Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’

*************

Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’ | Kerkbode

Deur Jaco Strydom

5 Julie 2022

Charlotte Sibanyoni is ’n NG dominee, ’n dosent in Hebreeus by die Universiteit van Pretoria, besig met haar PhD, en ’n “fiksheidsentoesias” in haar eie woorde. Wel, onder andere, sy is ’n besige, dapper vrou met ’n groot storie, vertel Jaco Strydom.

Ek vra haar oor haar grootwordjare en sy wys my ’n foto van ’n ma en twee kleuters voor ’n eenvertreksinkhuisie. Later het dit beter gegaan, vertel sy, en het sy en haar ma vir ’n tyd lank in ’n bediendekamer in die Pretoria-Moot gewoon. Haar ma was ’n huishulp.

In haar graad 5-jaar trek hulle terug na Mamelodi. Van die onderwysers het bekommerd geraak, want Charlotte se skoolwerk het agteruitgegaan. ’n Klomp dinge het gebeur en uiteindelik beland sy eers in ’n plek van veiligheid en toe in ’n kinderhuis.

Sy vertel dat dit van haar moeilikste en ongelukkigste jare was. “Jy weet, jy begin sien dat ander kinders ’n ma en pa het wat saam met hulle skool toe kom, hulle netbal bywoon en jy begin vra, waar is my pa? Waarom gebeur hierdie dinge met my? Mamma wat finansieel sukkel en so aan. Vandag kyk ek terug en weet ek dit is hoekom kinderhuiskinders soos ek dikwels rebel.”

Uiteindelik is sy uit die kinderhuis uit as gevolg van haar gedrag.

Sy moes planne maak, het rondgevra en uiteindelik ’n buitekamer naby die skool gekry om in te woon.

Charlotte was in graad 10 en het na-ure by Romans Pizza gewerk, en later by die plaaslike biblioteek. Dit was ’n moeilike tyd, maar sy vertel ook van ’n klomp gawe mense wat die Here oor haar pad gestuur het.

As jou pa ’n dominee is …

Haar lewe het ’n nuwe wending geneem, toe sy een Sondag saam met ’n vriendin en haar ouers ’n erediens bywoon. Sy sê sy het erg uitgestaan tussen al die wit mense in die kerk, maar dit het haar nie gepla nie, sy en haar vriendin het daaroor gelag. Na die diens het die dominee met haar gesels.

Nie lank daarna nie kontak die einste dominee haar en sê sy moet kom koffie drink, hy wil iets belangriks met haar bespreek. Hy en sy vrou het besluit Charlotte moet by hulle kom woon.

Die dominee se naam was Johan van Niekerk, en die gemeente NG Concordia.

Charlotte vertel dat sy vir die eerste keer ook iemand gehad het wat langs die netbalveld sit, iemand wat belangstel en saam met haar skoolbyeenkomste bywoon. “Hulle was by elke skoolfunksie, ek raak nou nog emosioneel as ek daaroor praat,” sê sy.

Sy het betrokke geraak by die kategese en ’n klomp ander aktiwiteite in die gemeente. “Jy weet, as jou pa die dominee is, is jy alles by die kerk, en dit was amazing,” sê sy.

Op ’n dag vra Johan van Niekerk vir haar wat sy wil doen vir ’n lewe. “Ek het gesê, ek wil doen wat jy doen. Maar hy lag! Hy sê, ‘my kind ek is ’n NG dominee en in ons land is dit iets anders …’”

Teologie by Tuks

Een van haar maats het gehoor dat sy na skool wil gaan studeer en, sonder Charlotte se medewete, ’n brief geskryf vir Jacaranda FM se “Good Morning Angels”. ’n Prof by die Universiteit van Pretoria wat na die uitsending geluister het, het haar gekontak en gesê sy en haar man sal al die kostes dra.

Toe Charlotte weer sien toe swot sy teologie by Tuks.

Dit alles was ’n wonderwerk in Charlotte se oë. “Ek het as kind geen droom gehad oor wat om met my lewe te doen nie. Universiteit was totally out of my scope. Ek het maar gedink ek sal ’n waiter of so iets word.”

Oral in Charlotte se verhaal duik die name van mense op wat ’n groot verskil gemaak het in haar lewe: maats by die skool en hulle ouers, Johan en Rina van Niekerk, die prof by Tuks … en veral haar ma, vir wie sy die grootste respek het.

Teen die einde van Charlotte se studies is Johan van Niekerk aan ’n hartaanval oorlede. ’n Moeilike tyd in haar lewe. “Skielik was ek nie meer lus om aan te gaan met my studies nie, maar toe kontak ds Sebastiaan (van Dyk) van Lux Mundi-gemeente my. Hy sê toe: ‘Wil jy nie jou praktiese jaar by ons kom doen nie, ontmoet die mense in ons kerk en dan besluit jy?’ Amazing mense! Toe was dit nóg ’n deur wat oopmaak.”

Nie lank daarna nie het sy ’n beroep gekry na Universiteitsoord waar sy tans dominee is vir die Engelse studente.

The problem is you Christians

Wat energise jou? vra ek.

“Jongmense en studente! Hulle maak my gelukkig, ek vind al my energie in tye wat ek jongmense kan bedien. Of ons nou kamp, gesels, werk of klas gee maak nie saak nie, ek is op my beste tussen jongmense.”

Charlotte sê deurentyd mooi dinge oor die kerk, ek vra haar of daar ook dinge is wat haar pla.

“’n Uber-bestuurder het eenkeer vir my gesê: ‘The problem is you Christians are better than everyone else’. Dit maak seer, maar dit maak ook sin. Dit is iets wat dikwels geopper word deur mense wat seergemaak is deur Christene of die Christelike gemeenskap. Hoogmoed en ’n neerhalende houding is ’n probleem, en dit is waar op verskillende vlakke van Christenskap. Tog pas dit glad nie by die diensbare voorbeeld wat ons Redder vir ons kom stel het nie,” sê sy. “Die kerk moet minder bekommerd wees oor dogma en meer bekommerd oor menswaardigheid.”

Sy voel die NG Kerk kan meer doen om inklusief te wees.

“Persoonlik dink ek, ons as die NG Kerk, kan uit ons begroting meer mense van kleur help om te studeer om dominees te word. As ons sê ons wil inklusief wees, moet dit so lyk op ons predikantestaat, op ons kerkrade en in ons ringe. Ons sê almal is welkom, maar ons maak nie plek vir mense wat nie Afrikaanssprekend is nie. Ons kerk moet soos ons land lyk, diverse.”

Haar droom is dat die NG Kerk ’n beurs daar sal stel om dit moontlik te maak vir mense van ander kulture om teologie te studeer. “My droom is dat die kerk oor 10 jaar baie meer divers en vry van politieke agendas sal wees,” sê sy.

Charlotte se motto? “Sien die mooi in mense tot hulle die mooi in hulleself raaksien. Ons is almal maar gebroke mense vol seer en net liefde kan hierdie wonde genees. Ek is ’n bron van liefde wat vreemdelinge vir my gegee het. Ek is dankbaar vir die vreemdelinge wat hulle hart oopgemaak het vir my en hoop om ander op dieselfde manier te inspireer. As ’n mens verandering wil sien, moet jy dit vanuit ’n plek van peace doen, nie anger nie.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui