Medestigter van SA Sataniese Kerk bedank

Medestigter van SA Sataniese Kerk bedank | AfriNuus

5 Julie 2022

Medestigter van SA Sataniese Kerk bedank, glo nou in Christus ná Christene hom ‘wys wat onvoorwaardelike liefde is’

Riaan Swiegelaar, medestigter van die Suid-Afrikaanse Satanistiese Kerk (SASC), het op 30 Mei 2022 uit sy pos as voorsittende dominee van die omstrede kerk bedank. Hy het ook uit die kerkraad getree, asook sy lidmaatskap by die organisasie ontbind.

In ’n regstreekse video-uitsending op Facebook het Swiegelaar gesê: “Om baie eerlik te wees, ek het aanvanklik gedink ek sal stilweg by die agterdeur uitglip en ek het nie gedink mense sou so belangstel in hoekom ek doen wat ek doen nie.”

Hy het gesê dat hy betrokke geraak het by satanisme, aangesien dit destyds by hom aanklank gevind het, en aangesien hy “baie hartseer en baie gebroke was, sonder om dit te besef”. “Ek dink dat baie mense aanklank vind by satanisme wanneer hulle van ’n baie gebroke plek af kom.”

“Ek het die afgelope jaar duisende sataniste ontmoet, en hulle is uiters seergemaak en gebroke – dit is die een ding wat hulle almal gemeen het,” het Swiegelaar bygevoeg.

Hy het in trane uitgebars en bygevoeg: “Tot vandag toe is daar net vier Christene in my hele lewe wat my gewys het wat onvoorwaardelike liefde is.”

Adel Frey, een van die mense wat hom ondersteun het, het vir hom ’n boodskap gestuur en gesê dat sy net ’n eenvoudige ding gedoen het deur vir hom liefde te wys. “Mense, om vir ander liefde te wys is alles. Julle het vir my die liefde van Christus gewys, ek het dit in julle gesien”.

Hy voeg by dat Frey vir hom onvoorwaardelike liefde gewys het in ’n tyd toe hy ’n “lelike monster was”, en toe hy Christene wat dit doen aangevat het. “Jy het my onvoorwaardelike liefde gewys.”

In die middel van Mei het Swiegelaar sy laaste onderhoud as lid van die SASC op die CapeTalk-radiostasie gevoer, sonder om te weet dat dit sy laaste radio-onderhoud as ’n oudsatanis sal wees.

Swiegelaar het in die onderhoud gesê dat hy nie glo dat Jesus Christus bestaan nie. ’n Dame van die radiospan het ná die onderhoud na hom toe gestap en hom omhels op ’n manier wat hy nog nooit voorheen omhels is nie.
‘n Week later het hy op WhatsApp gesien dat die vrou ’n Christen is. “Ek het nooit ’n Christen dit laat doen nie. Ek het nooit ervaar dat ’n Christen soveel liefde teenoor ’n selferkende satanis toon nie.”
“En dit het egter by my gebly.”

’n Week later, toe Swiegelaar ’n ritueel moes doen om te sien “wat die volgende fase is om meer invloed en mag te kry”, het hy die ritueel gedoen en tydens die ritueel het Jesus voor hom verskyn.

Hy het gesê: “As jy Jesus is, moet jy dit bewys.” Swiegelaar sê dat hy met die mooiste liefde en energie oorspoel is. “En ek het dit dadelik herken, soos die vrou by die radiostasie wat dit vir my gewys het.”

“Dit is hoe ek die liefde van Christus herken het.”

Swiegelaar brei meer uit oor sy ervaring in die regstreekse Facebook-video wat meer as 30 minute lank is.
Swiegelaar het gesê dat hy nie navrae van die media sal antwoord nie, en dat die video sy getuienis is.

‘n Persverklaring deur die SASC, wat se ledetal volgens Swiegelaar by die dag groei, lui: “Ons, as die SASC-raad, wil Swiegelaar bedank vir sy bydrae, beide as die dominee en die medestigter van die SA Sataniese Kerk. Ons wens hom sukses toe met al sy toekomstige pogings.”

Jy kan Swiegelaar se video hier kyk: https://www.facebook.com/riaan.swiegelaar/videos/610599526944658/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui