‘Ja, Koos, kerke ís oortreders, maar bring ook genesing en bevryding’

*******

‘Ja, Koos, kerke ís oortreders, maar bring ook genesing en bevryding’ | Netwerk24

28 Februarie 2023

’n Onlangse rubriek waarin Koos Kombuis die relevansie van die kerk vir jong mense bevraagteken het, het baie reaksie uitgelok. Die kerk is nie sonder foute nie, maar Kombuis se teerkwas is te breed, het teoloë aan Erika de Beer gesê.

’n Hele geslag jong Afrikaanse mense ploeter in ’n eksistensiële vakuum voort, skryf Koos Kombuis in ’n onlangse rubriek.

“Die ou gode het gesterf en hulle vind geen nuwe gode om die plek van die oues in te neem nie.

“Reik die kerk uit na hierdie mense? Wil hulle? Kán hulle? Is dit waarvoor hulle staan nog relevant?”

Op Netwerk24 en briewe aan die dagblaaie het lesers heftig gereageer, soos Truda de Wet van Swellendam wat aan Die Burger geskryf het: “Baie ‘stoere’ mense, wat nog vaskleef aan die susterkerke met hul tradisies en belydenisskrifte, se kinders voel al hoe meer dis vals, en ‘verdwyn’ net.

“As die sogenaamde kerkvaders met hul sinodes en hul stoere lidmate dink dat jy moderne (jong) mense en kinders om die bos kan lei met mensgemaakte verordenings en tradisies, bewys dit net hoe versluierd hulle regtig is.”

Die uittog

Howard Rose het vir ’n meestersgraad aan Unisa navorsing gedoen oor die invloed van ’n veranderende samelewing op die uittog van jong volwassenes uit die kerk in Suid-Afrika.

Gemeenteleiers van verskeie hoofstroomkerke het vir hom gesê sowat 90% van jong mense is steeds betrokke sowat vier tot vyf maande nadat hulle aangeneem is of belydenis van hul geloof afgelê het. ’n Jaar later neem dit tot sowat 50% af. Sowat ’n kwart bly op die lang duur aan.

Van die 16- tot 30-jarige respondente in Rose se studie het 95% gesê het hulle is Christelik grootgemaak. 52% gaan glad nie meer kerk toe nie en 29% soms.

’n Afrikaanse predikant het aan Netwerk24 gesê: “Ons het ’n geslag mense van 30 tot 45 jaar verloor, want hulle was nooit uit oortuiging in die kerk nie.”

Prof. Christina Landman, buitengewone professor in teologie aan Unisa, sê navorsing het getoon Suid-Afrikaanse hoofstroomkerke het die afgelope tien jaar 26% van hul lidmate verloor. “Maar daardie mense het nie ateïste geword nie, hulle het nie a-godsdienstig geword nie, hulle het na healing-kerke, na die bekeerkerke toe gegaan.”

Jong koppe werk anders

Prof. Yolanda Dreyer, dosent in praktiese teologie aan die Unversiteit van Pretoria (UP), skryf dis nie net kerke wat in ’n krisis is nie, maar ook humanistiese, agnostiese en ateïstiese instellings.

Tog raak mense meer geïnteresseerd in spiritualiteit.

Hedendaagse jong mense het meer kennis as hul ouers en kan só hul eie betekenis vind. Maar daar is ook baie onsekerheid oor die toekoms. Buigsaamheid is nodig vir oorlewing. Anders as ouer geslagte, kan hulle nie indink dat hulle vir die res van hul loopbaan by dieselfde maatskappy gaan werk nie, skryf sy.

Moderne gelowiges word as “soekers” beskryf en tradisioneel gesosialiseerde gelowiges as “intrinsieke gelowiges”.

Volgens Dreyer word geloof toenemend geprivatiseer. Baie mense vervang die kerk se geloofsbelydenis met hul persoonlike oortuigings.

Dr. Shantelle Weber het in haar proefskrif vir ’n doktorsgraad in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch geskryf: “As agente van verandering in post-apartheid-Suid-Afrika is die jeug nie meer bloot die objekte of leë ontvangers van goed bedoelde projekte, bediening en uitreik deur volwassenes, die kerk of kenners nie, maar hulle het die agente van hul eie kontekstuele missionale teologieë geword wat deur nuwe beelde gekommunikeer word.”

Ouers baie belangrik

Rose verwys na navorsing wat toon ’n mens se morele grondslag is gewoonlik gelê teen die tyd dat hy nege jaar oud is. Wat iemand teen 13 jaar van God glo, is mees waarskynlik waaraan hy die res van sy lewe sal vashou. “Iemand se reaksie op die betekenis van Jesus se lewe, dood en opstanding word gewoonlik bepaal voordat hulle 18 jaar oud is.”

Daarom speel ouers ’n baie groot rol.

“Hedendaagse ouers moet erken dit is vir hul kinders onmoontlik om die waarhede van die lewe te aanvaar as hulle dit nie by hul eie huise uitleef en toepas nie.

“Die kerk, en veral ouers, moet na jong mense se postmodernistiese sieninge luister en verstaan hoe dit hul lewe in vergelyking met vorige generasies verander het.”

Wat die kerk betref, speel dié faktore ’n rol in die uittog van jong mense, aldus Rose:

  • Predikante word ouer en min jong mense volg dié beroep;
  • “Die kerk het sy primêre fokus verloor – en dis om doelbewus oor doeltreffende ouerskap te onderrig;”
  • Die kerk het ’n tekort aan rolmodelle vir jong mense;
  • Daar is nie genoeg geleenthede vir jong mense om aan besluitnemingsprosesse en die uitvoer daarvan deel te neem nie;
  • In baie gevalle is daar ’n paternalistiese ingesteldheid in ’n verouderende gemeente, wat jong mense afskrik; en
  • Min of geen mentorskap oor hoe om in vandag se wêreld oor die weg te kom word vir jong volwassenes gebied.

Voorts sê Rose: “Die betekenisvolste van dié probleme is dat jeugbedienings oor die algemeen nie volwasse Christene kan voortbring nie. Dit lyk asof jeugbedienings hul jong mense verloor as hulle amper klaar gestudeer het.”

Prof. Garth Aziz, ’n dosent in praktiese teologie aan Unisa, beaam dit: “Om ’n betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse konteks te maak, moet jeugbediening sy silomentaliteit wat die sleutels tot die ewigheid hou, te bowe kom en vervang met een dat God inderdaad aktief is in die lewe van elke jong mens.”

Die jong mense met wie Rose vir sy navorsing gepraat het, het onder meer gesê:

  • Tradisionele kerkstyle neig daarna om te gestruktureerd te wees, terwyl hulle ’n kultuur van vryheid van deelname verkies;
  • Baie kerke lê klem op leer, teenoor lewenservaring;
  • Ouer mense in die kerk is daartoe geneig om te reageer, eerder as om aansluiting te vind; en
  • Volwassenes fokus op die individu, terwyl jong mense sosiaal gedrewe is.

Kerk maak foute, maar . . .

In sy rubriek skryf Kombuis: “Ek het die kerk so lank reeds verlaat dat ek nie meer die verskil kan onthou tussen die Doppers en die NG Kerk nie. Daar is blykbaar ’n derde een ook, want almal praat van ‘die drie susterskerke’, maar ek het geen idee wat hul naam is nie.”

Netwerk24 het teoloë van dié drie kerke om kommentaar op sekere van Kombuis se stellings gevra. Die NG Kerk het dit van die hand gewys.

Prof. Tanya van Wyk, medeprofessor in sistematiese teologie aan die UP, is ook ’n predikant in die Hervormde Kerk – “die kerk waarvan Koos Kombuis nog nooit gehoor het nie” – maar praat nie namens dié kerk nie.

Sy is ongemaklik met hoe hy veralgemeen, maar het baie deernis en respek vir sy verhaal.

“Die kerk is, eg menslik, ’n oortreder. Geskiedenis het dit oor en oor bewys en ons hoor steeds byna weekliks gru-verhale.

“Maar die kerk is ook ’n bevryder: Die kernboodskap van die Evangelie is een van bevryding en talle mense beleef wel hul geloofsgemeenskappe as ruimtes waarin hulle vryelik kan asemhaal en hul spiritualiteit en geloof kan uitleef.”

Prof. Gert Breed, oudrektor van die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool Potchefstroom en emeritus professor in praktiese teologie, praat ook nie namens dié kerkverband nie.

Hy sê daar is inderdaad baie Afrikaanse mense wat nie meer vaste beginsels het waarvolgens hulle leef nie en soekend is.

“Dit skep die geleentheid vir kerke om die waarhede uit God se Woord aktueel gerig op die mense se nood, vrae en worsteling te bring. Nuwe gode is nie nodig nie, daar is maar een ware God, die Vader van Jesus Christus waar mense vrede en rigting kan vind. Dan is dit egter noodsaaklik dat ons Hom reg sal ken en aan mense bekend stel.”

Volgens Van Wyk is die kerk se identiteitskrisis nie die uitsluitlike oorsaak van die “eksistensiële vakuum” nie.

“Die sosiale, kulturele, politieke en tegnologiese sfere waarin ons almal leef, dra beslis by tot die ervaring van ’n ‘eksistensiële vakuum’ of miskien eerder ’n tuimeldroër-bestaan.

“Die kerk is nie die uitsluitlike bron van betekenis nie, en is daarom ook nie by magte om iemand se lewe totaal en al van betekenis te ontneem nie. Die teenoorgestelde is eerder waar: ’n Outentieke geloofservaring het die mag om betekenis toe te voeg.”

Wie is ‘die kerk’?

Wat Kombuis se vrae oor die kerk se rol en relevansie betref, sê Breed: “Dis natuurlik moeilik om te bepaal wie ‘die kerk’ is waarna Koos verwys. Verskillende gemeentes reik op verskillende wyses uit na mense, of dalk nie?”

Breed sê hy is byvoorbeeld al tien jaar betrokke by ’n program wat studente en werkende mense begelei om genesing te vind van diep seerkry in verhoudings in die ouerhuis en elders.

“So is daar baie gemeentes wat die nood in die mense se lewens op verskillende wyses effektief hanteer. Of dit waarvoor die Here die kerk stuur, nog relevant is, kan ek onomwonde vanuit die genesing wat die Woord kan bring, positief antwoord.

“Ek hoor in Koos se brief sy eie verlange na die waarheid, omgee en liefde waartoe die Here sy kinders roep, Koos is welkom as hy met my hieroor wil gesels.”

Van Wyk sê die kerk probeer al sowat 2 000 jaar ’n brug tussen die eerste gelowiges se ervarings en gelowiges se ervarings van vandag bou. In dié pogings was daar al kommunikasiegapings. “Soos die mensdom verander het, het die kerk se taal, styl en aanslag ook mettertyd verander – maar omdat die brug met die kerk se 2 000 jaar oue ontstaan steeds daar is, is aspekte van die kerk se taal en kommunikasie en styl steeds dieselfde. Dit kan nie anders nie. Die kerk moet getrou wees aan dit wat die kerk se ontstaan veroorsaak het, maar dit moet telkens in ’n ander tyd gebeur.”

Volgens haar pas die mensdom oor die algemeen – en nie net die kerk nie – nie noodwendig vinnig by die tyd aan nie.

“As ons verwag die kerk moet ‘uitreik’ na mense op ’n sendingagtige wyse, gaan ons teleurgesteld wees. Jesus se opdrag aan die dissipels destyds was om mense wêreldwyd die ‘gesig van God’ te wys – met ander woorde, iets van God se karakter te kenne te gee. Die dissipels se opdrag was nie om mense te dwing om in God te glo nie.”

Talle geloofsgemeenskappe probeer God se karakter sigbaar maak deur onder meer hul deure wyd oop te maak en na almal in Suid-Afrika uit te reik.

“Maar ek sien ewe veel hoe sommige geloofsgemeenskappe struikel te midde van ’n hiërargiese patriargie en ’n ontluikende amper neo-nasionalisme – en daar sukkel ‘die kerk’ om uit te reik en relevant te wees.”

Tradisie as sondebok

Oor De Wet se klagte oor tradisie en belydenisskrifte sê Van Wyk die kerk is soveel meer as sy institusionele karakter. “Mense stel die kerk dikwels onkrities gelyk met tradisie. En dan word die begrip tradisie in verband gebring met iets wat outyds en agterhaal is.

“Tradisie is egter ook ’n bepaalde karakter en ritme van ’n gelowige se lewe en dit is meer dinamies as wat dit staties is. Binne ’n geloofsgemeenskap is die ritme van geloof en verskillende rituele pogings om iets te probeer uitdruk van wie ons as Christene is en die misterie van die mens-God-verhouding. Tradisies handel ook oor identiteit.”

Geloofsgemeenskappe moet heeltyd daarteen waak dat tradisie nie dogmatisme word wat die dinamiek van die Evangelie oorskadu nie, sê sy.

Breed sê mens kan die belydenisskrifte – “waar die liefde, grootheid en ontferming van God uitgespel word” – nie in dieselfde pot as dooie tradisionalisme of menslike verordeninge gooi nie.

Navorsing toon volgens hom kinders sal waarskynlik nie ouers volg wat God dien as blote tradisie, sonder ’n intieme verhouding met God en sonder die liefde en wysheid van God teenoor hul kinders en ander mense nie.

“Maar as die ouers waarlik in God se voetspore loop, sal die kinders hulle volg.”

Sonder die ouers se inset kan ’n gemeente ’n kind nie maklik tot ware geloof begelei nie, sê Breed. “Gesinsbediening is dus ’n belangrike deel van die gemeente se taak.

“Gemeentes wat jong lidmate begelei en toerus om self die liefde van Christus uit te leef en ander met hul gawes te dien, vestig die diensbaarheid van Christus in hul lewe, as sy volgelinge.”

Van Wyk sê navorsing toon ’n mens moenie óór kinders en jonger mense praat nie, maar mét hulle en jonger stemme moet ingenooi word vir besluitneming en leierskap.

“Dit beteken uiteindelik dat daar nie ’n universele ‘oplossing’ is nie. Elke geloofsgemeenskap moet unieke ruimtes skep en nie probeer om alles vir almal te wees nie. Dit is nie geloofwaardig nie.”

De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui