‘n Gesprek met prof FE Deist oor sy boek Sê God so?

Kyk ook Kritiek op boek … jakkals se sterte (16 Feb 1983) waarin Ferdinand Deist op hierdie skrywe reageer.

*******

‘n Gesprek met prof FE Deist oor sy boek Sê God so? | Kerkbode

Sybrand Strauss

Kerkbode, 12 Januarie 1983

Toe die meeste van ons rustig somervakansie gehou het, het prof. Ferdinand Deist van Unisa hierdie onrustige nuwe boek van hom die ig laat sien. Die subtitel daarvan lui: “Protes en pleidooi – oor ons tyd, vir ons land.”

Hy sê self vooraf dat hy weet dat ons “van mekaar sal en gaan verskil” oor wat hy geskryf het. Daarin het hy volkome gelyk, Wie doelbewus so aktueel en kontroversieel soos hy skryf, soek reaksie.

Buitendien, so voeg hy by, sy boek wil “nie voorskryf nie, maar uitnooi tot ‘n gesprek”. Die uitnodiging wil ek graag aanvaar.

Ek gaan nie hier opnoem met watter van sy uitsprake ek saamstem nie, behalwe dat daar wel sulkes is. As hy wil, kan ons ‘n volgende keer daaroor gesels. Hier wil ek konsentreer op dié gedagtes waarteen ek (soms selfs ernstig!) beswaar het.

Prof, Deist teken in die eerste gedeelte van sy boek protes aan teen allerlei verskynsels in ons kerklike en politieke lewe wat hom irriteer. Hy het dit veral teen twee dinge. Die een is ons ideaal van ‘n “Christelike staat”. ‘Syns insiens is so iets ‘n onmoontlikheid, want “niks anders as die kerk is Christelik nie”.

Die ander ding waarteen hy protesteer is die “eierdanse” wat ons uitvoer met ““Skrifbewyse” om ons eie politieke opvattinge Bybels te probeer regverdig. Hy meen dat dit onmoontlik is om by voorbaat die “wil van God” vir die samelewingstruktuur aan te bied, aangesien ons steeds worstelend “op soek” is daarna.

Ons kan “nooit regtig weet” wat God se wil is nie. Wat ons wel “weet” (volgens die skrywer natuurlik, is dat ons ons nie op die “evangelie” kan beroep nie. In die Bybel is daar nie net “een sentrale boodskap” van die Christelike geloof nie (bl. 16).

Eintlik is die hele boek verder ‘n ontleding en bespreking van hierdie twee probleemkomplekse.

Piëtisties

Op die eerste een van bogenoemde twee – die verhouding tussen kerk en staat – wil ek nie nou te diep ingaan nie. Ek wil maar net beklemtoom dat dit werklik geen nuwe siening is wat hier geprobageer word nie.

Prof. Deist weet dit self ook: die alternatief wat hy aanbied, is ‘n tradisionele een, naas die “militante Christendom”.

Eintlik is dit ‘n tipies piétistiese siening, d.w.s. van gelowiges wat hul Christenskap hoofsaaklik (of selfs uitsluitlik) tot hul persoonlike verhouding met God wil beperk. Ons gereformeerdes het hieroor egter ‘n ander siening. Ons is ook bewus van die ingewikkelde probleme waarvoor die verhouding kerk-staat (of; Christen-politiek) ons stel,

Maar een ding staan vir ons vas: God het ons geroep om alles wat ons doen, selfs of ons eet of drink (1 Kor, 10:31), tot verheerliking van Hom te doen. Daarom handhaaf ons die roeping tot Christelike politiek en staatkunde. Ons kan dit nie aanvaar dat daar êrens ‘n neutrale terrein van die lewe kan wees waar die gebod van God dat ons Hom moet liefhé met ons hele hart en al ons kragte nie sou geld nie.

Dat Hy net in “mense”, en nie ook in “strukture” nie, sou belangstel (bl. 28 vv.), lyk darem na ‘n alte maklike ontduiking van ons verantwoordelikheid. Ons kan mos nie willekeurig die lewe in twee terreine -“genade” en “natuur” – verdeel nie, Hy is tog Here oor sy ganse wye skepping!

Omdat ek nie nou verder op prof. Deist se siening van die politiek ingaan nie, gaan ek ook nie kommentaar lewer op wat hy oor “apartheid” skryf nie. Die groot onrus wat sy boek by my veroorsaak het, lé op ‘n ander vlak.

Die tweede van die bogenoemde probleme – die interpretasie van die Skrif – is ongetwyfeld die belangrikste gedeelte in Deist se boek. Die standpunte wat hy hieroor verdedig, verdien beslis die ernstige aandag van elke kerklidmaat. Ter wille van die gesprek wil ek kortliks aanhaal wat hy in die verband skryf, en dan sommer my vrae daaroor so tussen deur aan hom stel.

Uitgangspunt

Deist se uitgangspunt is dat die Bybel “tussen mense, deur mense” ontstaan het, “gelowige mense” (bl. 47) Wie die Bybel opneem, moet dus in gedagte hou dat dit “’n baie fragmentariese bundel getuienis van mense (is) wat in hulle omstandighede gesoek het na die waarheid omtrent hulle lewe en omtrent God” (bl. 48). Dit is darem maar ‘n baie skraal definisle van die Bybel dié! Dit tref ‘n mens dat daar in hierdie weergawe geen enkele verwysing daarna is dat die Bybel God se openbaring van die waarheid aan ons is nie.

Hoekom sou prof. Deist doelbewus so formuleer? Wil hy daarmee te kenne gee dat hy ons gereformeerde Skrifbeskouing, soos ons dit bely in o.m. die Ned. Geloofsbelydenis art. 2-7, heeltemal afgesweer het? Of probeer y maar net “in” wees?

Want hierdie siening van hom is tog niks anders nie as die hedendaagse Skrifopvatting van talle ongereformeerde teoloë. Sou hy nou regtig meen dat hierdie Skrifbeskouing van hom geen “voorveronderstelling” (vgl. bl. 4) inhou nie?

As hy vooraf besluit dat die Bybel ‘n bloot menslike dokument is, is hy minstens net so “onobjektief” soos die gereformeerde teoloog wat vooraf, saam met die kerk van alle eeue, bely dat hierdie heilige Skrifte die geïnspireerde Woord van God is, en dit nogal omdat die Skrif self so sê (1 Tim. 3:16; 1 Pet, 1:20v).

Prof. Deist vervolg: Die Bybel is “nie ‘n monolitiese blok vol leerstukke nie” (bl. 50). Daarom is dit, volgens hom, “moontlik om verskeie teenstrydighede uit die Bybel aan te haal” (bl. 48). Almal van ons erken dat daar ‘n openbaringshistoriese voortgang in die Bybel is, en dat alle uitsprake dus nie op dieselfde lyn geplaas kan word nie. Maar Deist bedoel meer as dit. Hy bedoel dat die “teenstrydighede” meebring dat ons nooit kan sê: die Bybel “leer” sus of so oor ‘n bepaalde saak nie: “Die Bybel leer nie, die Bybel getuig (bl. 50).

Eerlik, dis tog ‘n ongenuanseerde manier van praat. Sou die skrywer nou werklik meen dat ons nie van die Bybelse “leer” oor by, die regverdigmaking of die uitverkiesing kan praat nie? By alle verskeidenheid is daar tog in die Skrif ‘n onweerlegbare eenheid aanwesig. Neem nou maar iets soos die regverdiging deur die geloof. Hierin staan Abraham (Gen. 15:6) en Paulus (Rom: 4:3; Gal. 3:6) tog direk langs mekaar. Miskien sou Deist toegee dat daar “dogmaties” wel ‘n eenheid in die leer van die Bybel aangedui kan word, maar tog volhou dat daar oor “‘etiese” sake slegs ‘n bonte verskeidenheid van “getuienisse” bestaan. Maar dan moet ons daarteenoor stel dat daar tog ook t.o.v, etiese kwessies (bv. die huwelik of moord) in die verskeidenheid beslis ‘n eenheid is. Vir ons is die Bybel wel (ook) ‘n “leerboek”. Daarom vind ons dit uiters verwarrend om te sê die Bybel is nie ‘n “antwoordboek” nie; net ‘n “getuienisboek” (bl. 52).

Werkswyse

Nadat prof. Deist op allerlei maniere aangedui het hoe die Bybel nie gebruik moet word nie, sit hy uiteen hoe dit wel gebruik moet word. Hy sê: as ons die Bybel lees “as boeke en briewe van mense wat ook geworstel het om die wil van God in hulle situasie”, gebruik God daardie eeue-oue dokumente “om vir ons lig te werp” (bl. 51).

“Hulle worsteling en hulle antwoorde gee aan ons die buitelyne, die riglyne waarbinne ons ons worsteling kan voortsit” (bl. 51). Só verstaan is die Bybel “nie die end van die probleem nie. Die Bybel is net ‘n rigtingwyser” (bl. 52).

Wanneer ek as Christen dus voor ‘n etiese probleem te staan kom, moet ek soos volg te werk gaan. Eerstens moet ek (waarskynlik soos ‘n positivis met my “gesonde” verstand; die probleem ontleed. Tweedens moet ek dan “besluit wat ék, in die lig. van my gewete voor God, gaan doen” (bl. 52-53). Dan eers, in die derde plek, begin “die Bybelse getuienis” sy rol speel: “Ek kan byvoorbeeld ook gaan kyk na wat ander gelowiges gesê het en wat via die kerk vir my bewaar gebly het” (bl. 58).

Maar by hulle – die Bybelskrywers – kan ek “net aansluiting vind. Die besluit bly myne, en ek moet dit kan verantwoord.” Omdat hierdie kern van Deist se beskouing gevind kan word, haal ons nog verder aan (bl. 53-54):

“Dis eintlik in hierdie proses van verantwoording dat die Bybel sy werklike rol vervul… Ek sal my spoor kan terugneem na die Bybelse getuienis en sê waarom ek meen dat dié Bybelgetuie na my oordeel hier meer van toepassing is as daardie een. Ek sal die Bybelgetuie ook deur die vuurproef van Christus – wat ook in my leef – moet stuur … Die Bybel kom dus nie vooraan as ’n bewys nie, maar agteraan as ‘n beroep, ‘n maatstaf.”

Volgens Deist is ‘n “skrifbewys”, wat van die Skrif uitgaan, dus foutief. Maar ‘n “skrifberoep”, wat aan die einde die Skrif byhaal, is korrek. Heel aan die einde van sy boek (bl. 73-74) beskryf hy weer hierdie drieledige proses van “skrifberoep” in dieselfde terme – en met dieselfde kleinletters s (!).

Subjektief

Ek moet erken dat hierdie alternatiewe Skrifgebruik, wat Deist as ‘n oplossing vir die probleem van verantwoordelike Skrifinterpretasie aanbied, my nogal teleurgestel het. Dit is tog duidelik soos daglig dat hy die normatiewe karakter van die Skrif protendeels prysgegee het, en ingeruil het vir die subjektiewe (en onkontroleerbare) maatstaf van “my gewete”. En dat hy hom nogal vir hierdie sterk neiging na subjektiwisme op ‘n Skrifwoord probeer beroep, is ewe teleurstellend.

Hy skryf: “watter besluit ek ook al neem, moet ek met my gewete voor God kan verantwoord, want sy wet is nie ver van my af nie, maar in my hart en in my mond” (bl. 53) Hy verwys hier sekerlik na die bekende Rom. 10:6 (vgl. Deut. 30:14).

Maar het hy dan nie opgemerk dat Paulus in dieselfde verband uitdruklik na die Skrif i.p.v. “my gewele” verwys nie? Paulus sê in vers 11: “Die Skrif sê tog,” en laat dan ‘n hele aantal “Skrifbewyse” (uit die O.T.) volg. En in vers 17 staan daar: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.”

Dit is sonder meer duidelik dat Paulus dit in Rom. 10:6 nie het oor die “gewete” nie, maar oor die Woord, die leer van die Skrif, die inhoud van die prediking, As dit die soort van willekeurige Skrifverklaring is waar aan Deist ons wil uitlewer, sien ek maar swarigheid vir die kerk vorentoe.

Die beroep op die “gewete” maak werklik die deur wawyd oop vir elke ketter om sy letter aan te haal. Deist sê dan self in soveel woorde – vgl. die aanhaling uit bl. 53 hierbo – dat ‘n mens jou moet kan verantwoord waarom jy, na jou oordeel, die een Bybelgetule bo ‘n ander een verkies.

Waar sal ons tog beland as die “wetenskaplike” manier van Skrifberoep by ons gangbaar moet word?

Deist is bewus daarvan dat sy manier van omgaan met die Bybel by baie van ons die vra laat ontstaan: Wat word van die Bybel se gesag? Inderdaad. Maar ook op hierdie vraag het hy sy antwoord gereed. Hy sê: “Die kwessie omtrent die gesag van die Skrif hang ten nouste saam met die gesag van Jesus Christus” (bl.56). Hy vervolg: “En hoe lyk Jesus se gesag? In die Markus-evangelie verbied Hy mense om bekend te maak wie Hy is.” Mense het Hom (aan die kruis) uitgedaag om sy Goddelike herkoms te bewys deur ‘n magsvertoon. “Maar Hy het nie toegegee aan die versoek nie. Hy is gekruisig en begrawe. God was blykbaar magteloos, soos die Bybel in hierdie denkskema (daar sê Deist dit self! – S.A.S) ook magteloos lyk. Maar toe wek Hy Jesus uit die dode op!”

En verder: “God beweeg in ‘n magtelose gedaante tussen ons. Nie omdat Hy nie oor mag beskik nie, maar omdat Hy geen despoot is nie … God kom magteloos, verneder, byna smekend tussen mense in en nooi hulle om in Hom te glo” (bl. 57).

Selektief

Ag nee, prof. Deist. Wil u nou werklik hê dat ons dié eensydige teologie moet aksepteer? Ons weet by watter Europese teoloë u dié siening geleer het. Glo u regtig dat dit Bybels is – dié “evangelie” (of is dit eerder “slegte nuus’’?) van ‘n magtelose ‘‘god”‘? En watse selektiewe “skrifperoep’ hanteer u tog hier? Hoekom haal u net sekere tekste uit Markus aan? Wat van dié keer toe Hy selfs die storm met één magswoord stilgemaak het, sodat die dissipels “met groot ontsag” moes vra: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (Mark. 4:41). En as u so beng is vir die term “despoot”, wat maak u met die Griekse teks van Judas vers 4, waar staan dat die dwaalleraars, “ons enigste Meester (despotés) en Here, Jesus Christus, verwerp”?

Natuurlik glo ons nie dat Hy ‘n willekeurige “Despoot” is nie, maar ‘n magtige “Despoot” is Hy wel deeglik – Hy wat die wettelose “met die asem uit sy mond (sal) verdelg en deur die glans van sy verskyning (sal) vernietig” (2 Tess, 2:8, om maar een teks te noem).

Ek sou oor nog meer, maar minder belangrike, sake in dié boek met prof. Deist wou gesels. Maar miskien het ek al genoeg vir een gesprek aangesny.

Ten slotte

Soos ek die saak sien, is die hoofbeswaar wat teen die boek ingebring moet word die subjektiwistiese Skrifbeskouing wat daarin aangebied word. Aan die een kant is ek nogal bly dat iemand dié modernistiese siening ‘n keer in duidelik verstaanbare Afrikaans weergegee het. Nou kan ons kerklidmate tog sien waaroor die eintlike stryd vandag in die kerk aan die gang is.

Dit gaan werklik nie in die eerste plek om oop” of “toe” kerkdeure nie, maar om niks minder nie as die fondament van die kerk: die Heilige Skrif. Dit gaan om die wesenlike vraag of die Ned. Geref. Kerk nog gereformeerde kerk wil wees. Dit word tog ‘n onderhoudbare situasie as iemand soos prof. Deist aan die een kant die Drie Formuliere van Eenheid onderteken het, en aan die ander kant dié ongereformeerde Skrifopvatting openlik propageer.

Kyk, ‘n nalewe piëtisme (wat bv. die politiek wil vermy) is nog ‘n relatief onskuldige saak. ‘Maar ‘n wetenskaplike subjektiwisme is vir die Kerk lewensgevaarlik!

Ek is dankbnar dat prof. Deist self gesê het dat hy nie in hierdie boek wil “voorskryf” nie. Dit is my opregte bede dat die Kerk die standpunte in hierdie boek baie krities sal bejeén, en nooit as “Bybelse” voorskrif sal aanvaar nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui