Goudland: ‘Ons betaal wat ons kan’

Kyk ook:

In November 2019 het Goudland Sinode byna die band losgemaak met die Algemene Sinode. Baie behoudendes het gehoop dat Goudland die weg kan baan vir moontlike affiliasie vir ander NG Gemeentes wat ook nie verder met die Algemene Sinode ’n pad wil stap nie. Kyk Goudland Sinode 20 Nov 2019 – Ondersteuning uit 5 provinsies.

Op 20 November het Goudland egter besluit om nie weg te breek nie en ook nie te doleer nie. Hulle het wel ’n leergeskil met die Algemene Sinode verklaar.

Op 5 Maart 2020 het die berig hieronder in Kerkbode verskyn. Goudland het dus steeds nie ’n amptelike leergeskil uitgereik nie. Indien ’n mens na Goudland se voorsitter, ds Johan Brink luister, is daar geen aanduiding dat Goudland enige drastiese besluite in die toekoms sal neem nie. Inteendeel, dit lyk of hy ten alle koste vrede wil bewerkstellig. Brink gaan selfs so ver om te praat van ’n soort dubbelstruktuur om voorsiening te maak vir gemeentes wat vír en wat téén die Algemene Sinode se besluit is.

*********

Goudland: ‘Ons betaal wat ons kan’

5 Maart 2020

Danie Mouton

Goudland sal tot die Algemene Sinode bydra “wat hulle kan” en wil band behou met die Algemene Sinode, berig Danie Mouton uit Benoni waar die Algemene Sinodale Moderamen vandeesweek vergader het.

Dit volg op ’n vroeëre skrywe van Goudland wat aandui dat hul bydrae tot die Algemene Sinode weerhou sal word. Goudland se voorsitter, ds Johan Brink, het verduidelik dit was ’n tydelike noodmaatreël ná twee groot gemeentes aangedui het hulle gaan nie langer vir die Algemene Sinode fondse gee nie. Goudland wou dus die eenheid met hul gemeentes herstel en het daarom op hulle beurt die bydrae tydelik teruggehou, berig Mouton in Grens.Pos, NG Kerk in Oos-Kaapland se sinodale nuusbrief. Die gemeentes wat wel tot die Algemene Sinode wil bydra se fondse sal oorbetaal word. Goudland sal dus heel moontlik nie hul volle bydrae kan gee nie.

Brink het ook verduidelik dat Goudland nie wil wegbreek van die NG Kerk nie, inteendeel, hulle wil daarbinne bly. Die vraag is egter wat in die toekoms die verhouding met die Algemene Sinode sal wees. Goudland sal as sinode vou indien die protes nie hanteer word nie. ’n Soort dubbele struktuur sal moontlik geskep moet word wat voorsiening maak vir gemeentes wat teen die Algemene Sinode se besluit is, en diegene wat daarvoor is, het Brink gesê.

Die Goudland Sinode het ’n geskil met die Algemene Sinode se besluit verklaar. Die inhoud van hierdie geskil moet nog uitgewerk word. Die sinode het tyd nodig om dit helder te formuleer, het Brink gesê.

Die ASM het besluit om die Goudlandse Sinode te bly omarm en te ondersteun.

ASM se Besluit oor Goudland Sinode

Die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) het op 4 Maart 2020 na afloop van die gesprek

met Goudland aie volgende besluit geneem:

1. Die ASM het ’n brief van Goudland Sinode oor hulle uitdagings t.o.v. selfdegeslagverbintenisse bespreek.

2. Die ASM het kennis geneem dat Goudland:

2.1 hulle Algemene bydraes slegs tydelik weerhou;

2.2 nie die kerkverband wil verlaat nie

2.3 interne spanning beleef wat hulle ’n ervaring van vasgelooptheid gee en dat hulle nou die ondersteuning en hulp van die Algemene Sinode benodig:

2.4 tyd en ruimte nodig het om duidelikheid te kry oor die inhoud van hulle geskil met die Algemene Sinode.

3. Die ASM bied op die volgende wyse ondersteuning aan Goualand aan:

3.1 ’n Informerende gesprek word gevoer tussen die SBK van Goudland en die dagbestuur van die ASM oor die pad vorentoe en ons gesamentlike roeping:

3.2 Die Taakspan van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings is beskikbaar om hulp en advies te bied aan die kerklike strukture van Goudland Sinode t.0.v. die inhoud en betekenis van die Algemene Sinode 2019 se besluite.

3.3 Die ATR (Algemene Taakspan Regte) word versoek om die opsies van Goudland Sinode kerkregtelik te beoordeel en met die SBK te bespreek.

4. Die ASM is dankbaar dat ons saam met Goudland Sinode die pad kan loop en oplossings kan vind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui