NG Kerk-manne slinger beskuldigings oor gays

******

NG Kerk-manne slinger beskuldigings oor gays | Netwerk24

Deur Jean Oosthuizen

30 Oktober 2016

Die NG Kerk se vorige aktuarius is in ’n openbare woordestryd betrokke met die redakteur van die kerk se amptelike koerant, Kerkbode, oor sy beweerde onbehoorlike gedrag in die gay-debat.

Dr. Johann Ernst, tot verlede jaar die hoof van die kerk se regsake, beskuldig Neels Jackson dat hy ’n “onbehoorlike rol” gespeel het in die debat wat glo by volgende maand se buitengewone sinodesitting oor die kwessie blootgelê sal word.

Jackson en Ernst beskuldig mekaar oor-en-weer op Facebook van “drogredenasies”.

Ernst sê Jackson het as redakteur van Kerkbode stemming gemaak vir ’n pro-gay-besluit op verlede jaar se algemene sinode en verkondig nou halwe waarhede en leuens daaroor.

Volgens hom is afgevaardigdes op verlede jaar se geskiedkundige sinode emosioneel afgepers om ten gunste van die besluit te stem dat gays mag trou.

Dit kom nadat Jackson in verskeie agtereenvolgende inskrywings op sy Facebook-blad sekere “drogredenasies” oor homoseksualiteit in die NG Kerk aan die kaak gestel het.

Ernst sê Jackson se weergawe van wat tot verlede jaar se omstrede sinodebesluit aanleiding gegee het, is misleidend en vals.

“Wag tot jy die agenda vir die buitengewone vergadering ontvang het, want dan sal jy sien wat jou eie onbehoorlike rol daarin was,” het Ernst op Jackson se Facebook-blad geskryf.

Jackson sê dit is ‘n drogrede­nasie dat die algemene sinode enigiets op die kerk se lidmate afdwing. “Die algemene sinode het juis ruimte geskep dat elke gemeente sy eie standpunt kan inneem, juis sodat niemand gedwing sal word en niemand se gewete gebind sal word nie.”

Ernst meen dit is ’n wanvoorstelling:

“Hierdie saak is vooraf en van buite die vergadering georkestreer en jy het geen geringe aandeel daarin gehad nie.”

Die voormalige moderator van die NG Kerk, prof. Nelus Niemandt, het ook tot die debat toegetree en in die bres getree vir Jackson se standpunt.

Niemandt sê die opmerkings oor emosionele afpersing waarna Ernst verwys, onderskat die onderskeidingsvermoë van die sinode se afgevaardigdes.

“Na my mening het elkeen daar presies geweet waaroor sake gaan. Daar was deeglike gesprekke en die verskillende standpunte was duidelik geartikuleer.

“Dit is ’n onderskatting van 200 mense se integriteit om nou ex post facto te beweer hulle is deur die teenwoordigheid van gays geïntimideer (bid jou dit aan!).”

Niemandt sê hy ken baie van die afgevaardigdes as intense gelowiges en troue kerkmense en voel regtig jammer dat hulle nou skielik afgemaak word as mense wat maklik gemanipuleer word.

Ernst het teruggekap en sê Niemandt maak ’n fout as hy dink alles wat by die sinode gebeur het was bona fide. Volgens hom was verskeie afgevaardigdes ná die sinode getraumatiseerd oor die besluit wat daar geneem is weens die “emosionele afpersing”.

Een van hulle was volgens hom die moderator van ’n sinode wat haar belewing in retrospeksie by ’n “uitgelese vergadering” gegee het.

Ernst sê dit het hom ’n paar maande geneem om vir homself te bepaal wat werklik by verlede jaar se algemene sinode gebeur het. Hy het later tot die gevolgtrekking gekom van die afgevaardigdes is emosioneel afgepers.

Hy voorspel die besluit van 2015 kan ter syde gestel word as ? hof daaroor moet beslis.

‘n Ooreenkoms wat voor verlede jaar se sinodesitting bereik is dat daar geen finale besluit tydens die sinode geneem sou word nie, is volgens Ernst in kwade trou verbreek deur individuele lede van die moderamen.

“Daar was en is onregmatigheid en dit strek die NG Kerk tot skande. Dit gaan nie help om nou mooi broodjies te bak en allerlei verontskuldigings of regverdigings op te diep nie. Al wat ons kan doen, is om te probeer red wat daar nog te redde is. Ek waarborg jou as die algemene sinode nie ’n eerbare weg hieruit vind nie, sal die saak definitief in die hof gaan draai,” het hy op Facebook geskryf.

Ernst het op navraag volgehou daar was onregmatige beïnvloeding by verlede jaar se algemene sinode. Hy sê die hangende appèlsake sal dit bewys.

Jackson het aan Rapport gesê Kerkbode het wel ’n standpunt oor homoseksualiteit ingeneem in ’n hoofartikel, want dit is die werk van ’n redakteur om standpunt in te neem.

Kerkbode se standpunt bevestig verlede jaar se sinodebesluit, sê Jackson.

“Ek het ook ’n persoonlike standpunt oor die saak wat bekend was toe hulle my aangestel het en voel vry om dit op my Facebook-blad te stel, maar ek gebruik nie Kerkbode om my persoonlike standpunt te bevorder nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui