Jan Louw se wyshede

Wyshede

Deur Jan Louw

Opgedra aan my seuns. 1995

Die lewe moet versigtig en verstandig aangepak word. ‘n Enkele swakplek in jou mondering kan meebring dat die wonderlike potensiaal wat daar in jou is nie kan realiseer nie. Hier is ‘n paar dinge wat in my oë wyshede is en kan help om die lewe verstandig aan te pak.

  1. Wees konserwatief genoeg in jou groot uitgawes sodat jy iets kan oorhou om vrygewig te kan wees.
  2. Wees deel van ten minste een biduurgroep.
  3. Jy kan nie jou huwelik red as jy jou oog reeds op ‘n ander persoon het nie.
  4. Die mense in jou huis word jou dierbares genoem. Dit beteken hulle moet vir jou meer dierbaar wees as die ander mense en meer dierbaar as die ideale waarmee jy te doen kry op jou lewenspad.
  5. As jy misluk in jou huis kan ander suksesse nie daarvoor kompenseer nie.
  6. Begeer van die Here Jesus dat sy beeld al meer in jou lewe gestalte sal kry (Gal 4:19). In onsself weet ons nie wie ons is of wie ons sal wees nie.
  7. Probeer om elke dag huisgodsdiens te hou.
  8. Lees graag biografieë. Daar is baie om te leer van ander mense wat reeds die lewenspad soos jy geloop het.
  9. Begin jou dag met die Here.
  10. Begin jou dag elke dag op ‘n vasgestelde tyd voor jou lessenaar of by jou werkplek.
  11. Begin jou dag deur ‘n werkslysie op te stel. Bepaal jou prioriteite vir die dag daarvolgens en begin van ‘n kant af.
  12. Probeer om mense lief te hê soos die Here jou lief het.
  13. Probeer om mense se optrede te verstaan. As daar ‘n bottelstuk rondlê wat mense sny, beteken dit dat daar een of ander tyd ‘n bottel gebreek het.
  14. Aanvaar dat daar êrens in jou wêreldjie iets deurmekaar mag wees en lag vir jouself daaroor. Die Here glimlag ook vir jou.
  15. Dink daaraan om vir jou Pa en jou Ma ‘n dogter uit te soek as jy wil trou.
  16. Gebruik die Sondag soos die Here dit vir jou bedoel het.
  17. Hou ‘n dagboek (joernaal) aan. ‘n Mens moet ‘n spoor laat van die dinge waarmee jy jou in jou lewe besig gehou het. Verder help dit jou om helderheid te kry oor die vraagstukke waarmee jy van tyd tot tyd te doene het as jy dit op skrif uitspel.
  18. Korrespondeer meer met mense, eerder as om te bel. Wanneer jy skryf kry jy geleentheid om te dink en jy kommunikeer op ‘n dieper vlak.
  19. Die leeus in die veld is nie altyd besig om saam te jag nie. Heel dikwels lê hulle net bymekaar en slaap. So moet daar ook tye wees wat jy en jou kollegas net saam kuier om mekaar te leer ken.
  20. Maak ‘n lys van so 20 of 30 sake en mense wat vir jou belangrik is. Verdeel dit tussen die sewe dae van die week en bid planmatig vir elkeen van die sake. Jy sal verbaas wees om te ontdek hoe die Here met verloop van tyd dinge vir jou in plek laat val, sonder dat jy daartoe bygedra het.
  21. Etienne Roussouw van Sasol het gesê: Die Here kan ‘n lokomotief laat vlieg, maar waarom sou Hy. Jy kan egter bid vir mense in sleutelposisies en Hy sal aan hulle verstand gee om suksesvol te wees en so aan jou gee wat jy verlang.
  22. Maak eers klaar met ‘n onderneming, voor jy met ‘n nuwe begin, anders is jy naderhand soos ‘n beeldhouer wat aan die einde van sy lewe ‘n skuur vol halfklaar beelde het, wat niemand iets mee kan maak nie.
  23. Bêre you gereedskap aan die einde van elke dag al gaan jy môre weer verder met jou taak. Jy weet nie wat die volgende dag gaan oplewer nie.
  24. Jou gereedskap wat jy van tyd tot tyd aankoop is ‘n kosbare besitting. Kry ‘n bêreplek vir elke stukkie gereedskap, anders verwaarloos dit, of jy verloor dit, of jy is gedurig op soek daarna.
  25. As jy die moeite doen om iets te maak, kan jy dit net sowel goed doen sodat jy vreugde daaruit kan put.
  26. Moet jou nie besorg maak oor al die probleme van die wêreld nie. Dit is net die Here wat groot genoeg is om dit alles te hanteer. Lê jou egter daarop toe om eendag met vreugde verantwoording te kan doen van die stukkie wêreld wat in jou leeftyd aan jou toevertrou is.
  27. Elke ding het sy prys. Dit is nie die moeite werd om in die Kaap te gaan draai ter wille van ‘n winskoop nie.
  28. Ondersteun jou plaaslike handelaars as hulle het wat jy soek. Hulle het moeite gedoen om die ware tot by jou te bring.
  29. As ‘n vreemdeling by jou kom aanklop om hulp weet jy nie of dit ‘n skelm of dalk die Here Jesus self is nie. Jy moet versigtig en verstandig optree.
  30. Daar is baie groot wysheid in om van die begin af elke maand ten minste ‘n tiende van jou geld vir die koninkryk van die Here eenkant te sit.
  31. Probeer die werkwoord altyd aan die einde van die sin te kry as jy moet formuleer.
  32. Ek het gesien daar is mense wat nooit geld vir die Here het nie, omdat hulle nooit finansieel die mas opkom nie. Ek dink hulle probleem is omgekeerd.
  33. Dit is goed om ‘n paar mense se raad te vra, maar uiteindelik moet jyself ‘n besluit neem.
  34. Die beste in mense het in moeilike tye na vore gekom.
  35. Maak tyd om vir jou ‘n behoorlike dagboek aan te lê waarmee jy ‘n jaar kan ingaan. Beplan die aksies van jou ondernemings ‘n jaar vooruit, anders word jou lewe gedikteer deur elke nuwe probleem wat voorval of idee wat by jou opkom.
  36. As jy onthou van iets wat jy wil doen, skryf dit neer. Netnou vergeet jy dit.
  37. Hou permanent ‘n notaboek en pen byderhand.
  38. Maak ‘n inkopielysie voor jy dorp toe gaan. Dit help jou om rustiger besigheid te doen. As jy jou geheue wil oefen kan jy dit op ander maniere doen.
  39. Moet niks in die geheim doen nie. Moet jou ook nie deur ander mense in geheime aksies laat betrek nie. Alles wat in die geheim gedoen word, sal eendag van die dakke af verkondig word. (2 Sam 12:12)
  40. Die Here is ‘n Helper in al jou doodloopstrate. Hy lei jou weer uit in die lig.
  41. Jy moet leer om in sekere situasies te kan bid: “Vader vergeef hulle/hom/haar, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dit is ‘n gebed wat jou gemoed bevry van verbittering.
  42. Leer om vergifnis uit die hand van God te ontvang. Dit is die voorwaarde om dankbaar voor God te kan lewe en dit bevry jou as jy verwyte en selfverwyt ervaar.
  43. Daar is mense wat nie verantwoordelikheid neem vir die skuld wat hulle aangaan nie. Hulle dink die skuld sal self weggaan. Dan moet ander mense vir hulle die probleme oplos.
  44. As jy leen, word jy ‘n slaaf van die een by wie jy leen.
  45. Regter Kriegler het gesê: “Julle kan my ‘n ‘fool’ noem, maar ek voel gekrenk as julle my ‘n ‘kroek’ noem.”
  46. Moenie sommer net vat nie: Vra!
  47. Die Here gee wysheid en verstand aan dié wat daarvoor vra.
  48. Nederigheid gaan aan eer vooraf.
  49. Soek eers die koninkryk van God en al die ander dinge sal vir jou bygevoeg word.
  50. Wie hom wil afskei van ander, soek sy eie belang.
  51. Die Here is bereid om voor jou uit te trek in jou persoonlike lewe en jou die oorwinning te gee. (2 Sam 5:24)
  52. Jou kerk is ook maar deel van hierdie aarde met gewone mense en baie tekortkominge, maar probeer om te blom daar waar die Here jou geplant het.
  53. Moenie jarelange verbintenisse met jou kerk of bank of dokter of apteker ligtelik verander nie. Probeer eers probleme uitstryk.

Aan: Daniel en Hercules

Van: Pa

15 Januarie 1995

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui