Jona-kwessie: teoloë kan lidmate uitdryf na ander kerke

Kyk ook:

Die volgende brief het in Die Kerkbode verskyn.

***********

Jona-kwessie: teoloë kan lidmate uitdryf na ander kerk

TL Conradie, Posbus 1121, Knysna, skryf:

17 November 1995

EEN van die belangrikste besprekings van die hele sinodesitting van Wes-en Suid-Kaapland is kortgeknip deur ’n ordemosie en daarom word ek genoodsaak om te skryf oor ’n baie belangrike saak.

Ek kon nie slaap na die laaste dag se sitting nie, het geworstel met die Here oor die saak en het om 03:00 opgestaan om hierdie brief te skryf. My geliefde Ned Geref Kerk is nie die kans gegun om onomwonde te verklaar dat dit wat in Matt 12:39 tot 42 en in Luk 11:29 tot 32 staan, die woorde van Jesus Christus is nie. Dit wat in die Bybel in aanhalingstekens gedruk is as Jesus se woorde, is verwys na ’n kommissie. Dit is so eenvoudig: óf ek aanvaar dit, óf ek verwerp dit deur nie die geskiedkundigheid van Jona as profeet te erken nie.

Besef ons teoloë die gevolge van hulle ‘speel met woorde’? Aan die een kant ‘verklaar die sinode opnuut dat die Bybel onwrikbaar as Woord van God aanvaar word en dat die gesag van die Woord onomwonde bely word as hoogste norm vir leer en lewe’, maar aan die ander kant moet dit eers na ’n kommissie verwys word om te besluit of bogenoemde aanhalings van die grootste Leermeester van alle tye deur my kerk aanvaar kan word. Watter reg het die kerk dan om van my te verwag dat ek die woorde van Jesus in Joh 14:6: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’, moet aanvaar?

Met alle respek wil ek noem dat toe die geleerde teoloë so redeneer oor Jona, het die woorde van Jesus in Matteus, Markus en Lukas by my opgekom: ‘Dit verseker Ek julle: wie die koninkryk van God nie soos ’n kleintjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie’ (Mark 10:15).

Ek haal ook die woorde van Jesus in Matt 10:32 tot 33 aan: ‘Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.’ Die eer van Jesus is hier op die spel.

Asseblief, broers teoloë (u wat twyfel of Jesus Jona as geskiedkundige prediker verklaar het), ek vra in groot liefde dat u weer na die waarskuwing van Mark 9:42 moet kyk. Is u nie besig om jong gelowiges afvallig van Jesus te maak in plaas daarvan om hulle op te bou in hulle geloof nie?

Besef u nie dat met hierdie huiwering van die sinode dit baie ‘lidmate kan uitdryf na ander kerke’ en genootskappe nie?

Ek doen ook ’n dringende beroep op alle gelowiges wat Jesus se woord eerbiedig en wat met my saamstem, om dit dadelik skriftelik of telefonies aan Die Kerkbode mee te deel. Asseblief, broers en susters in die Here Jesus, laat u stem hoor vir Jesus en vra ook u kerkraad om dit te doen.

Dankie aan ds Mike Smuts, sr, wat hierdie beskrywingspunt deur die NG Gemeente Helderberg na die sinode ingestuur het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui