Witfield se Reformatoriese verklaring uitgereik tydens Hervormingsfees 2016

HIER STAAN ONS

Oproep tot reformasie uitgereik deur die Kerkraad van Witfield en onderteken deur kerkraad en lidmate tydens ons Hervormingsfees 28-31 Oktober 2016

HIER STAAN ONS, ONS KAN NIE ANDERS NIE.

Daarom doen ons ’n dringende beroep op die kerkleiers en vergaderings van ons geestelike moeder, die NG Kerk, en al die ander protestantse kerke in SA:

TERUG NA GOD EN SY WOORD

Met Hervormingsfees 2016 vier ons die 499ste verjaarsdag van die groot kerkreformasie. Ons dank God dat Hy gelowiges soos Martin Luther, se oë geopen het om op 31 Oktober 1517 onbevrees die 95 dwalinge van die Roomse kerk te ontmasker deur dit teen die deure van die slotkerk in Wittenberg te spyker, en terug te keer na die Bybel en sy Outeur.

Vir eeue lank bely ons as protestante al dat dit kenmerkend is van die valse kerk om aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe te skryf as aan die Woord van God (NGB art 28). Daarom was die Reformasie so noodsaaklik. Hulle moes getuig teen kerkleiers en kerkvergaderings wat nie meer onvoorwaardelik wou buig voor die gesag van die Woord nie.

Vandag, byna 500 jaar later, moet ons met hartseer en skaamte erken dat vele van ons protestantse kerke besig is om weer dieselfde pad te loop. As selfs protestantse kerke nie meer onvoorwaardelik die finale gesag van die Bybel as Woord van God aanvaar nie, is ons terug in die donker eeue. Die Bybel se duidelike boodskap oor morele en etiese kwessies word vandag skaamteloos deur kerkleiers en kerkvergaderings vermink om die sondige humanistiese denke en redenasies van die postmoderne mense tot hul eie verderf te regverdig.

Praktiese voorbeelde is onlangse kerklike besluite oor vrae soos: Is daar regtig ’n Satan?Is saamwoon en seks buite die huwelik vandag nog sonde? Mag homoseksuele en lesbiese huwelike kerklik bevestig word? Die ontsondiging van homoseksuele en lesbiese praktyke. Die toelating van praktiserende homoseksuele tot die predikantsamp.

Afvalligheid van die Woord is simptomaties van nog ernstiger afvalligheid nl afvalligheid van God-Drie-Enig. Daarom wil ons in hierdie oproep aansluit by die hoofinhoud van Jesus se prediking volgens Markus 1:15 “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.’ ”

  • “Bekeer julle” is ’n oproep terug na God en
  • “glo die Evangelie” is ’n oproep terug na Sy Woord!
Kyk ook:

Daarom pleit ons op hierdie Hervormingsfees, wat vanjaar saamval met die buitengewone sinodesitting wat ’n historiese keerpunt in die NG Kerk kan wees, by die kerleiers en vergaderinge van ons geestelike moeder om vas te hou aan dit wat ons al eeue lank met die hart glo en met die mond bely oor God en Sy Woord (NGB Art 3-7).

  • Kom ons keer terug na die Goddelike inspirasie van die Bybel.
  • Kom ons keer terug na die onvoorwaardelike gesag van die Bybel.
  • Kom ons keer terug na die waarheid en betroubaarheid van die Bybel
  • Kom ons keer terug na die duidelikheid van die Bybel
  • Kom ons keer terug na die genoegsaamheid van die Bybel
  • Kom ons keer terug na die God van die Bybel
  • KOM ONS KEER TERUG NA GOD EN SY WOORD!

SOLI DEO GLORIA

ONDERTEKEN DEUR MEER AS 200 LIDMATE VAN NG KERK WITFIELD

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui