Kerk wil oorgedooptes pastoraal bystaan

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Kerkbode verskyn.

***********

Kerk wil oorgedooptes pastoraal bystaan

2004/03/18

DIE NG Kerk het hoegenaamd niks teen grootdoop nie. Waarteen die kerk dit wel het, is die oordoop (wederdoop). Die rede daarvoor is dat die geldigheid van die doop nie afhang van ’n mens se geloof of stemming nie, maar van God wat Hom en sy beloftes aan die dopeling verbind.

Só sê die dagbestuur van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (SKLAS) van die Wes-en-Suid-Kaapse Sinode. Hulle ver kla ring is in opdrag van die Moderatuur van die Sinode uitgereik nadat daar opnuut ’n debat in die briewerubriek van Die Burger, ’n Kaapse dagblad, sowel as in Kerkbode ontstaan het.

Volgens die verklaring gebeur dit dikwels in die NG Kerk dat mense wat nie as kinders gedoop is nie, ná aflegging van belydenis gedoop word.

Die dagbestuur sê daar is sedert die verskyning van die sogenaamde BEM-dokument (“Baptism, Eucharist and Ministry”) in 1983 wêreldwyd konsensus tussen hoofstroomkerke dat die oordoop van gelowiges die integriteit van die sakrament aantas. Die grootste kerkgenootskappe, waaronder die Anglikaanse, Katolieke, Gereformeerde, Baptiste- en Pinkster-kerke, weerhou hulle van die oordoop van reeds gedooptes.

Die Wes-en-Suid-Kaapse SKLAS sê in hulle verklaring die NG Kerk se standpunt oor mense wat hulle laat oordoop, is nie om hulle te verwerp nie, maar om hulle pastoraal by te staan. “Ons weet dat dit meestal nie uit kwaadwilligheid gebeur nie, maar die gevolg is van ’n diepe geestelike behoefte aan simboliese bevestiging van hulle geloof, asook die begeerte om aan God gehoorsaam te wees,” lui die verklaring.

Predikante wat hulle laat oordoop, verbreek egter hulle ooreenkoms met die kerk, en as hulle ná indringende gesprekke in hulle standpunt volhard, kan hulle afgedank word.

Die Moderatuur sê dit is belangrik om te weet dat die kinderdoop op teologiese sowel as verantwoordbare Bybelse beginsels berus. Die kerk besef ook dat baie mense ’n simboliese versterking vir hulle geestelike toewyding soek en erken dat die hoofstroomkerke in die verlede waarskynlik te min begrip daarvoor gehad het. –

Kaapstad. – jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui