Kerk se leer vs menseregte

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/09/11/R1/19/02.html

JOHANNESBURG FINAAL

NUUS bl.19

Kerk se leer vs menseregte

Rapport, 11 September 2005

Woelinge op kerklike terrein oor ’n verskeidenheid kwessies, van homoseksualiteit tot rassisme en die vrou in kerklike ampte, het nuwe vrae laat ontstaan: waar hou kerksake op en moet menseregte, soos vervat in die Grondwet se Handves, geld? Hoe soewerein is die kerk nog in eie kring, soos ’n ou Calvinistiese frasering dit wil hê? ANASTASIA DE VRIES het uitgevra.

Dit is nog altyd min of meer aanvaar dat die kerk haar eie sake ooreenkomstig haar leerstellings, die Bybel, haar insigte en haar gewete reël.

Maar tye het verander en ’n sterk menseregtekultuur is in Suid-Afrika aan die ontwikkel met onder meer die Menseregtekommissie (MRK), die gelykheids- en die konstitusionele hof en die Grondwet.

Toe ds. Laurie Gaum dus onlangs deur die ring van Kaap die Goeie Hoop geskors is omdat hy ’n gay verhouding gehad het, is die NG Kerk onder meer daarvan beskuldig dat sy inbreuk maak op Gaum se grondwetlike regte.

Nee, is ’n teenargument, die kerk is ’n vrywillige instelling wat ’n grondwetlike reg het om outonoom oor haar eie kwessies te besluit.

Die vraag is: moet die kerk daarom maar toegelaat word om menseregte te ignoreer, en waar hou die kerk of godsdiens se reg op om te handel volgens wat hulle glo God sê, en waar begin die toepassing van die land se wette?

Volgens mnr. Jody Kollapen, voorsit ter van die MRK, is dit ’n moeilike vraag oor ” ’n komplekse kwessie waarop daar nie ’n eenduidige antwoord kan wees nie”.

Veral as ’n kerk of godsdiens aangekla word oor ’n leerstelling of ’n kwessie waar die kerk haar op haar heilige boek beroep — in die geval van Christene die Bybel, in die geval van Moslems die Koran — bemoeilik dit die saak en is dit hoogs onwaarskynlik dat ’n hof betrokke sal raak, sê Kollapen. Soos Christelike kerke se probleme met homoseksualiteit.

“Want dan betree ’n mens die terrein van godsdiensvryheid wat soos individuele menseregte óók in die Grondwet beskerm word.

“Godsdiens is wel onderworpe aan die Handves van Regte , maar dit beteken nie as godsdiensvryheid inbreuk maak op dié regte dat ’n hof sommer sal ingryp nie.

“Howe is maar huiwerig om hulle in kerke se private verordeninge in te meng. Daarom oorweeg die MRK gewoonlik godsdienstwiste op ’n saak-vir-saak-grondslag.”

Só sal die MRK eers kyk wat die verband is tussen ’n gay klaer en die amp waaruit hy in die kerk geskors of ontslaan is. “Neem die Gaumsaak. As sy amp nou verwant is aan sy kerk se kernwaarhede en die uitdrukking daarvan, het sy kerk ’n sterk saak.

“Die omgekeerde is waar van ’n gay werknemer wat sê nou maar die kerk se boekhouding waarneem en dan afgedank word as die kerk uitvind hy of sy is gay. Dan het die gay klaer wel ’n sterk saak teen die kerk.

“Soos die orrelis (mnr. Johan Strydom, wat musieklesse in die NG ge meente Moreletapark in Pretoria gegee het en afgedank is omdat hy gay is), waar ons moet vasstel of sy rol deel van die kerk se praktyke was of nie.”

Strydom dagvaar die gemeente vir R100 000 en dié saak sal waarskynlik voor die gelykheidshof dien. Kollapen wou nie veel uitwei nie omdat die saak sub judice is, maar dit kan die eerste keer word dat ’n kerk dalk haar standpunte oor homoseksualiteit in ’n hof moet verduidelik.

“Met ons Grondwet wat groepsregte en dié van die individu beskerm, word dit al hoe moeiliker om die skeidslyn tussen kerk en staat te bepaal. Daar is geen volstrekte grense nie.

“Hoewel die howe dalk huiwerig is om hulle in kerksake in te meng en godsdienspraktyke oor die algemeen grondwetlik beskerm word, is dit onaanvaarbaar dat kerke of godsdienste toegelaat word om te doen wat hulle wil.”

Veral waar ’n kerk of godsdiens se praktyke onaanvaarbaar of misdadig is, sal die Grondwet nie hul regte beskerm nie, sê hy.

“Neem nou die reg op gelykheid, wat voorkeur kry bo die reg op die beoefening van godsdiens in gevalle waar ’n kerk hom skuldig maak aan rassisme. Geen kerk of godsdiens sal dit vandag waag om die Skrif te gebruik om die uitsluiting van mense op grond van ras te regverdig nie.” Op die vraag oor of ’n kerk soos die Afrikaanse Protestantse Kerk, wat nie swart mense as lidmate toelaat nie, haar op die reg op vryheid van assosiasie kan verlaat as sy hieroor aangekla word, sê Kollapen: “Vryheid van assosiasie is nie ’n matelose reg nie. As ’n kerk oor rassisme voor die hof gedaag word, sal die breë openbare belang die deurslag gee.”

En hoewel sommige meen Christene sleep mekaar nie hof toe nie, het ds. Awie Louw van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Parys in die Vrystaat die staat laat ingryp om die kerk te verander. Louw het vroeër vanjaar ’n skikking buite die gelykheidshof opgedwing waarkragtens die Vrystaatse sinode en die algemene sinode voor die hof gedaag kan word as klagtes van rassisme en diskriminasie op kerkvlak nie opgelos word nie.

Dié skikking het ’n vyf jaar lange stryd beëindig wat begin het met ’n geskil oor eenwording, samewerking en beweerde diskriminasie deur die NG Kerk teen die VGK en waarin ’n klag oor rassisme by die MRK ingedien is.

“Vryheid van assosiasie is nie ’n matelose reg nie. As ’n kerk oor rassisme voor die hof gedaag word, sal die breë openbare belang die deurslag gee.”

Howe toe, sê party; nee, sê ander

Terwyl die gay-debat voortwoed, werp dit onder meer die soeklig op praktyke of leerstellings in ander kerke of gelowe wat as diskriminerend ervaar kan word.

Soos die Rooms-Katolieke Kerk wat nie vroue tot priesters wy nie, bloot omdat hulle nie mans is nie, sê vader Cyril Malinga, kardinaal Wilfred Napier se raadgewer oor kerkreg in die aartsbisdom van Durban.

En, anders as sy twee gereformeerde susterkerke, die NGK en die Hervormde Kerk, laat die Gereformeerde Kerk steeds nie vroue toe om predikante te word nie.

Hoewel die Rooms-Katolieke Kerk sy standpunt oor priesterwyding uit die Heilige Skrif, die tradisie van die kerk (slegs manlike priesters) en artikel 1024 van die Katolieke kerkreg verdedig, meen sommige vroue dit is diskriminasie op grond van geslag.

Hul reg op gelykheid word aangetas, sê drukgroepe soos die Catholic Network for Women’s Equality. Malinga meen kwessies soos vroue- en gayregte in die kerk moet in die plaaslike howe getoets word sodat die kerk uitgedaag word oor leerstellings wat diskriminerend kan wees.

Maar so eenvoudig is dit nie. Volgens dr. Larry Kaufmann, Katolieke teoloog by die Unilever-sentrum vir etiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, kan dit ’n onhoudbare situasie skep as ’n vrou die Katolieke Kerk hof toe vat omdat sy nie ’n priester mag word nie.

” ’n Suid-Afrikaanse klaer sal in die eerste plek die P ous voor die hof moet daag omdat hy die amptelike verteenwoordiger is van ’n kerk met ’n universele, nie plaaslike nie, beleid oor dié kwessie. Dié kerk se leerstellings kan nie in ’n nasionale geregshof getoets word nie.”

Selfs die Grondwet, sê Kaufmann, laat ruimte vir ’n sogenaamde hiërargie van regte waar een reg voorrang bo ’n ander kry. ’n Hofsaak oor gay- of vroueregte in die kerk sal volgens hom neerkom op ’n dispuut oor watter reg die belangrikste is.

Geen hof sal summier by ’n twisaksie in die kerk ingryp nie, sê dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk.

“Die hof sal eers vasstel of alle interne prosedures in die kerk gevolg én uitgeput is. In die geval van ds. Laurie Gaum is daar nog bepaalde prosedures in die kerk wat gevolg kan word, waaronder sy appèl na die streeksinode teen die ring se besluit. Die uitkoms van dié appèl sal bepaal watter koers die saak op kerklike vlak sal inslaan.”

Twispunte in die kerk moet in eie geledere, en nie in howe of regsgedinge nie, opgelos word, beaam prof. Dries du Plooy, dekaan van die fakulteit teologie op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit en oudpredikant in die Gereformeerde Kerk. Volgens hom is die kerk ’n gemeenskap waarby mense vrywillig aansluit op grond van hul geloofsoortuigings.

“As iemand meen die kerk se besluite bots met die Woord, kan hy of sy beswaar aanteken op ’n kerkvergadering, of teen ’n besluit appelleer. Die kerk is geroepe en verantwoordelik om self te besluit oor onder meer of vroue ampte in die kerk moet beklee. Dié besluit word beslis deur die lig wat die Woord van God daaroor gee.”

‘n Moslem-vrou wat ’n siviele hof nader omdat sy meen die Islam misken haar menseregte, kan klaarblyklik ’n vurige debat ontketen oor of die konstitusionele hof dan hoër gesag as die Islamitiese hof het.

Volgens mnr. Mohammed Haron, dosent in Arabiese en Islamitiese studie aan die Universiteit van Botswana en van WesKaapland, moet gevra word wat verstaan word onder menseregte in verhouding tot die wette van die Islam.

“Baie Moslem-vroue weet nie eens wat hul regte kragtens die wette van die Islam is nie en word weens dié onkunde dikwels benadeel.”

Hoewel ’n vrou wel haar regte in die land se howe kan opeis, is dit haar voorreg en meen Moslem-teoloë dat menseregte in elk geval in die Islamitiese reg vervat is, sê Haron. Volgens hom is die wette van die Islam deur God gegee, terwyl menseregte mensgemaak is. Daarom moet dié regte na die Islamitiese reg geskik word.

“As ’n man sy vrou mishandel, het sy die reg om haar op ’n Islamitiese hof te beroep wat arbiters uit albei families aanstel om die dispuut op te los.” As dié stap misluk, kan die hof intree.

“Maar die probleem met Moslem-gemeenskappe is dat kultuur en geloof gewoonlik verwar word. Die kleredragkode is hier ’n sprekende voorbeeld van waar ’n kultuurgebruik verwar word met ’n geloofspraktyk. Saoedi-Arabië het ’n sterk invloed op Moslems met hul mentaliteit en kleredrag. ’n Mens sien al hoe meer Moslemvroue wat tot hul oë bedek is, maar dit is ’n kulturele en nie ’n geloofspraktyk nie.”

In die Islam word die kleredragkode vir vroue duidelik uiteengesit: bedek alles, behalwe die gesig en hande.

Volgens hom is mense haastig om hul regte op te eis, maar weet hulle meestal nie wat dié regte of dié van ander behels nie of watter verantwoordelikhede dié regte vereis nie.

Foto: s/w

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui