemene sinode het in 1990 reeds besluit dat Belhar nie in stryd is met die Skrif en die Drie Formuliere van Eenheid nie. In 2011 en 2013 is aanbeveel dat ’n proses begin word om Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te maak. In 2015 het die vergadering oor Belhar as vierde belydenisskrif gestem, maar die voorstel het nie met ’n tweederdemeerderheid geslaag nie.

Sedertdien kan predikante die Belharbelydenis in eredienste gebruik as hulle wil en daar is ook die Belharlied wat gemeentes kan sing. Sommige gemeentes het wel Belhar omarm, maar dit word steeds nie beskou as ’n amptelike NG belydenis nie. Teologiese studente in die NG Kerk kan met legitimasie kies of hulle Belhar wil onderteken of nie.

Belhar, wat sy wortels in die stryd teen apartheid het, is in 1986 deur die destydse NG Sendingkerk (vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk of VGK) aanvaar. Maar vir sommiges in die NG Kerk is dit te polities en te jonk. Die ander gereformeerde belydenisskrifte is honderde jare oud.

Die Belharbelydenis handel oor eenheid (breër as net kerkeenheid), versoening en geregtigheid. Dit is gebore uit die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke se status confessionis teen die amptelike teologiese en morele regverdiging van apartheid. Die NG Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is destyds uit die bond geskop weens hul steun aan die teologiese regverdiging van apartheid.

Die Wes-Kaap se beskrywingspunt het Vrydag weens tydsdruk vir slegs ’n kwartier gedien voordat dit terugverwys is na die algemene taakspan: regte. Dit sal waarskynlik weer oor vier jaar op die volgende algemene sinode se agenda wees.

Lees die Belharbelydenis hier: http://cape.urcsa.net/wp-content/uploads/sites/3/2018/06/AFRIKAANS-Belydenis-van-Belhar.pdf

Kommentaar

Hennie Mouton

Die problem is nou maar dat belydenisskrifte net volgens sekere vertolkings 100% klop met die Bybel, maar dan hanteer word asof dit gelykwaardig met Bybelgesag is, Dar word dan na die Bybel gekyk deur die bril van die belydenisskrifte ipv andersom. Die NGK sal beter doen as sy maar net die Bybel gebruik. Die begrip dat die Bybel voldoende is, moet by verre nie net gesé word nie, maar moet uitgeleef word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui