NG Kerk 2019 besluit oor SGV: Vrae en antwoorde

In Oktober 2019 het die NG Kerk se Algemene Sinode besluit om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings. Dit het baie vrae laat ontstaan. Hier volg antwoorde op ’n paar vrae.

Vir nog vrae en antwoorde, kyk:

Waaroor gaan die 2019 besluit oor SGVs?

Die volledige besluit kan hier gelees word: 2019 NGK homoseksuele besluit

Voor die besluit kon gemeentes nie mense in homoseksuele verhoudings in leiersposisies in die kerk aanstel nie en kon ook nie homoseksuele verbintenisse voltrek nie. Nou kan individuele gemeentes self besluit hoe hulle homoseksualiteit in hulle gemeentes hanteer.

Indien homoseksualiteit sonde is, watter redenasies voer progays in die kerk aan?

Hulle voer aan dat die gesag van die Bybel vir hulle net so belangrik is as vir enige ander persoon in die kerk, maar dat dit ’n kwessie van verskillende interpretasie is.

Adrio König, byvoorbeeld, redeneer dat homoseks slegs sonde is vir heteroseksuele mense, maar nie vir homoseksuele mense nie. Kyk Bybel sê niks oor gay wees.

Immanuel Van Tonder beweer dat die Bybel niks oor liefdevolle homoseksuele verhoudings sê nie – die Bybel praat slegs van homoseksualiteit in ’n okkultiese konteks, homoseksuele tempelprostitusie, pederastrie en ander onkuise homoseksuele dade. Kyk Wat van liefdevolle, gay verhoudings?

Progays wend hulle tot die “wetenskap” en redeneer dat homoseksueles so gebore word. Dit is ten spyte daarvan dat hierdie argument reeds baie deeglik weerlê is (kyk Word jy gay gebore?). Oor voorheen homoseksuele mense maak hulle dit bloot af deur te redeneer dat hierdie mense nooit in die eerste plek homoseksueel was nie of dat baie van hierdie mense maar net weer terugkeer na die homoseksuele leefstyl.

Baie gebruik die argument: Wie is ons om te oordeel? (Kyk Homoseksualiteit: vrae en antwoorde – Wie is ons om te oordeel?)

As homoseksualiteit so ’n ernstige kwessie is, hoekom het dit so ver in die NG Kerk gevorder?

Dit is waarskynlik ’n kombinasie van dinge:

  1. Progay of randkwessie: Alhoewel hulle moontlik nie in die meerderheid nie, is daar ’n beduidende hoeveelheid predikante en lidmate wat die 2019-besluit steun. Óf hulle voel dat dit ’n randkwessie is en dat daar belangriker kwessies in die kerk is. Daarom maak hulle nie beswaar oor die dinge wat in die NG Kerk gebeur nie.
  2. Volg predikant(e) slaafs na: Waarskynlik die meerderheid van lidmate en selfs kerkraadslede volg hulle predikant(e) slaafs ná. (Ten spyte daarvan dat kerkraadslede veronderstel is om die bewakers van die gesonde leer te wees.) Progay leraars kry dit reg om hulle sin op die kerk af te dwing omdat kerkraadslede en lidmate nie hierdie kwessie as belangrik genoeg ag om daarvoor op te staan nie.
  3. Passief: Waarskynlik die grootste persentasie van predikante en lidmate in die NG Kerk voel ongemaklik met die besluit, maar is passief. Dit is nie vir hulle belangrik genoeg om daarvoor te veg nie. Lidmate is tevrede indien hulle predikant en/of kerkraad standpunt ingeneem het teen homoseksualiteit of ’n verklaring uitgereik het. Daar is ook selfs lidmate wat redeneer dat alles reg is solank die predikant(e) van hulle gemeente nie progay stellings van die kansel maak nie. Om dit meer kras te stel: Hulle is liewer vir hulle gemeente as wat hulle vir God se saak is.
  4. Behoudendes verlaat: ’n Groot klomp behoudendes het besef dat hierdie geveg in die NG Kerk nie gewen gaan word nie, en het reeds die NG Kerk verlaat (kyk byvoorbeeld NG Kerk verloor 50 predikante per jaar).

Die artikel, Sinode Vrystaat gaan nie spesiale sinodesitting hou nie, gee ’n goeie aanduiding van die situasie in die Vrystaat.

Sal die NG Kerk nog kan omdraai?

Sommige mense glo dat die meerderheid lidmate in die NG Kerk behoudend is en daarom is daar nog hoop dat die NG Kerk sal omdraai. Is dit nie ’n moontlikheid nie?

Nee. Die NG Kerk is waarskynlik reeds vir ongeveer 20 jaar op ’n verkeerde teologiese pad. Daar word beweer dat die 2002 NGK besluit oor skrifgesag die begin van die teologiese verval was. Neem egter in ag dat Ben du Toit reeds in 2000 sy omstrede boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd uitgegee het en daarvoor is hy in 2001 beloon met die Andrew Murrayprys. Dus is die NG Kerk se verkeerde teologiese pad nie iets wat skielik gebeur het nie. Tussen 2005 en 2011 het drie boeke die lig gesien om die dwaling in die NG Kerk uit te wys (al drie kan gratis afgelaai word):

En dan was daar nog vele ander pleitskrifte (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap).

Niks hiervan het gehelp om die NG Kerk te laat omdraai nie.

Dit is ook baie duidelik dat al drie die teologiese fakulteite (Pretoria, Bloemfontein en Stellenbosch) nie meer die gesonde leer verkondig nie.

Hierdie situasie is vir jare in die NG Kerk geduld en dit het net erger geraak.

Kyk byvoorbeeld:

Intussen is daar twee gay predikante in gemeentes in die Kaap in 2019 aangestel:

  1. Louis van der Riet: 17 Feb 19 by Parkegemeente in Kraaifontein.
  2. Philipp Dietmann: 14 Jul 29 by NG gemeente Stellenberg.

As deel van die 2019-besluit het die Algemene Sinode ook aan ATLAS opdrag gegee om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. Tans word daaraan gewerk (kyk Brief aan ATLAS: Die beoogde formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag)

Predikante kan nou al selfs aansoek doen by die Departement Binnelandse Sake om selfdegeslagsverbintenisse te voltrek (kyk NG predikante kan nou by die staat aansoek doen om homoseksuele huwelike wetlik te verbind).

Hoekom sou hierdie behoudendes, wat vir soveel jare min/niks gedoen het, nou skielik tot aksie wou oorgaan? En wat sou hulle plan wees?

Verder, indien homoseksualteit omgekeer word, wag daar nog ’n hele string ander sake wat opgedraai moet word. Kyk ook Gay-besluit gestuit, maar kan NGK omdraai? (29 Maart 2016)

Wat was die Moreletapark beraad op 25-26 Februarie 2020?

(Kyk Moreletapark beraad 25-26 Februarie 2020.)

Dit was ’n samekoms vir predikante en lidmate vir wie hierdie besluit problematies is. Dit het egter oor meer as net die 2019 besluit oor SGVs gegaan: Die besluit oor SGVs was net die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Die doel van die beraad was om te praat oor verskillende opsies vorentoe.

Watter opsies is daar tans vir behoudendes in die NG Kerk?

1. Aanvaar die situasie

Indien gemeentes die situasie so aanvaar, kan hulle egter nie verwag dat dinge in die NG Kerk sal verander nie. Inteendeel, dit gaan baie hoogs waarskynlik meer agteruit gaan. Hierdie gemeentes moet egter herinner word aan:

  • Dietrich Bonhoeffer: “Om stil te bly in die aangesig van die bose is self boos; God sal ons nie onskuldig verklaar nie. Om nie te praat nie, ís om te praat. Om nie op te tree nie, ís om op te tree.”
  • Edmund Burke: “Al wat nodig is vir die bose om te oorwin is dat goeie mense niks doen nie.”
  • Jesus: “Wie nie vír my is nie, is teen my en wie nie saam met my die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar.” (Lukas 11:23)

2. Hou aan met gesprekvoering

‘n Mens hoor baie keer die vraag: Hoekom moet die behoudendes uit die NG Kerk gaan? Laat die liberales vir hulleself ’n kerk gaan stig. Dit is immers hulle wat die behoudende pad verlaat het.

‘n Mens verstaan hoekom die vraag gevra word, maar dit is nie meer ’n relevante vraag of redenasie nie.

Dit is uiters naïef om te dink dat enige gesprekvoering enige vrugte sal afwerp. Soos reeds hierbo gesê was daar al in die verlede vele inisiatiewe van verskillende mense en daar is al soveel keer in die verlede probeer om hierdie kwessies by sinodes te bespreek, maar dit het hoogstens die huidige toestand bietjie uitgestel. Die NG Kerk se leierskap, die NG Kerk se kommunikasie (Kerkbode) en die teologiese fakulteite is oorgeneem deur liberale denke. Die NG Kerk gaan nie omdraai nie. Dit is belangrik dat hierdie feit erken word.

3. Doleer

(Kyk Doleansie). Gemeentes wat doleer kan tipies hulle sinodale bydraes terughou, wegbly van streeksinodes en alternatiewe geloofsnetwerke/assosiasies soek. In gevalle waar ’n groot persentasie gemeentes van dieselfde ring doleer (soos die Ring van Heilbron en die Ring van Standerton) kan hierdie gemeentes voortgaan met Ringsittings. Doleansie is egter bedoel om ’n tydelike maatreël te wees totdat die Algemene Sinode na die waarheid teruggekeer het. In hierdie geval word daar nie verwag dat die Algemene Sinode sal omdraai nie. Die vraag is dus of doleansie ’n werkbare opsie is. Die antwoord is “ja”. Doleansie kan gemeentes tyd gee om te besluit wat die pad vorentoe is sonder om die Algemene Sinode verder te befonds.

4. Individuele gemeentes breek weg/skeur

Individuele gemeente kan wegbreek van die NG Kerk en op hulle eie funksioneer. In so ’n geval sal die gemeente ook kontak maak met ander behoudende gemeentes (alternatiewe assossiasies soek). Geskiedenis het egter gewys dat alle lidmate van die gemeente moet saamstem om weg te breek. Indien lyk my selfs een lidmaat nie wil wegbreek bly die bates van die gemeente die NG Kerk se eiendom. Omdat daar altyd mense in die gemeente sal wees wat nie sal wil skeur nie, sal ’n gemeente wat individueel wegbreek hoogs waarskynlik al hulle bates verloor en van nuuts af moet begin. As dit egter die prys vir gehoorsaamheid aan God is, dan moet ’n mens dit so aanvaar.

5. Streeksinode breek weg van Algemene Sinode (Artikel 37)

Artikel 37 van die Kerkorde laat streeksinodes toe om van die AS weg te breek oor teologiese verskille. Wanneer ’n streeksinode van die NG kerk wegbreek, kan gemeentes in ander streeksinodes by hierdie streeksinode inval. Hierdie groep wat wegbreek sal moet besluit oor ’n moontlike nuwe naam, teologiese opleiding, legitimasie, beroeping, ’n Kerkorde, ’n amptelike webblad ens. Die vraag is of daar een streeksinode in die NG Kerk is wat die moed sal hê om weg te breek? Dit lyk nie so nie. Hier volg ’n lys van die streeksinodes met ’n artikel wat meer oor hierdie streeksinode sê (indien beskikbaar):

  1. Wes-Kaapland: Sinode Wes-Kaapland besluit oor selfdegeslagverhoudings (Mei 2019)
  2. Oos-Kaapland
  3. Noord-Kaapland
  4. KwaZulu-Natal
  5. Vrystaat: ‘Geen vrees vir skeuring,’ sê NGK
  6. Goudland: Goudland: ‘Ons betaal wat ons kan’
  7. Noordelike Sinode
  8. Hoëveld: Hoëveld kry ’n nuwe span leiers
  9. Oostelike Sinode
  10. Namibië

Watter van die opsies hierbo is die beste?

Opsie 1 (aanvaar) is voor die handliggend nie ’n goeie opsie nie – as jy glo dat homoseksualiteit sonde is, dan is dit net ’n vals kerk wat dit sal normaliseer.

Opsie 2 (praat verder) gaan nie help nie.

Opsie 5 (Artikel 37 – streeksinode breek weg) is verseker die mees effektiefste en maklikste opsie. Dit gaan egter verg dat ten minste een streeksinode van die Algemene Sinode sal moet wegbreek.

Opsie 4 (gemeente breek weg) is ’n komplekse opsie wat baie jare kan sloer en selfs gemeentes in die hof kan laat draai. Geskiedenis het gewys dat die kans baie goed is dat die gemeente hulle bates gaan verloor indien selfs ’n baie klein minderheid van lidmate wegbreking sou teëstaan.

Opsie 3 (doleer) is baie eenvoudig en baie effektief (indien gemeentes hulle sinodale bydraes terughou). Ek is seker dat gemeentes wat doleer en hulle sinodale bydraes terughou baie rustiger slaap as dié gemeentes wat daarteen besluit en voortgaan om elke maand hulle sinodale bydrae te gee aan ’n kerk wat nie meer daarop aanspraak kan maak dat hulle die gesag van die Bybel aanvaar nie.

Is dit eties/christelik om jou sinodale bydrae terug te hou? Is dit nie soos afpersing nie?

Eerstens: Sinodale bydraes is nie verpligtend nie, maar vrywillig. Daarom is dit gemeentes se volle reg om sinodale bydraes terug te hou.

Tweedens: Wat is die alternatief? Opsie 1 (aanvaar) is duidelik nie moontlik nie. As jy glo dat homoseksualiteit sonde is, dan is dit net ’n vals kerk wat dit sal normaliseer. Opsie 2 is uit – ons gaan nie mekaar vind deur verdere gesprekke nie. Opsie 5 (streeksinode breek weg [Art 37]) is die eerste prys, maar nie baie waarskynlik nie. Dus laat dit ’n mens met opsie 4 (gemeente breek weg). Die vraag is of dit nie ook onchristelik is om as gemeente van die NG Kerk weg te breek nie?

Vergelyk dit met die volgende voorbeeld: Julle gemeente ondersteun ’n sendeling in China. Julle begin ’n ongemak ervaar met die sendeling se teologiese sieninge en die terugvoer van ander mense bevestig julle ongemak. Uiteindelik gee die sendeling te kenne dat hy die Christelike geloof verlaat het, maar vra julle om hom vir ten minste nog ’n jaar finansieel te ondersteun totdat hy ’n ander inkomste gekry het. Ek dink jy sal saamstem dat dit hopeloos te veel gevra sou wees.

Wat van verdienstelike projekte wat skade gaan ly as die AS se befondsing gesny word?

‘n Mens kan nie toelaat dat hierdie projekte behoudende gemeentes as gyselaar aanhou deur hulle te keer om te doleer of weg te breek nie. Gemeentes wat doleer of wegbreek kan baie maklik direk by hierdie projekte betrokke raak en op ’n baie meer persoonlike vlak ondersteuning bied.

Wat is die rigting waarin Moreleta Kairos Netwerk dink?

Die Moreleta Kairos Netwerk besef dat die NG Kerk te ver gevorder het om om te draai. Daarom is die korttermyndoelwit om gemeentes aan te moedig om te doleer.

Indien daar ’n streeksinode is wat wegbreek van die Algemene Sinode (Artikel 37) sal die fokus verskuif om gemeentes aan te moedig om hulleself aan te sluit by daardie streeksinode.

Ten slotte

Hierdie is ’n tyd waar Christene getoets word aangaande waar hulle hart lê:

  • Vrede/liefde tussen mense
  • Eenheid in die kerk
  • Die NG Kerk as denominasie
  • Kerkgeboue
  • Gehoorsaamheid aan God

Mag Christene in hierdie tyd reg kies.

Johannes 16:13

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.

3 thoughts on “NG Kerk 2019 besluit oor SGV: Vrae en antwoorde”

  1. As daar gekyk word na al die verskillende opinies omtrent die kwessie van homoseksualiteit; al die onmin wat dit onder lidmate veroorsaak; al die verskeurdheid wat dit meebring; al die ure wat reeds aan besprekings bestee is en boweal, die wyse waarop God en sy Woord hierdeur geminag en bespot word, is daar by my, ’n ware gelowige en lewenslange lid van die NG Kerk, net een vraag wat ek graag sonder skroom beantwoord wil hê, naamlik: Het die NG Kerk nie ’n vals kerk geword nie? Voldoen ons kerk nog aan die vereistes om ’n ware gereformeerde kerk van Jesus te wees? Het ons kandelaar steeds ’n staanplek? “Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie”.
    Kan iemand hierdie vraag vir ons beantwoord asseblief?

    1. Anda, dankie dat jy ’n toegewyde lidmaat is en bekommerd is oor wat aangaan.

      Jy vra: “Het die NG Kerk nie ’n vals kerk geword nie?” As jy verder hier op die webblad rondlees, sal jy sien dat daar ’n bepaalde groep kerkleiers is wat oor jare al die NG Kerk op ’n verkeerde koers lei. Daar is egter nog baie leraars en lidmate wat God en Sy Woord hoog ag en ongelukkig is oor die koers wat die kerk inslaan. So dit is nie die hele “liggaam” wat vals geword het nie. Daar is ’n groeiende getal wat doleer, dit beteken om hulself te distansieer van valse besluite wat geneem word.

      Voldoen ons kerk nog aan die vereistes om ’n ware gereformeerde kerk van Jesus te wees? Met van die laaste besluite plaas die NG Kerk se leiers die kerk buite die groter wereldwye familie van NG kerke. Hier is baie artikels wat wys hoe sterk lidmate en selfs hele gemeentes daaroor voel.

      Jou derde vraag “Het ons kandelaar steeds ’n staanplek?” sal net ons genadige Here weet.

      Seen en sterkte toegebid! Staan vas by wat jy weet en glo.

  2. Die NG Kerk se hoofleiers is verantwoordelik vir die skeuring wat dreig. (Wat in beginsel reeds besig is om te gebeur). Hulle totale onvermoê om die Bybel se woorde te verstaan is verstommend. Hoekom word daaroor geredeneer? Gaan terug na die basiese woorde van die Bybel. Lees die Bybel ’n slag soos ’n kind. Dan sal julle oê dalk oopgaan. moet nie iets probeer sien wat nie daar is nie. Sien dit wat daar is. Hou asb op om die direkte opdragte, reêls en wette van van die Bybel te “interpreteer”. Dit is net die duiwel wat besig is om mense te gebruik om die Bybel (God se Woord) te verdraai!

    Die Bybel is beide eenvoudig en duidelik oor hierdie saak. Daar is regtig GEEN vlak van interpretasie nodig nie. Dit is wat dit is. Eenvoudig!

    Verwys: Lev. 18:22; “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde”.
    Lev. 20:13; In hierdie skrifgedeelte word homoseksualiteit ondubbelsinnig as n afskuwelike sonde beskryf.
    Rom. 1:24–28; In hierdie skrifgedeelte word daar meer algemeen na homoseksualiteit as sonde verwys. nie. Dit word wel ondubbelsinnig as perversiteit beskryf en dat mense hulle aan hulle eie verdraaide opvattings oorgee.
    1 Kor. 6:9: “Moet julleself nie mislei nie” Lees wat hierna volg. Daar is n duidelike straf – “julle sal nie deel kry aan die koningkryk van God nie”.
    Homoseksualiteit, as daad, word dus veroordeel as ’n afskuwelike sonde. Dit is baie ondubbelsinnig en dit is verstommend dat die sinode selfs hieroor redeneer.

    Het die duiwel dan so n enorme houvas op selfs die sinode dat die sonde wat op die tafel is, nie deur die sinode gesien kan/wil word nie? Wil die sinode die Bybel herskryf om van die sondes een vir een uit te skryf ter wille van mense? Wat van kindermollesteerders, kleptomane (rowers), vrouemishandelaars (fisiese geweldenaars en verkagters), moordenaars ens. Skryf dan sommer alles. Almal het mos “menseregte” en “gevoelens” wat belangriker is as God se Woord. Skryf alles uit dan is daar mos nie meer sondes nie. Maklik! Almal gaan Hemel toe! Dit klink dalk baie kras gestel maar as dit die pad is wat die NG Kerk sinode volg, het die duiwel reeds geseêvier en is die kerk (NG) soos ons hom ken, verdoem.

    Die sinode het n bepaalde rol om te vervul deur die direkte opdragte soos in Die Bybel opgeteken te bekragtig, te beklemtoon en tug toe te pas waar en soos benodig.
    Huidig is my algemene gevoel dat die sinode wil doen en sê wat mense pas eerder as om die WIL VAN GOD na te streef.

    Dis niks anders nie as eiewillige, misleidende, mensgerigte, God-vernederende leuens en valsheid om die sonde van SGV te ontken nie.

    Mat.19:4 “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” Hoekom dan enige onsekerheid of debat hieroor? Verstommend!

    Paulus se waarskuwing aan Timoteus klink in n mens se ore: (2Tim.4:2): “… verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig, weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”

    Moet julleself nie mislei oor SGV (selfdegeslagverhoudings) nie maar moet veral nie ander hieroor probeer mislei nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui