Teoloog ‘klaar met NG Kerk, dogmas’

*******

Teoloog ‘klaar met NG Kerk, dogmas’ | Beeld

Beeld, 20 Maart 2004

Neels Jackson

‘Bybel en belydenisse strook nie met mekaar’

Prof. Sakkie Spangenberg, omstrede teoloog van Pretoria, meen hy het “die einde van die pad met die kerk bereik”.

Spangenberg het gister gesê hy het die kerklike dogmas met sy denke ontgroei (sien berig hierby) en hy wil nie sy lewe lank oorhoops met die kerk lê nie.

Dit kom na ’n besluit van die NG Kerk se ring van Lyttelton dat Spangenberg se geloofstandpunte nie meer rym met die Christelike geloof nie. Die ring, die kerk se toesighoudende liggaam oor predikante en proponente in sy gebied, moes ’n klag van dwaalleer teen Spangenberg hanteer.

Die ring het nie op tugoptrede teen Spangenberg besluit nie, maar hom gevra om af te sien van sy standpunte “omdat die ring nie kan sien hoe hy op ‘n eerbare wyse sy lidmaatskap van die NG Kerk en sy bevoegdheid as proponent kan voortsit sonder om sy geloofstandpunte radikaal te hersien nie”.

“Die ring stel dit onomwonde as geloofstandpunt dat die Christelike geloof nie losgedink kan word van die liggaamlike opstanding van Jesus uit die dood nie, waarby die Christendom staan of val. Hierdie standpunt onderskryf prof. Spangenberg nie.” .

Die ring wil in gesprek bly met Spangenberg.

Spangenberg het gister gesê hy het aan die ring gesê hy neem die verhale van Die Bybel as vertrekpunt, nie dié kerklike dogmas nie. Die Bybel as basisdokument van die Christelike geloof en die belydenisse van die kerk strook volgens hom nie meer met mekaar nie.

Spangenberg sê hy het die ring gevra of sy standpunte vir die kerk aanvaarbaar is, “maar gegewe my uitgangspunte lyk dit my nie ek kan in die kerk bly nie”. Hy meen dis jammer, maar hy is realisties.

* njackson@beeld.com

Kommentaar

‘n Mens is verstom hoe sag die ring van Lyttelton vir Spangenberg hanteer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui