Brief aan ATLAS: Die beoogde formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag

Dr Henriëtta Klaasing het die volgende brief op 4 Julie 2020 aan Kerkbode en Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, gestuur. Claassen is ook op ATLAS (Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) en hy is gevra om dit ook aan ander lede te stuur.

Hierdie brief is geskryf na aanleiding van punt 10 van die 2019-besluit oor selfdegeslagsverhoudings:

10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Die uiteinde hiervan is dat die NG Kerk se sinodale kantoor by die staat aansoek gedoen het dat predikante in die NG Kerk kan aansoek doen om burgerlike verbintenisse te voltrek. Kyk NG predikante kan nou by die staat aansoek doen om homoseksuele huwelike wetlik te verbind (30 Julie 2020)

*********

Brief aan ATLAS: Die beoogde formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag

Dit word vertel dat mense wat vervalste note moet uitken, heel eerste leer hoe egte note lyk, voordat hulle gewys word op waar die valshede is. Wanneer iemand weet waarna hy moet kyk, en die note vir spesifieke identifiserende eienskappe ondersoek, kan vals note makliker geïdentifiseer word. Waarom is dit so belangrik om elke noot te kontroleer? Want sodra ek ’n noot aanvaar, word daardie geld my verantwoordelikheid. DIT WAT EK AANVAAR, WORD MY VERANTWOORDELIKHEID. Net soos ek verantwoordelik is vir die geldnoot wat ek aanvaar en later probeer spandeer (en dalk in die moeilikheid kan beland omdat ek betrap is met ’n vervalste noot in my besit), is ek ook verantwoordelik vir die leerstellings wat ek aanvaar en ook met ander wil deel. Dit is dus my verantwoordelikheid voor God om elke lering wat op my pad kom, te ondersoek. As Bybelgelowige Christen moet ek elke lering wat aan my aangebied word toets en weier om enigiets wat teen die leer van die Skrif is, te aanvaar.

Uit hierdie oogpunt van wat eg is en wat vals is wil ek kyk na besluit 10 van die AS2019 betreffende selfdegeslagverhoudings. Daar staan:

10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n FORMULIER te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Voordat ek die ontwikkeling van die sogenaamde formulier genoem in punt 10 bespreek, gaan ek eers kyk na die egte: God se Volmaakte Plan vir egverbintenisse. Dit kry ons in Genesis hoofstukke 1 en 2 – VOOR die Sondeval waarvan ons lees in Genesis 3. In Genesis 1 vers 31 kyk God na die skepping, nadat Hy die mens as man en vrou geskep het en hulle geseën het met vrugbaarheid (Genesis 1:27-28) en dit was baie goed. God se skeppingsorde, Sy volmaakte plan vir die skepping en dus ook vir die mens en sy nageslag was baie goed.

Die huwelik is nie ’n instelling wat deur mense geskep word nie. Dit is ’n instelling wat deur God ontwerp en geskep is. In die bestaande huweliksformulier (wat gebaseer is op die gereformeerde leer) word die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou ’n huwelik genoem. Die tradisionele formulier begin deur te verklaar dat die huwelik deur God ingestel is toe Hy aan die begin gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Genesis 2:18). Jesus gee gesag aan die huwelik as instelling van God deur daarna te verwys – “Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” (Matteus 19:4-6). Dit is ’n lewenslange verbintenis tot mekaar wat voor God en voor getuies gemaak word. Dit is ’n verbond, so te sê, en albei partye moet hulle lewenslank met die ander verbind.

So het God hulle as man en vrou geskep om mekaar as huweliksmaats aan te vul en by te staan. In Genesis word gepraat van “man” (die Hebreeuse woord vir man is “ish”) en “mannin” (die Hebreeuse woord vir mannin is “ishah”). Daar word geen melding gemaak van enige ander seksuele oriëntasies of identiteite nie as net man en vrou, dus heteroseksueel. Adam en Eva is die oorspronklike familie. Dit is die ideale gesin van God. Dit is nie poligamie nie. Dit is nie ’n byvrou nie. Dit is nie die hou van minnaresse nie. Dit is nie egbreuk nie. Dit is nie ’n selfdegeslagverbintenis nie. Dit is nie promiskuïteit nie. Dit leef nie buite die huweliksband nie. Dit is God se ideaal vir die gesin. Dit is ’n gesin wat volgens God se Woord gekoester en grootgemaak word.

Om kinders te hê word ook genoem in die bestaande huweliksformulier en maan die egpaar: “maak hulle groot met die dubbele versekering: Ons is gebore uit die liefdesverbond tussen ons ouers en ons leef as huisgesin uit die genadeverbond wat die hemelse Vader met sy kinders in stand hou”. “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Genesis 2:24) verduidelik dat hulle twee nou een word, een in die gesin, met bepaalde doelstellings en in eenheid. God het die mensdom geskape, en toe het Hy die huwelik geskape. Die Bybelse huwelik en familie is ’n Goddelike instelling. Die eerste keer wat die woord seën in die Bybel gebruik word, is in Genesis 1:28 : “Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Noag en sy gesin ontvang basies dieselfde opdrag met die seën daarby: “God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde”” (Genesis 9:1). Dit maak wat in Ps 127:3 staan soveel kragtiger: “Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee”.

In Engels word die Boek Hooglied “Song of songs” genoem. Dit beteken die hoogste lied, die lied van alle liedere. Hooglied is die enigste Boek in die Bybel wat net een onderwerp het naamlik die heteroseksuele liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou met die oog op ’n egtelike verbintenis op verbondsbeginsels. Die man noem sy beminde sy bruid en vir haar is hy die man wat sy liefhet. In keurige, passievolle taal besing hulle mekaar en die liefde wat daar tussen hulle is.

Wanneer ons vra hoe lyk die normale huwelik in die Bybel, met ander woorde, wat is die norm, die standaard, die gedragsnorm rakende die huwelike in die Bybel? Dan moet ons erken: al die huwelike in die Bybel is heteroseksueel, daar is geen voorbeeld van huweliksverbintenisse van mense van dieselfde geslag nie. Albei die geslagsregisters van Jesus se voorouers is gebaseer op heteroseksualiteit. Om ’n FORMULIER te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag, is om te poog om die abnormale te normaliseer. Daar kan nie op die normale wyse kinders in so verbintenis verwek word nie. Inteendeel, hulle sal in werklikheid egbreuk pleeg wanneer kinders wel deur een van die persone in selfdegeslagverbintenisse met persone van buite se hulp verwek word.

Om terug te kom by punt 10 van die besluite geneem deur die AS van 2019 naamlik, “Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n FORMULIER te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag”: Formuliere is plegtige eedsverklarings wat voor God en voor ’n gemeente gesluit word. In die NG kerk is daar formuliere vir belydenis aflegging, by die bediening van die sakramente van die nagmaal en doop. Daar is ook ’n formulier by die huwelik en die verskillende bevestigings van die ampte. Deur ’n formulier op te stel vir selfdegeslagverbintenisse word dit op dieselfde vlak gestel as reedsbestaande formuliere in gereformeerde kerke.

‘n Formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse kan ook nie ’n kerklike instelling wees nie, want die vraag kan in die lig van die voorafgaande gevra word: hoe gaan dit Bybels gefundeer word?

Aan die begin is daarop gewys dat wat ’n mens aanvaar, word die persoon se verantwoordelikheid. So ek neem aan dat u as ATLAS verantwoordelikheid aanvaar vir punt 10, ten spyte van die feit dat dit indruis teen dit wat die Bybel leer aangaande die huwelik en wat tans as formuliere beskou word in die NG kerk?

Dr. Henriëtta Klaasing

2 thoughts on “Brief aan ATLAS: Die beoogde formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag”

  1. Dankie, Henrietta, vir die oop en insiggewende brief aan ATLAS. Dit was nodig om die gevoel en oortuiging van meer as 90% van die N G Kerk se leraars en lidmate aan nie net ATLAS nie maar ook aan die AM oor te dra, jy het jou uitstekend uitgedruk, in woorde waarmee ek as kind van die Here en as geroepene om in Sy diens te staan, 100% saamstem. Ek bid dat hierdie brief die persone sal bereik en dat harte aangeraak sal word deur die Heilige Gees sodat hulle standpunt daarheen sal inneem en hulleself sal distansieer van hierdie onBybelse en anti-God-besluit van die 2019 Algemene Sinode. Baie seën.

  2. Ja, dankie, Henrietta, vir die pratige beeld in jou skrywe – iets wat ons almal duidelik verstaan – die sinode dink seker as hulle “‘n sterk man” kan skep soos “ATLAS” dat hy al die probleme rakende hul sondige besluite op sy skouers sal kan dra – tesame met al die ander verkeerde leerstellinge, waar is die ouderlinge, die toesighoers wat oor die herders en kudde moet waak teen die wolwe? dit is omdat hulle (“die opsieners”) self nie geskool en opgewasse in die woord is nie – ons hoef nie meer te redekabel en vir die Gees te wag nie – die Woord is duidelik breek! met die afvalliges.
    Dankie vir jou sterk insette in die sake – mag jy verdere wysheid en insig verkry van Vader om die skape te rig – want dit lyk vir my die herders het blote huurlinge geword.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui