‘n Historiese ontleding van reg- en onregmatige besluitneming ten opsigte van selfdegeslagverhoudings, 1986-2023

‘n Historiese ontleding van reg- en onregmatige besluitneming ten opsigte van selfdegeslagverhoudings, 1986-2023

(Die bedoeling met hierdie studie is nie om die Skriftuurlike argument rondom selfdegeslagverhoudings vanuit enige hoek te beredeneer nie. Dit is reeds vir drie dekades gedoen, met teologiese “vasgelooptheid” as die enigste uitkoms. In hierdie studie word regmatige besluitneming oor die onderwerp teenoor onregmatige optrede en besluite daaroor en ander sake, aan die orde gestel, tot waar die NG Kerk haarself aan die einde van 2023 bevind. Daar word geen aanspraak op volledigheid gemaak nie.)

Die Algemene Sinode(AS) van die NG Kerk (hierna die kerk) het in 1986 besluit: “Homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar.” Dit was die kerk se amptelike standpunt.

Die AS se 2007-besluit oor homoseksualiteit, is geneem op grond van aanbevelings van die Taakspan vir Homoseksualiteit wat na ’n kommissie bestaande uit die tien moderators van die samestellende sinodes verwys is. Met die Bybel as uitgangspunt, herbevestig die sinode die besluit van 2004, dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word en dat “homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie” Sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit is ten sterkste veroordeel.

Daar is ook besluit dat “alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug”. Die begrip “ampte” is nie nader omskryf nie.

Onder punt 7 neem die sinode van 2007 toe ‘n omvangryke besluit: “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word”. Daarmee is erken dat gay seks wel sonde is, dog gelegitimeerdes wat hulle daarvan weerhou, tog as predikante bevestig kon word. Daar is na geen huwelik tussen gays verwys nie.

Die sinode neem dan ten slotte die verwarrende besluit dat kerkrade oor die diskresie beskik om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes, in die gees van Christelike liefde, te hanteer. Terwyl dit nie duidelik was na watter moontlike verskille verwys is nie, is vir die eerste keer bevestig dat kerkrade nie deur sinodebesluite daaroor gebind is nie. Die logiese vraag hieroor is, of dit ‘n regmatige of onregmatige besluit was en het dit ook vir alle ander sinodebesluite gegeld?

Intussen het dr. Ben du Toit, die kerk se parlementêre verteenwoordiger in Oktober 2006, eensydig en sonder sinodale toestemming, in ‘n skriftelike voorlegging aan die parlement, aanbeveel dat homoseksuele huwelike namens die kerk gewettig word, deur een allesinsluitende huwelikswet op die wetboek te plaas. Ongeag hewige reaksie uit verskeie oorde teen sy onregmatige optrede, was die slag gelewer. Die kerk en staat was skielik sonder slag of stoot in dieselfde bed.

Terwyl pro-gay artikels na 2007, veral deur akademici, periodiek in die media verskyn het, was dit spesifiek professor Nelus Niemandt, destydse algemene moderator van die kerk, se 2015-uitspraak, wat veral die nuus gehaal het: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die Kerk voltrek word.” Hy het verder bygevoeg: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) binne die Kerk genormaliseer sal word”.

Was hierdie uitspraak regmatig?:

1. Volgens watter artikel van die kerkorde het hy die reg gehad om sinodebesluite van bykans dertig jaar, eensydig in die openbaar te repudieer?

  1. Volgens watter Skrifgedeeltes het hy dit namens al die lidmate van die kerk gedoen, dog sonder enige konsultasie met hulle óf met inagneming van die verdeeldheid wat sou volg?
  2. Hoekom beoordeel hy selfdegeslagseks in sy uitspraak anders as sonde, soos die AS se 2007-besluit hom verplig het om te doen?
  3. Het Niemandt vir homself onregmatig dieselfde magte toegeëien as dié wat die Pous van die Rooms Katolieke Kerk geniet, deur dekrete uit te vaardig?
  4. Het hy die Amerikaanse voorbeeld gevolg? (Op 26 Junie 2015, het die Hooggeregshof, ongeag enige kerk se standpunt daaroor, in die saak “Obergefell versus Hodges” uitspraak gegee wat selfdegeslaghuwelike in die VSA gewettig het.)
  5. Het hy dit om sy eie kerkpolitieke redes gedoen, om die guns van ‘n minderheidsgroep te wen, die groter wêreldmening te paai en ander te oortuig om sy voorbeeld te volg?

Niemandt se leiding is inderdaad dadelik op hoë akademiese vlak gevolg. Die Kuratorium van die Stellenbosch kweekskool het later in 2015 ‘n besprekingspunt by die AS ingedien dat die selibate eis vir gay predikante in die kerk geskrap word. Gay seks is toenemend nie meer as sonde gesien nie en die 2015-AS, onder leiding van Niemandt, dog ook onder Ben du Toit se invloed, het dit bevestig. Dit was ‘n totale ommekeer van die 1986-AS besluit :

Inleidend is verklaar dat “hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap”. (Was dit regmatig om namens alle gemeentes gay seks met “geloofsgehoorsaamheid aan die Here” te versoen, wat juis vir baie ‘n teenstrydigheid in terme is?)

Die AS van 2015 het die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 herbevestig dat dit die verbintenis tussen een man en een vrou is. Dog dan volg ‘n totale weerspreking daarvan met die besluit wat “erkenning gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word”. (Is dit regmatig, gegewe dat alle predikante dieselfde ligitimasie-eed aflê? Daarmee word die Woord en die belydenisskrifte aan hul persoonlike oortuigings ondergeskik gestel, terwyl hulle ‘n eed geneem het om dit te onderhou.)

Daar is ook besluit: “Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.” (wat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen, tot die predikantsamp toegelaat het).  Predikante kon dus voortaan in homoseksuele huwelike staan en beroep word. Die vorige sondige angel van gay seks, is sodoende vir die kerk se seën daarop verruil, wat in gemeentes grootliks as onregmatig verwerp is.

Ten slotte erken die AS “die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslag- verbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël”. Vir wie het die 2015-sinodebesluite dan gegeld, as elke kerkraad self daaroor kon besluit? Volgens artikel 23.1 van die Kerkorde het die AS die verpligting om besluite te neem wat “bindend is, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie.” Indien die AS nie binne hierdie artikel teologiese eenstemmigheid kan bereik nie, (byvoorbeeld of gay seks sonde is of nie) is geen besluit moontlik nie. Of het artikel 43.2.1 as motivering vir die besluit gebruik: “Die Algemene Sinode hanteer nie sake wat deur die samestellende sinodes of gemeentes hanteer kan word nie”. Watter sake ook al bedoel word, hierdie blyk een daarvan te wees. Die AS dra dit aan gemeentes op om self te besluit.

Soos te wagte, het verskeie predikante en kerkrade namens gemeentes, ernstig teen die 2015-besluite appèl aangeteken. Gevolglik het die moderamen op grond van al hierdie appèlle besluit om ’n moratorium op die 2015-besluite te plaas. Dit is gedoen nadat die Algemene Taakspan Regte (ATR) regsadvies van verskeie regsgeleerdes, onder andere ook ‘n afgetrede regter, ingewin het. Die advies was dat indien ‘n sinodale besluit onder appèl is, daar ‘n outomatiese moratorium op die uitvoering daarvan is, totdat ‘n appèlliggaam daaroor uitspraak gegee het. Hierdie appèlliggaam is toe streng volgens voorskrifte van die kerkorde, uit tien onpartydige kenners van die gereformeerde kerkreg, van oor die hele land, saamgestel. Ooreenkomstig die regsadvies wat ontvang is, was hierdie besluite en optrede oënskynlik regmatig.

As gevolg van die groot aantal appèlle wat ingestroom het, het die appèlproses ongeveer ‘n jaar geduur. Intussen het 65 teoloë en predikante die moderamen in November 2015, in ’n skerp bewoorde brief daarvan beskuldig dat hulle die menswaardigheid van gay mense op ’n “skreiende wyse” aantas, deur die 2015-besluite onregmatig te bevries. Toe geen bevredigende reaksie op hul brief ontvang is nie, het ‘n groep van 11 gay-aktiviste die kerk in Augustus 2016, twee weke kans gegee om die AS-besluit onmiddellik uit te voer, óf deur die howe gedwing word om dit te doen. Dit is op grond van die regsadvies gedoen wat van een van die land se voorste regsgeleerdes, adv. Wim Trengove, ontvang is. Trengove het die teenoorgestelde mening as die ATR gehuldig. Aan wie se kant was die reg?

Met enersyds ‘n dreigende hofgeding voor hande, dog andersyds ‘n appèlproses wat afgehandel moes word, het die moderamen vir tyd gespeel en ’n buitengewone sinode vir November 2016 belê, waar die gay kwessie weer, vir die soveelste keer, deurtrap sou word.

Na hierdie aankondiging is al die appellante versoek om hul appèlle, met die oog op die komende sinode, terug te trek en na beswaarskrifte en gravamina te verander. Die meeste het dit gedoen, dog ‘n paar appellante, het om strategiese redes besluit om met hul gesamentlike appèl voort te gaan. Hulle standpunt was dat slegs deur ‘n suksesvolle appèl, die 2015-AS se besluite direk ongeldig verklaar kon word. Twee weke voor die aanvang van die 2016-buitengewone sinode, is hulle appèl inderdaad aanvaar. Gevolglik is al die 2015-besluite oor selfdegeslagverhoudinge, amptelik onregmatig verklaar. Dit sou dus vrugteloos wees om met die hou van die buitengewone sinode daaroor voort te gaan.

Die moderamen het egter anders besluit en die AS het soos beplan plaasgevind. Die besprekings het op presies die teenoorgestelde besluite uitgeloop as waarvoor gays gehoop het. Daar is besluit dat enige seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag, afgewys word. In sy wese is die kerk se 1986-besluite oor homoseksualisme, in 2016 deur ‘n meerderheid herbevestig. Al was dit ‘n groot “terugkeer na die Skrif”, was sommige van die besluite steeds vaag en dubbelsinnig geformuleer, om in die “ruim huis” soveel moontlik te akkommodeer.

Dog nie ruim genoeg nie. Die elf, later twaalf gay-aktiviste (onder pa en seun Gaum se leiding) het, nadat pogings om buite die hof te skik misluk het, die saak toe werklik na die Hooggeregshof van Suid-Afrika geneem. Hulle dagvaarding het op twee bene gestaan. Die eerste been het gegaan oor die regsgeldigheid van die appèlsaak, waarin die kerk se appèlliggaam al die besluite van 2015 onregmatig verklaar het. Die tweede been het gegaan oor die regmatigheid van die prosedure met betrekking tot die sinode en daarom ook die besluite wat geneem is, asook die grondwetlikheid daarvan.

Indien die kerk ‘n suksesvolle uitspraak op die eerste been kon verkry, sou die tweede irrelevant wees, aangesien die 2015-besluite dan steeds ongeldig sou wees. Hierin het die ATR en nie die moderatuur nie, die volle verantwoordelikheid gehad, Aangesien die ATR uit al die sinodes se actuari bestaan wat oor die hele land versprei is, is ‘n ad-hoc taakspan van vier persone aangestel om saam met die regspan, die vereiste eedsverklarings, namens die kerk, voor te berei.

Hierdie ad-hoc taakspan het onverpoosd gewerk om inligting aan hul prokureurs en advokate te voorsien, om die kerk se verdediging in regstaal te formuleer en na goedkeuring, by die hof in te dien. In die eerste konsepantwoord het die regsgeleerdes die reg tot appèl teen besluite van die AS, ooreenkomstig bepalings van die kerkorde, sterk uiteengesit, waarmee ‘n verbete regsgeding in die hof gevoer sou kon word.

Toe, uit die bloute en sonder die volle ad-hoc taakspan se goedkeuring, is van elders besluit om nie meer die reg tot appèl teen die 2015-besluite, in die hof te verdedig nie! Die rede hiervoor, asook wie soveel kerklike gesag gedra het, is onduidelik en word dus vir ontrafeling in die hande van toekomstige historici gelaat. Dit is duidelik agter die skerms onregmatig in die geheim gedoen. Toe een van die taakspanlede teen hierdie nuwe besluit beswaar aanteken, het hy ‘n skriftelike kennisgewing vanaf een van die kerk se prokureurs ontvang. Daarvolgens sou die moderatuur saam met dieselfde regspan, die saak verder hanteer. Sodoende is hy in werklikheid deur sy eie prokureur afgedank. Hierdie wending was die primêre rede waarom die kerk die hofsaak verloor het.

Op 8 Maart 2019 het die Hooggeregshof met verwysing na die eerste been van die dagvaarding, soos te wagte, ten gunste van die gays uitspraak gegee. Hul regspan het teenstrydighede in die kerkordebepalings en die appèlreglement aangetoon, wat daarop dui dat geen duidelike reg tot appèl teen besluite van die AS, moontlik is nie. Deur hierdie aspek nie dinamies te verdedig nie, het die kerk in werklikheid byvoorbaat gekapituleer. Die uitspraak bevestig dit in punt 4: “[the Church] conceded that the decision taken by the appeal body constituted by the General Task Team Legal Affairs upholding appeals against the 2015 decision was unlawful and invalid and requires no further address”. Hoe gaan ‘n regspan namens ‘n kerk hof toe, met só ‘n selftoegediende skoot in die voet?

Die besluite van die buitengewone sinode van 2016 is ook tersyde gestel, omdat dit nie volgens korrekte kerklike prosedure geneem is nie, wat aan die ATR se adres gerig moet word, wat nie regmatige prosedure gevolg het nie. Die uitspraak het ook duidelik aangetoon dat die kerk se saak oor die grondwetlikheid van die 2016-besluite, onvolledig en selfs halfhartig aangebied is. Die regters het vyf keer in die uitspraak die stelling gemaak: “The Church presented no argument or facts … the Church has set out no facts … put up no facts… without any facts… In the opposition no facts were set out.”

En dit terwyl die hof in paragraaf 86 van die uitspraak toegegee het: “The communal aspect of freedom of religion is expressly recognised by section 31 of the Constitution which protects the rights of persons belonging to, inter alia, a religious community, practice their religion and form, join and maintain religious association without interference by the State. The right to “maintain” religious institutions includes the right to exclude non-adherents from membership or leadership of those institutions.”

Indien die kerk se 1986-besluit oor homoseksualisme steeds geldig was, sou die kerk ook kon bepaal dat gays geen amp in die kerk mag beklee nie. Die hof het selfs dit toegegee: “There is an argument to be made that a Court cannot prescribe who must be appointed as a Minister in a Church.”

Dit is nie vergesog om die afleiding te maak nie dat ‘n sterk pro-gay faksie in die kerk die saak wou verloor, al moes hulle nagenoeg R5-miljoen daarvoor opdok. Sodoende kon die hof (in plaas van strydende groepe tydens sinodes) namens die hele kerk ten gunste van die gays besluit, wat almal sou bind en die saak hopelik vir tyd en ewigheid afhandel. Die AS se doel om die aanstelling van gays in enige amp van die kerk te verseker, is ook bereik, soos die hof bevind het: ”But if a member of the Church is permitted to study to become a Minister in that Church, but disallowed to engage in his or her profession only due to the fact that he or she would be in a same sex relationship there is an inherent contradiction in the conduct of the Church.”

Met die slag gelewer, het die 2019-sinode kort na die uitspraak gevolg. Die eerste stap was om beide die 2015- en 2016-besluite te herroep en te erken “dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot ‘vasgelooptheid’ gelei het.” Wat nie erken is nie, is dat die hof die pad vir die kerk gelyk gemaak het om gays ten volle te akkommodeer. Die besluite bewys dit. Die AS het enersyds weer bevestig dat die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou word en dat selfdegeslagverbintenisse nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie. Dog andersyds en in absolute konflik hiermee, is die 2015-besluite, in versigtig keurige taal, nagenoeg herskryf, waarvolgens alle gays (en daarom ook alle mense wat in LGBTQI+ verhoudinge lewe), voortaan, met geen selibate verpligting nie, wel in die kerk kon trou en bygevoeg: “Die Algemene Sinode dra dit aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.”

‘n Formulier is ‘n plegtige eedsverklaring wat slegs binne die kerk, voor God en voor ’n gemeente geskied, soos onder andere die bestaande huweliks- en doopformulier en die formulier tydens belydenisaflegging. ’n Formulier vir selfdegeslagverbintenisse, sal dus dieselfde status hê en die seën van die kerk geniet. Die “kerk se seën” beteken met “God se seën” en ‘n huweliksformulier word tog getrou uit sy Woord geneem. Die standpunt was egter reeds gestel dat God se Woord nie hiervoor gebruik kan word nie.

Omdat die ring van Louis Trichardt die regmatigheid van hierdie botsende 2019-besluite betwyfel het, is ‘n regsmening daaroor verkry, wat kortliks die volgende behels: Dat die sinodebesluit inderdaad onuitvoerbaar is en dat die regsbeginsel van die onuitvoerbaarheid van instellings se besluite (non possibullium est) inhou dat dit ʼn totale verweer is. Die besluit van die AS was van die oomblik wat dit geneem is, ongeldig… Die kerk kan nie vir ʼn onuitvoerbare besluit morele redes aanvoer om dit geldig te maak nie. Dus, in een gemeente kan persone nie in ʼn selfdegeslagverbintenis burgerlik ingeseën word en in ʼn ander gemeente daarvoor onder tug geplaas word nie en in beide gevalle word volgens die besluit van die AS gehandel. Hiervolgens was die besuite dus onregmatig.

In Mei 2022, het die taakspan die formulier-opdrag skielik summier gestaak. As rede is nie die onuitvoerbaarheid daarvan aangebied nie, maar dat daar ‘n verskil tussen ‘n “prinsipiële” en ‘n “proses” sinodale besluit is. Ds. Nelis Janse van Rensburg, die huidige moderator, het gevolglik verklaar dat bogenoemde 2019-besluit, nie ‘n “prinsipiële besluit” van die kerk was nie en daarom “kan die ASM nie voortgaan…en ‘n formulier skryf nie.” Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die kerk, neem dit een stap verder en verduidelik: “Daar gaan dus nie ‘n konsepformulier opgestel word nie en dit sal die prerogatief van ‘n kerkraad wees…hoe die formulier ingerig sal word.”

Was dit ‘n regmatige wending?

  1. Op grond waarvan is dit na drie jaar nie ‘n “prinsipiële” besluit van die sinode nie en het die ASM die regsbevoegdheid om, om watter rede ookal, die aard van ‘n sinodebesluit eensydig te wysig?
  2. Behoort afgevaardigdes na enige sinode nie altyd vooraf oor die verskil tussen hierdie soort besluite en dus ook die implikasie daarvan, volledig ingelig te word nie?
  3. Het die moderatuur werklik geglo dat as geleerde teoloë na drie jaar geen formulier kon produseer nie, daar selfs een kerkraad in die land is, wat met God se seën, daarin sal slaag en terselfdertyd geen gemeentelike verdeeldheid saai nie?
  4. In die lig van die hofuitspraak, kon die moderatuur die verantwoordelikheid vir die opstel van ‘n formulier na gemeentes afwentel? Elke gemeente se formulier sou ingrypend kon verskil, wat steeds as diskriminerend beskou kon word.

Die “verslae” en “verbysterde” gays (dr. Frits Gaum se woorde nadat die “formulier” by die kerkdeur uitgevee is,) het die strydbyl weer opgeneem en senior advokaat, Jeremy Gauntlett versoek om die volle implikasie van die 2019-hofuitspraak volledig te belig. Sy regsmening hieroor het op 18 Mei 2023 verskyn.

Gauntlett het eerstens daarop gewys dat die kerk se aanvaarding van die 2019-hofuitspraak, deur nie daarteen te appelleer nie, “beteken dat die AS, die ASM of enige gemeente of amptenaar van die NG Kerk, nie ’n standpunt kan inneem wat nie selfdegeslagverhoudings tussen sy lede en predikante van die NG kerk ten volle erken nie”. Hy bevind verder: “Die hof het uitdruklik beslis dat elke NG gemeente in die land by die besluite van die hofuitspraak moet hou, deur selfdegeslagverhoudings ten volle te erken en dat die uitspraak nie net bindend is vir die AS nie, maar bindend is vir alle ander strukture van die kerk, insluitend elke gemeente van die kerk.”

Punt 1 van die uitspraak bevestig dit: ”Every Dutch Reformed congregation in the country must adhere to this decision as the General Synod is the body that in terms of article 42 of the “Kerkorde” is entrusted with the competency to determine the Church’s communal identity in terms of the Word, Creed, its Constitution, mission and policy”.(Die regters het seker bedoel om na artikel 43 te verwys, wat hieroor handel en nie artikel 42 nie.) Gauntlett het hom sekerlik ook op Reglement 4, punt 11.1 beroep: “Indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem, is hy bevoeg om die kerk in geheel aan te spreek, dit wil sê mindere kerkvergaderings, ampsdraers en lidmate.”

Gevolglik is gay lidmate wel geregtig op ‘n eie formulier, wat ‘n kerklike verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag, in elke gemeente van die kerk, verseker. Die “beweerde onsekerheid” tussen beginsel- en prosesbesluite, is volgens hulle “deur die ASM uitgedink” en dit op sigself is teenstrydig met die hofuitspraak.

Met hierdie swaard oor die hoof, het die 2023-AS begin. Sommige afgevaardigdes het daarop gewys dat daar binne gemeentes geweldige konflik is en dat daar twee standpunte in die kerk bestaan, waarvan net een met die Grondwet belyn is. As gevolg van Gauntlett se regsmening, het die AS byvoorbaat geglo dat geen standpunt ingeneem kan word “wat nié selfdegeslagverhoudings tussen sy lidmate en predikante ten volle erken nie”. Die AS van 2023 se besluit oor selfdegeslagverbintenisse is opsommend die volgende:

Die AS het kennis geneem van al die verslae, beskrywingspunte en gravamina oor die besluit van die Algemene Sinode 2019 hieroor en erken dat daar ’n diepe verdeeldheid hieroor in ons kerkverband bestaan. Ondanks die AS se bevestiging dat voortgesette nadenke, gesprek en besluitneming (sedert 1986) hieroor ten diepste voortvloei uit ons belydenis oor die Skrif as Woord van God, is besluit om met die AS besluite van 2019 te volstaan. Daar word weer “ruimte geskep vir kerkrade en predikante wat hul weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, asook vir hulle wat nie hul weg daartoe oopsien nie. (Volgens Gauntlett se verstaan van die 2019-uitspraak sou laasgenoemde diskriminerend wees en daarom onregmatig.)

Die AS maak toe tegemoetkomend daarvoor voorsiening dat gemeentes, wat nie met die 2023-AS besluite kan saamleef nie, op voorgeskrewe wyse by ‘n ander sinode kan inskakel. Daarmee is erken dat mindere sinodes van die AS kan verskil. Volgens die hofuitspraak word al die sinodes egter, behalwe die AS van Namibië, deur die AS-besluite oor selfdegeslagverhoudings gebind, wat daarvan ‘n onregmatige besluit sou maak.

Sulke paai-besluite wat poog om iets vir almal te wees, is in die reël niks vir niemand nie. Terwyl dolerendes onmiddellik na die 2023 weer begin laertrek het, is ‘n striemende aanval uit gay geledere teen die sinode gemik. Hennie Pienaar, ’n gay proponent beskuldig die AS van skeinheiligheid: “Hulle is nie onnosel nie, maar is ruggraatloos en verontagsaam die hofuitspraak doelbewus in ’n poging om nie die beswaardes weg te dryf nie. Diegene wat ’n probleem het met gays hoort nie in die kerk nie, maar die kerk se leiers buig agteroor om nie die beswaardes weg te dryf nie…”

In ‘n onderhoud met Mia Spies op Netwerk 24, was Laurie Gaum egter heel opgewonde en trots na afloop van die AS van 2023: “Ek voel daar was ’n reuse-sprong. Die sinode het bevestig dat die 2019-besluit staan, en na my wete is dit die enigste gereformeerde kerk wêreldwyd wat gay mense in hulle totaliteit aanvaar, burgerlike verbintenisse kan doen, en gay predikante kan beroep. Die bevestiging van die 2019-besluit is nou vas en onherroeplik.” Is sy blydskap voortydig?

Die allesomvattende vraag is dus of die 2019-uitspraak wel alle kerkrade en dus gemeentes en lidmate regmatig aan die AS se 2023- besluite hieroor bind?

In die Gereformeerde kerkregering word uitgegaan van die Skriftuurlike standpunt dat elke plaaslike kerk volledig kerk is en as ‘n vergadering van gelowiges bekend is. Elke plaaslike gemeente vorm dan ‘n regspersoon, wat al die regte en pligte van ‘n regspersoon het en binne die Suid-Afrikaanse reg aan die regsverkeer deelneem, kontrakte kan sluit, eiendom kan bekom en vervreem, bankrekeninge kan bedryf, leningsooreenkomste kan sluit, predikante kan aanstel, alle ander vakatures kan vul, ensomeer.

Wat hierdie regspersoonlikheid van die onderskeie organe binne die NG Kerk betref, bevestig die NG Kerkorde uitdruklik in artikel 3.1 dat “elke gemeente is ‘n regspersoon en die kerkraad of sy gemagtigdes is sy orgaan”. Verder bepaal artikel 4.1 dat “die NG kerk in ringsverband is ‘n regspersoon” en artikel 9.11 dat “die NG kerk in sy Algemene Sinode verband is ‘n regspersoon”. Reglement 9.4 van die Kerkorde bepaal dat die afsonderlike gemeentes van die NG Kerk die eienaars is van alle roerende en onroerende bates wat deur die kerkraad beheer en verkry kan word. Alle vaste eiendom word egter in die naam van die betrokke gemeente geregistreer en die kerkraad is bloot verantwoordelik vir die administrasie van hierdie eiendomme, goedere en fondse. Plaaslike gemeentes van verskillende denominasies, word in die reël konsekwent deur die howe as regspersone beskou.

Daarom geniet die gemeente al die voordele van landswette, soos artikel 9 van die Grondwet wat almal voor die reg gelykstel dog almal ook gelyke beskerming voor die reg bied. Die regte soos vervat in artikel 15 (vryheid van godsdiens), artikel 18 (vryheid van assosiasie) en artikel 31 (die reg om godsdienstige verenigings te vorm), speel ’n baie belangrike rol wanneer kerkrade namens gemeentes (as regspersone) vergader, belydenis bevestig en besluite neem.

Die reg op godsdiensvryheid gee aan gemeentes die geleentheid, maar ook die verantwoordelikheid, om nie net inhoud te gee aan die reg op godsdiensvryheid nie, maar ook om hulle eie geloofsidentiteit teologies-kerkregtelik, binne die beperkings van die Grondwet en die algemene reg, te kan formuleer en te verdedig. Kerke moet dus kan aantoon waarom sekere arbeidswetgewing, antidiskriminasiewetgewing of bepaalde prosedures binne die reg op godsdiensvryheid, nie op hulle van toepassing is nie. ’n Hof sou dus wel, sonder om hom uit te laat of die kerk wel geregtig is op sy opinie oor byvoorbeeld selfdegeslagverhoudings, die betrokke kerklike besluite en regulasies kan vertolk en nagaan of die kerk wel sy eie reëls nagekom het.

Die reg op godsdiensvryheid veronderstel dus dat die staat hom nie behoort te bemoei met die organisasie en interne aangeleenthede van die kerk nie. Dit kan rampspoedige gevolge inhou indien wetgewing ’n kerk (gemeente) sou dwing om sy beleid te verander en dit die verandering van die essensiële karakter en geloofsidentiteit daarvan tot gevolg het. Om dieselfde rede behoort ‘n Algemene Sinode ook nie aan gemeentes voor te skryf hoe hulle hul besluitneming en bediening moet uitvoer nie.

As voorbeeld sou ‘n plaaslike kerk se siening oor selfdegeslagverbintenisse die volgende kon wees: “Homosexual passions and acts are unnatural, shameful, contrary to sound doctrine and deny entrance to the Kingdom of God. This being so they cannot be the basis of a Christian marriage sanctioned by God’s Church. The Church exists to save people, not to bless the means of their damnation. No marriage can be sanctioned by the Church if the very basis of the marriage involves acts that put the couple outside of eternal salvation. No matter what our society may legislate, the law of God is clear—that a marriage is not a godly marriage if it is a same sex union… We cannot bend the principles of God’s Word to suit vocal minority groups”. (www.christiananswers.net) Kan die Staat of die Algemene Sinode hierdie gemeente se oortuiging veto en nietig verklaar?

Professor Stu Woolman, die stigter en hoofredakteur van die “Constitutional Law of South Africa” asook die “Constitutional Court Review”, stel ‘n uiters insiggewende regsmening hieroor: “God made the world and laid down the law. Some may find the religious beliefs and practices of a faith perverse. But rational distinctions – or the absence of rational distinctions – is hardly the point when an organised faith is put in the position of defending God’s law – not their own. It is God’s law that provides the setting for meaningful action for the members. The notion that they could alter God’s law is akin to idolatry. It confuses the sacred and the profane”. (Vry aangehaal uit: Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma. Helena van Coller, Regsfakulteit, Rhodes Universiteit. LitNet Akademies, Jaargang 10, Nommer 3, Desember 2013, p.691)

In paragraaf 22 van die 2019-hofuitspraak word dieselfde argument gestel: “Religious associations in many instances take things such as divorce, adultery, the use of demeaning or blasphemous language, the consumption of alcohol, daily dietary laws, pornographic material, etc. seriously. In the words of Professor Iain Benson,  “These rules do not and are not intended to ‘make sense’ to those outside of the particular traditions that uphold them and it is their very peculiarity to outsiders that ought to and does make us chary about trying to judge such beliefs from outside.” Verder in paragraaf 23: “It is also plausible that a legal system would consider certain rights of such crucial importance that it is willing to render them immune from government interference, including judicial deference.”

Oor die aanstelling van gays in kerklike ampte, skryf Woolman die volgende: “So long as church rules clearly preclude openly gay and lesbian members of the church from participating in public practices in the church, neither our courts nor our state has any business using such blunt cudgels as the right to dignity to reinstate an openly lesbian so that she might teach in a faith-based church and be remunerated for her efforts”. (van Coller, p.693)

Professor Pierre de Vos voer aan dat dit vir kerke, moskees en sinagoges ’n skending van die reg op godsdiensvryheid sou wees indien daar van hulle verwag sou word, “to employ a gay dominee, imam, rabbi or priest or to force the Catholic Church to ordain woman priests.” (van Coller, p.691)

Op 14 November 2023 het die kerkraad van die NG Kerk Jacobsdal, die voorbeeld van Tafelberg, Leeuberg en verskeie ander gemeentes gevolg en besluit dat die gemeente inderdaad ten volle kerk is, “ecclesia completa”. Daarom sal “geen besluit van die Algemene Sinode op ons as kerkraad en gemeente afgedwing word nie.” Hul standpunt oor die huwelik is dat dit `n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is en verwerp alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit. “Geen leraar van die NG gemeente Jacobsdal mag selfdegeslagverbintenisse bevestig nie.”

Aan die hand van al bogenoemde wie is korrek, Gauntlett of Jacobsdal?

Dit is duidelik dat elke NG-gemeente as regspersoon ook volledig kerk is en daarom nie individueel deur die hofuitspraak van 2019 gebind behoort te wees nie. Indien Jacobsdal se optrede wel regmatig is, geld die hofuitspraak vir geen gemeentes wat hulle daarvan asook die 2023-sinodebesluite, distansieer nie en hul eie besluite, binne hulle verstaan van die Skrif, formuleer.

Indien Gauntlett se regsmening korrek is en die hof wel geregtig was om sy besluite ooreenkomstig artikel 43 van die Kerkorde op alle gemeentes af te dwing, is die tafel vir gekompliseerde regsgesprek gedek.

Artikel 43.2.1 van die Kerkorde, (“Die Algemene Sinode hanteer nie sake wat deur die samestellende sinodes of gemeentes hanteer kan word nie”) het dikwels tydens AS besluitneming gegeld. Dit geld veral wanneer dit uit die besluit duidelik is, dat dit bloot rigtinggewend is en aan kerkrade oorlaat om self te besluit. So byvoorbeeld wou die Sinode van Noord-Transvaal (nou Noordelike Sinode) reeds in September 2003 “geen kategoriese uitspraak lewer oor die maagdelike geboorte, of Jesus se liggaamlike opstanding nie.” Elke gemeente sou dus self hieroor (die wese van die Christelike geloof) moes besluit. In 2011 het die AS selfs oor Satan se bestaan slegs rigtinggewend besluit: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” Alle kerkrade, namens gemeentes, moet dus self besluit watter “opsie” vir hulle geld. Selfs hieroor kan kerkrade self besluit, wat die ononderhandelbare besluitnemingsmag van kerkrade in enige geloofsaak beklemtoon. Ooreenkomstig Kerkorde artikel 23.1 kan geen besluit van die AS, of enige ander vergadering, in elk geval vir ‘n kerkraad bindend wees nie, in soverre daardie kerkraad dit in stryd ag met “die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde.”

So ook het die AS sedert 2007, telkens besluit dat kerkrade oor die diskresie beskik om self die verskille oor homoseksualiteit, in gemeentes te hanteer. In 2015 erken die AS “die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.NB. Omdat die Hooggeregshof die Buitengewone Sinode van 2016 onregmatig en nietig verklaar het, het bogenoemde besluit van 2015 dus steeds tydens die 2019-uitspraak gegeld. In die lig hiervan, sou die regters nie artikel 43.1.1 in hul uitspraak kon gebruik, om alle gemeentes van die kerk te bind, asof hierdie regmatige 2015-besluit op artikel 43.2.1 geskoei, nie bestaan nie. Gauntlett het dit skynbaar nie besef nie, óf die kerk se asemlose regspan, soos hierbo behandel, het dit nie eers in verweer onder die hof se aandag gebring of as ultra vires daarteen geappelleer nie!

‘n Nuwe dimensie is betree toe die Koinonia Sinode, wat op 4 Mei 2023, deur 56 dolerende gemeentes gestig is, na afloop van die AS van 2023 die streep in die sand getrek het. Op 1 November 2023 het ‘n uitgebreide werkgroep ‘n konsep dokument “Die pad Vorentoe vir Skrifgetroue Gemeentes en Lidmate” na lede uitgestuur. Hulle standpunt word breedvoerig gestel:

”Ons as lidmate, ampsdraers en mindere kerkvergaderinge distansieer ons in woord en daad van die AS en ander kerkvergaderings wat nie meer die merktekens van die ware kerk van Christus vertoon nie, wat die gesag van die Woord van God ondermyn, van die Gereformeerde leer afgewyk het, in kerklike wanorde verval het, wêreldgelykvormig geword het, die uniekheid van die Evangelieboodskap nie meer handhaaf nie en die Christelike huwelik gerelativeer het. Verder verwerp ons die besluite van die AS en ander kerkvergaderings wat hieruit voortvloei en ag hierdie besluite nie as bindend nie, omrede die besware daarteen ingedien geensins aangehoor en oorweeg is nie, maar by herhaling geminag is. Daarom skort ons enige verbintenis op met die AS en ander kerkvergaderings, asook die teologiese opleidingsentra waar bogenoemde aan die orde is en heers.”

Dit word duidelik verklaar dat lidmate en dus gemeentes, nie beloof om getrou te bly aan alle sinodale besluite of kerkvergaderings nie, maar wel aan die Woord en die gereformeerde belydenisse, “onbevrees dat die AS met al sy Taakspanne en werkgroepe soos die ASM, ATR, ATLAS, AK en die Teologiese Fakulteite, die vernaamste oorsaak is waarom daar tans so ’n groot gebrek aan ware eenheid in die NG Kerk is terwyl die AS en ASM steeds probeer om ‘n skyn van eenheid voor te hou.”

Die bestaande AS moet met ‘n Federale Vergadering van volkome onafhanklike en selfstandige kerke vervang word, “waar geen afdwingbare bindende besluite geneem kan word nie. Daar word dus nie soos tans by die huidige Algemene Sinode, beleid bepaal en besluite geneem waaraan al die selfstandige kerke hulle moet onderwerp nie.”

Dit is egter nie die bedoeling om ‘n nuwe kerk te stig nie. “Om duidelik onderskei te word van diegene wat hulself ten onregte “NG kerk” noem, sal ons geregistreerde naam “NG Kerk” bly soos dit is, maar in die volksmond sal ons bekend staan as die “Vrygemaakte NG gemeentes.”

Op 30 November 2023, het die NG Kerk Kempton-Krag onder die eerste gemeentes getel, wat die Konsep Dokument aanvaar en “alle direkte en indirekte bande met onmiddellike effek met die Algemene Sinode van die NG Kerk, die Hoëveld Sinode en die Ring van Birchleigh” op te skort.

Sal dit regmatig wees om alle bande met die AS op te skort (nie verbreek nie) en steeds binne die NG Kerk in naam te bly? Die bedoeling is dat bande opgeskort sal bly, totdat die kerk tot “bekering” (of inkering?) kom. Na wie word hier verwys? Te oordeel aan die groot meerderheid waarmee die 2019-besluite weer in 2023 aanvaar is, is daar geen behoefte tot bekering by die AS of die ASM te bespeur nie. Die voorstelle in die ATLAS verslae, (byvoorbeeld oor gesamentlike aanbidding en aborsie) wat na 2027 oorgespoel het, asook die 2030-droomsenario, dui ook nie daarop dat bekering voor hande is nie. Tot wanneer sal opgeskorte bande geld, voordat dit verbreekte bande word? Sal gemeentes intussen steeds onder verpligting staan om finansiële bydraes aan die AS te maak?

Dit gaan duidelik nie net meer oor Gauntlett en Jacobsdal nie, maar oor ‘n groeiende ontwaking in die NG Kerk, wat binne die kompleksiteit van die reg, (grondwetlik, kerk- en algemene reg) bestuur moet word. In die lig van hierdie studie, is dit duidelik dat elke gemeente wat volkome en onafhanklik kerk wil wees, by hernuwing bepaalde onwrikbare geloofsoortuigings sal neem, notuleer en verskans.

Intussen behoort die moderator van die NG Kerk, ds. Jan Lubbe, asook die voorsitter van die Kairos Netwerk, dr. Anton Knoetze, afsonderlik of gesamentlik, ‘n gerespekteerde kundige regsmening hieroor, terugwerkend en tot op datum, insluitend die Gauntlett kwessie, te verkry en publiseer.

Indien kerkleiers mekaar hierin nie in Christelike liefde omarm nie, bestaan die gevaar dat, ongeag watter regsmening oorheers, verligting soos voorheen in die hoogste hof van die land gesoek sou kon word. (Dit is presies waarteen die apostel Paulus in 1 Korintiërs 6:1-7 waarsku: “Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek (burgerlike aanstellings in vandag se terme) en nie by gelowiges nie…? Ek sê dit om julle skaam te maak… Eintlik is julle saak al klaar verlore…”)

Dr Etienne Liversage

Januarie 2024

Ladysmith,KZN

1 thought on “‘n Historiese ontleding van reg- en onregmatige besluitneming ten opsigte van selfdegeslagverhoudings, 1986-2023”

  1. Wat onderliggend aan die onregmatige besluitneming is, is onregverdige prosesse wat gevolg word by die algemene sinode veral, sekere streek sinodes, en kerkrade (die HOE daar by die onregmatige besluitneming uitgekom is).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui