Wie is ware en wie is valse kerk?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: Wie is ware en wie is valse kerk? – Kerkbode

31 Januarie 2024

Dubois du Toit van Kestell skryf: Dr Leon Foot se onlangse petisie, onderteken deur 45 leraars, verwys. Waaroor gaan sy skrywe en 45 gelegitimeerde predikante (en teoloë) se meeloping ten diepste?

Dit gaan ten diepste oor die soeke in die NG Kerk na die wil en wese van God, soos Hy Hom openbaar in ’n unieke Boek wat die toets van die tyd deurstaan het. Vanuit daardie Boek en die Opsomming daarvan (Drie Formuliere) “leer” ons wat in die NG Kerk gedoop en gekatkiseer is, wie God is, wat gebeur het dat die aarde in so ’n vervalle toestand is en wat God daaraan kom doen het.

LEES OOK: Dié Vrystaatse dominees gooi wal teen verdagmakery, beskuldigings

Maar al daardie kennis is nie genoeg om jouself ’n Christen te noem net omdat jy deur daardie leerskool is nie. Predikante is verder geskool deur spesialiste in teologie, wat steeds nie beteken jy ken die ware God soos Hy Hom openbaar in die Boek nie. Enige iemand wat blootgestel is aan hierdie kerkkultuur en godsdiensagtergrond, kan uitsprake maak oor God, die Kerk, Christelike identiteit en die praktiese uitlewing daarvan.

Maar hier is die olifant in die kamer – nie almal ken die Waarheid soos geopenbaar deur Jesus Christus self nie. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Ons stryd in die NG Kerk is in wese ’n stryd oor Waarheid. Alle NG lidmate wat glo in Jesus as hulle persoonlike Verlosser, is skape van sy trop, maar Jesus het gewaarsku dat wolwe in skaapklere die kerk sal binnedring, mislei en verwoes. Dit is waar die ware en valse kerk van die Reformasie vandaan kom.

As daar wolwe kom en die skape van hulle Herder se stem probeer vervreem deur ’n ander evangelie wil kom leer, het ons ’n stryd tussen ’n valse en ware kerk. Dus wil ek vir dr Foot vra, as daar dan geen vals leraars (wolwe) in die NG Kerk is nie, het ons dan Utopia op aarde bereik van ’n kerk sonder sonde, misleiding en vals leer? Het die satan dan gewyk van sy aanslag op ons kerk? Is daar ooit ’n tyd in die Kerk op aarde waar daar dan geen poging tot misleiding en vals leer is nie? Is ons nou op so ’n tyd en plek? Of is die sogenaamde behoudendes dan die wolwe, wat die Here se skaaptrop wil vernietig? Hulle wat nie wil verander saam met die tyd en die Boek wil aanpas volgens die tydsgees nie? Die Algemene Sinode en teologiese opleiding het sedert 2000 ’n nuwe ideologie aangeneem wat vertrek vanuit progressiewe teologie, deur weg te beweeg van die Boek as onfeilbaar, die belydenisskrifte as ons ooreenkoms ten opsigte van gereformeerde leer (Art 1 van Kerkorde). In 2002 en 2004 is die ruim huis geskep toe die AS besluit het dat die Boek nie meer ’n openbaring van God is nie, maar mense se opinies oor hulle verstaan van God. In 2019 is ons uiteindelik vasgeloop – wie is dus die ware en wie is die valse kerk? Kairos Netwerk is gestig om die NG Kerk se teologiese opleiding en leiers terug te roep na die oorspronklike erkenning van die Boek as ’n bonatuurlike openbaring van God self, nie as die gekonkel van mense nie. Duisende lidmate roep die NG Kerk se leiers en teoloë in liefde terug na die Herder se trop volgens sy Boek en wil.

Kommentaar

Daniel Louw

Dubois du Toit (snr) vra: “Dus wil ek vir dr Foot vra, as daar dan geen vals leraars (wolwe) in die NG Kerk is nie, het ons dan Utopia op aarde bereik van ’n kerk sonder sonde, misleiding en vals leer? Het die satan dan gewyk van sy aanslag op ons kerk?”

Hierdie is ‘n uitstekende vraag. Daar is tog sekerlik altyd vals leraars in ‘n kerk wat getug moet word. Waar was hulle die afgelope 20 jaar? Hoeveel predikante is van hulle amp onthef oor dwaallering?

Die realiteit is dat ek nie aan iemand kan dink nie, want die NG Kerk het ‘n ruim huis geword.

1 thought on “Wie is ware en wie is valse kerk?”

  1. Die eintlike vraag is dan is die gelowige in Christus of nie?
    Het hulle die heilige Gees of is hulle nog 100% menslik.
    Kerkverbande is organisasies met lidmaatskappe, dit sal moet onderskei word van die ‘liggaam van Christus’. 1.Cor 12:12ff spesifiek: 12:27-29
    Daar is natuurlik organisasies van christene wat heltemal van die spoor kan ofkom en ek dink dis iets wat dikwels in die geskiedenis gebeur het. Wat oorvat is maar die ‘menslike opinies’ van of the leierskap of die lede en dit verplaas op die ou einde die Heilige Gees heltemal en dit kan selfs ‘n behuising van demone word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui