NG Kerk Vrystaat kies konsensuspad, sê nuwe moderator

 

*******

NG Kerk Vrystaat kies konsensuspad, sê nuwe moderator | Netwerk24

Deur Marita Herselman

18 Maart 2022

Ondanks verskille het die NG Kerk Vrystaat se sinodesitting konstruktief verloop. Ds. Jan Lubbe (57), nuwe moderator van die Vrystaatse moderamen, het met Marita Herselman gesels.

Verlede week se driedaagse sinodesitting in Bloemfontein het in ’n tyd van verdeeldheid onder lidmate en leraars begin.

Ná die vergadering blyk dit egter dat die breë middelgroep in die kerk verbreed het en lede dalk nie so ver verwyderd van mekaar is as wat gedink is nie, sê Lubbe.

Hy is al byna ’n kwarteeu die leraar van die gemeente Berg en Dal in die stad en voorsitter van die Vrystaatse kuratorium. Hy was ook in 2013 sowat ’n jaar en ’n half voorsitter van die Vrystaatse moderamen.

Hy het geweet daar is ’n moontlikheid om vir die nuwe vierjaartermyn tot moderator verkies te word, maar het opgesien om dan die vergadering te midde van die moeilike omstandighede in die Kerk te moet lei.

Hy het egter met die goeie leiers soos dr. Leon Foot (gemeente Welkom-Suid, skriba), dr. Dawie Botes (Welkom-Wes, ondervoorsitter) en ds. Adrie Potgieter (Senekal-Noord, bykomende dagbestuurslid), wat in die sitting verkies is, nooit alleen gevoel nie.

Uitdagende kwessies

Die eerste dag was, soos verwag, uitdagend met die hantering van onder meer die verslag oor selfdegeslagverbintenisse (SGV) en die een oor kerkverband en dolering.

Die besluitneming oor die verslae wat onderskeidelik deur die sinodale taakspan vir aktuele en leerstellige sake (STALS) en die tydelike taakspan vir kerkverband en dolering opgestel is, is na latere sessies in die vergadering uitgestel.

Ná breedvoerige gesprekvoering, het die vergadering verlede Donderdag besluit dat die moderamen, wat uit ringverteenwoordigers saamgestel is, studiegroepe moet aanwys sodat verdere besinning kan geskied en met ewewig daaroor verslag gedoen kan word. Gemeentes sal ook geraadpleeg word.

Die verslag van die sinodale taakspan vir Skrifgesag, wat verlede Dinsdag aangebied is, se aanbeveling dat die saak na ’n studiegroep verwys word om bondig saam te vat hoe die Bybel gelees word, is daardie selfde dag goedgekeur.

Wedersydse respek

“Ek is baie dankbaar dat hierdie prosesbesluite is en daar nie finale standpunte en keuses gemaak is nie. Daar is gesê kom ons luister en probeer ’n pad saamloop.”

Lubbe is verlig oor hoe die sitting afgeloop het.

“As jy die gevoel van die begin van Dinsdag vergelyk met hoe ons Donderdag afgesluit het, dink ek daar het groot deernis op die vergadering deurgekom.

“Dis asof ons almal kon ontspan, na mekaar luister. Daar wás oomblikke in die vergadering waar skerp teenstellings gemaak is, maar die oorwegende gevoel was dié van wedersydse respek en ’n poging om te onderskei wat regtig saak maak.”

Afgevaardigdes het nie as kwaaivriende uiteengegaan nie.

Ek dink die vergadering het ingekoop by ’n proses van saamloop en na mekaar luister – vir mekaar se standpunte begrip ontwikkel en dat ons hande gaan vat veral wat die werk betref.

Soeke na konsensus

Lubbe sê as die wyse waarop die NG Kerk Vrystaat die Bybel lees, kernagtig opgesom word, kan jy etiese sake soos SGV hanteer. Hy sê daar is basiese uitgangspunte waaroor lede kan saamstem wat SGV betref en as dié kerk ’n standpunt hieroor kan ontwikkel, “kan ons moontlik die angel getrek kry uit die omstrede debat oor ons verbintenis met die Algemene Sinode”.

“Die een ding wat gemeenskaplik by al die dolerende gemeentes en in hul beskrywingspunte is, is die (beswaar teen die) AS se besluit in 2019 oor SGV.”

Die besluit van die AS stel dat gemeentes self kan kies of hulle selfdegeslagverbintenisse wil bevestig of nie.

Die besluit oor of die Vrystaatse sinode uit die verband met die AS sal tree of nie, moenie op ’n ja-of-nee-stemming neerkom nie, maar ’n poging wees om konsensus te bereik, sê hy.

Sou die Vrystaatse sinode besluit om nie uit verband te tree nie, kan dit wees dat gemeentes wat so sterk daaroor voel, sal moet besluit of hulle bande met die Vrystaatse sinode verbreek.

Hy sê dit sal ’n baie hartseer dag wees wanneer gemeentes hulle van die Vrystaatse sinode losmaak, omdat dit die werksaamhede, die verskil wat die kerk in mense se swaarkry en in ons provinsie kan maak, sal raak.

Bede vir die Vrystaat

Lubbe sê hoewel die NG kerk klein geword het, het sy steeds ’n teenwoordigheid op die plekke waar sy geleë is.

“My bede vir regoor die Vrystaat is dat elke NG kerkgebou vir al die mense van daai dorp ’n plek van hoop sal wees. Dat mense wat honger, siek of bang is, weet hulle kan soontoe gaan en sal welkom wees.”

Sommige mense vra waaroor kibbel die NG Kerk Vrystaat nog oor hul standpunt wat SGV betref.

Lubbe sê dit gaan oor die enkeling in sy of haar verhouding met God en hul medemens. Hoewel dit na lang debatte en groot besluite klink, raak dit die wel en weë van gewone mense in hul alledaagse lewe met mekaar, in elke gemeente – wat ook al die onderwerp is.

“Dit gaan oor die enkeling wat aanvaar wil word, die enkeling wat hoop soek en die enkeling wat seerkry.”

Hy sê die belangrikste besluite wat op ’n sinodesitting gemaak word, gaan dikwels aan die kant verby, soos die goedkeuring van die begroting en reglement.

Dit is egter besluite wat die sinode in staat stel om hul werksaamhede te doen en ’n praktiese verskil in mense se lewens te maak.

Teologiese opleiding

Hy is dankbaar dat die kuratorium se aanbevelings oor teologiese opleiding in die verslag wat op die sinode voorgehou is, met ’n sterk meerderheid goedgekeur is.

Die ooreenkoms tussen die NG Kerk Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat teologiese opleiding betref, gaan vir die volgende vyf jaar voort.

Die kerk se seminarium het ’n program aanvullend tot die fakulteit se opleiding en bied Woensdae twee klasse per week as deel van hul formele opleiding by die UV aan, asook ’n verskeidenheid van naweek-afsonderings en praktiese werk in gemeentes.

1 thought on “NG Kerk Vrystaat kies konsensuspad, sê nuwe moderator”

  1. Solank die kerk dink dat SGV ’n etiese saak is, solank sal sulke besluite geneem word. Verharding in sonde is ’n saligheidssaak, nie ’n etiese saak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui