Kritiek op boek … jakkals se sterte

Die volgende is geskryf in reaksie op ‘n Gesprek met prof FE Deist oor sy boek Sê God so? (12 Januarie 1983)

*******

Kritiek op boek … jakkals se sterte | Kerkbode

Ferdinand Deist

Kerkbode, 16 Februarie 1983

‘n Debat oor die saak waarom dit in my boekie Sê God so? (Tafelberg-Uitgewers, 1982) gaan, kon nogal interessant wees. Ongelukkig hel dr S.A Strauss (Die Kerkbode, 12/1/83) die bal op so ‘n wyse afgeskop dat dit nou oor my persoon gaan. In die geval lyk ‘n “debat” nie baie sinvol nie, want wie is ek nou dat ons kerkblad sy ruimte daaraan moet afstaan? Boonop kan so ‘n debat maar net ons kerkmense verwar en die doel streef ek darem nie graag bewustelik na nie.

George Elliot het gesê: “The critic, one would suppose, if he is to justify his existance, should endeavour to discipline his personal prejudices and cranks … in the … pursuit of true judgement.” Dat dr. Strauss hierdie opmerking ook maar ter harte kan neem, sal duidelik blyk uit die volgende paar voorbeelde van foutiewe weergawes van wat ek gesê het.

Ek wil graag hierdie paar jakkalsies met die fakkelsterte uitvang. Netnou kom hulle, soos Simson s’n van ouds, in die ryp koringlande … Want as dit moet waar wees dat ek ‘n relativis, politieke en teologiese liberalis, modernis, piëtis, positivis en dies meer is, soos dr. Strauss my tipeer, kan ek nog dalk met hom saamstem dat so ‘n ET nie langer in die NG Kerk geduld moet word nie.

1. “Ons kan nie weet wat die wil van God is nie. Wat ons wel ‘weet’, is dat ons ons nie op die ‘evangelie’ kan beroep nie. Dis darem nie hoe ek dit gesê het nie. Op bl. 18 het ek “evangelie” met opset in aanhalingstekens geplaas om daarmee te sê: dié term beteken hier iets anders as wat normaalweg daaronder verstaan word, naamlik wat mense a la hulle vooroordele vir “die sentrale evangelie” aansien. Ek het gewaarsku teen die gebruik van dié term omdat mense dit so gebruik asof almal presies dieselfde daaronder verstaan.

Dat ‘n mens jou op die Skrif moet beroep, staan mos darem duidelik in my hoofstuk oor Skriftuurlikheid. Die feit dat dr Strauss nie met my saamstem oor hoe daardie beroep gedoen moet word nie, beteken mos nie dat ek dit nie gesê het nie?

2. “Ons gereformeerdes”, “ons” weet by watter “Europese teoloë” ek my dwaalleer geleer het. Dis mos nou oor hierdie retoriek van die verdagmaking dat ek gepraat het onder die term odium theologicum. Dié jakkals se stertfakkel brand nogal sterk, “The critic should discipline his personal prejudices in the pursuit of true judgement.”

3. Dat God nie in strukture geinteresseerd is nie, maar net in mense: Dit het ek darem mos nie gesê nie? Dat ons so behep is met strukture, dat ons mense in strukture miskyk en meen dat die koninkryk van God gekom het as ons ‘n “regte” struktuur (let wel politieke struktuur) op onwedergebore mense afgedruk het, ja dit het ek wel gesê. En is dit dan nie waar nie?

4. Sou ek dit hê teen mense wat met voorveronderstellings werk?

Nie regtig nie. Ek dink nie dit wat ek wél gesê het, so vaag is nie: As die Bybel nou maar net die Bybel was, maar net ‘n gewone boek, so het ek betoog, sou ‘n mens nog jou skouers kon optrek oor die politieke misbruik van die Bybel; maar nou hang daar ‘n wolk van voorveronderstellinge rondom die Bybel, naamlik dat dit geïnspireerd is, dat dit onfeilbaar is en Woord van God is. En, het ek voortgegaan, dis presies hier dat die hele gedoente lasterlik word.

Hoekom dan lasterlik? Omdat die Bybel inderdaad geïnspireerd, onfeilbaar en Woord van God is! Mense misbruik dus die Bybel juis omdat ons bepaalde dinge omtrent die Bybel bely.

As ek nou regtig so ‘n nare positivis was wat die bestaan van dergelike veronderstellings ontken het, as ek nou regtig nie geglo het dat die Bybel van God kom nie, waarom sou ek dan onthuts voel oor hoe mense die Bybel gebruik? Sou ek dan hoegenaamd hierdie boek geskryf het? Ek het nogal gedink dat dié belydenisse die basis van my hele argument is.

5. My “aanhaling” van die woorde “naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart” (sonder natuurlik die “Woord”) was toe ook nooit ‘n aanhaling nie. ‘n Aanhaling staan tog gewoonlik tussen aanhalingstekens gevolg deur ‘n verwysing? Dit was maar net ‘n blote “aanspeling” op die bekende woorde (verskoon die Germanisme), wat hoogstens kan beteken: soos met die Woord, so …

6. Dat ek ‘skriftuurlik’ ensovoorts met ‘n klein ‘s’ spel, lê darem nie by my oneerbiedigheid nie, maar by die voorgeskrewe Afrikaanse spelreëls waarby uitgewers hulle hou.

7. Is my beroep op die gewete regtig “n voorbeeld van subjekiwisme? Ek glo nie. Op bl. 39 het ek tog gesê dat dié “gewete” ‘n inhoud het. naamlik die evangelie van Jesus Christus soos dit aan ons oorgelewer is. Ek het verder gesê dat ‘n (voorlopige) gewetensbesluit nog getoets moet word deur (a) die gesprek tussen gelowiges (d.i. dus die kerk) deur (b) verwysing na die Skrif, Gewetensoordele moet nog waar gemaak word (bl. 65). Die Skrif is derhalwe die finale beroep om te bevestig of te weerlê, soos die Nederlundse Geloofsbelydenis, artikel VI, sê. Die gewetensberoep is ook nie regtig so ‘n “wetenskaplike” prosedure nie. Dis maar net ’n voorstel om rekening te hou met die voorveronderstellinge (!) waarmee mense te kampe het. Ek meen mense moet die geleentheid hê om mekaar se vooroordele te help temper en toets voordat hulle hul finaal beroep (bl. 64-65).

8. Wil ek regtig op piëtistiese wyse die politiek vermy? Ek glo nie. Dis dan juis waaroor die boekie gaan? Ek het dan selfs op bl. 42 gesê dat Christene die politiek se “suurdeeg” moet wees. En hoe doen ‘n mens dit as jy nie deel is van die meel van die politiek nie?

9. Is God ’n Despoot omdat daar in Judas na Christus as “despotes” verwys word? In my Griekse weordeboek word dit verduidelik as: “heer, meester, eienaar” – soos die Afrikaanse Bybelvertalers tereg vertaal het. My Afrikaanse woordeboek gee despoot egter aan as; ‘n onredelike, willekeurige alleenheerser, dwingeland”. En ek het tog sekerlik in Afrikaans geskryf? ‘n Mens gee mos nie Griekse woorde se betekenis aan Afrikaanse woorde nie? Wie sal jou dan verstaan?

10. Kan ‘n mens “leerstukke” uit die Bybel aflei, byvoorbeeld oor regverdigmaking en uitverkiesing deur-die-geloof-alleen? Maar alte seker kan ‘n mens sê wat die Bybel oor dié dinge sê. Trouens, my klem op die persoonlike geloof in hierdie boekie het ek nêrens anders gekry nie. Maar dis tog nie waaroor my stelling gegaan het nie. My vraag was of ‘n mens politieke resepte (dogmas) uit die Bybel kan aflei en my antwoord daarop bly nog steeds nee.

Eintlik is “aflei” hier ook nie die regte woord nie. Vir my het dit gegaan oor direkte oordrag van Bybelse “modelle” op die moderne samelewing. Ek het tog herhaaldelik gesê: As dit nou oor die kerk gegaan het …, maar nou het ons dit oor die politiek. So staan dit ook in die NGB, art. VII.

11. Of ek “in” wil wees? In by wie? sou ek wou vra. Ek skryf darem nie namens “ons liberaliste” nie, maar uit vrye en persoonlike oortuiging. Ek behoort nie aan die of daardie drukgroep nie. Ek glo nie aan ‘n ek-is-van-Paulus en ‘n ek-is-van- Apollos-spelery nie.

Vir my gaan dit prinsipieel oor die evangelie van die kruis van Jesus Christus. En ek staan daarby dat dié evangelie ‘n evangelie van persoonlike en kerklike onmagtigheid is en dat dit God is wat werk. Ook daarby dat elkeen wat die evangelie vir die verkryging of behoud van mag wil gebruik, die evangelie nog nie verstaan het nie, Dié siening, meen ek, strook met die NGB, art. XXIIXXIV.

Bostaande voorbeelde sal genoegsaam duidelik maak dat dr. Strauss ‘n hele boel jakkalse van fakkelsterte voorsien het en in die rigting van die ryp koringland probeer jaag het. Dit blyk egter ook dat die fakkels aan hulle sterte vasgeknoop is… Maar laat ek dan duidelik sê waarom dit vir my gegaan het.

  • Dit gaan vir my daarom dat Skrifgebruik nooit, maar nooit van die geloof (voorveronderstelling) en die leiding van die Heilige Gees (voorveronderstelling) losgemaak kan word nie. Wie die Bybel gebruik asof dit op sigself antwoorde verskaf, maak laarvan ‘n magiese boek.

Dat mense uit die Skrif aangespreek word, hang nie aan die letters nie, maar aan die Gees van God. So meen ek het Calvyn al gesê. Die Bybel is in diens van God, nie in diens van mense nie.

Ek het dit oor die ontkoppeling van die Bybel aan die voorwaardes waaronder dit kan funksioneer as Woord van God, naamlik die voorwaardes van geloof en leiding deur die Heilige Gees.

  • Ek het dit teen die hantering van die Bybel as ‘n resepteboek vir politieke doeleindes. Ek wil in die verband net aanhaal uit wat prof. D.F.M. Strauss in die Winteruitgawe van Interim geskryf het (sonder om hom op enige manier te betrek): “Die biblisisme, wat o.m. meen dat daar Skrifbeginsels bestaan vir alle lewensterreine en vir elke faset van sy doen en late, is ook ‘n geesteskind van die natuur-genade-dualisme … Die ‘Skriflig’ dui dan op die vermeende ‘Skrifbeginsels’ wat via teologiese eksegese ‘n Christelike perspektief moet gee op allerlei nie-kerklike lewensterreine ,.. Van innerlike reformasie van die nie-kenlike terreine is hier geen sprake nie …” Vergelyk wat ek oor strukture en mense en oor die Christen as “suurdeeg” gesê het.

Dit gaan vir my daarom dat mense die skriftelike neerslag van die Bybeltekste aansien vir pasklaar norme in plaas van as gepositiveerde norme, d.w.s. in konkrete situasies. Dit gaan vir my oor die prosedure (d.w.s. die verantwoordbare manier) waarop die norme ontdek en opnuut gepositiveer kan word. “Juis omdat ‘n beginsel egter op die mens aangewese is vir nadere vormgewing (positivering} en wei in uiteenlopende unieke historiese situasies, kan geen enkele positivering ooit gepositiveerd as maatstaf dien vir alle tye en alle plekke nie”, aldus prof. Strauss.

Ek het dieselfde soort gedagte, maar net prakties en veel eenvoudiger, probeer “lug” gee. Dit gaan dus nie daarom of die Bybel ‘n woord te spreek het nie, maar om die vraag hoe daardie woord gehoor moet word. En so ‘n vraag kan tog nie ‘n aantasting van Skrifgesag wees nie?

Ek wil mense tog vra om in dieselfde verband ook prof. J.W.V. van Huyssteen, en ds. Ben du Toit se Geloof en Skrifgesag te lees – weer eens sonder om hulle te “betrek”. Ek glo nie ek is so ongereformeerd as wat dr. Strauss my voor aansien nie – tensy gereformeerd ortodokse neo-Calvinisme bedoel.

Maar ek is van opinie dat gereformeerd veel wyer loop as dit – veral as ek die belydenisskrifte lees. Daarin kan ek my, as hulle gereformeerd is, wel vind. Dat ons van mekaar verskil, is duidelik, dr. Strauss. Maar A.N. Whitehead het gesê: Botsing van dogmas is nie ‘n ramp nie, maar ‘n geleentheid.

Uit die bostaande behoort dit duidelik te wees waarom ek verkies om die “debat” hiermee tot ‘n halt te roep wat my betref. Dit gaan maar net ontaard in ‘n ‘is-is-nie-is-sêery’ oor wat ek sout gesê het of nie sou gesê het nie, en nie oor die saak nie. En dit kan ons lidmate net verwar. Miskien, as ons mooi gaan dink dr. Strauss, vind ons nog uit dat die Engelse kritikus Cyril Connolly gelyk gehad het met die volgende wysheid: “Truth is a river that is always splitting up into arms that reunite. Islanded between the arms the inhabitants argue for a lifetime as to which is the main river.”

Kommentaar

Daniel Louw

Op die oog af kan dit lyk of Ferdinand Deist homself goed verdedig teen Sybrand Strauss se kritiek. Of Sybrand Strauss oorkrities was oor Ferdinand Deist se boek, weet ek nie. Ek gee ook nie om nie. Waaroor daar nie kwessies is nie, is dat Ferdinand Deist liberaal was:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui