Ek het vrae vir dié groep predikante van die VS

*******

Ek het vrae vir dié groep predikante van die VS | Netwerk24

Gerhard Oosthuizen, Klerksdorp

Volksblad, 29 Januarie 2024

Ek is verstom dat byna nog niemand kommentaar gelewer het op die 45 Vrystaatse predikante se verklaring (15.01) nie. Is dit te gou vir reaksie?

Ek wil by hierdie predikante weet:

Keur hulle selfdegeslagverhoudings, veral onder predikante, goed?

Glo hulle aan die letterlike bestaan van Satan of nie?

En glo hulle aan die maagde­like geboorte en die letterlike opstanding van Christus, ons Here en God?

Wat is dan die werklike punt wat hierdie 45 predikante met hul openbare verklaring wil maak?

Wat my betref lyk dit asof hulle net so ’n gebuigde liberale teologie aanhang en verkondig as die algemene sinode (AS) van die NG Kerk (NGK).

Waarom by implikasie weer dieselfde punte (besluite) herhaal wat die algemene sinode voorheen alreeds verskeie keer gemaak het?

Is dit dalk omdat hulle agtergekom het baie lidmate van die NG Kerk, asook duisende lid­mate van verskeie ander Christelike kerke oor die wêreld heen val nie meer vir hierdie gebuigde en valse Christelike teologie nie?

Indien van hierdie predikante die “gevalle” dr. Ben du Toit en sy makkers ondersteun, is dit ’n skande en gaan hulle eendag (binnekort) voor die lewende God van die Bybel moet verantwoording doen vir hul gebuigde doen en late in die NGK in Suider-Afrika.

Ek kan en mag niemand veroordeel nie, maar ek kan ’n ernstige beroep doen op predikante om hulle werklik te bekeer van uiters verkeerde en gebuigde teologie.

Elkeen van ons lidmate wat ’n pad stap saam met predikante wat hulle hieraan skuldig maak, sal saam met hulle voor die lewende God hieroor verantwoording doen.

Die God wat ék ken, speel nie speletjies ten opsigte van sonde nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui