Opstanding weereens

Opstanding weereens

Julian Müller

(Oorspronklike by http://www.julianmuller.co.za/View-document/42-Opstanding-ingesprek-met-Konig-en-Van-Niekerk.html.)

Ek is opreg dankbaar teenoor Proff König en Van Niekerk vir die uitnodiging om op hierdie wyse deel te neem aan die gesprek. Dit is ’n voorreg vir enige skrywer wanneer ’n publikasie hierdie vlak van gesprek ontlok.

My boek Opstanding het ek natuurlik geskryf om my geloof in die opstanding te bevestig en ook te verduidelik. Waar dit onvoldoende blyk te wees, is ek dankbaar om nogeens ’n geleentheid te hê om te herbevestig wat ek daar geskryf het.

Weens beperkte spasie sal ek nie op elke argument volledig kan ingaan nie, maar my bepaal by, wat ek reken die belangrikste sake is. Ek sal die twee skrywers apart beantwoord, alhoewel sommige sake oor en weer van toepassing is.

Dr Attie van Niekerk

Van Niekerk het dit reg gekry om bo kleinlike kritiek uit te styg en ’n behoorlike basis te lê vir ’n sinvolle gesprek oor die onderliggende teologie. Die volgende verdien egter kommentaar.

1. Die wyse waarop ek die vraag in die radiogesprek geantwoord het.

Van Niekerk maak die bewering dat ek die vraag “afgewys” het. Dit is egter nie wat ek gedoen het nie. Ek het die vraag geantwoord, maar dit op my eie manier en nie net met ’n ja of nee soos die vraagsteller wou hê ek moes doen nie. Waarom wou en wil ek dan nie positief antwoord op die vraag nie? Die blote feit dat dit weer en weer voor my kop gegooi word (en König beroep hom selfs op’n teks om my tereg te wys – daaroor later) is vir my ’n bevestiging dat ek in daardie vlietende oomblik die regte aanvoeling gehad het. Ek het immers nie ontkennend op die vraag geantwoord nie, ek het net gekies om dit in my eie woorde en op my eie manier te doen.

Waarom word die vraag in die eerste plek aan my gevra? Nie met die motief van insluiting, soos in die liturgie nie, maar met die motief van konfrontasie en ontmaskering. Ek kon en wou nie met daardie magspel saamspeel nie, want soos ek dit sien, is die teologie wat agter die vraag sit, ’n onverdraagsame, liefdelose teologie. Dit is ’n teologie wat nie ruimte het vir ’n ander standpunt of vir ’n ander mens se eie verwoording van sy geloof nie. Dit is ʼn voorskriftelike en harde teologie wat met ’n paar kern begrippe grense wil stel vir geloof en ongeloof. Dit is ’n teologie wat die eie standpunt verabsoluteer en brandstapels bou vir die wat daarvan sou afwyk. Die vra van die vraag het soveel disrespek teenoor my gekommunikeer dat ek in my boek geskryf dat ek “behoefte het om met my hele hart daarteen te protesteer, omdat die vraag en die manier waarop die vraag geformuleer en gevra is, ’n teologie oor die opstanding verteenwoordig wat ek nooit kan onderskryf nie.”.

Die keuse wat ek uitgeoefen het en in my boek verduidelik het, is om in die taal van die klassieke belydenisskrifte my geloof in die opstanding te verwoord en te bely. Ek staan daarby, want my hart resoneer meer daarmee as met die formulerings van diegene, wat my in die keurslyf van hulle sieninge wil indwing.

2. Verhouding tussen simbool en die historiese gebeure

Van Niekerk raak ’n interessante en belangrike saak aan. Sy interpretasie is dat in my benadering die simbole naderhand los van die historiese gebeure begin funksioneer – ’n lewe van hulle eie kry. Dan raak die storie (story) los van die geskiedenis (hi-story). Daaroor wil ek twee opmerkings maak:

  • My geloof in die opstanding is nie a-histories nie. Dit is nie net ’n idee of ’n konsep nie, dit is gebaseer op die histories-gesitueerde verhale. Verhale is egter nooit net ’n weergawe van koue geskiedkundige feite nie, maar altyd geïnterpreteerde ervaringe en daarom ryk aan simbole en metafore. Ons opstandingsgeloof bestaan tog nie net uit die aanvaarding van ’n historiese gebeure nie. Dit behels ’n interpretasie van die geskiedenis in ons konteks en daarvoor is ons afhanklik van die metafoor en die simbool. Brueggemann het gesê dat Christenskap behels Telling a past and dreaming a future.
  • Dit lyk my Van Niekerk maak die fout om die “fisieke opstanding” met die “historiese opstanding” gelyk te stel. Ek het probleme met ’n begrip soos “fisiek” om die opstanding van Jesus mee te beskryf. Want dan sou die opstandingsliggaam met die kategorieë van die fisika beskryf moet kan word. En dit is nie moontlik nie. Maar ek het geen probleme met die historisiteit van die opstanding nie. Ons opstandingsgeloof is gebaseer op historiese gebeure, ervaringe van mense op ’n bepaalde tyd en plek.

Prof Adrio König

König se artikel plaas ook interessante vrae op die tafel. Dit laat my egter met talle vrae oor sy benadering en werkswyse. Ek bespreek dit onder drie hoofvrae:

1. Het hy my boek goed gelees?

In die inleiding van my boek het ek duidelik my intensie, asook die beperkinge van die boek uiteengesit. Ek haal aan:

Dit is nie my oogmerk om ’n stuk dogmatiek oor die opstanding te skryf nie. Ek is nie van plan om ’n uitgewerkte sisteem van denke oor die opstanding te produseer nie. Wat jy op die volgende bladsye kry, is eerder persoonlike refleksies uit verskillende invalshoeke oor my geloof in die opstanding.

Juis daarom het ek dit glad nie as ’n noodsaaklikheid aangevoel om op Handelinge en die Briewe ook in te gaan nie (hierop kom ek later weer terug).

König beweer dat ek met die gebruik van woorde soos metafoor en misterie, die liggaamlikheid en die historiese werklikheid van Jesus se opstanding ontken of selfs verwerp. Teen so ’n persepsie hoef ek weereens niks anders te doen as net aan te haal uit Opstanding nie. Op p 31 staan daar:

Die opstanding van Christus het nie óf metaforiese óf historiese betekenis nie. Dit is én én. Daar is ’n ryk tradisie van verstaan in die Bybel waarvolgens historiese gebeurtenisse ook simbolies en metafories geïnterpreteer is. Die uittog, die intog in die beloofde land, die ballingskap, die vleeswording, die kruisiging, die opstanding en hemelvaart is alles historiese gebeure, maar wat in die loop van tyd simbole vir die verstaan van God se liefde geword het. Hierdie simboliese én metaforiese interpretasies wat aan die groot verhale van God geheg word, doen niks afbreek aan die historisiteit daarvan nie. Inteendeel, dit bou daarop.

2. Is sy Bybelgebruik verantwoordelik en ingelig?

Prof König se onderskeiding tussen verhale en verduidelikings is nie geldig nie. Verder is sy plasing van die Evangelies, asof dit vroeëre geskrifte is, terwyl die Handelinge en die Briewe later tot stand gekom het, te bevraagteken. Verhale is altyd ook verduidelikings en geen verduideliking kan verhale vermy nie. Daarom dat Paulus se “verduideliking” van die opstanding in 1 Kor 15 begin met verskyningsverhale. Op grond waarvan maak König die bewering dat die Evangelies vertel van wat “direk na die opstanding….toe alles nog onseker en onduidelik was.”, terwyl die nuutste Bybelwetenskaplike navorsing presies die teenoorgestelde aantoon? Al sou die verhale handel oor dit wat in die eerste dae na die opstanding gebeur het, is hierdie verhale in die Evangelies heelwat later (ongeveer 72-96 jaar nC) opgeteken, terwyl 1 Kor. 15 waarskynlik so vroeg soos 53 nC geplaas moet word. Die indruk dat die Evangelies verbatim ooggetuie verslae bevat, is nie korrek nie. Dit is eerder reaksies op die tradisie soos opgeteken in 1 Kor. 15 en nie andersom nie.. Dus die Evangelieverhale is net soveel geïnterpreteerde ervaringe as die sogenaamde “verduidelikings” in ander dele van die Nuwe Testament.

Waarom skep König die indruk, met sy verwysing na die “Europese teologie”, dat sy siening oor liggaamlikheid, historisiteit ens daarin ondersteun word? Die bronne waarna hy verwys bespreek juis die problematiek sonder om met maklike antwoorde te kom. Hans-Joachim Eckstein sê byvoorbeeld dat die opstanding histories net so omstrede is as wat dit teologies betekenisvol is (in Zur Wiederentdeckung der Hoffnung. 2000).

’n Verdere vraag is of prof König in sy ywer om my met ’n teks tereg te wys, nie ook 1 Pet 3:15 heeltemal verkeerd aanwend nie? Die vers sê ons moet altyd gewillig wees om rekenskap te gee oor die hoop wat in ons is. Let wel, van ons hoop en nie van ons formuleringe van leerstellings nie! Daar is ’n groot verskil. Ek dink nogal dat ek met my antwoord op die vraag, juis ’n verduideliking gegee het van die hoop waaruit ek lewe. Die hoop wat in en deur die geloofsgemeenskap lewe wanneer die gemeenskaplike geloof saam bely word. Die hoop is nie vir my geleë in vaste formulerings nie en dit is veral ’n hooplose situasie as die formulerings verhef word tot die maatstaf vir die hoop.

Dit lyk ook of König opgehou lees het by vers 15, terwyl ons almal juis ook behoefte het aan die daaropvolgende vers (1 Pet 3:16). Dáár staan “Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly…” Ons moet dus bereid wees om rekenskap te gee van die hoop wat daar in ons is, maar met beskeidenheid. Die stellige sekerheid waarmee sommiges skynbaar presies weet hoe die opstanding plaasgevind het en dink dat hulle dit in onweerlegbare en duidelike begrippe kan vasvang, getuig nie van beskeidenheid nie.

3. Is hy getrou aan sy eie teologie oor die opstanding?

König praat in Jesus die Laaste. Gelowig Nagedink oor die Einde, NG Kerkboekhandel, 1980, van “die beperking op ons kennis van die opstanding.”(124).

Hy sê dat op die punt van die opstanding word ons gewone geskiedenis deurbreek deur eskatologie en gaan dit oor in apokaliptiek.

Hier gaan dit nou oor dinge waarvan ons geen ervaring of analogieë het nie. Juis daarom is dit foutief om die opstanding van Christus te betwyfel of selfs te ontken op grond van die feit dat ander dooies nie opstaan nie, en dat ons dus geen ander voorbeelde (analogieë) van Christus se opstanding het nie. In die apokaliptiek kom juis analogielose, radikaal nuwe dinge ter sprake. Vandaar dan ook die vreemde en soms haas onvoorspelbare beelde waarin die boodskap gehul word. (123)

As die opstanding van Christus analogieloos is, kan dit nie ten volle begryp of verduidelik word nie. Dit is in beginsel onmoontlik om iets ten volle te verduidelik as daar geen voorbeelde bestaan waarmee dit verduidelik kan word nie. Trouens, die begrip “opstanding” is klaar ’n metafoor, d.w.s. ’n beknopte vergelyking. (123)

Ons kan nie anders as om in beelde daaroor te praat nie, omdat dit in beginsel analogieloos is, maar dan is ons beperk tot hoofsaaklik negatiewe kennis, dus eerder wat nie is nie, as wat dit is. (124)

Met verwysing na 1 Korintiërs 15 sê König:

Veral Paulus het probeer om iets meer hieroor te sê deur die opstandingsliggaam met die aardse gestorwe liggaam te vergelyk… Dit is egter opvallend dat ook hy hoofsaaklik negatief hieroor skryf. Uit die vergelyking is dit duidelik dat ons uit die aard van ons huidige liggaam niks kan aflei oor die aard van die opstandingsliggaam nie.(124)

Hy kom tot die konklusie:

Dit beteken dat daar skynbaar geen substansiële of strukturele konituiteit (“ooreenkoms”) tussen die aardse liggaam en die opstandingsliggaam sal wees nie. Trouens, die een oorweldigende indruk van hierdie hele gedeelte van v 35 – v 50 kan in twee woorde saamgevat word: onbekend en teenoorgesteld. Ons weet nie hoe die opstandingsliggaam sal lyk nie (vgl 1 Joh 3:2!), maar ons weet dit sal radikaal anders, ja, teenoorgesteld wees aan die aardse liggaam. (124)

Hoewel König later in dieselfde hoofstuk ( p.125 en verder) ook die historiese en die kontinuïteitsaspek beklemtoon, is die geheelbeeld wat mens uit sy geskrif kry een van genuanseerde en versigtige taal oor die opstanding. Hy verval beslis nie in oorvereenvoudigde formules wat voorgee asof dit moontlik is om daardie vreemde gebeure in ’n paar bekende taalkategorieë te beskryf nie.

Dit laat die vraag ontstaan of die vroeëre König anders gepraat het as die huidige? Vroeër was dit juis sy vermoë tot kreatiewe en genuanseerde teologie wat my beïndruk het. ’n Teologie wat steeds blyk uit sy gebalanseerde standpunt oor gays. Dit is laasgenoemde wat my steeds laat hoop dat ons uiteindelik dalk tog meer dieselfde taal oor die opstanding sal kan praat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui